“Hoekom het ouma haar partytjierok aan?”
“Sy en oupa gaan vir Engelbert Humperdinck kyk in Pretoria.”
“Wat? Engelbrecht is gedrink? Wie is Engelbrecht?”
“Nee, dis ’n sanger uit die ou tyd. Engel-bert Hum-per-dinck”.
“Whatever. Die ou klink siek. Seker ook horingoud.”
“Ek dink hy’s nou 88.”
“Agt-en-tagtig? Maar dan moes hy mos al dood gewees het. Flippit, dalk weet die ouballie nie hy’s dood nie.”
“Moenie spot nie. Jy en jou broer het destyds lekker saamgesing toe ouma Krismistyd in Walvis sy plate in die sitkamer gespeel het."
“O ja! Spanish fly!”
“Nee. ‘Spanish Eyes’.”
“En daai ander een, Baaisiekels in die biesies!”
“Nee. Dit was ‘Les Bicylettes de Belsize’.”
“Whatever.”
So loop die woord toe oor die immergepekelde minnesanger Engelbert Humperdinck wat ’n koebaaikonsert in Pretoria en Kaapstad kom doen.
Verskeie riemtelegramme word oral gehoor:
- Bloomers en buustelyfies sal by die ingange gekonfiskeer word.
- Tennisballe moet op walkers se pote en alle kieries aangebring word, anders sal dit by die ingang as gevaarlike wapens gekonfiskeer word.
- Gary Player-sneesdoekies sal in kratte in die saal beskikbaar wees.
- Rolstoelgangers is welkom in die Golden Circle.
“Blerrie hel! Golden Circle! Gaan hulle headbang?”
“Moenie vir jou simpel hou nie. Have some respect. Jy sal ook eendag vol lewervlekke en stokstyf met krakende kierie-knieë loop. Oudword is net vir dapper mense.”
“Whatever.”
’n Menigte bont geklede oues van dae, middeljariges, jongerjariges en allerhande anderjariges maak die plein vol voor die SunBet Arena in Menlyn Maine. Net so neffens die Time Square-casino.
Die geselsies loop tussen hulle rond soos vape-slierte.
“Elsa, het jy jou vlugsout?”
“Ja. Het jy jou tanne geplak?”
“Moenie spot nie. Ek sal Tom Jones nooit weer in die oë kan kyk nie.”
“Moenie sleg voel nie. Ek moes vir dae lank Engelbert se borshare uit my tande vlos. “
“Wel, ek hoop die mense het hierdie keer die noodhulptrollie met die jumper cables gereed.”
“Dink darem nie dit sal hierdie keer nodig wees nie. Deesdae steek hulle die ou sommer met ’n EpiPen wakker wanneer sy groupies hom leeggetap het.”
“Dankie, hemel tog. Kom ons gaan kry ons wyn, voordat die toue by die deur uitloop.”
Ek loop rond met Rammstein se Sehnsucht-hemp en volgekrapte inkstrepe op my voorarms. ’n Skreiende besmetting van ’n volmaak geskepte heilige tempel.
Agter my, twee tantes op ’n houtbankie: “Hoe gaan dit met daai vreemde kleinkind van jou?
“Man Susan, dit lyk goed. Ek dink sy’s nou in ’n breiklub.”
“Hoe so?”
“Sy dra elke dag so ’n groot hemp, Slipknot. Seker maar iets oor breiwerk.”
“Wel, ek dink my kleinkind het uiteindelik bedaar. Haar verlede week met ’n Lamb of God-hemp by Bertie se doop gesien. Weet net nie so mooi van die skedel met die slange nie.”
Ek giggel ongeskik soos ’n kroegvlieg.
So bly ek het nie Spoegwolf se Die mense hier is dood-hemp vir die okkasie aangetrek nie.
Stuk-stuk raak die plein leeg en die tamaai arena vol.
Daar hang heelwat minder luidsprekers uit die dak as die enorme trosse by Roger Waters se In the Flesh-konsertjie destyds in die Dome. Dalk het iemand die memo gelees dat almal se ore nie altyd ewe honger is nie.
