Leuens, bedrog en manipulasie ontbloot

KERNEELS LEES WYD

Leuens, bedrog en manipulasie ontbloot

KERNEELS BREYTENBACH vertel van drie boeke oor bedrog, narsisme, dwelmmisbruik en algemene chaos.

Image: ANGELA TUCK

DAAR'S ’n toneel in een van die episodes van Seinfeld waarin George Costanza se: “Dis nie ’n liegstorie as jy dit glo nie.” Ek het jare lank geglo die Beatles was die ware Jakobs - totdat ek in 1983 Peter Brown en Steven Gaines se The Love You Make gelees het, en daarna het Peter Doggett met You Never Give Me Your Money in 2010 finaal die sluier gelig.

Nie so fab nie

Die Fab Four was menslik, alte menslik. Wonderlike musiek, daaroor sal niemand stry nie. Maar hul gedrag en gewoontes was nie in alle opsigte voorbeeldig en rasioneel nie.

Party van hulle was mislike mense, stout soos kinders wat aandag soek, ander egoïste op ’n spektrum wat nooit gekalibreer sou kon word nie. En hulle, veral die een met die brilletjies, was so onnosel met geld dat hulle die groep se grootste droom, Apple Corps, binne ’n paar jaar bankrot gehad het.

 

Die onderhoude wat Brown en Gaines met die Beatles, hul geliefdes, hul bestuurders en hul parasiete gevoer het, is nie volledig benut vir The Love You Make nie. Hulle het die saak nou reggestel met All You Need Is Love: The End of The Beatles. Waar The Love You Make geskryf is in heerlik leesbare prosa, het jy in All You Need Is Love die ongeredigeerde onderhoude, met ’n klein stukkie kontekstualisering voor elke onderhoud.

Dit lees nie altyd maklik nie, en Brown en Gaines het sekerlik goeie rede daarvoor. Nou kan jy jou eie afleidings maak, byvoorbeeld oor Yoko Ono se eerlikheid en opregtheid. Die draaie wat sy maak om te ontken dat John Lennon lank aan heroïen verslaaf was, is ’n unieke soort agterbakse retoriek. 'n Mens jaag deur hierdie boek, dis ongelooflik boeiende leesstof.

Paul McCartney, die een met die babagesig, is die dryfkrag van die groep, die een met die musiekbrein. Hy is ook ’n aardsnarsis. Lennon het sy hele lewe lank na ’n moederfiguur gesoek en toe agter haar rokspante gaan wegkruip. George Harrison is die mistikus wat op Ringo Star se vrou verlief is en dit jare lank probeer wegsteek het, al was hy hoe ongelukkig daaroor. En Ringo? Wel, hy is dieselfde soort mens as Pink Floyd se Nick Mason - onwillig om kant te kies tussen die groep se groot egoïste en ’n alkoholis voordat hy 30 was.

All You Need is Love deur Peter Brown en Steven Gaines is deur Octopus uitgegee en kos R465 by Exclusive Books.

Maniese beeldpoetser

Of dit toeval is, weet ek nie, maar in dieselfde maand word Phil Elwood se All the Worst Humans gepubliseer. Elwood is een van daardie subspesie van die mensdom wat enkele jare gelede nog as spin doctors bekendgestaan het. Hy was ’n beeldpoetser vir Muammar Gaddafi se familie. Hy het Bashar al-Assad van Sirië met net soveel vernuf gepromoveer as wat hy Russia Today se lof besing het as geloofwaardige alternatief vir Fox News en CNN.

As die geld reg is, kon Elwood vir enigiemand dinge gedoen kry. Toe Qatar die toekenning van die 2022-Wêreldbeker-sokkertoernooi voor Amerika se neus weggeraap het, was Elwood die meesterbrein agter die sultanaat se kampanje. Hy het ’n toespraak van Michelle Obama gebruik om Amerika se saak te sink. Die ironie is dat die sjeikdom Elwood se maatskappy met die kontrak verneuk en hul dienste spotgoedkoop verkry het. (Die nadraai was afskuwelik, met korrupsie wat uitgesuffel is deur die Amerikaanse owerheid - maar Elwood het eers later en vir ander sake in die FBI se visier gekom.)

