Die einde van die Zuma-dinastie

KARMA IS 'N BLIKSEM

Die einde van die Zuma-dinastie

Ons gaan nog skinderstories van hom hoor en in hofverslae van hom lees, maar Jacob Gedleyihlekisa Zuma se politieke lewe lê nou uiteindelik op sterwe. En hy vat sy eksvrou en ambisieuse kinders saam met hom die politieke duisternis in, skryf MAX DU PREEZ.

Image: ANGELA TUCK

’N HELE paar politieke kommentators het onlangs nog luidkeels verklaar dat die ANC en Suid-Afrika nie Zuma se politieke invloed durf onderskat nie.

Dié mense het Zuma as simbool verwar met Zuma as politieke leier.

Ja, dit is so dat die nuwe provinsiale leierskap in KwaZulu-Natal onlangs ná hulle verkiesing Nkandla toe opgetrek het om die oubaas se seën te vra. Maar dit is nou duidelik dat dit ’n seremoniële besoek aan ’n madala eerder as ’n politieke daad was.

Daar is amper iets tragikomies aan sy einde. Net ná middernag Dinsdagoggend het Zuma se inwonende dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, ’n onsamehangende, lomp-geskrewe persverklaring vol taal- en tikfoute namens haar pa op Twitter geplaas waarvolgens hy steeds as kandidaat vir die voorsitterskap van die ANC gaan staan. Gewoonlik reik Zuma verklarings via die Jacob Zuma Foundation uit.

Zuma het boonop in die verklaring sy steun aan Nkosazana Dlamini-Zuma (NDZ) as kandidaat vir die leierskapverkiesing in Desember herbevestig.

Die ANC-leierskap in KZN, almal stewig in die RET-kraal, het hom bloot geïgnoreer, en dit was nogal ’n snotklap. Hulle steun amptelik vir oud-minister Zweli Mkhize as kandidaat teen Cyril Ramaphosa, en vir Stan Mathabatha, die ANC se voorsitter in Limpopo, as voorsitter.

As dié besluit deur die provinsiale leiers gaan staan, sal NDZ dalk glad nie ’n kandidaat by die verkiesingskonferensie wees nie. Sy het met haar uitlatings dié week teen die ANC se uitvoerende komitee se besluit dat aangeklaagde ANC-leiers opsy moet staan, wat sy aanvanklik gesteun het, ook seker gemaak dat sy nie in die post-Desember-kabinet ingesluit sal wees wat hoogs waarskynlik weer deur Ramaphosa gelei gaan word nie.

NDZ se kritiek op die opsystaanreël kan vertolk word as ’n argument waarom haar eksman as kandidaat vir die voorsitterskap toegelaat moet word. Soos die reël nou staan, mag Zuma hom vir geen pos beskikbaar stel nie omdat hy strafregtelik vervolg word.

Die ANC in KZN dink duidelik dat Mkhize ’n beter kans teen Ramaphosa as NDZ staan en dat Zuma se steun vir haar eerder teenproduktief kan wees. Die nagevolge van die katastrofiese oproer en anargie in Zuma se naam in KZN in Julie verlede jaar tel dalk ook teen die Zumas.

Zuma sê in sy Twitter-verklaring NDZ is steeds die “most capable” leier om die ANC te lei. “I have heard some few (sic) comrades raising some issues with regard to her, but unfortunately they all dismal (sic) failed to present a better candidate with better credentials than hers except those who have a lot of money.” Was dit ’n klap na Mkhize?

Mkhize staan onder ’n wolk van verdenking dat hy by die Digital Vibes-skandaal baat gevind het, maar dit lyk nie asof hy voor Desember strafregtelik vervolg gaan word nie.

Mkhize, wat aansienlike steun onder tradisionele Zoeloesprekendes geniet, is nou amptelik die RET-faksie se hoop op die leierskap van die ANC. Daarmee is die ander ANC-leier wat die laaste paar maande kliphard na die RET-faksie gevry het, Lindiwe Sisulu, se kanse om vir die presidentspos te staan ook in die as en haar politieke loopbaan in die dryfsand.

Duduzile Zuma se tweelingbroer, Duduzane, ’n skatryk Gupta-meeloper, het net ’n paar maande gelede nog veel publisiteit gekry toe hy aangekondig het dat hy politieke ambisies het, selfs om president te word, en hom as kandidaat vir ’n ANC-pos in Desember beskikbaar gaan stel.

Duduzane is op geen ANC-tak se lys vir enigiets nie en dit is duidelik dat sy politieke invloed na aan zero is. Hy woon glo meestal in Dubai.

Die dienende voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, het dié week buite Cosatu se jaarkongres aan verslaggewers opgemerk: “Op 81 is JZ se kandidatuur vir voorsitter die grootste grap wat ek vanjaar gehoor het.”

