Dit gons oor ’n ysberg, ’n verlore skildery en haaspolonie

MIX MASALA

Dit gons oor ’n ysberg, ’n verlore skildery en haaspolonie

ALI VAN WYK deel ’n versameling bruikbare, bronstige, beuselagtige en bisarre stories vanuit die hoëtek- laboratoriums, die konsertsale en galerye, die biblioteke en die agterstraathole van die wêreldwye web.

Suidpool-ysberg vat die pad

Die British Antarctic Survey (BAS) het op X aangekondig dat ’n ysberg so groot soos Pretoria (380 km²) onverwags op 20 Mei van die Brunt-ysbank naby die Halley-navorsingstasie weggebreek het nadat ’n kraak wat ’n paar weke gelede ontstaan het, gaandeweg in ’n 14 km- lange kloof ontaard het.

Die kraak het teen ’n regte hoek met die reeds bestaande Halloween-kraak gevorm, maar dit moes ongelukkig met die minder flambojante naam “A-38” tevrede wees. Die BAS het wel op X gevra vir voorstelle vir ’n meer kleurryke nie-amptelike naam, maar bydraers het die poging met ’n verskeidenheid van ligsinnige voorstelle ondermyn, soos Joey Ridings se “Vanilla Iceberg”.

Dit is die derde groot ysberg wat in die laaste drie jaar van die Brunt-ysbank weggekalwe het. Die eerste een (155 km²) was so groot soos Johannesburg en die tweede (1 270 km²) so groot soos Rome. ’n Gletserkundige van die Swansea-universiteit, prof. Adrian Luckman, het aan IFLScience gesê dit bekommer hom dat drie sulke ysberge in ’n relatief kort tydperk van die koudste deel van Antarktika se drywende ysvlaktes afgebreek het, maar hy sê in hierdie geval is dit nie weens klimaatsverandering nie.

’n Twyfelagtige naam-poging deur ’n X-bydraer.
’n Twyfelagtige naam-poging deur ’n X-bydraer.

Read this article in English:


Kaapse vlinder trek noustrop

’n Vlinder, Barber se Kaapse Vlakte-wagtertjie, waarvan minder as 50 oor is, word krities bedreig tussen Baden Powell-rylaan en Strandfonteinweg op die Kaapse Vlakte. Die kolonie is binne sig van ’n multiverdieping-woonstelontwikkeling, maar val buite die grense van die bouery. Die Stad Kaapstad beplan verdere ontwikkeling in die omgewing en daar is tans geen bestuursplan om die vlinder te bewaar nie. – www.groundup.org.za

Barber se Kaapse Vlakte-wagtertjie (Trida barbera bunta) oorleef in ’n gebied van 1 km² van Strandveld-duine op die Kaapse Vlakte.
Barber se Kaapse Vlakte-wagtertjie (Trida barbera bunta) oorleef in ’n gebied van 1 km² van Strandveld-duine op die Kaapse Vlakte.
Image: © ISMAT ADAMS (MET VERGUNNING)

‘Roof Ninja’ verwyder

’n Vrou (34) van Michigan in Amerika, op straat as die “Roof Ninja” bekend, is deur die plaaslike polisie op die dak van ’n supermark aangekeer en na onder begelei. Sy het binne-in die winkel se naambord gewoon. Die driehoekige bord het ’n soort stoorsolder van sowat 1,5 m x 2,4 m aan die binnekant, met ’n deurtjie. Die vrou se naam is nie bekend gemaak nie, maar ’n video van die polisie-optrede is vrygestel.

In die kamertjie het sy huisplante gehad, ’n vloer geïnstalleer, asook ’n rekenaar en drukker, ’n spensie en ’n Keurig-koffiemasjien. Sy het ’n werk en besit ’n motor. Die polisie en winkelbestuurder kon nog nie uitpluis hoe sy met haar besittings toegang tot die dak gekry het nie, omdat daar geen leer of trappe is wat na die dak lei nie.

Die vrou kon ondanks ’n kringtelevisiestelsel en sekuriteit vir langer as ’n jaar in die dak oorleef sonder dat sy bespeur is. Sy is uiteindelik ontdek toe ’n konstruksiewerker ’n elektriese verlengkoord tot by die naambord gevolg het. Op die polisie se vraag hoe sy van die plek bewus geword het, het sy gesê: “Hierdie is eintlik ’n ou bekende veilige plek.” Sy het die dak in ’n swart pak en met ’n ski-bril op haar kop verlaat.

