Tot eer van iemandgeit

IS JOU LÊ-LÊ AL REG?

Tot eer van iemandgeit

Dit is die dae van min woorde en ingelêde vis en snye huisbrood, dik gesmeer van die botter en koppies melktee wat rustiggies in ’n kan op ’n stoof gebrou word en sy haar kan verbeel dat die aarde stil geraak het, die dae heilig, sê ANASTASIA DE VRIES.

JOU lê-lê? Jy verstaan sonder veel woorde. Sy vra dit elke jaar, dié vraag, die Maandag voor Goeie Vrydag. Is jou lê-lê al reg, vis sy dan gewoonlik na of jou pickled fish, jou ingelegde vis, al klaar in die yskas staan. Net, dié keer is dit al Dinsdag en jy moet maar self die verlore woorde in haar “jou lê-lê?” inlees. En soos gewoonlik in jou skuld val: Nee, jy moet nog jou vis inlê, sal later; trouens, jy moet nog die vis loop koop, die ywe, die mittedjales en het jy genoeg asyn, suiker en watter dag is daar oordag tog wel krag? Die vis moet immers afgebak, die ywe in die speseryryke piekelsous gemarineer en gaar kom en ...

Haar ma is dood, onderbreek sy jou verontskuldigings. Gistermiddag. Haar ma. Antie Fielielie. By haar, by antie Fielielie, het jy geleer dat ingelêde vis se Oos-Londonnaam “lê-lê” is. Jy het baie by haar geleer in julle gereelde vakansies daar. Oor inkennige kinders soos jy wat eintlik maar net liewer in hulle kop met hulleself wil praat. Dat mens nooit te kort of te lank lewe nie. Jy lewe vir so lank as wat jy nodig is. Dat Liza, haar grootmaakkind met die wit vlekke in haar gesig en op haar hande en bene, nie ’n velprobleem het nie. Nee, die maan het haar gesoen. Oor hoe mens jou iemandgeit onthou al dink die wêreld jy is niemand.

Sy het dié woord jare terug gekry in ’n Engelse koerantberig oor iemand met die naam van Martin Luther King. “Somebodiness”, het sy altyd ’n paar keer herhaal wanneer sy sy blueprint vir die lewe vir ons voorgelees het uit die koerantknipsels in haar stapels plakboeke. Ons het maar min verstaan van die King Junior doer ver in Amerika. Ons was kinders nog, skaars mensbekwaam, maar ons het om antie Fielielie saamgekoek vir die stories oor hoekom sy so baie woorde opgaar. Jy het eers later verstaan hoekom haar oë nat geword het oor dié kinners vannie Kaap wat haar “antie” genoem het. En hoekom die grootmans gelag het as hulle julle “antie” hoor sê het. Sy het die mooiste rokke gedra, haar hare elke dag ge-perm, haar lippe die rooiste rooi wat jy al aan ’n vrou gesien het. Sy was die ma van Liza wie se stappie, soos dié van haar ma, jou laat dink het hulle dans op musiek wat net hulle kan hoor...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.