Verbeel jou ’n heel ander Suid-Afrika

MAANDAG MET MAX

Verbeel jou ’n heel ander Suid-Afrika

MAX DU PREEZ wonder hoe die geskiedenis sou verloop het as Hendrik Verwoerd, Steve Biko en Chris Hani nie vermoor is nie en as Adolf Hitler ’n kunsstudent geword het. Hy skryf ook oor die sinisme waarmee Suid-Afrikaners politici bejeën. En daar is vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 10 April 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. ’n Afvaardiging van die polisie en die departement van justisie het gister na Tanzanië gereis om die uitlewering van die verkragter/moordenaar Thabo Bester en sy metgesel, Nandipha Magudumana, te fasiliteer. Die ministers van polisie en justisie het die naweek met groot fanfare aangekondig dat die twee in hegtenis geneem is en min. Bheki Cele het verklaar dat hy nou “extra confident” in die polisie is, maar dit blyk dat die Fidelity Business Intelligence Service ’n groot aandeel in die opspoor van die twee gehad het.

2. Die minister van justisie van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Abdullah al Nuaimi, hou vol dat die dokumentasie wat Suid-Afrika aan die hof voorgelê het wat oor Atul en Rajesh Gupta se uitlewering moes besluit, gebrekkig was. Dit word nou as hoogs onwaarskynlik geag dat die twee ooit in Suid-Afrika gaan teregstaan, want hulle het deesdae burgerskap van Vanuatu in die suidelike Stille Oseaan en het reeds uit die VAE vertrek.

3. Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê aan die Sunday Times die ANC sal ná die 2024-verkiesing in koalisie met die EFF in sy provinsie regeer. Hy voorsien ook ’n ANC/EFF-koalisie op nasionale vlak as die ANC onder 50% van die stem kry: “There’s no way you can have an agreement at the province and not have it at national level,” sê hy.

4. Die eregaste, volgens Rapport, by die diamanthandelaar en aartsrassis Louis Liebenberg se swierige onthaal by Emperors Palace oos van Johannesburg: aartsskelm Carl Niehaus, Jacob Zuma se dogter Rejoice, minister Lindiwe Zulu – en Boeremagleier-op-parool Wilhelm Pretorius, die gasspreker. Liebenberg het gesê: “Waar kry jy ’n struggle-veteraan en ’n Boeremaglid wat 20 jaar in die tronk gesit het langs mekaar en ons praat dieselfde taal?”

5. China het die naweek aanvalle op sleutelteikens in Taiwan tydens ’n militêre oefening gesimuleer. Meer as 70 Chinese vliegtuie het om die eiland gevlieg en 11 oorlogskepe was net buite die Taiwanse waters. Beijing het gesê dit is ’n waarskuwing aan die eiland se regering en word gesien as ’n reaksie op die Taiwannese president se komende besoek aan Amerika.


Vandag se weer

Swaar donderbuie, moontlik gepaardgaande met hael of oorstromings, kan oor Gauteng, die ooste van Noordwes en die Vrystaat, asook die suide van Limpopo en die ooste van Mpumalanga voorkom. Skadelike wind en golwe kan tussen Plet en Oos-Londen verwag word. Die Wes- en Oos-Kaap kan reën verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 22°C • Rustenburg 23°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 18°C • Durban 24°C • Worcester 28°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 28°C • Upington 24°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 22°C.


Max du Preez | Windbuksskote na die maan

Om die EFF uit die regering te wil hou, is nie ’n visie nie, dis gogga-maak-vir-baba-bang. Dis windbuksskote na die maan.

Jy gaan net miljoene Suid-Afrikaanse kiesers wat in die verlede vir die ANC gestem het, oortuig om dit nie weer te doen nie as jy hulle verbeelding aangryp met ’n visie van ’n nuwe nasionale beweging wat alle hulpbronne en energie aan die stryd teen armoede en werkloosheid en aan ’n effektiewe, skoon regering gaan bestee.