Dis presies agtuur. Die SunBet Arena verdonker. Die verhoog word wakker in flitse van rooi, purper en blou.
Doeriekant troffel die tromslaner in sy eie glashoekie en twee klawerdames links kleur als in soos Tretchikoff.
En The Hump kom stap uit tussen sy twee kitaarmanne deur. Woep, val die kollig op sy gesig. Elegante donkerblou pak, die hemp wynrooi. Plooie net waar jy kyk.
Hy gryp die mikrofoon. Sy goue pinkieringe knipoog.
“Goeienaand!”
’n Hoflike gejuig en handeklappery bars los. Ek trek my plastiekglas rooiwyn nader.
Die grootskerms flits eers oop met die massiewe wit EH-kroon en kom sit dan die oom met sy spierwit glimlag en blinkswart skoene sommer vlak by die agterste sitplekke neer.
Sy hare donkerbruinerig gekleur, sy indrukwekkende bakkebaard duidelik vir die Elvis-effek. Op die grootskerm lyk dit nie asof daar ’n stukkie pruik op die voorkop aangelym is nie.
Hy is glo ook nie een vir plastiese chirurgie nie.
“Sjoe, die man lyk goed!” hyg die tannie met die leopard print-baadjie langs my.
Haar man is gryser as sy. Hy lag. “Hou jou in, Soetlief. Dis als grimering daai. Kyk hoe hang sy wange.”
Ek kan sweer Engelbertus se kalkoenkeel lyk beter as myne.
Hy loop waardig, bietjie styf-styf voor die bloedrooi draperings verby en waai vir sy mense onder die ligte. Hy soen sy mikrofoon met mening. “Please release me, let me go …”
So, dink ek. Dis nou die Gladdejan wat destyds die liedjie “Lesbian Seagull” vir Beavis & Butthead geskryf het.
“For I don’t love you anymore …”
Vergete is almal se aanvanklike viesheid omdat die konsert so lank ná slaaptyd begin. Selfoonliggies swaai in die halfduister rond. Rondom my hoor ek krakerige hoesies.
“You’d be a fool to cling to meeeee …”
Tussen die flitsende ligte probeer ’n paar mense nog hul sitplekke kry en rolstoele word versigtig tussen singendes verbygestoot.
The Hump lyk vir my ’n bietjie nekseer. Maar hy glimlag verbete en steek sy hande uit na al die onverdunde liefde en nostalgie en eerlike trane in die volgepakte stoele rondom hom. “There goes my reason for living, there goes my everything …”
En die ouballie glip naatloos rond tussen my kinderklankbaan se “Quando Quando Quando”, dan oor na “Can’t Take My Eyes Off You”, hiert en sommer gou gooi hy “Man Without Love”.
Every day I wake up
Then I start to break up,
Lonely is a man without loooooove
Die oorbekende refrein trek deur die lug uit alle rigtings. Almal sing so kliphard as moontlik. Die aircon voel ook lankal nie meer so koud nie.
Ons is almal so fokken happy. Jissie, onthou toe Chappies twee sent gekos het. Pienk pilletjies suig in die kerk … My Meccano en kleinboet se Scalextric. Rich Man, Poor Man. You’re The Fire was ons naellak. Die ghoens en beauties wat ons geruil het. Pa se gehawende Old Spice-skeerborsel. Ma se breimasjien wat in die gang af gesjoerrrt-sjoerrt het. Hoe ons geskater het vir Jungle Book se Ingelse aasvoëls. Bliksem en daai keer toe ek my knieë dieper as vel-af geval het met die Raleigh. Lyle’s-stroop oor ons vetkoeke. My stukkende Cewpie-pop wat uitgelag is by die tombola. Spinasie gekook tot kalkoenkak. Gehekelde hangers. Toe dokter Wynand daai koue laataand Ouma se ooglede toegedruk het. Haar kamer vol Vicks en die gepoeierde reuk van ’n baba. Saggies slaap Ouma, môre bak ons weer anysbeskuit. Daar in die kombuis met die Marley-teëls se “Locked-in Shine”.
