En die lang vinger is vir jóú, Malema

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

En die lang vinger is vir jóú, Malema

Dalk overshare ons omdat ons nie alleen met die pyn en ongemak en onlekkerte wil sit nie, skryf MERCY KANNEMEYER; vir die eerste keer stem WILLEM KEMPEN saam met iets wat MrFixFokol kwytraak; plus vyf goed wat jy vandag wil weet.

  • 21 Maart 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Die Switserse bankreus UBS het sy kleiner mededinger Credit Suisse vir net minder as $3,25 biljoen gekoop. Die transaksie, wat eintlik op ’n reddingspoging neerkom, is deur Switserse bankowerhede bewimpel in ’n poging om verdere onstuimigheid in die internasionale bankstelsel te voorkom ná onder meer die ondergang van die Amerikaanse Silicon Valley Bank en Signature Bank die afgelope weke.

2. Die leier van die sogenaamde Soweto Parliament, Nhlanhla Lux Dlamini, sê dit was EFF-lede wat gisteroggend vroeg sy huis met tuisgemaakte ploftoestelle aangeval het. Die een toestel het sy huis getref en die ander die elektriese heining, het eNCA berig, maar niemand is beseer nie. Dlamini het vroeër gesê hy en sy volgelinge sou die EFF se #Shutdown-poging teenstaan.

3. Die Suid-Afrikaanse regering “respekteer internasionale reg”, het ’n woordvoerder vir pres. Cyril Ramaphosa gister gesê oor die moontlikheid dat pres. Vladimir Putin van Rusland in hegtenis geneem kan word as hy wel in Augustus ’n Brics-beraad in Durban sou bywoon. Die Internasionale Strafhof het verlede week ’n lasbrief uitgereik vir Putin se inhegtenisname weens beweerde oorlogsmisdade.

4. Cope gaan vir ’n derde keer probeer om Tshwane se burgemeesterstoel te vul nadat sy vorige twee kandidate uitgevang is vir diverse onderduimshede. Die party hoop nou dat Ofentse Moalusi, glo ’n ervare entrepreneur, in dié amp bevestig sal word.

5. Pres. Emmanuel Macron se pogings om Frankryk se verpligte aftreeouderdom met twee jaar tot 64 op te stoot, word steeds heftig teengestaan. Twee mosies van wantroue in Macron se regering is gister in die parlement ingedien, hoewel dit waarskynlik nie sal slaag nie.


Vandag se weer

Daar is ’n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, die Oos-Kaap en dele van die Noord-Kaap kan buie en donderbuie verwag. Net ligte reën vir die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Rustenburg 32°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 23°C • Durban 31°C • Paarl 24°C • Oudtshoorn 29°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 30°C • Upington 31°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Jy weet wat jy met jou #Shutdown kan doen, Julius

Suid-Afrika het gister ’n gesamentlike Vaseline-vrye middelvinger vir Julius Malema en sy EFF-tsotsi’s gewys.

Sonder twyfel sal Malema ontken dat sy kamtige #NationalShutdown ’n mislukking was – “a flop” soos Fikile Mbalula dit met ontipiese bondigheid gestel het, so hier is ’n kans om ’n bietjie revolusionêre Amílcar Cabral uit 1965 teen die EFF-leier se kop te gooi:

“Every responsible member must have the courage of his responsibilities, exacting from others a proper respect for his work and properly respecting the work of others. Hide nothing from the masses of our people. Tell no lies. Expose lies whenever they are told. Mask no difficulties, mistakes, failures. Claim no easy victories ...”

Hier en daar het die EFF ’n heel skaflike klompie mense bymekaar gekry, maar van ’n nasionale omvang was daar nie sprake nie; van ’n shutdown van enigiets nog minder. “So much vir die begin van die revolusie,” soos Max dit gister gestel het.

Trouens, Cyril Ramaphosa het sekerlik laasnag sy beste nagrus van die afgelope ses maande ingekry: Die polisie en die intelligensiedienste het sowaar weer tekens van lewe getoon en die EFF nêrens toegelaat om iets betekenisvol uit te rig nie (weliswaar ook danksy die DA se puik organisasiewerk, veral in die Wes-Kaap).

Terwyl die EFF kwaai op Twitter staatgemaak het om mense vir die shutdown op te sweep, het burgerlike organisasies oral in die land al verlede week begin om WhatsApp-groepe te gebruik om mense ingelig en kalm te hou. In my buurt kon ek gisteroggend vroeg al sien watter paaie toe was (nie veel nie), waar groepe bymekaargekom het, hoeveel hulle was, waarheen hulle op pad was, en wat die atmosfeer onder hulle was. My wykraadslid het byvoorbeeld teen 08:00 op die WhatsApp-groep laat weet: “Die N12 en N1 is tans stil, skoon en oop met ’n sterk SAPD-teenwoordigheid. Waar dit hier en daar wél lyk of hulle ’n pad wou toemaak, kon hulle nie daarin slaag nie.”