En dit is tog wat op die spel is: die ANC se tradisionele stembasis. Omtrent almal in die drie minderheidsgroepe ondersteun klaar die DA, ActionSA, Vryheidsfront Plus, ACDP en Patriotiese Alliansie, sommige ook die IVP.

Om tradisionele ANC-kiesers te vra om met hulle geskiedenis en dié van hulle ouers en grootouers te breek net om die EFF uit die Uniegebou te hou, gaan nie werk nie.

In een sin is die EFF soos die AWB van destyds: Die meeste wittes het geweet dit is ’n splintergroep van brannewyn-en-coke-boepense in kakie, maar swart Suid-Afrikaners het hulle as ’n ernstige gevaar gesien. Deesdae is dit andersom.

’n Nuwe beweging moet ’n heeltemal nuwe bedeling verbeel. Daar is min Suid-Afrikaners in al ons groepe en streke wat nie hulle omgewing waarneem en dan sê: Maar dis mos nie wie ons as Suid-Afrikaners is nie?

Die meeste van ons sal nie ’n dooie duit omgee oor watter politieke party beter of slegter vaar nie as ons verbeelding deur ’n nuwe nasionale beweging aangegryp word.

Ons bejeën politici deesdae met groot sinisme hier aan die suidpunt, en dit geld politici van oor die hele spektrum.

En g’n wit redder gaan so ’n beweging baar nie – en daar is ’n hele paar van hulle met groot geld wat tans probeer toutjies trek en bewimpel.

Die aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, sê in sy Paasrede dit is tyd vir ’n nuwe struggle. “The hope of Easter is represented by the rolling of a stone away from a tomb, and we can seize on that hope in South Africa today by rolling away the stones that entomb our society in order that we might have life, and have it abundantly.”

Makgoba sê ons het vandag ’n groep “angelic troublemakers” nodig, maar hy waarsku terselfdertyd: “As earlier generations of South Africans demonstrated in the defiance campaigns of the early 1950s and late 1980s, it is possible to wage a revolutionary struggle in a disciplined and dignified manner, one that is all the more powerful because it is waged peacefully. There is no place for violence in a constitutional democracy.”

Ja, ons het inderdaad ’n soort revolusie nodig.


Image: ANGELA TUCK

Max du Preez | Hani, Hitler, Van Riebeeck en Verwoerd – wat as?

Hoe anders sou Suid-Afrika vandag gelyk het as Chris Hani nie vandag 30 jaar gelede, op 10 April 1993, deur Janusz Walus doodgeskiet is nie?

Dié “wat as”-speletjie is een wat ek met my obsessie met die geskiedenis graag speel.

Ek dink dit kom deels uit my persoonlike lewe. Ek wonder my lewe lank al watter soort mens ek sou geword het as my ma nie gesterf het toe ek vier jaar oud was nie. Sy was glo ’n baie liefdevolle mens met ’n wakker, avontuurlustige brein. Ek weet nie wat die antwoord is nie, ek weet net baie seker dat my lewe gans anders sou verloop het.

Kommandeur Jan van Riebeeck van die VOC het nie veel aptyt gehad om saam met die Khoekhoen aan die Kaap te lewe nie en het voorgestel dat daar ’n kanaal tussen die Tafelbaaise hawe en Valsbaai gegrawe word. Dit sou van die skiereiland ’n eiland gemaak het en die Europeërs van die Khoekhoen geskei het.

As die Here Sewentien dit nie afgeskiet het omdat dit te duur was nie, sou vryburgers dalk nooit toegelaat gewees het om buite Kaapstad vir hulleself te gaan boer nie. Dít was hoe Afrikaners se voorsate uiteindelik inheems geword en groot dele van die land in die volgende twee eeue beset het. Dit was hoe die Kaap van ’n verversingstasie vir skepe ’n kolonie geword het.

