Net waar jy kyk is daar ’n krisis met leierskap

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Net waar jy kyk is daar ’n krisis met leierskap

Ons land kort leiers wat wíl lei en nie sal omgee om ongewild te lyk nie, skryf MERCY KANNEMEYER. Finland se Navo-lidmaatskap is nóg slegte nuus vir Vladimir Putin, sê WILLEM KEMPEN. En daar is vyf dinge wat jy wil weet.

  • 04 April 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre

1. Oudpres. Donald Trump sal na verwagting vandag vir die eerste keer in die hof verskyn om tereg te staan op aanklagte wat verband hou met betalings wat hy via sy prokureur aan die porno-aktrise Stormy Daniels gemaak het.

2. Enoch Godongwana, minister van finansies, het Eskom oënskynlik vrygestel van sekere bepalings van die Wet op die Bestuur van Staatsfinansies, glo om te keer dat die onderneming se kredietgradering in die gedrang kom, het News24 berig. ’n Brief het aan die lig gekom van Godongwana aan Mpho Makwana, voorsitter van Eskom, wat dui op ’n “skokkende gebrek” aan finansiële kontrole by die nasionale kragverskaffer.

3. Adj.pres. Paul Mashatile het ’n inter-religieuse seremonie by die Gatesville-moskee in Kaapstad bygewoon waar die dag se vas gebreek is. Ramadan duur tot 21 April.

4. Murunwa Makwarela, kortstondig burgemeester van Tshwane, is op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat hy hom aan die polisie oorhandig het en in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdade verskyn het. Dit spruit uit die vervalste hofdokument oor sy solvensie wat dit vir hom moontlik gemaak het om as raadslid te dien. Makwarela het skuld ontken.

5. Finland word vandag amptelik die 31ste lidland van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo).


Vandag se weer

Dit sal deels bewolk en warm oor die grootste deel van die binneland wees. Koel tot warm toestande met enkele buie en donderbuie kan oor die noordoostelike dele verwag word. Ligte reën kan in dele van die Oos-Kaap verwag word met enkele buie in KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 26°C • Rustenburg 29°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 24°C • Durban 25°C • Paarl 28°C • Oudtshoorn 28°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 27°C • Upington 30°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Die skaal swaai verder teen desperate Putin

Die aankondiging dat Finland pas die laaste hekkie vir Navo-lidmaatskap oorgesteek het, is nog slegte nuus vir Vladimir Putin. Dis nou nog net die Russiese president se grootste apologete wat glo dat sy vrees vir “Navo-ekspansionisme” ’n geloofwaardige regverdiging vir die inval in Oekraïne was.

Rusland se grens met Finland was in die jare van die Koue Oorlog ’n lang deel van die destydse Ystergordyn tussen die Ooste en die Weste (dit strek van noord na suid oor net minder as die afstand tussen Johannesburg en Kaapstad), maar ná die verbrokkeling van die Sowjetunie was die meeste Finne maar bra lou oor lidmaatskap van die Westers-geleide Navo. ’n Maand voor die inval in Oekraïne het minder as ’n derde van Finne so ’n stap gesteun – twee maande later meer as die helfte.

Putin het dus presies die teenoorgestelde reggekry van sy verklaarde doelwit om Navo se kamtige uitbreiding te stuit. Finland word nou die eerste nuwe Navo-lidland sedert Noord-Masedonië in 2020, en dis ’n kwessie van tyd voor Swede ook bykom. Enige aggressie teenoor Finland sal voortaan amptelik gesien word as aggressie teenoor die kollektiewe Navo-lande.

Die skaal is besig om teen Putin te swaai, en daar is tekens dat hy desperaat word, soos die inhegtenisname van die Wall Street Journal-joernalis Evan Gershkovich op aanklagte van spioenasie, en die aankondiging dat Rusland taktiese kernwapens op Belo-Russiese grondgebied gaan ontplooi. En Putin weet dat Rusland se “bondgenootskap” met China in werklikheid niks meer as brose wedersydse opportunisme is nie.

Putin sal ook nie juis beter slaap in die wete dat daar darem één land ter wêreld is, hier aan die suidpunt van Afrika, op wie se vriendskap hy skynbaar kan reken, maak nie saak wát hy aanvang nie.


