Koue oorloë en platgesitte drade tussen ou vriende

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Koue oorloë en platgesitte drade tussen ou vriende

MERCY KANNEMEYER skryf oor dinge waaroor sy nié wou skryf nie, soos die Thabo Bester-sage, WILLEM KEMPEN wonder oor die ding met Taiwan en China, daar’s nuus oor ons Cullinan-boekefees, en vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 11 April 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre

1. In minstens die 146ste massaskietvoorval (vier mense of meer geskiet) in die VSA vanjaar is vyf mense dood en nog agt gewond in ’n voorval by ’n handelsbank in die middestad van Louisville, Kentucky. Dit beteken daar was al vanjaar gemiddeld meer as een so ’n voorval per dag.

2. Nog twee mense is in hegtenis geneem in verband met Thabo Bester se ontsnapping uit die tronk in Mei verlede jaar. Die polisie het aan News24 gesê ’n 39-jarige voormalige werknemer van G4S en ’n 65-jarige man van Port Edward is aangekeer en sal na verwagting vandag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

3. Die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds se jaarlikse lentevergaderings begin later vandeesweek. Die groot temas sal hoë inflasie oral, stygende geopolitieke spanning en internasionale finansiële stabiliteit wees.

4. Die 87-jarige Dalai Lama het om verskoning gevra vir ’n voorval einde Februarie waarin hy ’n seun in Dharamshala in die noorde van Indië gevra het om sy tong te suig. ’n Video wat dit wys, het aan die lig gekom en is wyd veroordeel. In ’n amptelike Twitter-rekening is gesê: “Sy Heiligheid terg dikwels die mense wat hy ontmoet op ’n onskuldige en speelse manier, selfs in die openbaar en voor kameras.”

5. Die Amerikaanse kleinhandelsreus Walmart gaan sy reeks laaipunte vir elektriese voertuie drasties uitbrei, wat tot groter aanvaarding onder die publiek sal lei. Tans is byna 1 300 sulke laaipunte reeds by meer as 280 Walmart- en Sam’s Club-winkels beskikbaar; teen 2030 sal nog “duisende” bygevoeg word. Na raming woon sowat 90% van alle Amerikaners binne 10 myl (sowat 16 km) van ’n Walmart.


Vandag se weer

Sonnige en koel toestande word oor die grootste deel van die binneland verwag, met moontlike buie en donderbuie in Limpopo en Mpumalanga. Dit sal bewolk wees in dele van die Oos-Kaap met enkele buie en donderbuie wat oor die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 23°C • Rustenburg 25°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 20°C • Durban 23°C • Paarl 22°C • Oudtshoorn 21°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 23°C • Upington 24°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 21°C.


Willem Kempen | Om te sit op ’n draad wat ons nie eens besef is daar nie

Oral op die planeet skarrel wêreldleiers om te probeer sin maak van pres. Emmanuel Macron se opmerkings ná ’n drie dae lange staatsbesoek aan China. Macron het onder meer gesê Europa moet streef na “strategiese outonomie” van die VSA; dat die Europeërs spesifiek oor Taiwan nie sommer net navolgers van die Amerikaners behoort te wees nie.

Macron het dit terselfdertyd in die beste Franse diplomatieke tradisie duidelik gemaak dat sy standpunt pragmaties eerder as ideologies is: “Europeans cannot resolve the crisis in Ukraine; how can we credibly say on Taiwan, ‘Watch out, if you do something wrong, we will be there’? If you really want to increase tensions, that’s the way to do it,” het hy volgens die Sydney Morning Herald aan verslaggewers gesê. En natuurlik het hy in die proses ’n paar lekker kontrakte vir Franse maatskappye met die Chinese help beding.

Macron praat beswaarlik namens Europa. In sy eie agterplaas sukkel hy om die woedende reaksie op sy planne vir pensioenhervorming in bedwang te hou, en in die res van die EU is daar meestal die besef dat Europese steun vir Oekraïne nie sonder die VSA volgehou kan word nie. Mense soos Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, is steeds onversetlik dat Chinese aggressie teenoor Taiwan “onaanvaarbaar” is.