Wat sou dit vir die nageslagte van die Khoekhoen, die Boesmans en die swart landbouergroepe verder oos en noord beteken het? ’n Behoud van hulle grond, en uiteindelik geen wit oorheersing en apartheid nie?

Wat sou gebeur het as koning Louis XIV nie op 18 Oktober 1685 besluit het om die Edik van Nantes te herroep wat tot die vervolging van Franse protestante gelei het nie?

Amper ’n halfmiljoen Hugenote het Frankryk hierna verlaat, veral na Engeland, Pruise, Nederland, Amerika – en Suid-Afrika. Dit is hoe my voorsaat Hercule des Prez aan vaderskant in 1688 aan die Kaap aangekom het. Dit is ook hoe die voorsate van mense met vanne soos De Villiers, Malan, Du Toit, Malherbe, Du Plessis, Le Roux, Fourie, Cronjé, Bruwer, Celliers, Delport, Viljoen, Hugo, Lombaard, Marais, Pienaar, Terblanche, Retief en ander hier beland het.

Hugenote het ook diep spore elders in die wêreld getrap. Carl Fabergé, die vader van die wonderbaarlike Fabergé-eiers en liefling van die Russiese tsaar, was ’n Hugenoot-nasaat. Ander beroemdes met Hugenote-voorsate is Warren Buffett, Howard Hughes, John D. Rockefeller, Prinses Diana, Winston Churchill, Friedrich Engels, Paul Revere, Nigel Farage, Hermann Göring, Alexander Hamilton, Samuel Beckett en George Washington.

En die swart Amerikaanse pianis en blues-sanger Champion Jack Dupree.

Dink jou in ... as Adolf Hitler liewer kuns in Wene gaan studeer het.
Dink jou in ... as Adolf Hitler liewer kuns in Wene gaan studeer het.

Wat sou gebeur het as die Weense Akademie vir Kuns in 1905 die aansoek van ’n jong Adolf Hitler om daar te studeer, aanvaar het? Kunstenaars en skilders word gewoonlik nie volksmoordenaars nie. Dink jou ’n geskiedenis in sonder Nazi’s en die Holocaust.

Hoe sou die geskiedenis verloop het as genl. Christiaan de Wet in 1900 na sy ewe bekwame broer, genl. Piet de Wet, geluister en die oorlog gestaak het om vroue en kinders se lewe te spaar en die verwoesting van plase en die verarming van Afrikaners te voorkom?

Ek het ’n klompie jare gelede in Sarajevo op die plek gestaan waar die Bosnies-Serwiese student Gavrilo Princip op 28 Junie 1914 vir aartshertog Franz Ferdinand van Oostenryk doodgeskiet het. Dit was die sneller vir die Eerste Wêreldoorlog. Hoe anders sou die geskiedenis verloop het as Princip se koeël gemis het? Geen wêreldoorlog nie, dalk ook nie die verwoestende Tweede Wêreldoorlog nie?

Wat sou gebeur het as Hendrik Verwoerd die messteke van Dimitri Tsafendas in die parlement op 6 September 1966 oorleef het? The mind boggles.

Verwoerd, Biko, Hani ... Wat as?
Verwoerd, Biko, Hani ... Wat as?

Hoe anders sou die politiek in Suid-Afrika verloop het as lede van die veiligheidspolisie Steve Biko nie op 12 September 1977 in sy sel doodgemaak het nie? Hy was net 30 jaar oud, maar was reeds as een van Suid-Afrika se mees invloedryke politieke filosowe gereken. Hy sou vanjaar 77 jaar oud gewees het.

Biko se doktrine van Swart Bewussyn wou swart selfrespek, trots en selfstandigheid aanwakker. Hy sou potensieel ’n sterk teenwig vir die dominansie van die ANC en die Kommunisteparty kon gewees het.

