Ons versaak ons kinders

MAANDAG MET MAX

Ons versaak ons kinders

Die hoofstroommedia is telkens self smouse van disinformasie eerder as om dit te beveg, sê MAX DU PREEZ. Hy skryf ook dat nie net die ANC nie, maar ons almal ná 1994 gelyke geleenthede vir al die kinders van die land moontlik moes maak sodat hulle tot hulle volle potensiaal kan ontwikkel. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 20 Februarie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Daar is ’n hewige magstryd in die polisie oor die sekuriteit van die president en die adjunkpresident. Die Sunday Times het gister berig dat genl. Samson Shitlabane nou as hoof van die presidensiële veiligheidseenheid afgedank is en deur genl. Wally Rhoode vervang is. Rhoode was in beheer van die president se sekuriteit tydens die Phala Phala-skandaal en word self by die voorval betrek, maar luidens die berig vertrou Ramaphosa hom absoluut.

2. Die koning van die Zoeloes, Misuzulu kaZwelithini, het al sy afsprake die laaste weke gekanselleer en kruip glo weg weens vrese vir sy eie veiligheid. Die bedreiging kom glo nadat hy sy aide, Mthokozisi Ntombela, afgedank het, maar Ntombela sê hy vrees ook vir sy eie lewe.

3. Die kampus van die Universiteit van Kaapstad word steeds deur betogende studente geteister en geen klasse word aangebied nie. Die visekanselier, Mamokgethi Phakeng, gaan glo vandeesweek nog geskors word nadat ’n paneel deur oudregter Lex Mpati haar omstrede leierskap ondersoek het.

4. Al gewonder hoekom daar soveel robuuste bekgevegte tussen die DA-leier, John Steenhuisen, en die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont, is? Volgens die rubriekskrywer en oudredakteur Peter Bruce is die antwoord in die geskiedenis te vind: Steenhuisen het ’n verhouding met Beaumont se vrou gehad toe hy die DA se leier in KZN en Beaumont die party se provinsiale direkteur was. Sy het toe van Beaumont geskei en is nou met Steenhuisen getroud. Soos die gesegde lui: the personal is the political.

5. Die Franse president, Emmanuel Macron, sê Rusland moet in Oekraïne verslaan word en die Weste moet hulle steun vir dié land verskerp, maar Frankryk se posisie is nie dat Rusland vergruis moet word nie. Die konflik moenie na Russiese grondgebied uitgebrei word nie.


Vandag se weer

Swaar reën wat tot oorstromings in laagliggende gebiede kan lei, word in dele van die Wes-Kaap verwag, waaronder Kaapstad. Daar is ook ’n waarskuwing oor sterk wind in dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap. Enkele buie en donderbuie word oor die grootste deel van die binneland verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 25°C • Rustenburg 29°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 19°C • Durban 37°C • Worcester 19°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 26°C • Upington 28°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 27°C.


Max du Preez | Media en disinformasie

Vrye Weekblad is die medeborg van ’n konferensie oor disinformasie wat Woensdag in Kaapstad gehou word. Dit is ’n belangrike onderwerp en gaan deur ’n sterk groep spesialiste en ontleders bespreek word.

Ek is nie ’n spesialis op die veld of ’n forensiese ondersoeker nie, maar ek sou die konferensie daarop wou wys dat die hoofstroommedia telkens self smouse van disinformasie is eerder as om dit te beveg.

’n Hofsaak wat in Amerika aan die gang is, het my hieroor laat nadink.

Dominion Voting Systems dagvaar Fox News omdat dié regse TV-kanaal onophoudelik beweer het dat die maatskappy se stemmasjiene gebruik is om die presidensiële verkiesing van 2020, toe Joe Biden vir Donald Trump verslaan het, te ondermyn.

Uit die hofstukke blyk dit nou dat die eienaar van Fox, Rupert Murdoch, en voorste Fox-aanbieders soos Tucker Carlson, Sean Hannity en Laura Ingraham in korrespondensie met mekaar en ander dit duidelik gemaak het dat hulle goed geweet het dat die beweringe geheel en al vals was, maar hulle het aangehou om dit te verkondig.

