ANC begin die skrif aan die muur vir NGV raaksien

MIN GELD IN NIE-BEGROTING BEGROTING

ANC begin die skrif aan die muur vir NGV raaksien

Met geen geld om die nuwe opknapping van gesondheid te finansier nie, en reeds een advertensieskandaal, sal ’n mens by die eenhorings moet woon om te glo dat nasionale gesondheidsversekering ingestel sal word, skryf ROB ROSE en GIULIETTA TALEVI van Currency News.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

DIE ANC praat al so lank van die legendariese nasionale gesondheidsversekering (NGV) dat jy vergewe sal word as jy vergeet dat hierdie nuwe plan omtrent soveel kans het om tot stand te kom as 'n eenhoring-gesleepte slee.

Tekens het die afgelope maand te voorskyn gekom dat terwyl die ANC bly grootpraat oor NGV as 'n populistiese foefie om sy wegsypelende steun bymekaar te hou, weet die party dat die land dit nie kan bekostig nie.

“NGV is dood in die water; almal kan dit sien,” het een politikus gesê nadat Enoch Godongwana, minister van finansies, se “geen-begroting"-begroting aan die lig gebring het dat skaars 'n sent opsy gesit is vir die gewigtigste opknapping van die gesondheidsektor tot nog toe in die land se geskiedenis.

Godongwana se begrotingshersiening het ’n skamele bedrag van minder as R10 biljoen aan  NGV toegewys. Oor die medium termyn, het die tesourie gesê, “word aan die indirekte en direkte voorwaardelike toelaes vir NGV onderskeidelik R8,5 biljoen en R1,4 biljoen toegeken".  

Dit kan dalk net genoeg wees om vir 'n Digital Vibes-kommunikasiekontrak te betaal, maar dit is minder as 2% van die bedrag wat ekonome reken elke jaar nodig sal wees om NGV te finansier. 

Verlede jaar het Damian McHugh van Momentum Health Solutions die jaarlikse koste op tussen R900 biljoen tot R1,3 triljoen gestel om almal die ekwivalent van private gesondheidsorg te gee, soos Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, se berugte belofte voor die 2024-verkiesing dit gehad het.

Business Unity SA het bereken om NGV te implementeer, BTW van 15% tot 22% verhoog moet word, of stywe nuwe betaalstaatbelasting ingestel moet word. In die lig van die woede oor Godongwana se BTW-voorstel in Februarie, hoe waarskynlik lyk dit?

Lesufi of die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, mag dit dalk nie weet nie, maar die tesourie se onwillige toewysing dui daarop dat NGV ’n suigstokkie is om die linkse faksie van die party te paai, dog een wat die pragmatiste in die ANC nie van plan is om te finansier nie.

Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery Health, het vandeesweek gesê daar is geweldig baie op die spel.

“As jy die gesondheidsorgstelsel verwoes, sal jy die ekonomie vernietig. En mense weet dit. Kyk nou na die belastingverhogings, en ons het gewys hoeveel belasting jy nodig het om 'n NGV-stelsel te finansier, so dit is net nie uitvoerbaar nie," het hy gesê.

Gore het geglo dat redelikheid op die ou end sou seëvier, miskien aangehelp deur die realiteit van presies hoe min geld daar in die tesourie is om selfs nodige maatreëls soos maatskaplike toelaes te finansier, laat staan nog die eenhoring-weiveld wat NGV is. 

“Ek dink nie jy het die vermoë om enigiets te doen sonder die fiskale ruimte nie," het Gore gesê.

Fiskale ruimte is daar beslis nie. En terwyl pres. Cyril Ramaphosa te kenne gegee het dat daar 'n “kompromis" oor NGV is, wat 'n baie verwaterde weergawe daarvan tot gevolg kan hê, is nog geen amptelike woord hieroor gerep nie. Motsoaledi sê veelseggend hy weet niks van 'n “kompromis" nie. 

Propaganda misluk

Vir diegene wat skepties oor die plan was, was die laaste ding wat die verdedigers van NGV sou wou sien 'n skandaal oor vermorste geld – selfs jare voor dit tot stand gekom het. 

Dit het verlede maand in die parlement aan die lig gekom dat die regering binne minder as 'n jaar nadat die NGV-wet in Mei onderteken is, reeds R28,4 miljoen bestee het om NGV op snelweg-advertensieborde en verskeie sosialemediakanale te adverteer. 

Dit was 'n ongemaklike onthulling in 'n tyd toe Motsoaledi ook gedwing is om toe te gee hy het geen geld om 2 000 vakante mediese poste in openbare hospitale te vul nie, in 'n land waar daar net een dokter vir elke 2 230 pasiënte is. 

Dit het ander politieke partye, wat NGV heeltyd teëgestaan ​​het, laat vuur spoeg. 

“Dit is ondenkbaar dat hierdie regering, wat nie basiese gesondheidsorgdienste aan sy mense kan verskaf nie, verkies om miljoene uit te gee op advertensies wat 'n onrealistiese, onuitvoerbare gesondheidsorgplan bevorder," het die DA se Michéle Clarke gesê. Hierdie “propaganda-veldtog gefinansier deur belastingbetalers" het net gedien om Motsoaledi se ydelheidsprojek te versterk, het sy gesê.