Wat sou gebeur het as PW Botha op 15 Augustus 1985 wel die Rubicon oorgesteek het en die ingrypende hervormings aangekondig het wat Pik Botha die wêreld vooraf belowe het?

Dit sou tot die vroeëre vrylating van Nelson Mandela, die ophef van die verbod op die ANC en die afskaffing van die laaste stukke apartheid gelei het; dit sou die onderhandelingsproses vyf jaar vroeër laat begin en dalk anders laat verloop het. Dit sou waarskynlik ook baie lewens en baie bitterheid gespaar het.

Chris Hani was ’n gewilde, charismatiese figuur. Hy het ’n trotse geskiedenis in Umkhonto we Sizwe gehad en ’n reputasie dat hy die menseregtevergrype in die ANC se kampe teengestaan het. Die beeld van hom as ’n militante kommunis wat baie wit Suid-Afrikaners gehad het, strook glad nie met die pragmatiese, innemende man met wie ek ’n hele paar keer gesels het nie.

Hani het destyds herhaaldelik gewaarsku dat die gevaar van ’n post-apartheid-Suid-Afrika was dat die bevrydingsbeweging korrup en magsugtig sou word en hulle nie aan die lot van die werkers en armes sou steur nie. En kyk hoe lyk ons nou.

Wat sou gebeur het as die hoogste hof in Amerika nie in 2000 die oortelling van die stemme in die presidensiële verkiesing stopgesit het nie wat toe daartoe gelei het dat George W. Bush bo Al Gore as president aangestel is? Net ’n handvol stemme het die twee kandidate geskei.

Sou Gore in 2003 Irak binnegeval het om van Saddam Hussein ontslae te raak, met die vals regverdiging dat daar massavernietigingswapens was? Dié oorlog het die internasionale geopolitiek ingrypend verander.

Ek het ’n paar jaar gelede in die Tunisiese dorp Sidi Bouzid op die plek gestaan waar ’n groentesmous, Mohamed Bouazizi, homself op 17 Desember 2010 aan die brand gesteek het uit protes teen hoe amptenare hom behandel het. Dit het tot die Jasmynrevolusie in Tunisië gelei, wat weer die sneller was vir die Arabiese Lente, wat die verloop van die geskiedenis in verskeie lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika beïnvloed het.

Ek onthou nog hoe ek daar gestaan en wonder het: Wat as Bouazizi eerder besluit het om die munisipale kantore met klippe te bestook as om homself aan die brand te steek?

Dit bly ’n lekker speletjie, dié “wat as”. Speel gerus saam.

Gegroet

Max

Naskrif: Ek hoop ek loop baie van julle die komende naweek by ons boekefees in Cullinan raak. Kyk na die program hier onder en kom kuier saam.


Maria praat elke dag met die Here.
met wie anders moet sy praat?
Met hierdie bedremmelde drolle
met wie sy elke dag omring is?
Wat sy moet liefhê soos haarself.
DIS 'N TALL ORDER.

– Jeanne Goosen

(Uit: Het jy geweet ek kan toor?)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Oor vyf dae is dit VWB-Cullinan-boekefees! Saterdag 14 April het ons nie minder nie as SEWE gesprekke. Renée Rautenbach Conradie praat met Willemien du Preez, Phyllis Green green gesels met Leonie van Rensburg en Sophia Kapp, Diane de Beer klets met Sihle Khumalo, Gielie Hoffmann vra Mercy Kannemeyer die kuns af, Ilse Salzwedel kuier met Bettina Wyngaard en Elizabeth Wasserman, Deborah Steinmair konfereer met sewe vroueskrywers, en Max du Preez filosofeer met Pieter du Toit en Johann van Loggerenberg. Moet dit nie misloop nie. Gesprekke kos R90 elk en as jy vroeg opdaag, is daar 'n sakpas-pakket vir die hele Saterdag.

Vir die volle program, kliek hier en en kaartjies te bespreek, kliek hier



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.