Elwood doen alles volgens die beginsel dat as enigiets in druk verskyn het, dit ’n werklikheid is. Feite is onbelangrik. Jy moet net éérste ink kry vir jou weergawe, is sy uitgangspunt. Bell Pottinger se truuks is by Elwood afgekyk - hy was in die dae toe hy vir Peter Brown by Brown Lloyd James (BLJ) gewerk het, bekend as die man wat die brand vir enige reklamevuur kon stig.

In ’n stadium was die Psy-groep van Royi Burstein sy grootste kliënt. In die Mueller-verslag oor buitelandse inmenging by die Amerikaanse presidentsverkiesing was Elwood ’n getuie - maar ook die man wat sy eie betrokkkenheid verdoesel het deur ’n aandagafleier, ’n storie oor Israeliese spioene, te lanseer. Hy kon, want Elwood was die man wat die Israeli's se geld daarvoor help was het.

Vir iemand wat die ontmaskering van Bell Pottinger as PR-handlanger van die Suid-Afrikaanse staatskapers gevolg het, lees All the Worst Humans soos die handleiding vir nuusmanipuleerders. Tog is daar iets vreemds aan Elwood se verhaal. Ja, jy besef uiteindelik presies hoe Peter Brown se masjinasies rondom die Beatles destyds so goed was. Brown is, alles in ag genome, een van Phil Elwood se mentors. Maar Brown steek Elwood in die pad wanneer een van sy waagstukke misluk, en dan kry hy ander mentors. Richard Levick van Levick Strategic Communications onder andere, en dít is nou iemand vir wie geen skeermes té skerp kan wees nie.

Alles wat Elwood by Brown en Levick geleer het, kan jy as “tricks of the trade” beskou. Op die etiek-spektrum ressorteer hul lesse anderkant waneties. Maar Elwood is ’n heel ander gedierte - 'n mens lees sommige dele oor en oor om seker te maak jy sien wat dáár staan. Elwood is feitlik nooit nugter nie. Hy is bipolêr (wat sekerlik sekere soorte medikasie vereis) en toenemend depressief. Hy probeer selfmoord pleeg met Xanax. Hy het ’n daggakluis in sy woonstel en met sommige van sy ontmoetings met die Israeli's van die Psy-groep is hy só in 'n dwaal dat hy agterna nie die mense se name of gesigte kan onthou nie.

Op ’n paar plekke in sy vertelling verklap hy dat hy ’n baie groot probleem met kokaïen ontwikkel het. Kyk jy na sy skryfstyl, verstaan jy skielik. Dis daardie vaart wat jy in ’n Robin Williams-riff sal vind, die grandiose soort verbeeldingspronge wat 'n mens sommer net laat wéét hierdie ou het Fleetwood Mac se Tusk al 80 000 keer dwarsdeur geluister en hy dink die trompoppies is die beste deel van die musiek. Hy het in die senior liga gesnuif. Hy het geen grense geken nie. Hy het niks daarvan gedink om die absolute waarheid van liegstories te maak nie.

Hoe aaklig. Moet 'n mens Elwood oor alles glo? Wel, ons luister steeds na die Beatles, dan nie? En terwyl ons neurie, lees ons internasionale koerante en kyk na die groot TV-nuuskanale, met hul onthullings en groot scoops, net effens ongemaklik met die spesmaas dat meeste van die nuus deur Phil Elwood se nasate aangedra is.

All the Worst Humans deur Phil Elwood is deur Henry Holt & Co uitgegee en kos $23,36 by Amazon.

Móétlees-boeke.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.