Tussen die botterblomme met die ‘people se botanis’, Rupert Koopman

OM ’N VERSKIL TE MAAK

Tussen die botterblomme met die ‘people se botanis’, Rupert Koopman

ANNELIESE BURGESS het saam met die fynbosaktivis en voormalige bewaringsbestuurder van die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika in 'n stadsparkie tussen inheemse blomme gesels oor sy konneksie met die natuur, die bedreiging van ons fynbos en die konsep van ekologiese verdriet wat hy besef bewaringslui soos hy ervaar.

Rupert Koopman
Rupert Koopman
Image: ANNELIESE BURGESS

EK is laat (baie laat) vir my afspraak met Rupert Koopman. Blameer dit op my foon se rigtingaanwyser wat die kluts kwyt geraak het. Teen die tyd wat ek voor sy huis in Kaapstad se noordelike voorstede stilhou, is dit byna 'n uur ná ons afgespreekte tyd. Koopman kom haal my by die hek. Hy dra skaapwolpantoffels. “Ek't jou gesê Google Maps gaan jou miskien ronddonner," lag hy my verskonings af.

“Kom ons gesels 'n bietjie, maar dan wil ek jou eers gou iets gaan wys," sê hy.

Voor ons by die huis uitgaan, spuit Koopman 'n blerts SPF50-sonskerm in my hand. “Smeer. Ek het al met te veel ou mense gewerk wat velkanker gekry het van die son." Ons parkeer die kar in 'n stil doodloopstraat. Oorkant ons is 'n oop stuk grond oortrek met wit blomme.

Die yskasdeur in die Koopmans se kombuis vertel die storie van 'n gesin van natuurliefhebbers.
Die yskasdeur in die Koopmans se kombuis vertel die storie van 'n gesin van natuurliefhebbers.
Image: ANNELIESE BURGESS

Natuur kom terug

“Dis rêrig ’n storie van small is beautiful," verduidelik hy terwyl ons oor die pad stap na Lincolnpark. “Ek het amper my hele loopbaan lank probeer om die hele Wes-Kaap se fynbos te help, maar dis obviously nie prakties vir een persoon om te doen nie.

“Maar met dié stukkie grond was daar ’n sameloop van gebeure. Toe ons in 2015 hierheen getrek het, was dit een van daai tipiese groen stedelike ruimtes wat so tien keer ’n jaar deur die munisipaliteit gesny is. Omdat ek elke dag hier verby ry na my dogtertjie se skool, het ek begin oplet wat hier groei, en elke September as die blomme kom, het ek ’n foto geneem van haar hier. En ek hoor in ’n stadium van navorsing oor inheemse blomme en plante op urban sites. En ons begin toe om saam met dr. Peta Brom [stedelike ekoloog wat toe besig was met haar doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad se departement biologiese wetenskappe] se aanbevelings toe te pas van hoe en wanneer om die gras te sny sodat plante kan saad skiet en voortplant."

Ons stap op teen die randjie, tussen plate botterblomme deur. “Ek en 'n paar ander het nou al omtrent 70 spesies op die klein kolletjie geïdentifiseer," vertel hy. “En drie van daardie plante het die status van naas-bedreig op die rooi lys van bedreigde spesies."

Rupert wys vir my rooikalkoentjies, beetle lilies en mammakappie-orgideë. “Ruik bietjie," sê hy. Ek gaan op my knieë en druk my neus teen die geel blommetjies wat vlak op die grond groei. Dit ruik na nat mos en warm strooi en heuning.

En hier is Gladiolus alatus en daar ’n Baeometra, wys hy.

Ek is nie altyd goed met die volksname nie," sê hy terwyl hy wilde hawer uittrek. “Dié goed is ’n pes."

Rupert, wat steeds by die Botaniese Vereniging betrokke is, vertel daar is nou ’n hele paar parke in Kaapstad wat dieselfde pad gevolg het. Dit gaan nie daaroor om al die oorspronklike plante te probeer terugkry nie, want ons verstaan dis ’n urban matrix, maar ten minste kan ons help om dit te bestuur sodat ons die blommeprag in die lente kan hê.

