99 krygsballonne dryf woedend oor die westerkim

WOENSDAG MET WILLEM

99 krygsballonne dryf woedend oor die westerkim

MAX DU PREEZ sê die Suid-Afrikaanse regering is vierkant in Rusland se kamp en vergoeilik sy imperialistiese oorlog in Oekraïne. Die stryery oor spioenasieballonne tussen die VSA en China laat WILLEM KEMPEN dink aan iets waarmee Suid-Afrika se admiraals hulle kan besig hou, en soos altyd is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 15 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 13 min om te lees

Goeiemôre


1. Die Kaapstadse man wat die agtjarige Tazné van Wyk van Ravensmead in 2020 ontvoer, verkrag en toe vermoor het, is gister in die Wes-Kaapse hooggeregshof tot nege keer lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is skuldig bevind op 22 aanklagte, wat ook insluit lykskending, die verkragting van sy eie volwasse dogter en ’n hele reeks ander seksmisdade. Regter Alan Maher het gesê die skuldige sal duidelik nie gerehabiliteer kan word nie: “The degree of moral turpitude displayed by the accused is extreme, disturbing, and difficult to comprehend.”

2. SA Toerisme het sy finansiële hoof, Johan van der Walt, per brief gevra om redes te gee waarom hy nie geskors behoort te word nie. Daily Maverick het vroeër berig dat Van der Walt ’n direkteur is van verskeie maatskappye wat bande het met die WWP Group, wat glo as tussenganger sou optree om die omstrede borgskap van die Londense sokkerklub Tottenham Hotspur moontlik te maak. Thozamile Botha, voorsitter van SA Toerisme se direksie, het aan News24 gesê Van der Walt het nog nie op die brief gereageer nie.

3. Nikki Haley het haar formeel vir die Republikeinse Party se benoeming vir die Amerikaanse presidentskap in 2024 verkiesbaar gestel. Sodoende word sy die eerste ernstige struikelblok in Donald Trump se pad om weer deur die Republikeine benoem te word. Haley is ’n voormalige goewerneur van Suid-Carolina en is ook in 2017 deur Trump as die Amerikaanse ambassadeur na die Verenigde Nasies aangewys.

4. Saoedi-Arabië het vir die eerste keer ’n vroulike ruimtevaarder aangewys. Die 33-jarige Rayyana Barnawi sal later vanjaar saam met haar landgenoot Ali Al-Qarni aan boord van die SpaceX Dragon na die Internasionale Ruimtestasie vertrek. Barnawi het onder meer ’n meestersgraad in biomediese wetenskappe en spesialiseer in navorsing oor kanker-stamselle.

5. Honderde trekkers het Parys gister binnegery as deel van Franse boere se protes teen ’n verbod op sekere gifstowwe wat volgens hulle landbouproduksie van veral suikerbeet skaad. ’n Europese hof het verlede maand beslis dat die Franse regering nie langer die land se boere mag toelaat om die betrokke gifstowwe in weerwil van EU-regulasies te gebruik nie.


Kyk weer ...

Nog waarskuwings van swaar reën wat tot oorstromings kan lei, dié keer oor dele van Noordwes, die Vrystaat, die suide van Gauteng en die oostelike gebiede van die Oos-Kaap. Toestande wat ’n hoë brandgevaar bevorder word ook weer in die noorde van die Noord-Kaap verwag.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Polokwane 27°C • Mbombela 24°C • Upington 36°C • Bloemfontein 30°C • Kaapstad 25°C • George 23°C • Worcester 30°C • Durban 31°C • Gqeberha 24°C.


Max du Preez | Ek staan nié by Rusland nie

Suid-Afrika is/was in ’n goeie posisie om ’n nuwe balans na die Oos-Wes-, koue-oorlog-tipe internasionale politiek te bring.

Die konflikte en propaganda-oorloë tussen Rusland en China aan die een kant en Amerika en Europa aan die ander kant is nie ons saak nie – of behoort nie te wees nie.

As (eens) invloedryke Afrika-land, lid van die G20, sou ons behoorlik onverbonde kon gewees het en eerder volgens beginsel as lojaliteit ons aan die een of ander “kant” kon geskaar het as daar ’n vraagstuk op die internasionale tafel is.

