Ten minste kan die reuk van klipnat nie gesteel word

DONDERDAG MET DEBORAH

Ten minste kan die reuk van klipnat nie gesteel word

WILLEM KEMPEN meen daar is vir eers ander prioriteite as om nog toeriste ten duurste na Suid-Afrika te lok; DEBORAH STEINMAIR skryf oor die genade en wonderlike reuk van reën; en daar is soos gewoonlik vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 02 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die parlementêre ondersoek na Busisiwe Mkhwebane se geskiktheid as openbare beskermer het gister hervat. Dit het onder meer aan die lig gekom dat Mkhwebane se voorganger, Thuli Madonsela, aan die ondersoekkomitee geskryf het in reaksie op ’n dagvaarding dat sy ook moet kom getuig. Madonsela het gesê nadat hulle aanvanklik in 2016 gesprekke oor die oorgang gehad het, het Mkhwebane “suddenly insisted that I was no longer in office and as such it was inappropriate to meet and augment my briefing with her”.

2. Johannesburg se City Power sê hy het die afgelope drie maande meer as R3 biljoen ingevorder van inwoners en besighede wat nie hulle munisipale rekeninge betaal het nie. City Power het gister in Roodepoort ook toegeslaan op onwettige aansluitings nadat wanbetalers se dienste vroeër in die suide van Lenasia en Alexandra opgeskort is.

3. Suid-Afrikaanse en Mosambiekse owerhede het onderneem om beter saam te werk om oorgrens-misdaad tussen die twee lande te bestry, het die nasionale kommissaris van polisie, Fannie Masemola, volgens eNCA gesê. Masemola sê ’n gebrek aan samewerking maak dit byvoorbeeld moeilik om gesteelde voertuie na Suid-Afrika terug te neem.

4. Die Amerikaanse farmasiereus Pfizer verwag ’n daling in verdienste van bykans ’n derde vergeleke met verlede jaar soos wat die internasionale vraag na inentings en behandelings teen Covid-19 afplat. Die maatskappy voorsien dat die vraag na Covid-19-produkte teen volgende jaar sal begin herstel. Totale verdienste vir die huidige boekjaar sal na verwagting tussen $67 biljoen en $71 biljoen wees.

5. Die wenners van die Amerikaanse Recording Academy se jaarlikse Grammy-toekennings word Sondag in Los Angeles aangekondig. Daar is vanjaar vir die eerste keer ’n kategorie spesifiek vir klankbane en musiek wat vir videospeletjies geskep is. Speletjies waarvan die musiek in dié kategorie benoem is, sluit in Aliens: Fireteam Elite, Assassin’s Creed Valhalla: Dawn of Ragnarök, Call of Duty: Vanguard, Marvel’s Guardians of the Galaxy, en Old World.


Weersake

Daar is ’n waarskuwing vir swaar donderbuie wat tot oorstromings kan lei, en sterk wind en moontlike hael word oor dele van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwag. Daar word ook weer toestande oor dele van die Noord-Kaap verwag wat ’n hoë moontlikheid van brandgevaar skep.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 23°C • Johannesburg 21°C • Rustenburg 27°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 25°C • Durban 27°C • Howick 25°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 26°C • Upington 37°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Spurs-plan lyk soos nog ’n stukkie SA desperaatheid

Was die mense van SA Toerisme dalk iewers in die buiteland toe hulle gedink het dis ’n goeie idee om die land se naam teen ’n koste van net minder as R1 biljoen oor drie jaar op die uitrustings van die Engelse sokkerklub Tottenham Hotspur te laat pryk? Want die huidige atmosfeer in Suid-Afrika skree ten hemele teen dié soort bemarking.

Die land is in ’n oorlewingskrisis. Toerisme spesifiek is op die agtervoet en operateurs sukkel steeds om die nagevolge van Covid en Julie 2021 se oproer te bowe te kom. Besighede gaan onder en mense verloor hulle werk weens beurtkrag en die ineenstorting van infrastruktuur en dienslewering op alle vlakke. Net gister is ’n video wyd op sosiale media versprei wat wys hoe verkeersligte by ’n besige kruising in Killarney in Johannesburg oornag netjies met ’n hoekslyper afgesaag is. Vir wat, die kabels? Of is dit net die behoefte om af te breek wat nog nie klaar afgebreek is nie?

So geweldig as wat Suid-Afrika se toerismepotensiaal is, net so misplaas is dit om juis nou nog toeriste na die land te wil lok. Elke sent van SA Toerisme se begroting behoort aangewend te word om die bedryf te help konsolideer en oorleef. En om die toeriste wat wel hier is die beste moontlike ervaring te help gee.

Dit help ook nie dat iemand klaarblyklik die plan aan die media laat uitlek het voordat dit heeltemal deurdink en gefinaliseer is nie. En natuurlik is alles reeds verpolitiseer: Binne die ANC dink een helfte dis alles net ’n set van Lindiwe Sisulu as die betrokke minister om haar werk te hou as Cyril Ramaphosa ’n nuwe kabinet sou aanwys (asof dít gaan help). En buite die regerende party het die DA ’n voorspelbare hissy fit gegooi en selfs begin reël om verteenwoordigers na Spurs in Londen te stuur om daar die aaklige wanbesteding van Suid-Afrikaners se belastinggeld te gaan whatever.