Hier by ons het ons ANN7 gehad, oftewel Gupta-TV, en die koerant The New Age, wat met groot ywer die publiek belieg en bedrieg het om Jacob Zuma en sy Gupta-skenkers se saak te dien. Ek het heelwat van die senior mense by dié twee mediahuise geken en gewéét hulle weet hulle verkondig leuens.

ANN7 en The New Age is nou saliger, maar nou het ons Iqbal Survé se Independent Media-groep wat dieselfde doen. Dis nou die uitgewers van onder meer die Cape Times, Cape Argus, Pretoria News en The Star.

Die groep dien ook die belange van die RET-groep, maar het boonop ’n sagte plekkie vir een van hulle aandeelhouers, die Volksrepubliek China.

Die storie van die tienling wat toe nooit was nie, is een van Independent se hoogtepunte, maar die groep is ook in ’n hewige oorlog met pres. Cyril Ramaphosa en sy faksie van die ANC betrokke en publiseer gereeld wilde stories wat geen water hou nie.

Met die Phala Phala-skandaal, byvoorbeeld, het hulle sommer as feit verklaar dat dit $8 biljoen was wat op Ramaphosa se plaas versteek was en dat sy huiswerker en ander betrokkenes gemartel en ontvoer is.

Niemand kan juis iets aan Independent doen nie, want hulle het hulle onttrek aan die Persraad, die liggaam wat die gedrukte media reguleer.

Die ander vorm van disinformasie in die media klink onskuldiger, maar het nie minder van ’n impak nie: die uitnodiging van elke Jan Rap en sy maat om as ’n kenner of ontleder op televisie te verskyn en dan leuens te verkondig of feite te verdraai sonder dat daar enige gevolge daarvoor is.

Ek het pas na ’n 15 minute lange onderhoud met ene Rutendo Matinyarare op Newzroom Afrika gekyk. Dié knaap verklaar met groot gesag dat Anglo American 60% van die Suid-Afrikaanse ekonomie besit en Johann Rupert 20%. Eskom is ’n werktuig van kolonialisme, sê hy, en regter Raymond Zondo se kommissie na staatskaping is ’n “valse narratief” en ’n “totale klug”.

Wie is dié knaap? Hy is ’n Zanu-PF-agent en ’n bekende Zimbabwiese charlatan. Hy is voorgestel as iemand wat glo Zimbabwe kan ’n goeie voorbeeld vir Suid-Afrika wees hoe om probleme op te los. Nee, ek lieg nie, kyk self:


Image: ANGELA TUCK

’n Gelyke kans vir al ons kinders

As daar een ding is wat die meeste mense op aarde, van alle kulture en gelowe, gemeen het, is dit die begeerte van ouers dat hulle kinders beter of net so goed as hulle ouers daaraan toe gaan wees wanneer hulle groot is.

Dit is nie net ’n biologiese instink om primêr op kinders se welstand te fokus nie. Dit is inherent aan mense se drome en ideale, hulle hoop op ’n beter toekoms. Onderliggend daaraan is boonop ’n morele imperatief: Kinders word sonder enige kwaad gebore, maar ook sonder die vermoë om vir hulleself te sorg, en dit is volwassenes se plig om hulle te beskerm.

Vir my is die mees basiese karaktertrek van ’n gesonde gemeenskap dat hulle vir hulle kinders omgee en dat alle babas se lewe by geboorte dieselfde waarde het – arm of ryk, manlik of vroulik, ongeag die sosiale posisie of etnisiteit van die ouers.

Die geboorte van ’n celebrity of ’n invloedryke mens se kind is seker meer nuuswaardig as dié van ’n kind in ’n plakkerskamp of ’n afgeleë gehuggie, maar dit beteken nie dat dit meer “werd” is as ’n menselewe nie.

Die grootste sonde van kolonialisme en apartheid was, na my mening, op die keper beskou nie die afneem van grond, uitsluiting uit die ekonomie en sosiale skeiding nie. Dit was dat swart en bruin kinders as minder werd as wit kinders geag is en van hulle geboorte af ’n agterstand gehad het.

Die stelsel het onskuldige babas by geboorte gestraf oor wie hulle ouers was. Die kans dat Pietman Coetzee en Dorothy Smith ’n goeie, bevredigende lewe sou kon lei, was ’n duisend keer beter as dié van Bongani Tshabalala of Chantel April.

