Afgekapte vingers help niks teen die middelmatigheid

DONDERDAG MET DEBORAH

Afgekapte vingers help niks teen die middelmatigheid

DEBORAH STEINMAIR kop nie rolprente nie, en WILLEM KEMPEN sê die hele land hou dop of Cilliers Brink iets in Tshwane gaan regkry.

  • 30 Maart 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Valke het ’n klopjag gedoen op die woning en ’n sakeperseel van Sello Sekhokho, tesourier van die ANC in Ekurhuleni, as deel van die ondersoek na die R1 biljoen-tenderskandaal by die Tembisa-hospitaal wat deur Babita Deokaran blootgelê is sowat drie weke voordat sy in Augustus 2021 vermoor is.

2. Die vrou wat vermoedelik saam met die moordenaar en verkragter Thabo Bester voortvlugtig is, Nandipha Magudumana, is nie meer by die Raad op Gesondheidsberoepe geregistreer nie en kan dus strafregtelik vervolg word as dit waar is dat sy tot onlangs nog as ’n dokter gepraktiseer het. Volgens die raad is Magudumana se registrasie opgeskort nadat sy nie die jaarlikse bedrag betaal het wat op 1 April 2021 verskuldig was nie.

3. Die ANC in KZN sê dis André de Ruyter en Jan Oberholzer se skuld dat die ekonomie deur beurtkrag lamgelê is. Bheki Mtolo, provinsiale sekretaris van die ANC, het dié insigte na afloop van ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee kwytgeraak net ure voordat Eskom aangekondig het dat fase 4 môre hervat word.

4. Mbuso Moloi, wat tydens die plundery van Julie 2021 op video betrap is waar hy in Glenwood in KZN met ’n mandjie vol Woolworths-kos na sy Mercedes weghardloop, het gister in die Durbanse landdroshof skuld beken op aanklagte van diefstal en oortredings van die Padverkeersbestuurwet. Die saak is tot 31 Mei uitgestel vir vonnisoplegging.

5. Duitsland se kanselier, Olaf Scholz, het gister vrese probeer besweer dat Deutsche Bank ook in die moeilikheid is en gesê dié instelling kan nie vergelyk word met Credit Suisse nie. Deutsche se aandeleprys was in een stadium Vrydag soveel as 14% laer as die vorige dag se sluiting. “Daar is geen rede tot kommer nie,” het Scholz gesê.


Weersake

Dit sal deels bewolk en koel tot warm wees oor die grootste deel van die binneland. Enkele buie word vir sommige gebiede voorspel. Deels bewolk tot bewolk al langs die kus met moontlike buie en donderbuie oor die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Die maksimum temperature vir vandag: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Rustenburg 29°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 22°C • Durban 23°C • Howick 17°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 28°C • Upington 28°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 24°C.


Willem Kempen | Die res van die land kyk met groot oë wat in Pretoria gebeur

Cilliers Brink sê die taak van die DA-geleide veelpartykoalisie in Tshwane is om ’n hoofstad te bou wat vir almal werk, nie net vir sommige nie. Die nuwe burgemeester sal besef daar is ook iets nog belangriker: om Suid-Afrikaners oral in die land se vertroue in politiek, politici en die demokratiese proses te herstel.

Meer spesifiek wil Suid-Afrikaners sien dat koalisiepolitiek kan werk, en meer kan wees as die chaos in Tshwane en elders die afgelope weke en maande. En dat dit ’n verskil kan maak om die moeite te doen om in ’n verkiesing te gaan stem.

Dit gaan nie maklik wees nie. Die ANC, die EFF en selfs obskure raadslede binne die meerderheidskoalisie het reeds gewys dat hulle eie belange dikwels meer tel as ’n behoorlik funksionerende stadsbestuur. Die koalisie se meerderheid is dun en uiteindelik het 109 raadslede vir Brink gestem en 102 vir Ofentse Moalusi van Cope. Vier of vyf raadslede wat na die ander kant oorgehaal word, kan die hele ou appelkar van voor af omgooi.

As Tshwane gemaak werk kan word, sal dit ook hoop gee vir almal in die res van die land wat moet voortsukkel onder ANC-beheerde plaaslike regerings wat hulleself sinoniem gemaak het met persoonlike verryking, onbekwaamheid, korrupsie en verval. Op baie sulke plekke is ’n aanmekaargetimmerde koalisie die enigste realistiese manier om ’n einde te maak aan paaie vol gate, vuil water, stukkende rioolstelsels en vullis wat nie verwyder word nie.

Brink en die DA se werk nou is om siniese kiesers te oortuig dat dit die moeite werd was om die ANC teen te staan, en dat iets beters in die plek van die huidige regerende party gemaak werk kan word.


Image: ANGELA TUCK

Deborah Steinmair | Bok-bok-staan-styf, hoeveel vingers op jou lyf?

