MY ma het my vertel my heel eerste woord was “Dadda”. Maar Dadda was nie daar nie, hy het my ma gelos.
My storie is nie uniek nie, dit gebeur met meer as die helfte van ons land se kinders, vir welke redes ook al. Maar ek het hom jare lank romantiseer, veral nadat ek hom ontmoet het.
Ek het 'n imago geskep van 'n wildewragtig, 'n rokjagter, 'n man met 'n passie vir vinnige motors. In die hoek van sy mond was daar gedurig 'n filterlose Gunston-sigaret.
Ek onthou sy Aviator-sonbril, leerbaadjie, Brylcreem en Old Spice. Die musiek waarna hy geluister het, was dié van Creedence Clearwater Revival, daai tipe genre. Sy kassetspeler was altyd in sy Peugeot 404 aangeskakel en luid. Hy het hardehout gedrink, Cane en Coke.
Ek het gehou van dié cowboy-beeld, 'n karakter uit 'n Western wat kroegdeure oopskop en respek afdwing. My ewige helde-aanbidding van hierdie skynbeeld en soeke na sy liefde het my vir jare gevolg – 'n onversadigbare versugting.
Dit het my na verskeie doodloopstrate gelei. Nie eens die skryf van 'n outobiografie kon my van hom ontslae laat raak nie.
***
Die eerste keer toe ek hom ontmoet het, was ek agt. Hy het in 'n rooi Ford Anglia opgedaag en ek was gehipnotiseer deur hierdie vreemde man wat opeens sy verskyning gemaak het.
Om my te beïndruk het hy deur die agterstrate van Vredehoek gejaag. Toe ons in 'n nou straat voortsnel, het 'n hondjie voor die motor ingehardloop. Die kar het oor hom gery.
Die hond het getjank, toe roerloos gaan lê. Om my te beïndruk moes 'n troeteldier opgeoffer word. Hy was waarskynlik dronk, ek was te jonk om dit te besef.
Jare later sou ek uitvind hy het te vinnig oor die Piekenierskloofpas naby Citrusdal gery. Sy motor het gerol, hy was ongedeerd. Net jammer die ryloper wat hy opgelaai het, was op slag dood.
My ma het my eendag vertel hoe hy 'n wolfhond wat te veel geblaf het, aan die gorrel gegryp en met een hand verwurg het.
***
Jare het verbygegaan, totdat ek 12 geword het. My ma het vanaf Seepunt na die platteland getrek en omdat ek in die Kaap skoolgegaan het, is ek na Sam Korck weggestuur.
Sammy, soos hulle my pa genoem het. Sy van was Korck, 'n gepaste van vir 'n alkoholis. Hy het ook in Seepunt gewoon.
Soms het hy vir dae of weke weggebly. Geld was skaars, dan weer volop, afhangend van hoe lank hy kon ophou drink.
My stiefma, Linda, het mettertyd stiller en stiller geword. Op 'n dag toe Sammy nie drank gehad het nie, het hy 'n bottel parfuum probeer drink.
Toe sy geld op was, het hy my visstok en fiets verkoop. Die dag toe ek met hoërskool begin het, moes ek op my eie na die skool gaan, want hy was weer weg.
Ek onthou hoe bang ek was. Hy was nooit by enige van my oorgangsrituele nie. Nie toe ek die eerste dag laerskool toe is nie.
Ook nie toe ek klaar met hoërskool was nie, ook nie op my 21ste verjaardag nie. Toe ek 'n skoolkoerant help stig het, onderhoofseun geword het en nasionale debatskompetisies gewen het, was daar nooit 'n woord van gelukwensing nie.
Net stilte en die reuk van drank. Ek kon ook nooit vriende huis toe bring nie, ek was te skaam vir die karige meubels, die ooglopende armoede, die dronklap wat op die bed snork.
Hy was een dag so dronk, ek moes hom na die toilet neem en sy penis vashou sodat hy kon urineer. Toe kom die tyding.
***
Sammy het 'n nuwe vrou ontmoet. Hy wou skei van die vrou wat hom 10 jaar versorg het. Ek was 16 en is koshuis toe.
Hy het alle kontak met my gestaak, maar ek het wel van sy minnares se dogter verneem dat haar ma besluit het om my twee worshonde en twee katte te laat uitsit. Sammy het ingestem.
Nog 'n dolk was toe 'n dogter van een van sy ander affairs vir my jare later vertel hoe hy soos 'n pa vir haar was. Sy is bederf asof sy sy eie kind was, terwyl hy geen kontak met my meer gehad het nie, nie eens 'n foonoproep nie.
Geld? Ek moes met beurse en welsyngeld oor die weg kom.
Kry ek myself jammer? Glad nie, het nog nooit nie, soek ook nie simpatie nie. Dit is nie waaroor hierdie stuk gaan nie. Ek is te lank in die tand vir spookasem, moes al oor te veel berge en dale klim.
In ieder geval, die samelewing se empatie is soms kil en dun gesaai – elke huis moet seker hulle energie spaarsamig gebruik om hulle eie probleme op te los. 'n Mens staan nie by 'n pap wiel stil nie.
***
Eendag toe ek reeds in my laat tienerjare was, stap ek in die Kompanjiestuin in die Kaap. 'n Slordige man kom na my toe aangeloop en vra my vir geld. Toe ons na mekaar kyk, herken ons mekaar. Dit was my pa.
Hy vertel my hy woon in die Heilsleër. Kan ek hom help? Woedend is ek daar weg, sonder om hom 'n sent te gee. Ek het hom nie weer gesien nie.
