Die nuus wat jy nie geweet het jy wil weet nie

MIX MASALA

Die nuus wat jy nie geweet het jy wil weet nie

ALI VAN WYK versamel bisarre, betowerende en prikkelende nuusbrokkies en sosiale media-opinies uit die verste uithoeke van die media.

Musk gefnuik

’n Gerekende konsultasiemaatskappy, Glass Lewis, raai Tesla se aandeelhouers aan om ’n betaling van $56 biljoen aan Elon Musk af te keur omdat dit “buitensporig groot” is. Die pakket is reeds in 2018 goedgekeur, maar ’n regter in die deelstaat Delaware het dit in Januarie ongeldig verklaar. Glass Lewis sê nuwe aandele sal uitgereik moet word om die pakket te kan bekostig, wat ’n “verdunningseffek” op bestaande aandele kan hê en hulle met sowat 9% in waarde kan laat daal.

Elon Musk.
Elon Musk.
Image: WIKIMEDIA.ORG/ZACK/MCOM

Read this article in English:


Facebook wys monitors die middelvinger

Navorsers oor disinformasie en haatspraak in Suid-Afrika wat verkiesings monitor, kry geen hulp van sosialemedia-maatskappye soos Meta, X en YouTube nie, sê die mediakenner prof. Guy Berger. Hy sê in die Europese Unie gee die Digital Services Act vir goedgekeurde navorsers wye toegang tot dié maatskappye se toepassingsprogram-gebruikerskoppelvlakke (API’s) om “sistemiese risiko’s” te soek en te monitor. Die Legal Resources Centre en die Campaign for Free Expression is besig met ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) om platforms te dwing om verkiesingsinligting bekend te maak. – The Conversation

Bejaardes voor vir moord

Die 75-jarige Jeremia Mtali en die 90-jarige Daniel Madumo het op Maandag 4 Junie in die landdroshof in Brits verskyn op ’n aanklag van moord op die 84-jarige Godfrey Temu by ’n ouetehuis in Jericho Village in Noordwes. Die mans, elk met een kruk, moes bygestaan word om die beskuldigdebank te bestyg. Temu was glo om 04:00 die oggend van sy dood op pad van die badkamer af toe hy in een van die twee beskuldiges vasloop. ’n Geveg het glo ontstaan, waartydens die oorledene na bewering erg met krukke deur die beskuldigdes aangerand is. Temu is na ’n nabygeleë hospitaal geneem, waar hy dood verklaar is. Madumo word ook aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy glo ook ’n bystander aangerand het. – News24

Israel/Palestina verdeel Latyns-Amerika

In ’n bisarre wending het dit aan die lig gekom dat die Rooms-Katoliek-gebore president van Argentinië, Javier Milei, ’n geestelike obsessie met Judaïsme ontwikkel het. Milei, ’n radikale regse libertyn, ekonoom en ’n politikus met ’n dramatiese populistiese flair, het in 2021 die Sefardiese leier, rabbi Axel Wahnish, besoek om te demonstreer dat hy nie enige pro-Nazi-sentimente huldig nie en spoedig was hulle diep in gesprek. Milei praat nou van bekering tot Judaïsme. Wahnish het hom begelei tydens sy studie van die Torah, en op sy beurt het hy Wahnish as Argentinië se ambassadeur in Israel aangestel. Milei is waarskynlik die wêreldleier wat die verste gaan in sy ondersteuning van die ál meer geïsoleerde Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu.

Javier Milei word deur rabbi Axel Wahnish ondersteun tydens 'n gebedsessie by die Westelike Muur, die Klaagmuur, in Jerusalem se Ou Stad.
Javier Milei word deur rabbi Axel Wahnish ondersteun tydens 'n gebedsessie by die Westelike Muur, die Klaagmuur, in Jerusalem se Ou Stad.
Image: WIKIMEDIA.ORG/CASA ROSADA

Gelukkig is daar Claudia

Van die mees suidelike Latyns-Amerikaanse president na die noordelikste, een wat op die teenoorgestelde politieke pool as Milei leef, die eerste vrou en Jood wat as Mexiko se president verkies is: Claudia Sheinbaum. ’n Voormalige senior Britse aanklaer en kanselier van die Universiteit van Manchester, Nazir Afzal, het die volgende ge-X:

