James Small: Bokheld en ’n bliksem

DIE EINDFLUITJIE BLAAS

James Small: Bokheld en ’n bliksem

James Small was ’n hardegat-vleuel en ’n man wat sy hart op sy tong gedra het. CLINTON VAN DER BERG onthou die seges en skandes van Suid-Afrika se eerste rugby-rockster wat hierdie week skielik die veld verlaat het.

James Small omhels Bokkaptein Francois Pienaar ná die sege oor die All Blacks in die 1995-eindstryd.
SO WEN JY DIE WÊRELDBEKER ... James Small omhels Bokkaptein Francois Pienaar ná die sege oor die All Blacks in die 1995-eindstryd.
Image: RAYMOND PRESTON © SUNDAY TIMES

BUITEN sy naam was daar niks kleins aan James Small nie.

Reeds toe hy in die vroeë 1990’s op die rugbytoneel verskyn het, was hy luidrugtig en sy spel windmakerig. Toe hy jare later Wêreldbekers gewen en internasionale velde bestorm het, was hy gevestig in sy rol as Suid-Afrika se eerste rockster-rugbyspeler, strydig met die tradisionele Springbok-patroon.

Dogma en tradisie het bepaal dat Springbokke maak soos hulle gesê word, maar Small was ’n nonkonformis van die eerste dag af toe hy die Transvaal-kleure by Cravenweek gedra het. Hy was ’n soutie van ’n voorstedelike Johannesburgse skool in Greenside, ongewoond aan die openbare oog.

Small het aanvanklik as ’n naelloper op skool sy merk gemaak – hy het aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem – maar dit was sy gatskop-houding op die rugbyveld wat hom in die kollig laat beland het. As ’n Engelsman in ’n oorheersend Afrikaanse span het hy altyd gevoel dat daar op hom neergesien word. Hy het gevolglik net nog harder gespeel.

Luister hier, James

Dat hy boonop modelwerk gedoen het, het beswaarlik gestrook met die tradisionele pad van die elite-speler. Nie dat dit hom gepla het nie.

By sy eerste ontmoeting met die Springbok-afrigter Kitch Christie het hy die beginnersfout begaan om hom as “Kitch” aan te spreek.

“Luister hier, James,” het Christie gesê, “dis ‘Coach’ of ‘meneer Christie’ vir jou.”

“Ja, Coach,” het Small gesê. Hy het altyd sy heel beste rugby onder die wyle Wêreldbeker-wennerafrigter gespeel.

Small het die grondslag vir sy legende gelê as provinsiale speler vir die Westelike Provinsie, die Sharks en Transvaal. Gemeet aan vandag se standaard was hy nie juis groot nie, maar hy was gespierd en het puik aanval-instinkte gehad. Hy’t ook nie net op krag staatgemaak nie; hy kon sweef en swenk en skep.

Volgens tradisie het Springbokke gemaak soos hulle gesê is, maar daar was niks tradisioneel aan Small nie.
ONORTODOKS ... Volgens tradisie het Springbokke gemaak soos hulle gesê is, maar daar was niks tradisioneel aan Small nie.
Image: NICKY DE BLOIS © SUNDAY TIMES

Storm en die skinderpers

Terwyl Small se houding op die veld aanhangers sowel as die respek van sy spanmaats gewerf het, het sy lewe weg van die veld af ook opspraak gewek. Hy het nie sommer ’n partytjie misgeloop nie en was gereeld op die sosiale bladsye te sien in die geselskap van die rykes en die mooies. Sy stormagtige verhouding met die model Christina Storm, ma van sy dogter Ruby, het hom ’n konstante plek in die skinderpers besorg.

Daar was gerugte van ’n selfmoordpoging in die vroeë 2000’s, alhoewel Small dit ontken het en eerder na ’n soort ineenstorting verwys het.

Jare later het hy beken dat hy Storm fisiek aangerand het, maar hy het terapie ondergaan en was diep berouvol. Dit was sy wilde jare daardie, en namate hy ouer geword het, kon hy dit sien vir wat dit was – ’n draaikolk van emosies en ’n woeste botsing van persoonlikhede.

Met Small was daar eenvoudig geen tussengrond nie.

Hy kon die inbreuk op sy persoonlike lewe nie verdra nie, en sy verhouding met die media was ambivalent. Soms was hy sjarmant, ander kere het hy hulle binne sekondes stilgemaak.

Hy het onvermydelik ook ’n ongewenste plek in rugbygeskiedenis verwerf toe hy in 1993 die eerste Springbok word wat ’n rooi kaart in ’n toetswedstryd gekry het toe Ed Morrison hom in Brisbane van die veld gestuur het.

