Duur klere in die kis en ander sondes van die vadere

WOENSDAG MET WILLEM

Duur klere in die kis en ander sondes van die vadere

WILLEM KEMPEN speel sê-nou-net, en wonder watter prys ons gaan betaal vir die ondergang van 'n Kaliforniese handelsbank. Soos gewoonlik is daar ook vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 15 Maart 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Die aandeleprys van Transaction Capital, Suid-Afrika se grootste finansier van minibus-taxi’s, het gister op die JSE met sowat 40% gedaal nadat die maatskappy gewaarsku het dat sy tussentydse verdienste met tot 20% kan daal, sowel as weens vrese wat van oorsese markte oorgespoel het ná die ondergang van Silicon Valley Bank. Transaction Capital besit ook ’n meerderheidsbelang in WeBuyCars.

2. Die Suid-Afrikaanse Polisie-Unie (Sapu) beplan om op 17 Maart met ’n landwye staking te begin. Die vakbond sê hulle “sal nie oorgee” totdat aan hulle salariseise voldoen is nie. Die polisie het in reaksie die versekering gegee dat al die 1 160 polisiekantore in die land “ten volle operasioneel” sal wees, wat in verskeie gevalle ’n verbetering op die normale toedrag van sake sal beteken.

3. Die sanger Steve Hofmeyr gaan R100 000 aan ’n LGBTQIA+-organisasie betaal as deel van ’n skikking wat in die Gelykheidshof in Gqeberha bereik is ná sy onsmaaklike uitlatings verlede jaar oor Disney en bestialiteit.

4. Die polisie en ander nooddienswerkers het gisteroggend ’n Airbus A350 van Singapore Airlines op OR Tambo deursoek nadat ’n bomdreigement ontvang is. Die vliegtuig is deursoek, maar niks is gevind nie en dis veilig verklaar.

5. Rand Water is nie in staat om in die behoeftes van sy Gautengse kliënte te voorsien nie, het Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, ná ’n vergadering met van die provinsie se burgemeesters gesê. Voorts gaan tot 45% van die beskikbare water binne munisipale stelsels verlore weens onder meer lekkasies, het eNCA berig.


Kyk weer ...

Brandgevaartoestande kom steeds voor in dele van die Noord-Kaap. Oor ander dele van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap word ’n koue front egter voorspel. Sterk wind word voorspel langs die kus tussen Saldanhabaai en Kaap Agulhas en so ver as Plettenbergbaai later die middag. Buie en donderbuie kan weer oor die grootste deel van die land verwag word.

Kliek hier vir meer.

Hier is die verwagte maksimum temperature vir vandag: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Polokwane 28°C • Mbombela 27°C • Upington 37°C • Bloemfontein 29°C • Kaapstad 29°C • George 22°C • Worcester 26°C • Durban 29°C • Gqeberha 26°C.


Willem Kempen | Soms betaal ons nog jare later vir ’n ‘goedkoop’ begrafnis

Toe hy met die destydse subprima-krisis gevra is wat sy blootstelling aan dié vrot skuld was, het die Amerikaanse belegger Warren Buffett die storie vertel van die twee seuns wat hulle pa moes begrawe.

Die jonger seun moes die begrafnisreëlings tref, en hy wil toe by sy broer weet hoeveel hy mag bestee aan die klere waarin sy pa in die kis gelê moet word. Gaan groot, was die antwoord, ons pa verdien die beste. ’n Maand of wat ná die begrafnis kom die rekening vir die kisklere, en dis net ’n beskeie paar dollar. Gaaf, dink die seun, my kleinboet het nie geld gemors op duur klere vir ’n dooie mens nie. Maar ’n maand later kom daar wéér ’n rekening, vir dieselfde bedrag, en nog ’n maand later weer. Hy bel toe sy broer om te vra wat aangaan. Dié antwoord: Jy het mos gesê ek moet groot gaan?

Ja, sê die ouer broer, maar hoekom is daar nou elke maand nog ’n rekening?

Want, antwoord die jonger broer, ek het ’n pak klere gehuur om hom in te begrawe. Die rekeninge is vir die maandelikse huur.

