’n Belydenis en ’n belofte oor VWB 3.0

DIVERSITEIT

’n Belydenis en ’n belofte oor VWB 3.0

ANNELIESE BURGESS sê Vrye Weekblad het haarself nog nooit in kompetisie met ander Afrikaanse media gesien nie (indien kompetisie beteken lesers die een of die ander moet kies). Want almal veg om finansiële volhoubaarheid (en vir subskripsie-gebaseerde publikasies in Afrikaans is die poel maar klein). Maar VWB 3.0 beloof om elke stem in Afrikaans te vier. Sáám is ons sterker. Vir die taal van ons hart.

Image: JEFF RANKIN

EK sit onlangs voor ’n vuur op Kersefontein, ’n lieflike ou gasteplaas aan die Weskus. Daar is ’n klomp uiteenlopende mense, maar die interessantste persoon in die vertrek (vir my in elk geval) is die redakteur van ’n Afrikaanse dagblad.

Ons gasheer skink vir ons die Martin Melck Family Reserve Cabernet Sauvignon 2017 van Muratie. Die geselskap is intelligent en innemend. Die vlamme knetter. Die redakteur skerts met my oor ons “van die kompetisie is”. Dit is natuurlik alles in goeie luim bedoel, maar die waarheid is ek het dit nog nooit só gesien nie. En nou met VWB 3.0 sien ek dit nóg minder só.

Vrye Weekblad kan nooit kompetisie wees vir Netwerk24 nie. Hulle is uitstekend met wat hulle doen (ek is ’n intekenaar), maar hulle is ’n ander tipe platform as wat ons kan, of wíl, wees.

(Terloops, ek en Max praat nou die dag oor hoe dit voel asof Netwerk24 die laaste tyd varser voel. Dit is vir ons lekker! En ons vier dit.)

Ek is dankbaar vir ’n LitNet. En ’n Maroela Media. En ’n klyntji.com. Dit is verrykend vir almal wat lief is vir Afrikaans om al hierdie stemme te hê. (Hoe treurig sou dit wees as daar net ’n Netwerk was? Of net ’n Vrye Weekblad?)

Elke stem bring diversiteit na ons geliefde taal.

Vir mense wat hou van lees

Ek onthou in die vroeë dae van VWB 2 se beplanning het ons op ’n kol idees rondgegooi oor ’n slagsin. Ons besluit uiteindelik op “vir mense wat hou van lees”. (Ek sien nou die dag dit is The New Yorker se slagspreuk ook: For people who like to read – duidelik by ons afgeloer, maar ek neem dit later met hulle op.)

Dit bly in die kol.

Vrye Weekblad-lesers lees wyd – in Afrikaans én Engels. ’n Opname wat ons gedoen het, wys dat ’n groot persentasie van ons lesers ook ingeteken is op Business Day. ’n Nóg groter persentasie lees gereeld Daily Maverick.

Ons is nis, en sal altyd wees

Vrye Weekblad is ’n nispublikasie. Was, en sal altyd wees. Ons wil daardie nis natuurlik baie laat groei, maar ons sal nooit ’n massa-leserstal hê nie. Ons doen nie nuus nie. Ons interpreteer. Ons gee konteks.

Ons het twee van die beste politieke ontleders in die land in Max du Preez en Piet Croucamp. Ons ekonomie-rubriekskrywer, Hugo Pienaar, was al ekonoom van die jaar. Ons nuwe boekeredakteur, Deborah Steinmair, is ’n voormalige resensent van die jaar. (Ons het groot planne vir boeke omdat ons ’n gemeenskap is wat hou van lees.)

Ons verkneukel ons in die rondinge en subtiliteite van ons taal. Ons publiseer stories wat nie elders plek het nie. Stories, soms, net omdat dit lieflik is, vir die mooi van wat ons taal ons kan laat voel – oor onsself, oor ons plek in hierdie land en in die groter wêreld.

Dit is persoonlik

Afrikaans is nie my moedertaal nie. Ek het Engels- en Duitssprekend grootgeword. Maar Afrikaans is die taal waarin ek liefhet en baklei (en vloek) en droom.

Ek het al hier geskryf oor my pad met Afrikaans. Ek vertel in dié artikel oor hoe ek as student op Stellenbosch doelbewus ’n Afrikaanse identiteit gekies het om my te red van ’n verlammende gevoel van minderwaardigheid in die Engelse wêreld waarin ek grootgeword het.

Afrikaans is my hartstaal. Maar my wêreld is nie suiwer Afri-sentries nie, nes ons lesers.

Ek lewe in ’n wêreld waar ek baie Engels praat en lees. Maar ook Duits en ook my basiese, maar heel soepel isiXhosa (hoe jaloers is ek op my ouer broer wat die taal sonder moeite gooi). Ek beweeg tussen tale. Ek mix en match. Soms kry ek nie die regte woord in Afrikaans nie, maar kom die woord op in een van die ander tale wat in my kop rondvloei – soms tot die konsternasie van my dogter: “Ek weet nie waarvan jy praat nie, Mamma!”

My belofte aan julle

Vrye Weekblad 3.0 gaan lewe in die wêreld van meertaligheid. Ons is nie gemaklik in ’n eenkant-hoekie nie. Afrikaans is ’n taal van inbors. Ons hoort dáár langs al die groot tale van die wêreld. In in Suid-Afrika neem Vrye Weekblad trots sy staanplek in langs Engels – die taal wat ons almal saamsnoer.

Ons gaan kyk na hoe ons dit prakties in ons aanbieding kan inwerk. Moontlik met vertalings van artikels? Ons sal sien.

Maar in die meantime (ek kon nie vinnig genoeg aan die Afrikaans dink nie) wil ek vandag vir almal wat lief is vir Afrikaans die volgende sê (en dit geld ook al ons kollegas in die Afrikaanse media): Ons speel nie meer die “kompetisie”-game nie. 

As LitNet ’n boekefees op Cradock hou, wil ons daar wees. En op die KKNK. En Woordfees. En Aardklop. Ons staan saam met julle vír Afrikaans. En dit sal lekker wees as julle dit met ons ook doen.

Ons finansier, André Pienaar, sê die volgende:

“Ek is ’n toegewyde leser van die Afrikaanse media. Ek lees en geniet al die beskikbare aanlyn publikasies, insluitend Netwerk24, Maroela Media en LitNet. Ek is opgewonde dat Afrikaanse joernalistiek aanhou groei. Dit is wêreldklas in kwaliteit."

Ons rol daarmee. (En by the way, dankie vir alles, André P.)

Onlangs het een van ons redakteurs, Laureen Rossouw, ’n onderhoud gedoen met Murray la Vita, Netwerk24 se uitsonderlike rubriekskrywer. Hoekom nie?

Ja, strenggesproke, in die ou vervelige “kompetisie”-styl, is dit miskien ’n bietjie weird. Maar ons stel nie meer belang in die ou reëls nie. Ons doen wat ons wil. Ons sê wat ons wil. En ons skryf wat ons wil. En ons wil uit die ghetto kom. Die ghetto waarin Afrikaanssprekendes hulleself vasgeverf het.

Dit is hoekom ons die Vrye Weekblad is. Want ons is vry.

Watch this space (ek het nie nou tyd om in Pharos die Afrikaans te gaan soek nie; die krag gaan wéér oor twee minute af).

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.