Dié bootjie het nou, ten minste sover dit die Suid-Afrikaanse regering aangaan, geseil. Hulle is vierkant in Rusland se kamp en vergoeilik sy imperialistiese oorlog in Oekraïne. Rusland, China, Kuba en Iran tel onder die ANC en sy regering se beste vriende.

Boonop het Suid-Afrika ná Nelson Mandela geleidelik sy internasionale aansien verloor en net Lesotho neem ons nog ernstig op.

Dit beteken nie ons, die mense, hoef dieselfde pad te stap nie. Ons kan byvoorbeeld al Amerika en Navo se vergrype en bloedige geskiedenis onthou en steeds sê die inval in Oekraïne was immoreel en gevaarlik.

Maar die komende Oefening Mosi II, die vlootmaneuvers wat Suid-Afrika volgende week saam met Rusland en China hou, wys dat die openbare mening oorweldigend bipolêr is: Die een lot sê blindelings Amerika en die Weste is bloeddorstige kriminele, die ander lot sê dieselfde van Rusland, China en Iran.

Die Russiese fregat Admiraal Gorshkov het dié week in die Tafelbaaise hawe vasgemeer om brandstof en ander voorrade in te neem. Dit is op pad na die kus tussen Durban en Richardsbaai vir Oefening Mosi II.

Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die aankoms van die fregat veroordeel en gesê dit is nie welkom in Kaapstad nie. Hill-Lewis is op sosiale media oorval met ’n stortvloed venynige kommentaar en aanvalle op sy etnisiteit.

Ons staan by Rusland, was die boodskap, selfs van andersins gematigde openbare figure. Geen oorweging word geskenk aan die bewese Russiese oorlogsmisdade in Oekraïne of die gebruik van die berugte Wagner-groep se huursoldate nie. Ons staan by Rusland.

Wel, ek staan nie by Rusland nie. En dit beteken nie ek is ’n groupie van Amerika of Navo nie, dit beteken net ek veroordeel die onuitgelokte militêre inval en die minagting van menseregte.

Hill-Lewis het ordentlik probeer bly en #VoetsekRussianWarship by sy verklaring gevoeg.

Dit was sekerlik ’n verwysing na die nou beroemde boodskap van Oekraïniese soldate op Oekraïne se Slangeiland op 24 Februarie verlede jaar toe ’n Russiese oorlogskip hulle gewaarsku het om oor te gee: “Russian warship, go fuck yourself.”

In my jonger dae sou ek ’n plakkaat met dié woorde gemaak het en by die Admiraal Gorshkov gaan betoog het.


Image: ANGELA TUCK

Rooi ballonne om ons naam fregat te maak

In 1973 het vyf hoërskoolkinders in Las Vegas vir die grap ’n pakkie met 100 ballonne gekoop, dit met helium gevul, ’n rooi fakkel daaraan vasgemaak en dit die lug in laat styg. Of eintlik: Dit was net 99 ballonne, want een het gebars of verlore geraak, soos ballonne nou maar maak.

Die plan het gewerk en mense wat die wriemelende rooi weerkaatsing oor die Red Rock Canyon sien dryf het, het inderdaad gedink dis een of ander alien gevaarte.

Nege jaar later, in Junie 1982, is ’n klomp ballonne by ’n konsert van die Rolling Stones in Wes-Berlyn ook losgelaat om weg te dryf. Een van die konsertgangers wat dit gesien het, was Carlo Karges van die Duitse musiekgroep Nena. Soos die ballonne weggedryf het, het Karges gewonder wat sou gebeur as Sowjets aan die ander kant van die Muur die ballonne vir ’n vyandelike vaartuig sou aansien.

Nog ’n jaar later het die groep die song “Neunundneunzig Luftballons” en ook die Engelse vertaling daarvan as “99 Red Balloons” op die album Nena ingesluit. Dit vertel van die chaos wat ontstaan toe die generaals die ballonne gewaar:

99 red balloons
Floating in the summer sky
Panic bells, it’s red alert
There’s something here from somewhere else
The war machine springs to life
Opens up one eager eye
Focusing it on the sky
The 99 red balloons go by

En hier is ons nou in 2023, en die Chinese en die Amerikaners wil mekaar al weer aan die hare gryp. Dié keer oor einste lugballonne. Spioenasie, sê die Amerikaners. Weerballonne, sê die Chinese.

