Probeer Cyril die vrede bewaar?

MAANDAG MET MAX

Probeer Cyril die vrede bewaar?

Wat is nou eintlik die storie met die minister van elektrisiteit, en wat gebeur met die kabinetskommeling, vra MAX DU PREEZ. Hy skryf ook oor ouderdomsdiskriminasie en infantilisering van ouer mense. Soos altyd is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet, en ELNA VAN DER MERWE maak voorbrand vir ons Stilbaai-boekefees.

  • 13 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiedag!

1. Die EFF-leier, Julius Malema, se reaksie op sy en van sy “vegters” se poging om pres. Cyril Ramaphosa fisiek op die verhoog te konfronteer tydens Donderdag se opening van die parlement is om ’n verskoning van die speaker te eis en met ’n aansoek in die Konstitusionele Hof te dreig. Die EFF het in Julie 2019 ook só probeer om minister Pravin Gordhan te keer om in die parlement te praat en voor hom gaan saambondel. Dit is dieselfde party met wie die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, nou saamspan om Gautengse metro’s oor te neem.

2. Die polisie het ’n taakspan van spesialiste aangestel om die sluipmoord op die internasionaal bekende rapper Kiernan “AKA” Forbes Vrydag in Durban te ondersoek. Sy vriend en celebrity chef Tibz Motsoane is ook doodgeskiet. Die pa van AKA se verloofde, Anele Tembe, wat in 2021 van die 10de verdieping van die Pepperclub Hotel in Kaapstad na haar dood geval het, het bespiegeling dat dié familie verantwoordelik was, verontwaardig ontken.

3. Die vlaag van massaskieterye in die Oos-Kaap duur voort. Nóg vier mense is gister by ’n partytjie in KwaZakhele, Gqeberha, doodgeskiet.

4. Die dodetal ná die aardbewings in Türkiye en Sirië staan al op meer as 30 000 en styg elke uur. Maar daar is ook wonderwerke: ’n Baba wat tydens of net ná die aardbewing gebore is, is gered en gesond; ’n sewe maande oue baba wat 139 uur lank onder die puin vasgekeer was en ’n 12-jarige meisie wat 147 uur onder blokke sement vas was, is ook gered.

5. Dit is ’n uiters skaars gebeurtenis, maar nou het dit sommer drie keer in een week gebeur: Nadat die Amerikaanse lugmag ’n Chinese lugballon oor Amerika afgeskiet het, is nog ’n ongeïdentifiseerde vlieënde voorwerp oor Alaska en ’n verdere een oor Kanada afgeskiet. Die Amerikaanse en Kanadese regerings hou vol hulle weet nie wat die voorwerpe was en aan wie dit behoort nie. Curiouser and curiouser.


Vandag se weer

Waarskuwings is uitgereik oor swaar reën wat tot oorstromings in verskeie dele van Limpopo en Mpumalanga kan lei. Toestande wat ’n hoë brandgevaar inhou, word in dele van die Noord-Kaap verwag. Buie en donderbuie word vir die binneland en die ooskus voorspel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 23°C • Rustenburg 26°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 29°C • Durban 28°C • Worcester 35°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 25°C • Upington 38°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 28°C.


Max du Preez | Cyril ‘Mettertyd’ Ramaphosa

Wie slaan nou eintlik die kitaar in die regering, pres. Cyril Ramaphosa of die ANC se nasionale uitvoerende komitee, met voorbokke voorsitter Gwede Mantashe en sekretaris-generaal Fikile Mbalula?

Ramaphosa se toespraak by die opening van die parlement Donderdagaand was toe nie die besliste wending waarop Suid-Afrikaners gehoop het nie, maar dit was tog raak woorde en ’n paar planne.

En dit is waarop ons ons hoop bou: dat die mooi woorde wat ons elke jaar met die toespraak oor die stand van die land van die president hoor dié keer iets gaan beteken, dat dit tot aksie sal oorgaan. Dat die president uiteindelik land voor party sal kies.

Soos die besluit om ’n minister van elektrisiteit aan te stel. Op papier is dit ’n goeie idee: ’n kabinetslid wat finale verantwoordelikheid vir die kragkrisis sal aanvaar en die strydende departemente en ministers in lyn gaan bring.

Maar ons weet steeds nie wie dié minister gaan wees en wat sy/haar verantwoordelikhede gaan wees nie.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, sê aan die Sunday Times dié nuwe minister gaan eintlik net ’n projekbestuurder wees wat beurtkrag moet bestuur. Dit gaan sy portefeulje nie aanraak nie, sê hy – asof hy reeds die versekering gekry het dat hy in sy pos gaan aanbly. Mbalula sê aan die koerant hy stem saam dit gaan net ’n projekbestuurder wees.

Maar aan die koerant se sakeblad, Business Times, sê die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, dat dié nuwe minister die finale seggenskap oor elektrisiteit gaan hê.

“The president thought that the crisis should not be vulnerable to a multiplicity of decisions. It must be a technical focus and a political focus so that when decisions are taken, there is one authority,” sê hy.

