Die soort stropers waarvan hierdie land meer wil sien

WOENSDAG MET WILLEM

Die soort stropers waarvan hierdie land meer wil sien

WILLEM KEMPEN meen 'n skoon en heel Johannesburg behoort vir die stad se burgemeester 'n groter prioriteit as Palestynse bevryding te wees, en wonder ook hoekom die staat nie met nóg iets kan misluk nie. DEBORAH STEINMAIR herinner jou aan ons Cullinan-boekefees, en soos gewoonlik is daar vyf dinge wat jy vandag wil weet.

  • 12 April 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, sê die land “vaar sover nie goed” wat padsterftes oor die Paasnaweek betref nie. Die land is geruk deur grusame botsings soos dié eergisteraand op die N3 naby Hilton waarin vyf mense dood en soveel as 100 beseer is en waarin onder meer agt taxi’s en vyf vragmotors betrokke was.

2. Minstens vyf mense sou gister in die landdroshof in Alice verskyn in verband met die moorde op Mboneli Vesele, in lewe die lyfwag van prof. Sakhela Buhlungu, die visekanselier van die Universiteit van Fort Hare, en die Fort Hare-vlootbestuurder Peet Roets. Van hulle sal ook aangekla word van die poging tot moord op Buhlungu, asook in verband met korrupsie by die universiteit, het News24 berig.

3. Fannie Masemola, nasionale kommissaris van polisie, sê “prosesse is steeds aan die gang” in Tanzanië vir Thabo Bester en Nandipha Magudumana se uitlewering aan Suid-Afrika. Magudumana se pa, Zolile Sekeleni, en Senohe Matsoara, ’n voormalige werknemer van die tronkoperateur G4S, het gister in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met Bester se ontsnapping.

4. Groot dele van veral die ooste van Pretoria was gistermiddag steeds sonder krag nadat kragmaste oor etlike maande so erg onder staaldiewe en vandale deurgeloop het dat hulle ineengestort het.

5. ’n Vulkaniese uitbarsting op die Kamtsjatka-skiereiland in Rusland het as honderde kilometers ver en so hoog as 8 km die lug in geblaas en tot ’n waarskuwing vir lugverkeer oor die verre oostelike dele van die land gelei.


Kyk weer ...

Meestal sonnig en matig tot warm oor die binneland en Oos-Kaapse kus. Deels bewolk tot bewolk met ligte oggendreën oor Mpumalanga en Limpopo. Wind lig tot matig al langs die kus; raak later fris in KZN. Bewolk oor die Wes- en Suid-Kaapse kus.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 22°C • Polokwane 25°C • Mbombela 24°C • Upington 30°C • Bloemfontein 24°C • Kaapstad 19°C • George 18°C • Worcester 21°C • Durban 26°C • Gqeberha 21°C.


Willem Kempen | Vat jou goed en trek, Thapelo

Dit was pynigend om te kyk na die SAUK se onderhoud met Johannesburg se uitvoerende burgemeester, Thapelo Amad van die Al Jama-ah-party. Die arme drommel is duidelik totaal uit sy diepte waar hy in sy onkunde aantjommel oor ’n lening wat een of ander maatskappy kamtig vir die stad aangebied het.

Maar pynlik soos dit was, is dit maar net een van die redes dat partye soos ActionSA hom as onbekwaam en ’n “puppet mayor” beskou en ’n mosie van wantroue teen hom wil indien. Gayton McKenzie van die Patriotiese Alliansie dreig selfs om aan die koalisie met die ANC en die EFF in Johannesburg te onttrek omdat hulle in Amad “the wrong horse” vir die pos gesteun het.

Die onderliggende rede dat dienslewering in Johannesburg “has rapidly deteriorated”, soos ActionSA dit stel, is dat die chaotiese uitruil van gunste en beloftes en die alewige gerugstekery tussen partye en koalisievennote feitlik gewaarborg is om swak leiers soos Amad op te lewer.

Nie dat hy nie van die begin af enigiets anders gedoen het as om te wys dat hy die verkeerde mens op die verkeerde plek is nie. Hy het dit goedgedink om vir sy eerste dag op kantoor as burgemeester op te daag met ’n enorme Palestynse serp om sy skouers; hy het sedertdien ook ’n mosie ingedien dat Sandtonrylaan na die Palestynse aktivis Laila Khaled genoem moet word – hy kon beswaarlik ’n beter manier gekies het om inwoners van Johannesburg te vertel dat hy simboliese gebare oor ’n verre land wat niks met hom te doen het nie ’n groter prioriteit ag as ’n skoon, heel en funksionerende stad vir die mense van Johannesburg.


Image: ANGELA TUCK

Willem Kempen | As die staat tog maar net met dié een ding ook misluk

So ’n uur of twee ná sononder op Goeie Vrydag sit ons op die opstal se stoep en kuier toe ’n hele rits stropers ’n entjie weg met hulle ligte aan op die stowwerige grondpad verby dreun. Moeilik om te tel so in die donker, maar minstens vier van hulle, met nog ’n paar bakkies tussenin ook. Dis ’n mooi gesig.