Ek het eers gedink dis ’n grap toe die Amerikaners voorverlede week die eerste Chinese ballon neergeskiet het. Hoe op aarde kan iets so outyds en lomp en moeilik om te beheer en bowenal so vreeslik obvious soos ’n ballon ’n effektiewe manier wees om op ’n ander land te spioeneer? En om dieselfde redes, waarom het die VSA dan die ding met ’n missiel gaan staan en aanval? Overkill much?

Tog, ten spyte van drones en satelliete en ander nuwer tegnologie is ballonne steeds ’n effektiewe manier om navorsing te doen oor dinge soos atmosferiese verskynsels. Die Amerikaanse National Weather Service laat gemiddeld meer as 90 per dag die lug in styg, waar hulle dan so hoog as 30 km oor die aarde sweef. Dit beteken daar kan op ’n gegewe dag honderde van hulle iewers oor die VSA wees.

Die hele bohaai oor die ballonne het die Eglin-lugmagbasis in Florida selfs vandeesweek ’n verklaring laat uitreik om die publiek gerus te stel as hulle een van dosyne rooi ballonne sou sien:

“Each day, balloons will be released between 6:30 a.m. to 5:30 p.m. to collect weather data for a Naval Postgraduate School research project to understand the physical interaction between the lower atmosphere and the upper ocean.”

En die Chinese ballonne? Dis waarskynlik net ’n klein groepie mense wat regtig weet wat presies hier aan die gebeur is, maar die Amerikaanse geopolitieke strateeg Peter Zeihan maak ’n paar interessante opmerkings.

Eerstens reken hy dis nie vergesog dat China gretig is om meer te leer oor Amerikaanse lanseerterreine vir interkontinentale ballistiese missiele nie. Of ballonne die beste manier is om dié soort inligting in te samel is ’n ander vraag.

Tweedens maak Westerlinge maklik die fout om te dink alles wat die Chinese regering doen, spruit uit ’n haarfyn beplande langtermyn-strategie. Die werklikheid, meen Zeihan, is dat pres. Xi Jinping homself met jabroers omring het, met die gevolg dat die Chinese die afgelope jare verskeie kritieke taktiese en strategiese flaters begaan het, waarvan die onlangse hantering van ’n nuwe Covid-uitbraak ’n goeie voorbeeld is.

Nou, toe die nuus breek dat die Amerikaners ’n ballon neergeskiet het, was Chinese diplomate klaarblyklik onkant betrap – een deel van die staatsmasjinerie het nie presies geweet waarmee ’n ander deel dalk besig was, soos in die verlede gewoonlik die geval was nie. Die Chinese burokratiese en besluitnemingsprosesse het sodanig in duie gestort, sê Zeihan, dat oordeelsfoute soos met die ballonne gemaak word, wat dan vererger word omdat die diplomate nie daarvan geweet het nie en dus onvoorbereid was.

Zeihan se derde punt is dat die Amerikaners as die duidelike wenners uit die hele sage tree. Die grootte en die gesofistikeerdheid van die toerusting op minstens die eerste ballon wat neergeskiet is (die ding was glo van bo na onder dalk tot 60 meter!), maak ’n bespotting van China se ontkennings dat hy op die VSA probeer spioeneer het. Boonop sou geen inligting ingesamel kon word wat nie veel makliker uit algemeen beskikbare satellietbeelde bekom kon word nie.

Terselfdertyd kon die VSA die ballon vir ’n geruime tyd volg en bestudeer, en dit toe neerskiet op ’n plek waar al daardie toerusting, soos die meeluisterapparaat, langafstand-antennas en aandrywingstelsels, meestal ongeskonde herwin kon word (en waar die wrakstukke nie ’n gevaar sou inhou vir mense op die grond nie). Dit verklaar ook waarom die ballon oor die vlak water aan die kus van Suid-Carolina neergeskiet is en nie oor die diep waters van Alaska waar dit ’n week tevore die eerste keer bespeur is nie.

Wat beteken dit alles vir ons hier in Suid-Afrika? Wel, ons is op die punt om ’n vlootoefening saam met China (en Rusland) aan te bied, om redes wat niemand buite die regering oortuigend vind nie. Die beste moontlike uitkoms van dié hele affêre is dat dit nie ’n totale internasionale verleentheid gaan word nie. Aan die ander kant: Ons het niks te vrese van Chinese spioene nie, want hulle weet reeds ons het nie regtig meer ’n vloot nie.