Nou watter een gaan dit wees? Midde-in ’n ontsaglike krisis moet ons seker weet? Maar nee, die president swyg.

Mantashe en Kie. is blykbaar nie vooraf ingelig dat daar so ’n nuwe kabinetspos geskep gaan word nie. Dit laat die indruk ontstaan dat Ramaphosa dit geskep het om vrede in die ANC te bewaar: Hy hoef nie vir Mantashe as minister van energie in die pad te steek omdat hy vordering met elektrisiteit stuit nie, hy kan eerder ’n nuwe minister aanstel.

En gaan dié nuwe minister dalk Nkosazana Dlamini-Zuma wees? Die een wat die ANC se opdrag geminag het en vir Ramaphosa se impeachment gestem het, wat by die verkiesingskonferensie op die verhoog gesit en die verspotte substituut-handgebare gemaak het?

NUK-lede, die SAKP en Cosatu maak dit die laaste paar weke baie duidelik dat hulle seggenskap in die aanstelling van die nuwe kabinet wil hê. Art. 91 (2) van die Grondwet verklaar eenvoudig: “Die president stel die adjunkpresident en ministers aan, dra hulle bevoegdhede en funksies aan hulle op en kan hulle ontslaan.”

Ramaphosa weet al sedert sy herverkiesing as ANC-leier in Desember dat hy sy kabinet sal moet skommel, want Ayanda Dlodlo het vroeër bedank en Mbalula moes ook vervang word omdat sy pos as sekretaris-generaal ’n voltydse een is.

Maar gister het Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, gesê die nuwe kabinet sal “mettertyd, taamlik binnekort” aangestel word. Ramaphosa “beraadslaag” nog. Die krisisse kan wag, môre is nog ’n dag.

“Mettertyd” is die woord wat Cyril Ramaphosa goed beskryf.


Image: ANGELA TUCK

‘Act your age’ se moer, man

Die oubaas loop stadig en met moeite, maar sonder kierie en heeltemal alleen. Hy het ’n inkopiesak aan die arm met ’n paar items in. “Ag sjym, die ou man,” sê ’n vrou meewarig ná hy by haar verbygeloop het.

By sy motor draf die karwag nader: “Kom ek help jou met jou goed, madala.” Die man gee so ’n halwe glimlag, lig dan die inkopiesak op asof hy wil sê: Die donnerse sakkie weeg minder as ’n kilogram, hoekom dink jy ek het hulp daarmee nodig?

Ek het dit alles dopgehou, want ek het die man herken, al het ek hom seker 20 jaar laas gesien. Hy is een van die skerpste breine wat ooit oor my pad gekom het. ’n Briljante akademikus en ’n man van absolute integriteit – ek onthou ek het laas jaar nog een van sy prikkelende nuwe skryfstukke gelees.

En nou is hy ’n ag-sjym-madala? Net omdat hy met sy ouer liggaam – hy moet diep in sy 80’s wees – stadiger beweeg?

Ek stoot my trollie tot by my kar en toe ek sien die karwag staan nader, gryp ek die 20 kg-sak hondekos en gooi dit moeiteloos (of só het ek dit laat lyk) in die kattebak. Net ingeval hy my ook ’n madala wil noem.

Ek ry diep ingedagte huis toe. Het ek pas myself so oor 20 jaar gesien? Gaan mense dan ook my verouderende lyf raaksien voor hulle my raaksien?

Ek dink aan die internasionale publieke intellektueel, linguis en filosoof Noam Chomsky. Hy is nou 94, en net laas week het ek weer na sy jongste uitstekende ontleding van die oorlog in Oekraïne geluister. Ek hoop hy bly nog lank aktief; ons het insette van mense soos hy nodig – kyk net verby sy fisieke fragiliteit.

Ek dink aan Joe Biden. Sy liggaam is dié van ’n 80-jarige, maar laas week het ek hom met sy staatsrede voor die kongres die Republikeine sien ore aansit, en met ’n vonkel in die oog daarby. Persoonlik hoop ek hy gaan hom nie wel weer verkiesbaar stel volgende jaar nie, maar die geskiedenis, so glo ek, gaan aanteken dat hy die laaste drie jaar as president sy land van die Trump-waansin weggelei het.

Ek dink aan die Sloweense politieke filosoof en kulturele kritikus Slavoj Zizek, in sy middel-70’s. Een van die mees oorspronklike denkers van ons tyd. Gaan kyk gerus na van sy lesings en debatte op YouTube.

Ek dink aan van die diep denkers hier by ons wat al in hulle 80’s is: die filosoof André du Toit, die historikus Hermann Giliomee, oudpresident Thabo Mbeki. Ek wil nog weet wat dié mense van ons samelewing dink.

Ek het sewe jaar gelede ’n onderhoud met oud-speaker Frene Ginwala gedoen. Sy was toe 83. Dit was een van die prikkelendste gesprekke wat ek ooit gehad het.

