PÈRE LACHAISE in Parys, genoem na die biegvader van Lodewyk die Veertiende, lok jaarliks meer nuuskierige agies, glansjagters en groupies, dwepers met die dode, toeriste en besoekers as enige ander begraafplaas op aarde. En tog was dit Dinsdag waarskynlik die eerste keer dat Afrikaans hier by 'n roudiens weerklink het.
Weer eens was Breyten Breytenbach 'n pionier, soos in die lewe, so ook in die dood. Sy dogter, Daphnée, sluit haar liriese Franse huldeblyk af met enkele frases in die “Kreoolse taal wat joune was", die taal waarin hy “'n towenaar van metafore en beelde in 'n duisend kleure" geword het. “Pappa, ek het jou lief. Ons het jou lief." Hierdie eenvoudige woorde, met die Franse aksent wat ook my eie dogter se Afrikaans met 'n eksotiese kleur verf, laat my trane rol.
En vir die res van die roudiens kan ek om die dood nie weer my oë droog kry nie.
As Afrikaanse skrywer in Frankryk, met 'n Franse lewensmaat en 'n Franse dogter, voel ek onvermydelik 'n sterk verbintenis met Breyten. Dis hy wat my reeds as tiener laat besef het wat alles in Afrikaans gesê kan word – en dat jy dit kan aanhou sê selfs al lewe jy in 'n ander land. Dis seker nie Breyten se skuld dat ek uiteindelik ook 'n weglêhoender geword het nie, maar sy woorde en sy dade het dit vir die eerste keer moontlik gemaak om oor 'n bestaan buite die hok te droom, om dalk eendag my eiers met 'n beskeie kekkel anderkant die werf te kan lê.
Daarom het dit noodsaaklik gevoel om sy begrafnis by te woon, om metafories aan die meester se voete te vat (of altans aan die verweerde rooi velskoene wat sy dogter op die doodskis neergesit het), ook namens al my medesterwendes in die verre Suiderland wat nie daar kon wees nie. Al die Afrikaanse lesers oral op aarde wat graag ons taaltowenaar met die baie name sou wou groet:
Panus, Kamiljoen, Woordfoël, Buiteblaf,
Lasarus, Bian Tong, die lawwe Grafblom Blom-vent
en die ander Afrika Fuifgat Bibberbek alias
... Beweborsie breytenbreytenbach.
Ek haal aan, want hoe anders huldig jy 'n gedugte digter as in sy eie onvergeetlike woorde?
Dit kos twee nagte van sitslaap in 'n trein om van my gehuggie in die suide van die land tot by Père Lachaise en terug te reis, twee nagte waarin ek sy gedigte lees, met 'n dag vol trane en lag tussenin. Begrafnisse is mos maar 'n emosionele allegaartjie, 'n wipplank van treurige afskeid en blye weersiens. Ek is nie die enigste een wat ver gereis het nie. Ek loop oubekendes raak en ontmoet vreemdelinge wat soos vriende voel. Van heinde en verre het ons opgeruk vir 'n laaste eerbetoon: die skrywer Anelia Heese uit Berlyn, joernalis Raymond Willemse uit Amsterdam, akademikus Yves T'Sjoen uit Ghent, lesers en bewonderaars uit Switserland en elders in Europa. Dominique Botha en haar bejaarde mielieboer-pa het die nag in 'n vliegtuig van Kaapstad af deurgebring en die volgende dag teruggevlieg.
Klein en broos, maar ook yster van binne
'n Hele paar Suid-Afrikaners wat in Parys woon of werk, het ook gekom om vlugtig aan Yolande se hand te raak (die klein klein hand tjie tjie tjie van sy wintervrou, om BB se ode effens te omvorm), of bloot om dank te betuig vir sy woorde wat ons almal dekades lank gevoed het. Nog nooit het Yolande só klein en só broos gelyk nie, en tog ook yster van binne, met 'n sagte glimlag vir elke vreemdeling wat simpatie kom betoon.
Laatnag sit ek uitgeput in die trein, soos 'n kind wat sat gespeel is ná heeldag se wipplank ry, en blaai deur die bundel wat ek saamgebring het, die laaste een wat hy vir my geteken het: vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte. Ek weet nie waar ek die woorde gaan vind om hierdie ervaring vas te vang nie. Dan val my oog op die gedig “reisende" en ek sien myself
afgebeeld in die treinvenster
deur 'n herfslandskap van diep aarde
en swaar hemel –
hoe honger ek na buite na binne kyk.
En ek besef dís waar ek die woorde gaan vind. In Lasarus se gedigte, waar anders?
Wanneer jy uitasem genoeg is
op pad van nêrens na nêrens
gaan staan jy stil om te luister
hoe gebeur die êrens van skrywe
in die stof
Van die oomblik dat ons in die krematoriumsaal gaan sit en die kis ingedra word, skielik hier vlak voor my, ontstellend naby, fladder my gedagtes soos ontsnapte voëls rondom BB se woorde. Baie van my vriende is lankal dood, het hy geskryf, klop teen die kiste se deksels en hulle hou nie van molle nie. Dalk is dit 'n troos dat sy lyf nie lank in daardie kis sal lê nie, dat hy binnekort verlos gaan word van molle en wurms, dat daar niks meer as 'n hopie as van hom sal oorbly nie. Só probeer ek myself troos.