Image: ANGELA TUCK

SA se leierskapskrisis is so vernederend

Ons in Suid-Afrika sit ongetwyfeld met ’n leierskapskrisis. Ná die DA se afgelope kongres, waar John Steenhuisen as leier van die party herkies is, lyk dit asof dinge in die opposisie ook maar dieselle ou sous gaan wees. Hoekom dr. Mpho Phalatse nie bo Steenhuisen verkies is nie, weet ons almal. Ons almal weet ook dat Phalatse veel beter as Steenhuisen is wat onderwys, relatability en charisma betref, maar die DA-kiesers is nie bereid om vernuwend te dink nie. Hulle kort ’n swart vrou nou meer as ooit, maar nee. Die patriargie en koloniale nostalgie seëvier daar.

Buiten die DA se kongresbasaar is leierskap elders ook maar power. Cyril se hantering van die voortslepende Eskom-sirkus veroorsaak dat gewone Suid-Afrikaners se geloof in hom ook nou verswak het. Cyril kan nie eens sy kabinet beheer nie, wat nog te sê van die land. Al wat Cyril tot dusver gedoen het, is om op die promenade te gaan stap tydens die pandemie en saam met ander wêreldleiers foto’s te neem.

Afgesien van partypolitiek lyk universiteitspolitiek ook nie watwonders nie. Prof. Mamokgethi Phakeng van die Universiteit van Kaapstad is uit die kussings gelig ná bewerings van wanadministrasie en boeliegedrag; haar integriteit is in die proses in twyfel getrek. In Sondag se Rapport word berig hoe prof. Wim de Villiers van die Universiteit Stellenbosch glo sy nefie vir medies ingekry het, terwyl die einste nefie se punte nie goed genoeg was nie.

Image: ANGELA TUCK

Die storie is eintlik nogals vernederend. Vir dié van julle wat nie die Rapport gelees het nie, die storie loop dat die nefie Wim se vrou se broer se kind is. Die nefie se skoolpunte was goed, maar nie goed genoeg vir medies nie. Verder loop die storie ook dat die rektor diskresionêre besluite ten opsigte van universiteitstoelating kan maak, maar dat dié besluite vir gemarginaliseerde individue of mense met buitengewone stories gebruik kan word, nie vir jou flippen nefie nie!

Dis vernederend, want gerugte van nepotisme gaan Wim se reputasie verdere skade berokken. Hy is alreeds permanent in die hot seat en die “taalstryders”, die DA en die konvokasie wag vir enige geleentheid om Wim by te dam. Hoe gaan die universiteit hierdie een bestuur? Seker weer met praatjies van nasionale bates. Ek sal nie verbaas wees as hulle ’n hele veldtog oor die belangrikheid van familie van stapel stuur en sodoende Wim se nepotisme probeer toesmeer nie.

Op hierdie spesifieke oomblik in Suid-Afrika se geskiedenis kort ons leiers wat wíl lei. Ons kort mense wat onbeskaamd Suid-Afrika vorentoe wil vat, en wat nie eerste hand in eie sak wil steek nie. Ons kort mense wat nie bang is vir die waarheid nie, en wat nie sal omgee om ongewild te lyk nie. Ek is bevrees daai persoon is nog nie gebore nie.

What an embarrassing time to be alive.


Image: ANGELA TUCK

VWB-Cullinan-boekefees se rolspelers

Om 17:30 op Vrydag 14 April neem van Vrye Weekblad se redaksielede soos Max du Preez, Anneliese Burgess en Piet Croucamp die stand van die land in oënskou in die gesprek “Daar’s ’n mier in my broek”. Hierdie soort gesprekke trek telkens ’n groot gehoor. Bespreek nou.

Kliek hier vir die volle feesprogram en kliek hier om kaartjies te bespreek. Kaartjies kos R90 per gesprek.


Pyn

sê my
hoe seer
kan seer dan wees
hoe meet mens jou lyf se pyn
as dit deur jou wese vleg
as dit in jou are stol
as dit jou siel verlam
indringer
ongewenste gewas
kan dit verwyder word
operasiesaal skalpel mes
oopgemaak blootgestel leeggebloei
as ek sterf
sterf ek
alleen

© Andrea Sieberhagen, 2023

(Bron: Versindaba)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.