Maar wag, sê nou die plan met die vlootoefening is eintlik dat dit ons is wat op húlle gaan spioeneer? Dalk is daar, as we speak, iewers op ’n fregat ’n klompie van ons admiraals wat vir die vale sit en al die ballonne opblaas wat oorgebly het van die ANC se verjaardagpartytjie in Bloemfontein nou die dag. Dan, as hulle klaar is, gaan hulle ’n iPhone onderaan vasmaak en dit opstuur sodat dit oor die Chinese skepe kan gaan hang en ons presies vertel wat hulle alles doen.

As dít nie werk nie, kan hulle altyd die ballonne gebruik om ons duikbote vinniger te laat surface die volgende keer as die batterye aan boord pap raak.

Ai, ai kaptein ...

Groetnis
Willem


9 dae voor ons Stilbaai-boekefees

Ek moet Melkhoutfontein toe gaan om met ’n voorvrou van die gemeenskap, Christel Cloete, te gaan praat oor die reëlings vir die besoek van Ivor Swartz, jeugleier, motiveringspreker en skrywer van Kies die lewe, aan die primêre skool daar. My skoolmaat wat hier kuier en al 36 jaar in Engeland woon, ry saam. Ek sê vir haar nou gaan jy die wrange vrugte van apartheid “alive and not well” sien.

Om hierdie stuk te skryf google ek Melkhoutfontein en kry dít:

“Situated about 7km inland from the popular seaside holiday town of Stilbaai, Melkhoutfontein is certainly one of Hessequa’s most underrated gems. It was established as a fisherman’s settlement in the 1850s with its cute, white-washed and thatch-roofed houses quickly becoming its defining feature.”

Ek weet nie waar daardie “cute” huise vandag staan nie en om te sê die dorpie is ’n onderskatte juweel, is gewoon ’n wanvoorstelling van die werklikheid.

Voorts meld explorerersgardenroute.co.za darem wel dat apartheid veroorsaak het dat die “skilderagtige dorpie” gesegregeer is van Stilbaai en daardeur van baie ekonomiese geleenthede afgesny is. Maar joegaai, ondanks hierdie terugslag “the community has managed to cling to its proud heritage and is now reaping the benefits of being one of the Garden Route’s most unstaged destinations for intra-cultural tourism experiences”.

Ek weet nie wat met “unstaged” bedoel word nie; ek weet as ’n “destination” is dit slegs ’n toeriste-attraksie soos wat ek dit vir my vriendin verduidelik het.

Ek kry die man wat vir my verfwerk gedoen het in die OK. (Wag, laat ek nie die waarheid verdraai nie: Hy het my splinternuwe huis vir my geverf.) Hy was in Desember een van die 50 ontvangers van ’n HOP-huis (baie van hulle het 20 jaar en langer gewag hierop). Ek vra hoe voel dit. Hy sê, mevróú, vir die eerste keer in my lewe het ek my eie dak oor my kop.

Dis vir my byna ondraaglik om in die paradyslike Stilbaai te woon en 7 km van my af woon die kinders en kleinkinders en agterkleinkinders van die mense wat deur apartheid geknak is.

Ivor Swartz se eerste boek, Die verlore seun vannie Gaatjie, handel oor sy grootwordjare “in ’n blou skakelhuisie in Bosstraat, Pineview, Grabouw – of Gaatjie, soos die mense dit daar noem”. Hy was ’n slim seuntjie wat weens omstandighede in die tronk matriek geskryf het. Vandag is hy ’n gerekende spreker en skrywer. Hy kom praat volgende Vrydag met Melkhoutfontein Primêr se 136 leerders in graad 7 tot 9.

Hul byeenkomsplek is onder die bloue hemel en dis “standing room only”. So vir die uur wat hy op sy bekende inspirerende manier met hierdie kinders gaan praat, gaan hulle in die bakkende son staan. Of in die gietende reën, want met die Hessequa se weer weet mens nooit nie.

– Elna van der Merwe

* Ivor Swartz (Kies die lewe) en die aktrise Lindie Stander (Agter my glimlag) gesels op die Saterdag van ons Stilbaai-boekefees om 09:30 met Deborah Steinmair.

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.


Uit: “Plaashek”

Bloedrooi die alwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie ...
net'n luggie wat
skrams aan die ritselende
grassate vat.

– Uys Krige

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.