Nuwe haaswors in Harare

’n Maatskappy in Harare, Raymeg Consultants, het Zimbabwe se eerste konynpolonie bekendgestel as deel van hulle deurlopende toewyding tot die konyn-waardeketting in die land. Volgens die maatskappy verbreed hierdie nuwe item die organisasie se reeks toegevoegdewaarde-konynvleisprodukte, wat tans die volgende insluit: konynburgers, -pasteie, -biltong en -klontjies, asook konyn met skyfies en konynpizza. – Zimbabwe Independent

Konynvleis van Raymeg te koop in Harare. Foto: VERSKAF
Konynvleis van Raymeg te koop in Harare. Foto: VERSKAF

Verlore Caravaggio vir eerste keer uitgestal

’n Skildery van 'n meester van die barok-era, Michelangelo Merisi da Caravaggio, wat sedert die 19de eeu verlore was, word vandeesweek vir die eerste keer in die openbaar uitgestal in die Prado-museum in Madrid. Die werk, “Ecce Homo (“Aanskou die Man”), is drie jaar gelede gevind en word as een van die grootste ontdekkings in die kunsgeskiedenis beskryf.

Die skildery sou teen ’n fraksie van die waarde op ’n veiling verkoop word, toe die Spaanse regering ingegryp het nadat verskeie kenners gereken het dit kan ’n Caravaggio wees eerder as die kunswerk van ’n onbekende tydgenoot, José de Ribera. Die werk was die hele tyd in die besit van die familie van ’n 19de eeuse politikus, Evaristo Pérez de Castro. Caravaggio het die skildery van Jesus met die doringkroon tussen 1605 en 1609 geskilder, kort voor sy dood in sy laat dertigs. Hy is bekend vir die “chiaroscuro”-tegniek van lig skilder om die illusie te skep dat sy subjekte lewendig word.

Caravaggio se ‘Ecce Homo', wat langer as 'n eeu soek was.
Caravaggio se ‘Ecce Homo', wat langer as 'n eeu soek was.

Hoofmanne kan help met demokrasie

’n Navorser van die Universiteit van Richmond, prof. Vladimir Chlouba, sê die meeste van Afrika se tradisionele leiers kan meer waardevol wees vir demokrasie as wat voorheen vermoed is. Volgens The Conversation sê hy hoewel vertroue in demokrasie stadig aan die afneem is in Afrika, het Afrobarometer, ’n organisasie wat peilings in 30 Afrika-lande doen, bevind dat tweederdes van Afrikane demokrasie bo enige ander vorm van regering verkies. Hy sê egter die persentasie steun vir demokrasie het tot onder 50% gesak in lande soos Suid-Afrika, Angola, Lesotho, Mali en Mosambiek.

Sy navorsing wys dat in 19 van die 22 lande waar peilings gedoen is, vertrou mense hulle hoofmanne meer as verkose politici. Hy sê ook in die beduidende getal gevalle waar ’n vorm van demokrasie in tradisionele stelsels aan die werk is, is mense meer geneig om nasionale demokrasie te aanvaar, veral waar hulle gereeld in kontak met hulle tradisionele leier is. Hierdie bevinding kan verrassend wees, omdat voorheen oorwegend aanvaar is dat hoofmanne nie geneig is om demokrasie te ondersteun nie.

Groet die gloeilamp

Van verlede week Vrydag (24 Mei 2024) af is ’n mens nie meer veronderstel om ’n outydse gloeilamp (wat met ’n filament werk) of ’n kompakte fluoorlamp (ook bekend as energy savers) in Suid-Afrika te kan koop vir huishoudelike gebruik nie, maar slegs LED-lampies (met liguitstralende diodes). ’n Kennisgewing deur die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, spesifiseer nie die tipe lamp nie, maar eerder ’n vlak van energiedoeltreffendheid: ’n Lampie mag nie minder as 90 lumens per watt (lm/W) uitstraal nie en beide filamentlampies en kompakte fluoorlampe val onder dié standaard. Filamente kan slegs tussen 4 lm/W en 12 lm/W en fluoorlampies tussen 47 lm/W en 70 lm/W uitstraal. Die owerheid maak voorsiening vir ’n uitfaseringstydperk – die lampies sal waarskynlik nog vir die res van die jaar beskikbaar wees.