Dít was wat die nasionale bevrydingsbeweging, die ANC, moes omkeer toe hulle in 1994 die bewind oorgeneem het. Dit was hulle belangrikste taak, selfs voor BEE en regstellende aksie.

Maar dit was nie net die nuwe regering se taak nie. Ons demokrasie en ons Grondwet het ons nasie ná eeue van onreg ’n nuwe morele basis gegee. Die res van ons buite die ANC moes ook na ons kinders omgesien het.

Ons kon nie al die ongelykheid en onregverdigheid van apartheid ná 1994 met ’n penneveeg ongedaan gemaak het nie.

Wat ons wel kon en moes gedoen het, is om te verklaar dat alle kinders voortaan ’n gelyke (of naastenby gelyke) kans gegee word om tot hulle volle potensiaal te ontwikkel.

Wat is die werklikheid?

’n Derde van alle Suid-Afrikaanse kinders se ontwikkeling word deur onder- of wanvoeding belemmer – in die vakliteratuur, stunted. Dit beteken hulle gaan weens fisieke en kognitiewe skade nooit tot hulle volle potensiaal kan ontwikkel nie. In 2025 gaan daar sowat 1,8 miljoen sulke kinders in ons land wees, sê deeglike studies oor die probleem. Dosyne kinders sterf selfs elke jaar van hongersnood.

Luidens ’n onlangse verslag van die 2030 Reading Panel is die basiese geletterdheid van Suid-Afrika se kinders op ’n afwaartse kurwe. Die meeste kinders in graad 2 ken nie eens die alfabet nie en meer as agt uit 10 kinders in graad 4 kan nie met betekenis lees nie.

Ons moet in dieselfde asem sê Suid-Afrika spog ook met van die beste skole ter wêreld, openbaar en privaat, wat uiteindelik matrikulante van hoër as die gemiddelde internasionale standaard oplewer.

Dit is die township- en diep plattelandse skole met net of meestal swart en bruin leerlinge wat ons jeug faal.

En só word die gevaarlike ongelykheid in ons land, reeds van die hoogstes ter wêreld, verder aangedryf.

Meer as ses uit 10 mense onder 25 is werkloos.

Soos sake nou staan, gaan die meeste van ons land se kinders nie eendag beter as hulle ouers daaraan toe wees nie.

Wat ’n verskriklike gedagte.

Ons het nie die begroting om ons skole buite die meestal wit woonbuurte beter te maak en onderwysers beter op te lei nie, is die regering se standaardverskoning.

Ek lees gister die BBP-beskerming van elkeen van ons ministers en adjunkministers kos R8 miljoen per jaar, en die president en adjunkpresident s’n baie, baie meer as dit. Ministers word R2,5 miljoen en adjunkministers R2 miljoen per jaar betaal, en elkeen van hulle is geregtig op twee voertuie wat saam tot R3,2 miljoen kos.

Suid-Afrika het 28 ministers en 30 adjunkministers. Maak self die sommetjie hoeveel geld gaan beskikbaar wees as die kabinet na 20 en die getal adjunkministers na 10 verminder word. Dis genoeg om elke bouvallige skool in die land in een jaar reg te maak en van spoeltoilette te voorsien.

Ek groet met ’n swaar hart.

Max

Naskrif: Op die onderwerp van skoolkinders. Ek het lank laas iets so veragtelik gesien as die vernedering en intimidering van jong skoolkinders deur ’n windsak in kamoefleerdrag wie se lewenstaak dit is om migrante uit Afrika uit Suid-Afrika te verwilder, Nhlanhla Lux Dlamini. Dié video is laas week geneem:


Dit was Auden

Dit was Auden,
kenner van die liefde, wat wis
die digter het die gedig
liewer as die geliefde se gesig.
Tog met jou word elke woord
en wederwoord uitgewis. Ongedaan.
Voor jou het ek geen woorde.
Ek is Isis, soekend na jou, Osiris.

– Joan Hambidge

(Uit: Ruggespraak)


4 dae voor ons tweede Stilbaai-boekefees

* Vir nog inligting oor die boekefees en die volledige program, kliek hier.

* En om te bespreek, kliek hier.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.