Ons kyk af oor die vallei na die Kaapse Vlakte in die verte. 

“Dit lyk asof dié net ’n see van huise en ontwikkeling is," sê Rupert, “maar elke buurt – ook in plekke soos Kuilsrivier, Khayelitsha en Mitchells Plain – het inheemse kolle wat behou moet word. En ander stede ook. In Joburg, byvoorbeeld, is daar stukke grasveld wat vanuit hierdie perspektief onderbenut is."

Wilde hawer
Wilde hawer
Image: ANNELIESE BURGESS

Ekologiese trauma

Ons gaan sit op die randjie tussen die botterblomme. Rupert balanseer my foon op sy knie sodat ek die gesprek kan opneem. 

“In 2018 is 'n hele klomp plantmense wat ek baie goed geken het dood. En omdat die blommewêreld so klein is, het die sterftes my diep geraak. Ek het 'n depressie begin voel en kom toe in 'n stadium af op die konsep ‘ecological grief’. Daar was iets meer aan die gevoel wat my in daardie stadium beetgehad het. Dit was nie net die dood van al die mense om my nie. Dit was eintlik 'n sneller vir iets anders.

“Mense wat 'n verhouding het met die grond en die natuur – die navorsing noem boere, first nations people en bewaringslui – ervaar trauma as dit vernietig word. My vrou sê altyd as ek by die huis kom nadat ek nog 'n stuk laaglandfynbos gesien het wat onder 'n ploeg vernietig is, dat dit lyk asof my ma skielik gesterf het.

“Nou weet ek dis waar, want jy rou oor iets wat vir ewig weg is, wat gesterf het. Vir my is dit 'n goeie konsep om mee te werk, want dié van ons wat in natuurbewaring werk, is oorlaai en as daar aan begrotings gesny word, kan jy maar weet dit is ons s'n wat eerste onder die mes gaan kom. 

“Ek is so gewoond om na 'n stuk veld soos hierdie te kyk. Jy stap daardeur, jy weet dit is spesiaal en dan eendag kom jy en dit is platgesny of daar word daarop gebou ... Dit is 'n vorm van grief."


Rupert Koopman neem foto's vir sy katalogus van spesies in Lincolnpark.
Rupert Koopman neem foto's vir sy katalogus van spesies in Lincolnpark.
Image: ANNELIESE BURGESS

Landbou, grond en bewaring

Rupert dra 'n John Deere-pet wat hy by NampoKaap gekry het. 

“Ek is baie geïnteresseerd in landbou omdat die meeste van die bedreigde fynbos wat oorbly op boere se grond is. En natuurlik is ons afhanklik van landbou, so ek wil graag met boere werk. Dit is eintlik hoekom ek besluit het om nie meer voltyds by die Botaniese Vereniging te werk nie. Ek wil steeds spesialisbewaringswerk doen, maar ek wil ook baie meer met die publiek werk en ook plantbewarings-mentorskap doen met jonger mense. Ek dink daar is 'n groot gaping daar."


Natuurblootstelling

Rupert verduidelik hoe dit sy vroeë blootstelling aan die natuur was wat hóm op die pad na sy beroep as botanis geplaas het.

“My pa het in Faure naby Eersterivier grootgeword. In daardie tyd was dit nog platteland. Hy het in sy oom se kwekery gewerk. Die Koopman Nursery was toe baie bekend in die noordelike voorstede. Dit moes Kuilsrivier toe skuif weens die Groepsgebiedewet. My pa het later plantkunde by die Universiteit van Wes-Kaapland gaan studeer. 

“Hy's een van die min mense wat in daai tyd al gefokus het om inheemse voorbeelde vir ons kinders te gebruik. As ander van 'n padda gepraat het, het hy van 'n platanna gepraat. En hy het ons gevat om te gaan fynbos kyk en so aan.

“My blootstelling was ook van my ma se kant. Hulle was ywerige tuinmense. My oupa-hulle het in Mamre gewoon. Hy het het so 'n groot tuin gehad waar hy kos en blomme geplant het. En die natuurskoon is natuurlik ongelooflik daar."