Oorkant die Atlantiese Oseaan was die Republikein sen. Marco Rubio se reaksie op Macron: “Maybe we should say we’re going to be focusing on Taiwan and the threats that China poses, and you guys [in Europe] handle Ukraine on your own?”

Maar Rubio moet ook maar versigtig wees om te dink die VSA se finansiële en militêre oormag is nog genoeg om alle ander oorwegings net so van die tafel af te vee. In ’n gefragmenteerde nuwe wêreldorde gaan delikate voetwerk dikwels ’n land verder bring as magsvertoon en groot gebare – en dit geld ook vir wat China met Taiwan probeer regkry.

En, amper nodeloos om te sê: Terwyl die res van die wêreld hulleself strategies probeer posisioneer, dink ons eie regering skynbaar dis genoeg om Rusland én China ter wille te probeer wees, en nie te besef dat daar ook tussen dié twee ’n draad is waarop ons nie vir altyd kan aanhou sit nie.


Image: ANGELA TUCK

’n Fliek oor Thabo Bester, regtig?

Heel naweek lank veg ek teen die versoeking om oor die hele Thabo Bester-sage te skryf. Ek is gewoon nie lus om in sy kop in te klim nie, want dit is makliker om hom net as sleg af te maak. Boonop is geslagsgebaseerde geweld en die oorlog teen vroue wat in Suid-Afrika woed iets wat my snags wakker hou.

Nog ’n ding waaroor ek nié wou skryf nie, is die regering se traagheid om mense soos Bester te vang en agter tralies te hou. Bester se gesig was die laaste paar weke oral. GroundUp doen beriggewing daaroor, Afrikaanse media skryf daaroor, en sosiale media is vol van die man se doen en late.

Image: ANGELA TUCK

Ek het dit oorweeg om sy naam te mute sodat wanneer ek my foon optel, sy gesig nie die eerste ding is wat ek sien nie. Hy het een van daai gesigte wat ’n mens naar maak. Dis nou dalk nie baie mooi nie, maar het jy al ooit na iemand gekyk en net koue rillings gekry? Op een of ander manier moet ’n mens jouself ook maar beskerm teen die nuus. Dis nie dat ek sê ons moet nou almal soos volstruise ons koppe in die sand loop bêre nie, maar soms is dit noodsaaklik om so ’n bietjie afstand te probeer doen van nuus wat jou net gaan ontstel.

Image: ANGELA TUCK

’n Interessante ding wat op sosiale media gebeur het namate meer inligting oor Bester en Dr. Nandipha bekendgeraak het, is mense se gesprekke oor wat ’n goeie fliek die hele Bester-situasie sal maak. Sommige op sosiale media het selfs oor ’n rolverdeling vir so ’n fliek bespiegel. Daar was diegene wat hewige teenkanting teen so ’n fliek gebied het, en ander wat volgehou het dat hulle die fliek sal geniet.

Hier moet ek net bylas dat ek weet sosiale media is ’n piepklein deel van ons samelewing in haar geheel, maar steeds! Dis uiters verstommend dat daar mense is wat dink Bester se storie moet in ’n fliek omskep word! Wat het gebeur dat ons so blazé geword het oor vieslike kriminele gedrag? Gebeur geweld nou al so dikwels dat ons doodgewoon koud en onaangeraak gelaat word daardeur? Jis. Ek slaan my oë op na die berge …


VWB-Cullinan-boekefees se rolspelers

Kom beleef jou gunstelingskrywers se gesigte en stemme, en sommer ook VWB se redaksielede s'n. Ons gaan groot kuier in Cullinan eerskomende naweek. Het jy al blyplek bespreek? Moenie 'n Gautenger wees wat kla oor die gebrek aan feeste in die noorde en dan nie opdaag wanneer daar wel een voorgesit word nie. Kom laat ons kuier! 

Kliek hier vir die volle feesprogram en kliek hier om kaartjies te bespreek. Kaartjies kos R90 per gesprek.


“my ernstige eggenoot
my vier varkentjies se vader
my triestige teuelhouer
my handsomest hellebaard
my blinde verbete broodwinner
my allerfermste fokker
my noeste naaier
geliefkoosde, my heel enigste vriend”

– Antjie Krog

(Uit: Gedigte 1989 - 1995)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.