Waarskynlik sojabone, sê ons gasheer oor wat dit is wat die bure tot so laat op ’n vakansiedag nog geoes het. Vroeër die dag, op pad na die plaas waar ons vir die langnaweek gekuier het, sien ons langs ons roete die sojabone en die mielies in skakerings van geel op die lande van Hoëveldse Mpumalanga. En die pienk en wit kosmos, mooi om na te kyk maar nie nuttig soos die verwante sonneblomme wat ook oral staan nie.

Image: MAGGIE LAUBSER

Die pad soontoe was moeilik. Ons is darem gewaarsku: Moenie by Leandra afraai op die R50 nie. Daar is potholes wat karre breek. En daar waar die bord aankondig dat jy nou in Mpumalanga is, is dit asof iemand ’n sinjaal laat val het om die taxi’s vrye teuels te gee om vier of vyf op ’n slag op blinde hoogtes verby te gaan by ander verkeer wat heelwat stadiger op die verrinneweerde pad probeer vorder.

Dis ’n verligting as jy uiteindelik van die teer kan afdraai op die netjiese grondpad; onlangs geskraap deur einste die eienaar van al daardie stropers, maar nogtans ’n nagmerrie as dit hard gereën het soos onlangs met die vloede.

Saam met die teerpad groet jy ook sommer die laaste reste van die idee dat die land nog ’n funksionerende staat het. Van hier af is omtrent alles wat jy sien met privaat geld gebou en aan die gang gehou: die paaie, die geboue, die grensdrade, die veiligheidskameras en gewapende reaksie, die silo’s, die skure, die trekkers en stropers en ander implemente, die pompe en pype en opgaartenks wat water bring, die sonpanele en windpompe wat meer as opmaak vir die ellendige Eskom.

Ons gaan kyk na ’n spilpunt-mielieland langs die rivier op ’n buurplaas. Dit was amper of die oes was daarmee heen toe die vloedwaters verbygekom het, sê iemand, maar nou is dit ’n groot klomp geld wat daar staan.

Hy werk gou uit hoeveel die boer in sy sak sal kan steek. Die koppe is groot en die saad kon danksy die spilpunt digter as andersins op mekaar geplant word, maar dit vat nou weer meer kunsmis ook, en daar is allerhande ander insetkostes waaroor mens maar net kan raai; tog kom hy by ’n bedrag uit.

Dalk was sy somme nie reg nie, en sekerlik het die boer ’n hele klompie ander oeste ook wat een van die dae kan afkom, maar my eerste gedagte was: Is dit al?

Image: MAGGIE LAUBSER

Want daar voor my sien ek ’n helse klomp tyd en moeite en koste en risiko; die produk van generasies se ervaring en kundigheid oor alles van hoe om grondwater te bestuur terwyl die plaaslike munisipaliteit rioolvullis in die riviere laat inloop tot by dieselenjins regmaak tot by veearts speel tot by hoe om ’n plaasskool aan die gang te hou. Terwyl jy moet staande bly teen alles van ongenadige bankbestuurders en grondeise en veediewe tot by ’n wantrouige regering tot by wonder of jy die volgende slagoffer van ’n plaasmoord gaan wees. Dis nog nie eens die einde daarvan nie; die oes moet nog afgehaal en iewers gelewer word vir ’n prys wat jy dalk al maande tevore op ’n termynmark moes beding voordat jy nog geweet het hoe groot jou oes gaan wees.

As jy wel ’n paar rand oorhou aan die einde van dié hele uitmergelende proses, dán skop die afwesige staat skielik in en eis ’n enorme hap van die bietjie wins wat jy maak uit die produksie van kos vir die land se mense. En wee jou as jy nie getrou elke liewe sent oorbetaal wat die staat in ruil vir net mooi niks van jou wil hê nie.

En tog, volgende seisoen word daar maar weer geploeg en geplant en begin dit alles van voor af.

Hoekom doen mense dit nog, wonder ek.


Image: ANGELA TUCK

Boekefees-rolspelers:

Oor twee dae vier ons fees in Cullinan. Kom luister hoe om 'n topverkoper te skryf en 'n uitgewery te begin. Dis maar een van die fassinerende gesprekke teen R90 elk.

Kliek hier vir die volle program en kliek hier om kaartjies te bespreek.


Sepie-tyd

Tant Bettie sê:
“Ek is bevrees
ek gaan nie meer
koerante lees.
Elke dag is daar
verkragting,
moord en brand
en boereslagting.
Ek verkies
my lekker sepies
bo ’n lyk
geruk aan repies.
Gee my liewer
Isidingo
as ’n moord
in Isipingo.”

© Philip de Vos, Oktober 2010
(Bron: Versindaba)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.