In sy desperaatheid vir aandag het Malema gedink hy kon die anargie-spook van Julie 2021 weer oproep, of die wáre nasionale shutdowns van die toe nog magtige Cosatu in die 1980’s nadoen.

Nie eens amper nie.


Image: ANGELA TUCK

Om die pyn bietjie meer draaglik te maak

Ons leef in die era van oversharing. Dalk is dit as gevolg van die pandemie waar ’n menigte mense deur die dood bedreig was, dat mense nou oper is? Dalk het die pandemie kom wys dat niks regtig saak maak nie, so almal kan eintlik maar net doen wat hulle wil.

Hierdie gedagtes val my op toe ek deur TikTok scroll en ’n trend sien waar mense goeters oor hulle lewens saam met een of ander hartseerliedjie deel. Gewoonlik sou so iets vir my geweldig cringe wees, maar ek besluit om eers vir ’n rukkie daarby stil te staan.

In een van die video’s wat ek gesien het, praat iemand oor hoe hulle in ’n abusive verhouding was, en hoe hulle partner hulle amper tot selfmoord gedryf het. In ’n ander video praat iemand oor hoe hulle geboelie was oor hulle gewig, en toe later ’n eetsteurnis ontwikkel het. Nog een gaan oor hoe iemand se ma hulle nie wou hê nie en hulle toe vir ’n rukkie op straat beland het. Ek het omtrent in ’n wormhole beland soos wat ek al die hartseer verhale voor my sien afspeel het. En terwyl ek dit kyk, wonder ek by myself … is ons veronderstel om so baie van mekaar te weet?

Voor die pandemie was ek op ’n moerse mission om myself te bewys ... En nou? Nou is ek eintlik nogals heel gemaklik daarmee om the world’s most average woman te wees.

Okay. Nou voor iemand my hier as skynheilig uitkryt, ek is bewus. Ek is bewus van hoe gereeld ek ook overshare. Dinge wat net met my te doen het, deel ek graag. En so ’n paar jaar gelede sou ek nie. Maar ek dink werklik ons is tans op ’n punt waar soveel groot dinge die laaste paar jaar met ons, die land, die wêreld, die universe, as ’n collective gebeur het, dat daar min ruimte vir heiligheid is. Met heiligheid bedoel ek bloot dit wat jy vir jouself wil en kan hou. Ek weet nie of daar al studies daaroor gedoen is nie, maar die pandemie moes tog seker party van ons se brein geaffekteer het. Dinge wat voor die pandemie vir my saak gemaak het, maak nou nie meer so baie saak nie. Voor die pandemie was ek op ’n moerse mission om myself te bewys. Ek wou myself bewys vir my portuurgroep, my mentors, mense in my gemeenskap. En nou? Nou is ek eintlik nogals heel gemaklik daarmee om the world’s most average woman te wees (dis ’n grappie wat een van my vriendinne, Gretchen, gereeld maak wanneer ons gesels oor hoe mense van ons ouderdom soveel meer as ons doen).

Image: ANGELA TUCK

Hoe dit ook al sy, ons is in die era van oversharing en ek dink ons moet vinnig daaraan gewoond raak. Dalk overshare ons omdat ons nie alleen met die pyn en ongemak en onlekkerte wil sit nie. As ons dit alles wyd en syd versprei, raak dit bietjie meer draaglik. Wow, ek moes ’n pastoor geword het!

Groete
Mercy


VWB-Cullinan-boekefees se rolspelers

Sophia Kapp is ’n bekroonde liefdesverhaalskrywer en taalpolisievrou. Sy is lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy is ook kampvegter teen die onwettige verspreiding van e-boeke. Haar boek Heimwee was die eerste publikasie van Leonie van Rensburg se nuwe uitgewery, Boekdiva, en ’n maande lange topverkoper. Phyllis Green, boekeredakteur van Sarie, vra hierdie twee bedonnerde divas die kuns af.

Kliek hier vir die volle feesprogram en kliek hier om kaartjies te bespreek.


(EDMS. BPK.)

Kom ons stig ’n maatskappy
(ek en jy) een
sonder winsmotief
besit ons niks.
Hê mekaar
net lief.

– Wilhelm Jordaan

(Uit: Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.