Ek is seker êrens op die spektrum. Ek moes leer om gesigsuitdrukkings en stemtoon te interpreteer. Ek weet dikwels steeds nie of iemand met my spot, by my aanlê of net vriendelik is nie. Die geskrewe woord kan ek wel dekodeer. Ek kan tussen die reëls lees en lae van betekenis ontsyfer. Iets wat ek nie kan kraak nie, is rolprente. Elke San Rap en haar maat is ’n fliekvlooi en filmfundi en snap oomblikke en verbande op die silwerdoek wat by my verbygaan. Ek kyk te letterlik, en word hewig ontsteld. Soms is ek vir dae lank getraumatiseer. Ek het ’n weersin in visuele beelde wat my oorweldig.

Ek het al so dikwels halfpad deur flieks uit die bioskoop gestap: oorweldig, vasgekeer, kwaad. Dis asof iemand anders se interpretasie op my afgedwing word, simboliek met ’n hamer ingeslaan word, beelde by my keel afgedruk word.

Ek was onlangs weer hewig, siedend ontstel deur ’n rolprent waaroor almal lofsange sing: The Banshees of Inisherin. Ek het met liefde in my hart begin kyk. Dit speel op ’n afgeleë eiland af. Colin Farrell vertolk die rol van ’n eenvoudige man wat saam met sy suster en sy donkie leef. Hy met die liewe, gepuzzeleerde wenkbroue. Elke middag stap hy na sy lewenslange beste vriend se huis en gaan haal hom om taverne toe te gaan. Op ’n dag kom sy vriend nie deur toe nie. Colin sien deur die venster hoe hy binne sit en rook en hom ignoreer. In die taverne vermy sy ou vriend hom. Toe hy hom uiteindelik konfronteer, sê die vriend hy hou nie meer van hom nie, want hy is eenvoudig en vervelig. Hoe so? wil Colin weet, met die wenkbroue wat ’n driehoek vorm. Want jy het my nou die dag vir ’n halfuur lank vertel wat jy alles in jou donkie se mis aangetref het, antwoord die vriend. Hy wil hom toewy aan musiek en die fyner dinge in die lewe, hy hoor melodieë en wil nie meer tyd mors nie, seg die vriend, wat viool speel in ’n klein orkessie. Is dit nie genoeg om ’n goeie mens te wees nie? wil Colin weet.

En dan die streep in die sand: As jy nie ophou om my te verpes nie, gaan ek my vingers een vir een met ’n snoeiskêr afsny, waarsku die musikant. Wat ’n primadonna, dis nie asof hy Paganini was nie, maar nou ja. Spoiler alert: Toe Colin die eerste vinger ontvang, het ek opgehou kyk.

Dis vir my brutaal en hardhandig. Ek het destyds The Piano gekyk waar die pianis se vinger afgekap is, maar ek raak toenemend pieperig. Ek kan nie eens vingers en snoeiskêr saam in een sin verwerk nie. My persoon, sy wat altyd klaarmaak waarmee sy begin, het enduit gekyk en nege vingers later woedend kamer toe gekom.

Ek kan ’n ontliggaamde lyfdeel hanteer as die fliek surrealisties is, of wêreldvreemd, soos David Lynch se oor wat in die veld aangetref word. Maar nie in grinterige realisme nie, asseblief. Dis vir my ’n foefie. In rolprente kan jy speel met mikro-uitdrukkings, kan jy verhale en leeftye laat afspeel op die landskap van ’n gesig.

Los die letterlike snoeiskêr en lê die figuurlike snoeiskêr in.


Image: ANGELA TUCK

Rolspelers by die VWB-Cullinan-boekefees

Max du Preez, wat geen bekendstelling nodig het nie, gesels Saterdagmiddag 15 April met Pieter du Toit en Johann van Loggerenberg oor hulle boeke en die stand van ons chaotiese land. Johann is mede-outeur van die topverkopers Rogue: The inside story of SARS’s elite crime-busting unit; Death and Taxes: How SARS made hitmen, drug dealers and tax dodgers pay their dues; en Tobacco Wars. Hy was groep- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens voordat hy bedank het. Pieter du Toit is ’n joernalis en die skrywer van die boeke The Stellenbosch Mafia: Inside the billionairs’ club en The ANC Billionaires: Big capital’s gambit and the rise of the few.

Kliek hier vir die volle feesprogram en kliek hier om kaartjies te bespreek.


oproep

Goegie was veraf vandag
vandag toe ek hom bel
en vanuit die kruik vertel
heel godse dag gesit en paint sê hy
toe in die kar geklim, toe berg toe gefokkenry
kaalgat vleis gebraai hoog bo iewers oers
by galopping van einders, toringing (w(o(l(k(e
toe in die kar geklim en teruggery
toe veraf geklink vir my

– Gert Vlok Nel

(Uit: om te lewe is onnatuurlik)

 ♦ VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.