Die eerste deel van die seremonie word deur twee Zen-Boeddhistiese monnike behartig. Heelwat van die teenwoordiges verstaan nie Frans nie, daarom word die prewelende inkantasies van die kaalkop-monnike 'n welkome gelykmaker, iets wat niemand in die saal waarskynlik verstaan nie. Dit gee ons 'n geleentheid om aan die oorledene te dink, 'n stil meditasietyd wat miskien 60 jaar gelede al voorspel is. In daardie baanbrekende eerste bundel, die vierkantige lemmetjiegroene wat sommer met die eerste blik aangekondig het dat hierdie 'n nuwe soort ding is, bring die maer man met die groen trui reeds blomme vir Boeddha.
(ek) asem in (ek) asem
uit (ek) asem 'n alles
in
en
uit
Ná die stiltetyd praat Daphnée oor die man wat menigvuldige identiteite gehad het, maar vir haar altyd net haar pa was. Hy wou haar keer om geheg te raak aan sy geboorteland, hy het haar aangeraai om haar hart aan 'n ander wêrelddeel te gee, “want hier is ons met die kleur van verdwyning geverf". Vergewe my, Pappa, sê sy, maar sy en haar twee seuns, Bokkie-Zoeloe-Grootman en Boeddha-Janneman, gaan nie luister nie. “Ons gaan ons verheug in die lig van die reënboogland, selfs al verblind dit ons." Weer en weer, oor en oor, solank hy aanhou om hulle voetstappe te begelei.
“Maar asseblief, Pappa, asseblief. Belowe my jy sal soms terugkeer en die geheue van voëls in 'n tyd van revolusie in ons ore fluister."Daphnée
George Lory, wat dekades lank Breyten se boeke uit Afrikaans in Frans vertaal het, verwys ook in sy ontroerende huldeblyk na sy vriend se fassinasie met voëls, na al die voëls wat deur sy gedigte vlieg, en na sy Spaanse tuiste, Can Ocells, wat in Katalaans “plek van die voëls" beteken. Hy eindig met Breyten se geliefde gedig oor 'n tourterelle, en toe hy van Frans na Afrikaans oorslaan om die eerste reëls voor te lees, is ek nie die enigste een in die saal wat skaamteloos huil nie:
Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie ...
Maar die hoogtepunt vir my, en miskien vir die meeste van ons, is 'n geanimeerde video van Diek Grobler waarin Breyten se onmiskenbare stem sy gedig oor sy pa se groot bôrdienghuis in Wellington voordra:
vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie ...
Om op 'n grys reëndag in die hart van Parys na daardie Bolandse aksent te luister terwyl ek na 'n paar rooi vellies op 'n doodskis in Père Lachaise kyk, so verdrietbek verdwaal tussen blinde wegkommers en weemoedige binnelinge, is 'n belewenis wat ek nie werklik kan verwoord nie.
En wat ek ook al daaroor sou sê, sou hy in elk geval beter kon sê.
’n Klip vir my uit die Drakensberge
Ná almal in die saal kans gekry het om rondom die kis te stap en 'n blom of 'n blaar neer te lê, word die kis weggedra, by 'n trap op na die glinsterende blou mure en gebrandskilderde blou vensters van die krematorium se koepel, amper asof dit na 'n mensgemaakte blou hemel geneem word. En toe weergalm die koepel met Johannes Kerkorrel wat Breyten se gebed “Aa mens" sing, 'n verruklike humanistiese weergawe van die “Onse Vader" wat presies reg klink vir hierdie oomblik.
Buite op die trap voor die krematorium groet ek vinnig, sommer so in die bondel, want my hart hang swaar in my bors en ek het stilte nodig om al hierdie emosies te verwerk. Maar Dominique Botha verras my deur 'n klip in my hand te druk. Dis die mooiste, liefste geskenk, 'n ruwe stukkie rots wat sy op 'n hoë piek in die Drakensberge opgetel en al die pad saamgevlieg het, want ons weet mos Breyten was ook 'n klip-troetelaar.
So soos mens in 'n ander taal leef
om nie te weet jy gaan dood nie:
o, soos ek in Afrika met pampoentyd versoen
'n klip op sou tel teen die tyd, om so
gewapen die dood tegemoet te gaan
'n Paar uur later sit ek met my klip in die trein en vind troos in Breyten se woorde, soos soveel keer vantevore en soos hoeveel keer vorentoe nog sal gebeur, daarvan is ek seker. Dit was 'n besondere dag,
nog 'n asemstoot gewen
teen die onsedelike
oneindigheid
van nie hier wees nie.
Net voor die ritme van die trein my laat insluimer, lees ek die gedig getitel “instruksies":
Wanneer ek die dag nie meer daar is nie
... onthou om vir Maandag na die Dinsdag
van die vorige week te laat kom
sodat ritmes erken en eerbiedig mag word,
onthou ook om die kinders aan die lag te kry
veral net voor slapenstyd.
En ek raak met 'n glimlag aan die slaap. Jy het jou kant gebring, Broer B, nou is dit ons medesterwendes se beurt om die dae van die week reg te rangskik en die kinders te laat lag.
Vir 'n rukkie, altans.
- Hierdie artikel is die eerste keer op 6 Desember 2024 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.