Maar die onthullings oor die advertensies is so kommerwekkend juis vanweë die unieke argitektoniese ontwerp van NGV. 

Wat in die vooruitsig gestel word, is 'n enkele NGV-fonds wat 'n monopolie sal hê op die aankoop van alle gesondheidsdienste deur dokters, verpleegsters en ander professionele persone. Mediese fondse sal ophou bestaan, en alles wat nou op private mediese fondse bestee word, sal in daardie staatsfonds gestort word. 

Die plan is egter deurspek met logiese dwalings. 

Om mee te begin, sal min mense redeneer dat dit onregverdig is dat net 15% van die land elke jaar R239 biljoen bestee om aan 'n mediese fonds te behoort, terwyl die ander 85% van Suid-Afrikaners moet  oorleef op die R259 biljoen-toewysing van die tesourie.

Waarmee Ramaphosa hom egter gevaarlik misreken het, is om die werklikheid heeltemal te ignoreer dat dit daardie 15% van Suid-Afrikaners is wat ook die meeste van die belasting betaal wat die ander 85% moet finansier. Sou die regering mediese fondse heeltemal skrap, sal daardie belastingbetalers vir seker nie sommer daardie R239 biljoen na die nuwe NGV-fonds herlei nie. 

Soos die Wits School of Governance se professor Alex van den Heever twee jaar gelede aangevoer het: “Medieseskemalede betaal reeds twee keer – eerstens vir private gesondheidsorg, dan tweedens by wyse van belasting om die openbare gesondheidsorgstelsel te ondersteun." 

Discovery het self bereken dat lede van private mediese skemas reeds sowat 80% van Suid-Afrika se openbare gesondheidsorgbehoeftes finansier deur die belasting wat hulle betaal, aangesien hulle hoër inkomste verdien. As hul behandelingskeuse drasties ingekort word, moet jy nie daarop wed dat hulle bereid is om aan te hou betaal nie. 

Maar wat die wenkbroue laat lig oor die advertensieveldtog – in heldergeel highligter – is dat selfs voordat daar enige geld in hierdie fonds is, vermors die staat reeds belastingbetalers se geld op die verkeerde goed. Met die pakt van vertroue tussen belastingbetalers en die openbare sektor so broos as wat dit is, is dit nie die soort ding wat Motsoaledi kan bekostig nie. 

Skisofreniese beleid

Die waarheid is dat die regering waarskynlik nie eens die geld het om die wetlike uitdagings aan NGV te beveg nie, laat staan nog die skema te finansier. 

Mediese fondse wat deur die Raad van Gesondheidsorgfondse (BHF) verteenwoordig word, het vandeesweek hul saak teen die regering in die hooggeregshof in Pretoria begin, wat vinnig opgevolg is deur nog 'n grondwetlike uitdaging aan die wetgewing deur die SA Privaatpraktisynsforum, en nog een van die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika. 

Die BHF het sy argument afgeskop deur 'n taamlik terloopse regsversoek: dat Ramaphosa die “rekord van besluit" verskaf waarmee hy die wetsontwerp onderteken het, wat die besware van almal wat dit as ongrondwetlik teenstaan, sou openbaar. 

Ramaphosa het vreemd genoeg geweier om hierdie rekord te verskaf, wat gelei het tot die BHF se gevolgtrekking as “abundantly obvious that the president wants to avoid filing his record of decision on the NHI Bill, which will no doubt show that he ignored several submissions advising him that it was unconstitutional".

In die hoflêer was daar egter 'n beswaarskrif teen die NGV-wetsontwerp van niks minder nie as die tesourie self, wat sy kommer uitspreek oor verskeie grondwetlike probleme met die wet.

Vir 'n land wat in Januarie by die Wêreld Ekonomiese Forum hoog opgegee het oor sy “beleggingspotensiaal”, suggereer ekonomies verwoestende wetgewing soos hierdie die teenoorgestelde. Dit demonstreer hoekom dit so moeilik is vir lande soos die VSA om 'n korrekte lesing van skisofreniese Suid-Afrikaanse beleid te kry.

Ironies genoeg het mense soos Gore meer gedoen om Suid-Afrika se ekonomiese droom aan buitelandse beleggers te verkoop as enigiemand anders, ten spyte van hierdie gemengde boodskappe. Hoekom, terwyl dieselfde regering sy besigheid om elke hoek en draai probeer kniehalter?

“Omdat daar geen ander keuse is nie," het hy reguit gesê. Die “regering is nie 'n verenigde front nie: daar is verstandige beleidmakers in sommige dele en [terwyl] dit frustrerend is, [met] baie ideologie oraloor, is daar verstandige stemme en ore. Dit is die moeite werd.”

Hierdie morsige, pynlike verhaal sal in 'n “werkbare oplossing" eindig, sê Gore. Miskien – maar veronderstel dat hy reg is, hoekom kon ons nie die angst oorslaan en van die begin af soontoe koers kry nie?

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.