Familie, vriendskap, liefde. Dis al.

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Familie, vriendskap, liefde. Dis al.

Familie, vriendskap en liefde is waaroor die lewe gaan. Dít is die eenvoudige perspektief wat ANNELIESE BURGESS gekry het danksy twee weke in 'n wilde, vreemde plek. Sy deel ook 'n gedig en 'n paar aanbevelings oor wat om te kyk, lees en drink.

  • 09 April 2023
  • Daagliks
  • 5 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Tyd op vreemde plekke bring perspektief.

Op ons tweede of derde dag op die Italiaanse eiland Filicudi ontmoet ons vir Nino. Net af in die straat van ons mooi witgekalkte villa met die sitrusboord en uitsig oor die vulkaniese eiland Stromboli is ’n klein, informele markie. ’n Rooi groentetrokkie en ’n ander een wat kruideniersware verkoop. Ons het ’n paar goed nodig. P & J kom terug met brood, koffie en toiletpapier en ’n uitnodiging na aandete by Nino se plek. Nino is blykbaar die rykste man op die eiland van 250 permanente siele. Hy het ’n toeriste-onderneming: Hy verhuur bote en Vespas en doen duik-ekskursies. Hy het vir ons inkopies betaal, vertel P & J toe, want die trokkie aanvaar nie kaarte nie en hulle het nie genoeg kontant gehad nie.

Albanio kom haal ons daardie aand in Nino se klein Fiat. Ons sit op mekaar se skote terwyl hy met die steil bergpad opry. Van bo, langs die ou kerk, stap ons maklik nog ’n kilometer tot ons by Nino se lieflike maar eenvoudige huis kom wat soos ’n klipverkleurmannetjie teen die berg wegsmelt.

Ons sit om die kombuistafel. Nino sit bakke prosciutto en kaas met rooi rissies op die tafel. Die prosecco vloei. Die enigste klein probleempie is dat Albanio en Nino nie ’n woord Engels praat nie, en ons nie ’n woord Italiaans nie, maar tussen Google Translate, P se Spaans en die vonkelwyn kuier ons ’n hond uit ’n bos. ’n Derde gas, Francesco, warrel in uit die koue met vars inkvis in ’n sak. Die vier vroue van Suid-Afrika wat mal genoeg is om buiteseisoens op ’n wilde eiland in die middel van nêrens te kom kuier, is nogal ’n event, kom ons agter.

Die inkvis (of Sepia, in Italiaans) word met spaghetti voorgesit. En die beste slaai wat ek tot nog toe geëet het: dik snye tamaties en murgpampoen, rooi uie, kappertjies en papierdun skyfies suurlemoen met grasgroen olyfolie, ’n spatsel asyn en gefrommelde Sisiliaanse marjoleinblomme. Die suurlemoene kom uit Nino se tuin, en so ook die gedroogde kruie, kappertjies en olyfolie.

Die ete word afgesluit met soet halwakoekies en dun sesam-en-groenamandelbeskuitjies en minstens 10 bottels verskillende grappas en soetwyne wat op die tafel uitgepak word. Dit is laat toe ons met die nou bergpaadjie terugstap. Ons maak lig met ons selfone en sing al die pad terug kar toe.

All of these lines across my face
Tell you the story of who I am
So many stories of where I've been
And how I got to where I am ...

“The Story" van Brandi Carlile raak die klankbaan van ons tyd in in Italië. Nino-hulle dink ons is weird en wonderlik.

Om die tafel daardie aand vertel die ouens vir ons van “dolce far niente”. Direk vertaal beteken dit “die soetheid van niksdoen”, maar dit verwys na die belangrikheid van samesyn met familie en vriende.

Vir die res van ons tyd op die eiland doen ons baie daarvan. Met mekaar en met die locals. Nino kom drink gereeld by ons koffie (en dra amandelkoekies aan). Albanio, ’n klipmesselaar, is onder meer ook die pizzamaker by Villa Rosa, die enigste restaurant wat dié tyd van die jaar oop is. Hy maak vir ons kos. Vir Francesco, ’n visserman, loop ons gereeld raak in die hawe of soggens as hy sy espresso by Villa Rosa staan-staan by die toonbank kom afsluk.

Op ons laaste aand kom almal by Villa Rosa bymekaar. Dit is snerpend koud. Ons sit om die vuur met wyn. Op die spyskaart daardie aand is óf vars vis van Francesco se boot óf pasta met tamatie, eiervrug en gerasperde gerookte ricotta. Eenvoudige, eerlike kos.

Die tyd op Filicudi was diep en ryk. Ek voel so bevoorreg om dit te kon ervaar. En die perspektief wat dit gebring het.

Ons lewe in ’n tyd van sinisme en nihilisme, maar ná Filicudi kies ek eerstens om in liefde, familie en vriendskap te glo. Ek was twee weke lank daardeur omring – nie net die onbreekbare bande van die byna vier dekades lange vriendskappe met die drie vroue met wie ek hierdie ervaring gedeel het nie, maar ook die diepsinnige geskenk wat nuwe vriendskappe kan wees. Dit is eintlik glad nie kompleks nie. Liefde en vriendskap én familie kom in baie gedaantes. Ons moet elke moontlikheid gierig aangryp.

Die wêreld is groot en ons lewe kort.

Salige Sondag.

Anneliese
annelieseburgess@vryeweekblad.com

Ns.: As jy nog nie ’n plan gemaak het om ons Cullinan-boekefees volgende naweek by te woon nie, doen dit summier. Die details is hier onder. Ek sien daarna uit om so veel as moontlik van julle daar te ontmoet!


Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees! 

Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.


Love

This part of myself devoted to you
admits of nothing that falls away.
Although I melt moment by moment
into something else, I carry you
with me, a doll of circumstance,
that dances as I do when I
present myself, the stranger,
to you, the stranger. We
speak of them hurriedly. We
take them out of our breasts
and hold them out to each other,
the glass hearts, the transparent bodies.

Ruth Stone

(Uit: In The Next Galaxy)


Drink 

My nuwe gunstelingdrankie, wat ons baie by Villa Rosa gedrink het, is 'n eenvoudige Campari Soda. Of 'n Campari Spritz – waar bietjie witwyn bykom. Maar die koning van Italiaanse cocktails bly die negroni.

Lewenslesse

Van een van my gunstelingdigters, die Pulitzerpryswenner Mary Oliver: 8 important life lessons we can learn from poet Mary Oliver

Kyk

'n Interessante kort video: The Human Body under Electron Microscope

Kos

Food52 se lys van die 15 gewildste koekresepte van alle tye

Lees

In die gees van hierdie nuusbrief oor lewensverandering, vroue-ervarings en vrouevriendskap, lees dié artikel oor Deborah Levy. Haar drie “lewende biografieë" bly een van die lees-hoogtepunte van my lewe.


Volgende naweek vier ons Vrye Weekblad se boekefees in Cullinan. Elke gesprek kos R90 en kaartjies sal by die deur ook te koop wees. Luister hier na ons boekeredakteur, Deborah Steinmair, se gesprek op RSG met inligting oor die fees.

Bespreek kaartjies op Quicket. Kliek hier vir die volledige program. 

 VWB  


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.