Buffett se punt was dat wanneer dit by finansiële krisisse kom, mens nie altyd dadelik weet hoe hard dit jou gaan slaan nie. Ook nie vir hoe lank dit jou gaan áánhou slaan nie.

Daarom is die internasionale markte maar senuagtig sedert Vrydag se onverwagte aankondiging dat die Kaliforniese Silicon Valley Bank sy deure moes sluit – die grootste Amerikaanse handelsbank wat ondergaan sedert Washington Mutual in 2008. Veral bankaandele het deurgeloop.

SVB was tot onlangs nog ’n liefling onder beleggers en veral tegnologiebesighede, maar uiteindelik was sy einde blitsig en skouspelagtig: Die aandeleprys het verlede Donderdag met meer as 60% getuimel, en Vrydag weer met meer as 40%. Deposante het oor mekaar geval om hulle geld te onttrek, en ure later het die owerhede die bank gedwing om te sluit. Selfs behoorlik gekapitaliseerde banke sal sukkel om so ’n stormloop van onttrekkings te hanteer.

Die Amerikaanse federale owerhede het teen eergister reeds die bedryf van SVB as ’n bank volledig oorgeneem en deposante kan hulle geld onttrek as hulle wil. Omdat SVB se deposito’s deur die Federal Deposit Insurance Corporation onderskryf is, lyk dit of ’n onmiddellike krisis afgeweer is. Maar, sê beleggers, dieselfde kan met ander banke gebeur. Rentekoerse en inflasie styg steeds.

En natuurlik is dit ’n politieke speelbal: Die idee dat die staat tot die redding moet kom van besighede, selfs dié wat “too big to fail” is, druis in teen die diepgewortelde Amerikaanse oortuiging dat die vrye mark sy eie suksesse én mislukkings moet hanteer. Al betaal Amerikaanse belastingbetalers nie regstreeks vir SVB se redding nie, beteken dit tog dat premies op depositoversekering en verwante kostes gaan styg.

Teen gistermiddag het dit gelyk of internasionale markte oor die ergste naelbyt is; dat die proses ordelik genoeg is dat die ergste nie kan gebeur nie. Maar tog, niemand weet presies hoeveel hulle dalk nog moet opdok vir ’n lyk wat reeds onder die kluite is nie.


Image: ANGELA TUCK

Sê nou net bloed het anders gevloei en riviere is nooit oorgesteek nie ...

Selfs die magtige Gaius Julius Caesar was onseker oor of hy die Rubicon-rivier in Januarie van die jaar 49 voor die gemeenskaplike era moes oorsteek.

Volgens sommige bronne het Caesar alleen geëet die aand voor hy sy troepe oor die grens gelei het om die Romeinse Republiek die stryd te gaan aansê; ander bronne sê vertrouelinge soos Markus Antonius (Mark Antony), Markus Lepidus, Gaius Sallustius, Gaius Oppius, Lucius Balbus en Sulpikius Rufus was saam aan tafel die aand toe hy die groot besluit geneem het. (Wye konsultasie met die main okes what count is die slim ding om te doen selfs al het jy aspirasies om lewenslange diktator van die Romeinse Ryk te word.)

Vandag nog is die oorsteek van die Rubicon ’n metafoor vir ’n groot besluit met onherroeplike gevolge. Dis ook ’n heerlike sê-nou-net-oomblik: Hoe sou dinge dalk vandag anders gelyk het as Caesar nié die grens oorgesteek het nie? Mens praat hier van die uitkringende gevolge van ’n hele eskader skoenlappers wat hulle vlerke oor eeue heen fladder, maar dis nogtans lekker om te bespiegel hoe dinge anders sou gewees het. As Caesar in sy baan gehou het en suid van die Rubicon gebly het, sou daar byvoorbeeld later ’n Konstantyn gewees het wat die Christendom as die dominante religie van Europa kon begin vestig?