Die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, en oudminister Mosebenzi Zwane is/was twee van Zuma se voorste ondersteuners. Magashule se korrupsieverhoor vind vroeg volgende jaar plaas en Zwane het dié week in die hof verskyn op aanklagte van korrupsie wat met die Vrede-melkplaasskandaal verband hou.

Hulle is nie die enigste Zuma-voorbokke wat teenspoed het nie.

Brian Molefe is byvoorbeeld tans voor die hof op korrupsie-aanklagte wat uit sy leierskap by Transnet vloei.

Dudu Myeni, eens voorsitter van die SAL en van die Zuma Foundation, mag nie langer as ’n direkteur van maatskappye optree nie en is onlangs swaar beboet nadat sy skuldig bevind is dat sy wederregtelik die naam van ’n geheime getuie voor die Zondo-kommissie openbaar gemaak het. Sy het aan die hof gesê sy het nie geld vir regskoste nie.

Die regter-president van die Wes-Kaap, John Hlophe, wat ’n paar jaar gelede regters van die Konstitusionele Hof probeer beïnvloed het om in Zuma se guns te beslis, staan op die punt om as regter geskors te word.

Die geskorste openbare beskermer, ’n vurige Zuma- en RET-ondersteuner, se geskiktheid word op die oomblik deur ’n parlementêre komitee ondersoek, en dit lyk glad nie goed vir haar nie.

O, en die Broers Gupta is in die tronk in Dubai en veg tans teen ’n aansoek dat hulle aan Suid-Afrika uitgelewer word.

As Zuma se politieke kapitaal op is, moet ’n mens wonder wie hom nog geldelik ondersteun sodat hy al sy regskoste kan betaal, en of dié geld dalk nou gaan opdroog. Sy berugte Stalingrad-strategie om uit die tronk te bly duur nou al twee dekades lank en kos hom baie, baie miljoene.

Zuma het nou ’n duur privaat vervolging van die aanklaer in sy korrupsiesaak, adv. Billy Downer, en News24 se regskrywer Karyn Maughan van stapel gestuur wat oor twee weke voor die hof gebring moet word. In regskringe word wyd geglo dat daar geen basis vir so ’n vervolging is nie, onder meer omdat die vervolgingsgesag nog nie ’n nolle prosequi-sertifikaat uitgereik het nie.

Downer het nou gevra dat Zuma ’n waarborg van R1 miljoen verskaf wat sy regskoste kan dek as Zuma die saak verloor, en Maughan het aansoek gedoen dat die vervolging gestaak word.

Sy word daarvan beskuldig dat sy vertroulike dokumente oor Zuma se gesondheid openbaar gemaak het, maar dit is algemene kennis dat dit amptelike hofdokumente was en dat sy eers daaroor geskryf het nadat dit by die hof ingedien is.

Die kwessie van Zuma se gesondheid en sy en sy regspan se ooglopende leuens daaroor het dalk bygedra tot van sy vorige ondersteuners se verlies aan vertroue in hom. Adv. Dali Mpofu het onlangs weer aan die hof verklaar dat Zuma “terminaal siek” is.

Zuma trek duidelik ’n Schabir Shaik – sy ou partner in crime wat al op 3 Maart 2009 op mediese parool vrygelaat is omdat hy kwansuis op sy sterfbed was, maar vandag nog blakend gesond is. Hy het net twee jaar van sy vonnis van 15 jaar uitgedien.

Zuma se jare lange luitenant Arthur Fraser het as sy laaste daad as hoof van tronke die mediese paroolraad se advies van die tafel gevee en Zuma op mediese parool vrygelaat voor hy sy gevangenisstraf uitgedien het. As die hof hom nie gaan begenadig nie, sal Zuma dalk binnekort na sy sel moet terugkeer.

Zuma weier steeds dat enige besonderhede van sy gesondheidstoestand openbaar gemaak word.

Uit hofdokumente blyk dit dat Zuma geweier het om sy eie bed op te maak en sy sel uit te vee toe hy in die tronk in Estcourt was. ’n Bewaarder, Nompumelelo Radebe, sê in ’n beëdigde verklaring Zuma het vir haar gesê hy is te swak om dit self te doen, en verpleegsters het toe dié take oorgeneem. Hy het wel in dié tyd toestemming gekry om sy broer se begrafnis by te woon.

Uit ander hofstukke blyk dit dat Zuma glo al in twee hospitale vir hartprobleme opgeneem is, en ’n militêre dokter verwys na ’n “traumatiese besering” en moontlike dringende operasie wat hy dalk sou moes ondergaan.

Maar intussen is dit duidelik dat Zuma glo hy is gesond genoeg om die ANC se nasionale voorsitter te word. Uit sy dogter se mededelings en foto’s op Twitter lyk Zuma ook blakend gesond vir iemand van 80.

Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het verlede maand VBS Mutual Bank toestemming gegee om R6.5 miljoen plus rente plus regskoste van Zuma te verhaal vir sy herbouings aan sy Nkandla-huis.

Msholozi is duidelik nie net polities bankrot nie.

Karma is ’n bliksem, oubaas.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.