Maar net om die natuur te ervaar is nie genoeg nie, sê Rupert. “Ek was jare gelede by 'n Tafelbergfonds-werkswinkel waar dit weer uitgekom het hoe belangrik dit vir kinders is om die natuur te ervaar saam met 'n entoesiastiese en ingeligte volwassene. Ek sien dit met my eie dogter. As sy vra watter plant is dit, dan kan ek vir haar sê in botanical Latin. En die meeste mense het nie dit nie. Dit is die rol wat ek wil speel. Om daardie persoon te wees.”

Rupert Koopman in sy tuiskantoor.
Rupert Koopman in sy tuiskantoor.
Image: ANNELIESE BURGESS

Fynbosmense

Rupert het in plantkunde en omgewingswetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. En dít is waar die fynbosgogga hom byt toe hy, as een van die drie topderdejaars in die veldnavorsingsmodule, uitgenooi word om die Fynbos Forum-konferensie by te woon.

“Ek ontmoet daar hierdie klomp fynbosmense. Ek het toe al baie in fynbos belang gestel, maar skielik is ek tussen die name wat die literatuur geskryf het ...

“Mens vergeet eintlik hoe onlangs baie van die fynbosnavorsing gedoen is. Dat die groot navorsing wat gedoen is om die fynbos-ekologie te verstaan, hier in die laat 70's en 80's was. Dit is eintlik so goed soos gister. En sedertdien is ek baie betrokke in wat 'n baie hegte gemeenskap is.

Bedreiging

“Mense dink daar’s net een soort fynbos, maar daar’s meer as 'n honderd verskillende soorte, insluitend ondersoorte van die Strandveld en die renosterveld."

Rupert is 'n spesialis in laaglandfynbos, die mees bedreigde deel van die fynboskoninkryk.

“Bergfynbos is relatief oukei, alhoewel daar wel issues is met klimaatsverandering en indringerspesies. Die Sederberge is 'n uitsondering; hier kry bergfynbos baie swaar weens die geweldige uitbreiding van rooibosteeboerdery. Maar laaglandfynbos is waar ons groot probleem lê, waar die groot bedreiging is, want dit is waar almal wil leef en uitbrei en meer en meer landbou en mynbou ontwikkel."

Right, so wat kan elkeen van ons doen om te help, vra ek. 

Rupert kyk so bietjie op na die wolke wat bo ons verbydryf voor hy antwoord.

“Dit is 'n interessante vraag, en ek het elke keer 'n ander antwoord. Die feit is ons moet wegbeweeg van individualisme. Almal dink, oukei, as ons hierdie of daardie doen in ons tuin, dan het dit 'n impak. Mmm, nie eintlik nie, as jy kyk na die skaal van die probleem. Het jy byvoorbeeld geweet dat 70% van kweekhuisgasse deur net 100 firmas vrygestel word?

“Vanuit 'n bewaringsoogpunt is dit goed om goeie beginsels toe te pas in jou huis en tuin. Soos om nie oral te plavei nie sodat water steeds in die grond kan afsypel en die ondergrondse akwifer aanvul. En om nie gif in jou tuin te gebruik vir sommer nie. Dit is alles goed. Maar die heel belangrikste ding wat elke persoon kan doen, die een ding wat 'n regte impak kan hê, is om by die omgewingsimpakstudieprosesse in Suid-Afrika betrokke te raak. 

“En daarmee bedoel ek nie om te bitch en moan en die radio te bel of 'n brief vir die koerant te skryf nie. Dit is net om stoom af te blaas. Dit is nie betrokke wees nie. Betrokke wees is betrókke wees. Om te engage. Om die vergaderings by te woon. Om die proses te gebruik om 'n stem te hê. En die wet in Suid-Afrika gee ons, die mense, eintlik baie ruimte om op dié manier 'n impak te hê. Dit is waar elkeen van ons werklik 'n verskil kan maak. 

“En vir die rekord," sê Rupert. “Ek is nie téén ontwikkeling nie. Ek is vír verantwoordelike grondbestuur."

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.