‘Geen penispakke, asseblief’

’n Munisipaliteit in Spanje het die dra van reuse peniskostuums en die vertoon van opblaas-sekspoppe in die openbaar verbied in ’n poging om rumoerige en bandelose ram- en hennepartytjies in bedwang te bring. Die probleem is dat Platja d’Aro op die Costa Brava-kus, met ’n bevolking van 12 500 mense, sommige naweke tot 300 000 toeriste huisves. Die burgemeester, Maurici Jiménez, sê ook as jy naak of in onderklere in die dorp verskyn, kan jy jou ’n boete van tussen $325 en $1 627 op die lyf loop.

Foto ter illustrasie.
Foto ter illustrasie.
Image: WIKIMEDIA INFROGMATION

Tel jou letter 11 keer

’n Scrabble-speler van Zambië, Paul Kalumba, het sy nasionale Scrabble-kampioenskapstitel vir die 11de keer suksesvol verdedig. Dit was nie ’n maklike paadjie vir Kaluma, ook bekend as PYK, om die titel tydens die Scrabble Association of Zambia se nasionale kampioenskap te verower nie. Hy’t drie keer in die A-afdeling verloor, voordat hy op die laaste dag met ’n bomenslike poging “Gibsonisation” met +1 350 punte bereik het. Gibsonisation is wanneer 'n deelnemer as die kampioen verklaar word nog voor die toernooi tot ’n einde gekom het, omdat die speler ’n onaanvegbare posisie bereik het. – Lusaka Times

Nog vyf prikkelende X’e

Om 12:17 op 30 Mei 2024 was die verskiesingstatistikus Dawie Scholtz seker genoeg van die uitslag om te X:

Karin Richards, ’n aandelemakelaar en ’n bekende op X, het aartsbiskop Desmond Tutu se profetiese woorde uit die argiewe gaan opdiep.

Die verkiesing het selfs ’n katterigheid by sommige normaalweg ordentlike politici ontlok.

Suid-Afrikaners het natuurlik vinnig die humor in ons nuwe realiteit gesien. Ene Wilfred wat by Hatfield Volkswagen werk, het onderaan die X gesê: “At least now we have new people to blame for poor service delivery.”

Daar was ook mense op X wat Cyril se meer revolusionêre dae met nostalgie onthou.

Gesien op Facebook

Bazooka-bromponie

Die TAP in “Vespa 150 TAP-tenkafweerbromponie”, staan vir troupes aéroportées , oftewel valskermsoldate, want 600 van hierdie hardekwas Vespas is tussen 1956 en 1959 naby Toulon gebou om twee-twee saamgebind saam met valskermtroepe agter ’n gevegsfront afgegooi te word om lood in hulle potlode teen pantservoertuie en tenks te sit. Die wapen op die skoeter is ’n M20 75 mm- skopvrye geweer, ’n pantserafweerwapen, wat nie veel beteken het teen die T-34-tenks van die Sowjetunie nie, maar maalvleis gemaak het van enige ligter pantservoertuig. Die idee was nie om die mini-kanon in die ry af te vuur nie, maar om te stop en die geweer op ’n Browning M1917-driepoot te monteer en te laat waai. Dié skoeter het wel aksie gesien in die hande van Franse soldate en die Vreemdelegioen in Algerië in die 1950’s. Vespa het bevestig dat dié model nie meer beskikbaar is nie, selfs nie eens vir lede van die Stellenbosse Mafia nie.

Image: WIKIMEDIA.ORG/C.GALLIANI

Eerlikheid…

Werner is vir ’n werksonderhoud by ’n groot maatskappy en Kallie van die personeelafdeling vra vir hom: “Wat sou jy sê is jou grootste swakheid?”

Werner: “Eerlikeid. Ek is eerlik met almal. Ek ken geen ander manier as om eerlik te wees met elke liewe mens wat ek ontmoet nie.”

Kallie: “Ek sien nie eintlik hoe eerlikheid as ’n swakheid gesien kan word nie. Trouens, ek dink eerlikheid is ’n baie goeie eienskap!”

Werner: “Ja, ek gee nie eintlik ’n fok om wat jy dink nie.”

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.