Die speletjie raak nog lekkerder as jy begin wonder oor die enorme implikasies wat toeval kan hê. Soos: As een of twee van al daardie groot kerkmanne wat deur einste Konstantyn genooi is om sy teologiese konferensies in Nicea te gaan bywoon, dalk ’n skip verpas het of dit om ’n ander onbenullige rede nie tot daar gemaak het nie, sou die stemming oor allerhande dinge heeltemal anders verloop het? Dalk, as een of ander Griekse biskop se perd nie daai een oggend lam was nie, het die kerk vir eeue daarna nog amptelik anders gedink oor alles van die Drie-eenheid tot by watter boeke goed genoeg was om die Bybel te haal.

’n Meer onlangse voorbeeld: Sê nou net die ontdekking van aspirien was een van die oorsake van die Russiese revolusie en die afsetting van die Romanovs?

Nikolaas II
Nikolaas II

Dié een loop so: Die laaste tsaar, Nikolaas II, se enigste seun, Aleksei, het aan hemofilie gely. Die koningsgesin se dokters het graag die destyds nuwe wondermiddel aspirien as pynverdower vir die jong troonopvolger voorgeskryf, onwetende dat aspirien ook ’n bloedverdunner is en dus sy bloeding aansienlik vererger het. Daarenteen het die weergalose kwaksalwer Rasputin, wat toe reeds ’n houvas op die Romanovs begin kry het, ’n renons in aspirien gehad. Hy het dus gekeer dat Aleksei aspirien neem, wat reeds die prins se bloeding minder gemaak het. Boonop het Rasputin ’n slag gehad om Aleksei eenvoudig te kalmeer, wat beteken sy bloeddruk het gedaal en óók die bloeding minder gemaak.

Aleksei se ouers het gou begin glo dis nét Rasputin wat die kind beter kon laat voel, wat hom selfs meer onaantasbaar gemaak het. En namate Rasputin se invloed gegroei het, het die Russiese publiek se weersin in hom en die koningshuis ook toegeneem, wat saam met ’n klomp ander faktore Nikolaas uiteindelik met geen keuse gelaat het as om te abdikeer nie.

Shaka
Shaka

Dis laf om te veel te wil maak van sulke stories, maar tog kan mens nie help om te wonder watter rol toeval of ’n sameloop van omstandighede dalk ook in ander gebeure gespeel het nie.

Sou daar byvoorbeeld ’n Bloedrivier gewees het as Shaka en nie Dingaan nie nog in 1838 koning van die Zoeloes was? Of as die Britse parlement nie vyf jaar tevore die wet op die afskaffing van slawerny aanvaar het nie?

PW Botha
PW Botha

Sê nou die kiesstelsel het dit nie in 1948 vir die Nasionale Party moontlik gemaak om die verkiesing te wen met net 41% van die populêre wit steun nie? Sê nou PW Botha het in 1985 sy eie Rubicon oorgesteek pleks van halfpad deur gesig eerste in die water neer te bliksem? Of sê nou FW de Klerk het nie in 1992 ’n mandaat by wit kiesers gekry om die einde van apartheid te onderhandel nie?

En dalk die grootste een vir ons: Sê nou net goud en diamante is nooit in Suid-Afrika ontdek nie? Sou ons vandag beter of slegter daaraan toe gewees het?


Boekefees-rolspelers:

Willemien du Preez is ’n bekende Suid-Afrikaanse aktrise. Benewens haar verhoogrolle het sy in TV-programme en rolprente soos Dit wat stom is, Plek van die vleisvreters, Bhai’s Café en Lipstiek Dipstiek gespeel. Sy gesels met Renée Rautenbach Conradie oor haar debuutroman, Plaas se prys. Wat opval, is haar sin vir humor en die fyn waarnemingsvermoë wat van haar ’n briljante akteur maak.

Kliek hier vir die volle program en kliek hier om kaartjies te bespreek.


in die begin

jy het my na jou geneem
waar die sipresse
van my voorvaders
hemelwaarts tier
teen koper glooiings van gras
so blond soos die dooie seun se hare

oggendrooi was 'n stukkende papawer
my heupe 'n lamp van geplooide sy
in die huwelik van ons asem
jou hande marmer duiwe

– Dominique Botha

(Uit: Donkerberg)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.