Hart op die tong

Die vorige jaar was Small deel van die historiese Bokspan wat sy formele terugkeer na internasionale rugby gemaak het teen die All Blacks. Sy bydrae tot die stryd was noemenswaardig vir ’n dramatiese aanslaan met die doellyn oop voor hom. Dit was deurslaggewend in 'n skrapse neerlaag van 27-24 teen die heersende wêreldkampioene.

Small het al gou ’n reputasie as die “stout seun” van Springbok-rugby verwerf, iets wat hy nie bewustelik nagestreef het nie, maar ’n etiket wat nietemin gepas het. In 1997 is hy vir ’n toetswedstryd uitgelaat ná ’n nag se harde kuier in Kaapstad. Hy was ook daarvoor bekend dat hy op teenstanders gevloek het, iets wat hom van tyd tot tyd die gramskap van beamptes op die hals gehaal het.

Hy het 47 toetswedstryde vir die Springbokke gespeel, geen daarvan groter as die Wêreldbeker-eindstryd in 1995 nie.

Dis gepas dat sy grootste oomblik op Ellispark plaasgevind het, waar hy as ’n jong speler soveel van sy rugby gespeel het.

Die onortodokse Springbok het Nelson Mandela tydens die span se voorbereidingskamp vir die 1995-Wêreldbeker ontmoet, waar Mandela hom vertel het dat sy kleinseun ’n plakkaat van Small teen sy muur het.

Small sou ook mettertyd Mandela se voormalige tronksel op Robbeneiland besoek, waar die barre toestande hom geskok het. Die oomblik het hom tot trane ontroer.

Small, derde van links, warm op vir die kragmeting met Jonah Lomu tydens die Wêreldbeker-eindstryd in 1995.
GATSKOP VIR GLORIE ... Small, derde van links, warm op vir die kragmeting met Jonah Lomu tydens die Wêreldbeker-eindstryd in 1995.
Image: © SUNDAY TIMES

Kantlyn toe met Jonah Lomu

Tydens die aanloop tot die epiese eindstryd was alle oë op die verwagte botsing tussen Jonah Lomu, die ontluikende Nieu-Seelandse superster en ’n 118 kg-blok van pure spiere, en Small, wat hom moes merk. Een opskrif het verklaar: “Jonah has a Small problem.”

Small was eenvoudig nie groot genoeg om Lomu op die tradisionele manier die stryd aan te sê nie, so die plan was dat hy die monster-vleuel na die kantlyn sou aankeer. Op dié manier sou Lomu beperkte ruimte hê en uit frustrasie foute maak. Small het die taak met sy gebruiklike geesdrif aangepak en Lomu deurgaans aan bande gelê, terwyl sy spanmaats Japie Mulder en Joost van der Westhuizen die harde duikwerk gedoen het. Die All Black-reus kon nooit deurdring nie.

Met die Bokke op pad na hulle grootste sege het die trane oor Small se wange gestroom – glad nie verbasend nie vir ’n man wat altyd sy hart op sy tong gedra het.

Jare later, toe ’n sieklike Lomu Suid-Afrika saam met ’n filmspan besoek het, het hy en Small weer ontmoet. Die diep bewondering was wedersyds; Small het Lomu vertel dat hy nooit beroemd sou geword het as dit nie vir die All Black se aandeel aan die wedywering tussen hulle was nie.

Hy wou ’n nuwe begin hê

Small het etlike jare lank in Kaapstad gewoon, waar hy ’n kroeg besit het en die sosiale lewe aan die kus geniet het, maar uiteindelik teruggetrek Johannesburg toe, waar hy in die eiendomsmark gespekuleer het. Hy het huise in die noordelike voorstede gekoop, herstel en herverkoop.

Hy het sagter geword, en soveel tyd saam met Ruby deurgebring as wat hy kon.

Hy het sy hand aan afrigting gewaag en ’n mate van sukses by Noordwes behaal voordat hy hom by die Pirates-rugbyklub in Greenside ingegrawe het, terug op sy tuisgrond.

In die weke voor sy dood die afgelope Woensdag het hy daaroor gepraat dat hy sy lewenstyl wou regruk en weer fiks word. Hy wou ’n nuwe begin hê.

Hartseer genoeg het die noodlot ingetree en het hy blykbaar aan ’n hartaanval beswyk nadat hy die vorige nag inderhaas in die hospitaal opgeneem is.

Hy was 50 jaar oud.

Hy laat sy suster Kelly, dogter Ruby en seun Caleb agter.

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.