Van ’n nugtere bespreking oor byvoorbeeld die voordele wat ’n soortgelyke ooreenkoms met Arsenal vir die Rwandese toerismebedryf ingehou het, is daar nie eintlik sprake nie. Ook nie van behoorlike konsultasie met plaaslike toerisme-operateurs om te hoor wat húlle van SA Toerisme wil hê nie.

Dis om van te ween.


Image: ANGELA TUCK

Regerende rampokkers en klipnat

Daar is ’n meem wat tot vervelens toe rondgestuur is, van ’n vragmotor wat op so ’n oomblik afgeneem is dat dit lyk asof die son, ’n ronde geel bal, in sy bak lê. Die byskrif: Stage 9: Daar fokof hulle met die son!

Die burgery voel, met reg, besteel. Die regering beskou skynbaar alles as hulpbronne om uitgebuit te word vir eie gewin. As hulle kon, het hulle dalk die son en die reën ook ingepalm. Maar dis die wonderlike ding van ons verslete planeet: gelap en gekneus, bloedneus soos ’n mishandelde vrou, staan sy telkens weer op om ietsie voor te berei.

Soos laasnag. Eensklaps, soos verwag, gaan staan die waaier botstil. Ek lê wrokkig in die neerdrukkende hitte en stilte en wonder hoe ek ooit weer gaan slaap. En skielik … skalks, skigtig, klater die eerste druppels op die dak, soos springmielies wat begin spring. Die ritmiese reën neem oor by die waaier en word my wiegelied.

Strome van seën van bowe, dit het die liefde beloof, wel kindertydse lofsange in my op. En Eugène Nielen Marais se lieflike gedig, “Die dans van die reën”:

O die dans van ons Suster
Eers oor die bergtop loer sy skelm …

Omdat ek so ’n soort brein het, dink ek ook aan Charles Bowen se gedig:

The rain it raineth on the just
And also on the unjust fella;
But chiefly on the just, because
The unjust hath the just’s umbrella.

Ek dink aan ’n vriendin wat, toe ons jonk was, au pair was vir ’n besonder neurotiese dogtertjie in Nederland. Hulle kyk saam na ’n video (destyds) van Singin' in the Rain. Toe Gene Kelly sy klopdans in die reën uitvoer, merk die kind droogweg op, in oulike Nederlands: “Hy moet wel versigtig wees dat sy sambreel nie iemand se oog uitsteek nie.”

Oraloor is nou die verruklike reuk van nat aarde. Petrichor, onthou ek, is die woord vir daardie reuk. Dit klink onromanties, soos ’n petrolkorporasie, maar dis aan Grieks ontleen, waar “petros” klip is en “ikhor” die eteriese vloeistof wat in die Griekse mitologie die bloed van die gode is.

Dit laat my weer dink aan die woorde van die pannekoektannie voor die koöperasie in Hartenbos een nat oggend: “Daar is net een ding wat beter is as die reën, en dis die bloed van Jesus.” Gewigtige woorde om saam met ’n pannekoek af te sluk.

Hoekom het ons nie ’n Afrikaanse woord vir die reuk van die reën nie? Dan lê ek moontlikhede en oorweeg. So bokspring my gedagtes saam met die reëndruppels in die geute rond.

Maar voordat ek ’n gloeilampie-oomblik (geen dank aan Eskom) kan beleef, los my gedagtes op in ’n gekompliseerde droom waarin prins Harry ’n rol vertolk; nie ’n sterrol nie, hoor, sommer ’n walk-on.

Vanoggend reën dit weer – steeds? Ek oorweeg nog moontlikhede: klipnat, klamgrond, blinkblaar. Dis ’n reuk wat dankbaar maak.

Want alles kan hulle nie van ons steel nie. Daar is nog heelwat genade, soos die reuk van klipnat in ons neusgate.


22 dae voor ons Stilbaai-boekefees

“Ek is ’n Stilbaai-feesverslaafde nadat ek die eerste een in 2022 bygewoon het. Dit kan net beter en lekkerder wees,” sê Ingrid Jones. Sy kom gesels dié keer oor Beyond the Blue: Women of the Sea, waarvan sy ’n medewerker was. Die lewensverhale van 17 vissersvroue wat ’n bestaan gemaak het in kusdorpies is hierin opgeteken. Saam met haar op die verhoog is tannie Betsie Lawrence, een van hierdie vroue wat die see soos die agterkant van haar hand ken.

In ander nuus: Ons brei ons spyskaart in die markiestent vanjaar uit: Benewens die maalvleisvetkoek, pannekoek en roosterkoek is daar nou ook slaaie en koek. Verwag individueel verpakte slaaie met ’n proteïen soos lamsvleis en tzatziki, kerrievis, of kekerertjies. Te drink sal daar koffie, tee, koeldrank en alkoholvrye bier wees. Daar is ’n uur en ’n half vir middagete – kom maak jou tuis in die tent, koop boeke, eet en drink.

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


Die dans van die reën

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit,
want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond
hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

– Eugène N. Marais

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.