Scarlett will be back!

Een van die bekendste tegnologiegrappies op X is deur Alex Blechman gemaak:

  • Wetenskapfiksieskrywer: In my boek het ek die Torment Nexus geskep as ’n waarskuwingsboodskap aan die mensdom.
  • Tech-maatskappy: Ons het uiteindelik die Torment Nexus geskep, uit die klassieke wetenskapfiksie-roman Don’t create the Torment Nexus!

The Torment Nexus het weer opgekom toe Scarlett Johansson aangekondig het dat sy die kunsmatige intelligensie-maatskappy OpenAI hof toe sleep omdat hulle ’n stem geskep het wat verdag baie soos die stem van Samantha klink – die KI-karakter met haar stem in die fliek Her van Spike Jonze. Die vermoede is dat OpenAI bloot ’n klomp van Johansson se toesprake en onderhoude van die internet afgelaai en aan die KI-robot gevoer het. Kopieregprokureurs hou die saak met belangstelling dop, maar Sonny Bunch, joernalis van The Bulwark, reken Johansson pak ’n taai saak aan: “Die rede hoekom mense so diep hierdeur ontstel word, is omdat dit almal se vrese oor KI bevestig en oor die arrogante meesters-van-die-heelal-tipes, soos Sam Altman, OpenAI se top-man, wat dit aanvuur." 

Scarlett Johansson vat OpenAI hof toe. Foto: WIKICOMMONS/GAGE SKIDMORE
Scarlett Johansson vat OpenAI hof toe. Foto: WIKICOMMONS/GAGE SKIDMORE

‘Stick Shift FTW’

Dít is ’n ongewone opskrif vir ’n mediaverklaring van ’n polisiestasie – FTW staan vir “for the win”. Die verklaring is uitgereik deur die Boulder-polisiestasie in Colorado in Amerika nadat ’n vrou skaars ’n dag ná haar vrylating uit die tronk weer gearresteer is. Volgens die polisie het Amber Davis (26) ’n bakkie met die sleutels nog in die aansitter gewaar terwyl sy in 'n straat gestap het, ingespring en die enjin aangeskakel. Toe sy wou wegtrek, het sy besef die bakkie het handratte en sy kan slegs 'n outomatiese kar bestuur.

Davis het summier uit die voertuig geklim en dit het met ’n slag teen ’n brandkraan tot stilstand gekom. Sy is op die toneel in hegtenis geneem. Sy is aangekla van tweedegraadse motordiefstal met verswarende omstandighede, onverskillige bestuur, bestuur sonder ’n geldige lisensie en medepligtigheid by ’n botsing met ’n onbemande voertuig of ander eiendom.

                                  

Image: © WIKICOMMONS/BOBO_IS_SOFT

Etiket vir eerste besoek aan potensiële skoonouers

’n “Befaamde televisie-evangelis”, eerw. Funke Adejumo, word in die Nigeriese koerant The Punch aangehaal met ’n klompie wenke aan veral jong vroue wat die eerste keer by potensiële skoonouers besoek aflê. Sy beveel die volgende aan:

  • Moenie die vleis in jou kos uitmekaar probeer trek as dit taai is nie.
  • Selfs as jy ’n ekstrovert is, gee tog voor dat jy nie een is nie en vermy dit om dwarsdeur die huis te stap.
  • As jy die huis betree, gaan sit so gou moontlik. Onthou, hulle hou jou dalk deur die sleutelgat dop, want jy’s eintlik daar vir jou toelatingseksamen.
  • Moenie hoëhakskoene dra wat jou aan die bewe kan laat gaan nie.
  • As jy moet rondkyk, draai net jou oë, nie jou kop nie.
Eerw. Funke Adejumo, Nigeriese verhoudingskenner.
Eerw. Funke Adejumo, Nigeriese verhoudingskenner.

In dieselfde rubriek gee ’n sosioloog en verhoudingspesialis, Peter Sokuma, die volgende raad:

  • Vermy om besoek af te lê met ’n liggaamsreuk. As daar ’n slegte reuk uit jou mond kom gaan dit mense afsit, al probeer jy hoe hard om ’n indruk te maak. Liggaamsreuke van enige aard is genoeg motivering om ’n toekomstige skoonouer te laat weier om ’n seun of dogter aan enige man of vrou af te staan.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.