Maar ek ken ook ’n paar mense vir wie die ouderdom nie goed was nie. Dit het hulle onverdraagsamer en ongeduldiger met ander standpunte gemaak, geslote vir nuwe idees. Hulle wil hê ons moet na hulle luister en saamstem, want hulle weet beter omdat hulle oud is.

En dan is daar ander, en van hulle is ou vriende of verlangse familielede, wat op 65 of so afgetree het en nie dié luuksheid gebruik het om die lewe verder te ontgin nie. Hulle kyk televisie en sit op die stoep, skinder en praat oor hulle skete. Spog/kla oor die kleinkinders en agterkleinkinders. Hulle kyk na Riaan Cruywagen se Met ’n huppel in die stap en sien eintlik met ’n kruppel in die stap (en wonder of hulle nie ook ’n mooi donkerbruin pruik moet aanskaf nie).

Goeie, dierbare mense, maar hulle verveel my tot in my siel in.

Hier is ’n paar eksentrieke ouer mense hier in my omgewing. Ouer mans met poniesterte en denimbaadjies en vroue met lang, grys vlegsels, mans en vroue met interessante, ietwat ongewone kleredrag – ’n 80-jarige met ’n Sex Pistols-T-hemp, byvoorbeeld. Ek staan in die tou in Woolworths (ja, dis hoofsaaklik van waar ek die mensdom aanskou) en sien die rol van die oë en die gefluisterde woorde agter die hande: Act your age.

Ons wil hê as jy oor 60 is, moet jy gesonde bruin verpleërskoene dra, ’n toeknoop-langmouhemp met verkieslik ’n cardigan vir mans en ’n netjiese los rok of broekpak vir ’n vrou. Die hare netjies en kort geknip.

Hoekom? Wat de hel beteken “act your age”?

Hoekom kon die ou 30 jaar gelede ’n Sex Pistols-T-hemp met sosiale aanvaarding gedra het, maar nou is hy verspot? Het rebels-wees, of selfuitdrukking, ’n ouderdomsbeperking?

Ek praat hier ook nie net van mense in hulle 70’s en 80’s nie. Baie mense in hulle laat 40’s en 50’s voel ook die sosiale druk “to act your age”.

Stront, sê ek.

Die jaar waarin ek gebore is, beteken net ek het langer gelewe as dié wat dekades ná my gebore is. Dis net ’n getal.

Dit beteken inderdaad dat ek baie meer goed as jongeres ervaar het, maar dit beteken ook dat daar ’n klomp goed is wat ek op ’n gans ander manier as jongeres ervaar het; dat ek hulle insigte en vars idees nodig het om my lewens- en wêreldbeskouing gebalanseerd te hou.

Ek het nie meer wysheid in pag as my 18-jarige laatlammetjie nie, net meer ervaring.

Ons in ons “latere dekades” moet teen vooroordeel, teen ageism terugveg, maar dan moet ons onsself ook nie soos oues van dae gedra nie.

Ons tradisionele kulture, veral dié van Afrikane en Afrikaners, wil hê ons moet die “old-timers” met respek behandel.

Dis reg so. Ons moet ervaring waardeer en respek hê vir fisieke kwesbaarheid.

Maar dié “respek” vir ouderdom loop te dikwels hand aan hand met ’n infantilisering van ouer mense, die idee dat hulle “gister se mense” is vir wie ons oor die straat moet help, maar nie ernstig hoef op te neem nie. Dit is só 20ste eeu.

Act your age se moer, man.

Ek groet, met ’n ietwat geforseerde huppel in my stap.

Oom Max


Namakwaland

Op die groot saaidag van die heelal
het reeds ’n entjie duskant Wupperthal
oor die kaal Noordweste
’n sakkie van die Heer se beste
saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.

– D.J. Opperman

(Uit: Kaapse draaie)


Image: ANGELA TUCK

11 dae voor ons tweede Stilbaai-boekefees

“Jy vra my oor my en Gerda (Taljaard) se gesprek?” sê-vra Kirby van der Merwe. “Stel jou voor, om my Eugene-karakter – eietyds en dwars – en Gerda se vier susters (uit haar gelyknamige roman) met mekaar te laat saamgesels. Dié susters en die vrouekarakters in Eugene het veel vir mekaar te sê oor die bande wat vroue bind.”

Kirby en Gerda is op Saterdag 25 Februarie om 14:30 op die verhoog. Wicus Pretorius, Tuis-redakteur en Fiësta-aanbieder, is die gespreksleier. Hy sal sy hande vol hê met hierdie twee skrywers wat ewe glad met die mond as die pen is.

Die reëlings vir die fees verloop vlot, die drie skape vir die spitbraai lê al in die marinade (grappie, maar daar is wel drié) en Niel Rademan stem solank sy konsertina vir Vrydagaand se twee optredes by die fees. Al wat jy hoef te doen, is om blyplek en kaartjies te bespreek. As jy sukkel met blyplek, skryf aan my by stilboeke@gmail.com.

– Elna van der Merwe

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.