Die ligte flits oor ons koppe en Engelbert trek grinnikend sy baadjie uit. “This is hard work, ladies and gentlemen.”
Kyk hoe kyk sy vir my met daai Spaanse ogies … Please, say si, si …
Die atmosfeer drup van die heimwee terug na digte moestasse en hande sonder lewerkolle.
Dan gaan sit hy bietjie op die hoëstoeltjie met “Oooffff it’s the knees, you see”.
Ek vermoed hy wil eerder die bloedblase op sy stembande ’n bietjie laat sak.
Ek sluk nog wyn. Hy vertel onnutsig van die keer toe die polisie hom afgetrek het.
“Sir, what’s your name? I tell them I don’t remember. They tell me blow in this pipe. I say I can’t, I’m asthmatic. They have to take some blood. I say I can’t, I’m haemophilic. OK, then please walk on this line. I say I can’t, I’m too drunk.”
Tussen die geskater staan hy op en spring weg met “This Time Tomorrow”, ’n liedjie waarop daar al baie in die land gesokkie is, wals of te not. Dit loop net so lekker, sien. “I’m gonna be with you forever, I loooove youuuuu Louise …”
Warrimpel, hier trek Tom Jones se “It’s Not Unusual” se intro kliphard weg. Hoe nou?
Hy gooi arms in die lug vir die orkes agter hom: “No wait guys, I’m not ready yet.”
Hy gaan staan windgat wydsbeen. Knoop met beswete oksels die wynrooi hemp oop. Drie stadige knope. ’n Goue ketting blink op sy dun tapytjie borshare.
Ek hoor ’n versigtige geruis eerder as ’n gejuig. Hy gryns. “Not every Tom, Dick and Harry can do this, you know.”
Hiehiehieha ha haaaa, trek dit soos ’n koor uit die voorste gestoeltes uit.
Hy en Tom het glo ’n doringdraderige vete gehad en deesdae word daar maar min daaroor gesê. Die urban legend loop dat ’n joernalis vir Tom gevra wat hy dink van Engelbert. Tom se antwoord: “Once a cunt, always a cunt.”
Soos in die volksmond: Once a kant, always a kant.
Die skare word getrakteer met “Am I That Easy to Forget?” Ek sweer daardie lirieke kan op enige tienerangstige platform binne sosiale media werk.
They say you found somebody new
But don’t want no one but you
How can you leave without regret
Am I that easy to forget
Die bloserige “After the Lovin” en die oseaan vol dobberende selfoonliggies laat my wonder hoeveel van die mense in hierdie moerse plek op daardie liedjie gevry het.
It's so hard to explain
Everything that I'm feelin'
Face to face,
I just seem to go dry
But I love you so much
That the sound of your voice
Can get me high
Dit pyn agter my ribbe. Pa, niemand kon orrel speel soos jy nie. Oupa, vervloek is daardie stukkende aorta.
“I had a good time!” Jouwragtag, die oom is klaar.
“Kom Mamma, vat my hand. Dit gaan ure vat om hier uit te kom.”
Ons gaan soek anti-cheesy-drankies in die casino langsaan. Die vertoning word dik bespreek tussen welkome slukkies Cointreau.
“Vir wat gaan sing hy ’n Barry White-ding? Was dit nou nodig om ‘My first, my last, my everything’ by ’n ander ou te gaan leen?”
“Presies! Hy’t so baie van sy eie goed. Ek wou nog baie meer gehoor het, maar nee, hier eindig hy met Perry Como. Perry-flippen-Como! Hoe maak Engelbert Humperdinck NIE klaar met ‘Last Waltz’ nie?
Hoekom nie, inderdaad. Dis dan ons almal se storie.
I had the last waltz with you
Two lonely people together
I fell in love with you
The last waltz should last forever
- Hierdie artikel is die eerste keer op 19 Julie 2024 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou. Hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.