Jare later, toe ek 27 was, lui my telefoon by die huis. Die man aan die ander kant is Sammy. Hy wil met my praat oor die verlede, asseblief. Hy wil verduidelik, hy wil versoen.
Sammy het so pas uit die tronk gekom, twee jaar vir bedrog. Ek stem in. Ons besluit om by die Vasco da Gama Taverna in Groenpunt te ontmoet.
Dit was een van sy groot kuierplekke. Ons besluit op 'n datum. Die dag voor ons ontmoet, is daar 'n boodskap op my antwoordmasjien.
Ek moet iemand bel, hy los sy nommer. Toe ek bel, vertel hy my my pa is oorlede. Hy het in 'n steakhouse verstik aan 'n stuk vleis en is net daar dood.
***
Dit is toe my vreemde soektog na hom begin het. Eers het ek hom soos stukkies van 'n legkaart opgebou as 'n tipe onaantasbare kolos, 'n man wat gefolter en onskuldig was.
Ek het na ou foto’s van hom gekyk en gewonder of hy bruin was. Hierdie foto’s het ek vir 'n paar mense gewys en hulle het ingestem.
Hy wou nooit oor sy ouers praat nie en wou ook nie dat ek na die argief in die Kaap gaan om sy familienaam op te spoor nie. Hy was onbuigsaam daaroor.
Was dit sy gladde swart hare wat hom as wit mens kon sertifiseer? Het hierdie verskriklike geheim tydens apartheid hom gekniehalter? Was hy bang dat hy uitgevang sou word?
Het ek my dit verbeel? Ek het geen foto’s oor nie, miskien dryf daar een op Facebook. Sporadiese gesprekke oor die politiek het na my toe teruggekom, hy was sy tyd vooruit.
***
Later het ek besluit om in sy spore terug te loop. Jy doen vreemde goed om leemtes te vul, antwoorde te kry.
Ek het ook by die Heilsleër teenaan die Waterfront waar hy eens gebly het, gaan aanklop. Om te voel hoe hy moes gevoel het, was vir my belangrik.
Ek wou in die loopgrawe wees. Dit was my eie via dolorosa, 'n pad na vergifnis. Ek wou soos hy swaarkry en sukkel, ek wou hom word, ek moes nader aan hom kom, kontak maak, asof deur die hemelruim. Die nagte was koolswart, met hoesbuie van oumense wat die stilte verbreek het.
Vir 'n jaar het ek tussen arm en gebroke mense gewoon. Ek sal nooit die reuk van kool vergeet nie, 'n alomteenwoordige stank tot op die sewende vloer.
Die stories van gekwestes wat alles deur drank verloor het, of omdat hulle eenvoudig nie kon aangaan in die gewone wêreld nie, het my geknak. Ná 'n volle jaar is ek daar weg, terug huis toe, met hordes notaboeke vol geskryf – met geen antwoorde nie.
***
Toe begin my ander soektog. Hy kon nie vir ons afspraak by die Vasco da Gama Taverna opdaag nie, want hy is die dag voor dit dood.
Vir jare sit ek op dieselfde stoel en verbeel my waaroor ons sou praat. Hoe ons sou opmaak, afsluiting kry, voortbeur. Alles sou daarna mooi en goed wees.
Ek het daar gesit en gesit en geskryf en geskryf en op my foon getik en getik, jaar in en jaar uit. Laas Saterdag was dit asof hy daar aankom en vir my sê ek moet ophou. Sit die gesel neer.
'n Swart spinnekop het in my losgebreek, ek het dit uitgespoeg. Ek het opgestaan en betaal. Vir 'n aardige rede het ek almal agter die toonbank met die hand gegroet, asof ek op 'n reis gaan.
Ek het stadig by die kroeg uitgeloop. 'n Uber het op my gewag, ek is huis toe. Ek was vry, ek het hom afgesweer. Deur die oop venster het 'n bergwind oor my gesig gewaai.
Dit was nie my skuld dat hy nie daar was nie, ek hoef nie meer te wag nie. Die tyd vir wag is oor. Só is dit genoeg.
Op Vadersdag sal ek seremonieel van hom afskeid neem. Ek sal na die strand daar by Drieankerbaai gaan. Die baai met sy bruin bamboes waar ek as kind gaan visvang het, met die visstok wat hy vir drank verkoop het.
Vir 'n wyle sal ek dink aan al die kinders in ons land sonder aanwesige pa’s, maar ek sal nie sentimenteel wees nie. Ek sal 'n handvol sand optel, asof dit sy as is en in die see ingooi. Daar sal seemeeue wees.
Ek sal nie soos Breyten Breytenbach in sy lieflike gedig skryf dat hy sal sterf en na sy vader toe gaan nie. Ek sal ook nie opstaan en na my vader toe gaan nie, ek sal nie aan sy voete val nie.
Nee, ek sal sy ou Bybel met die groen omslag op 'n rots vir iemand anders los. Daarna sal ek my rug draai, by die trappe opklim en soos 'n krom vraagteken reg téén die wind inloop.
Vorentoe.
Mornings at Blackwater
For years, every morning, I drank
from Blackwater Pond.
It was flavoured with oak leaves and also, no doubt,
the feet of ducks.
And always it assuaged me
from the dry bowl of the very far past.
What I want to say is
that the past is the past,
and the present is what your life is,
and you are capable
of choosing what that will be,
darling citizen.
So come to the pond,
or the river of your imagination,
or the harbour of your longing,
and put your lips to the world.
And live
your life.
– Mary Oliver
- Hierdie artikel is die eerste keer op 14 Junie 2024 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.