Leer uit seer en swaarkry om weer te lewe en aan te hou lewe

ONTHOU DIE EEN, VERGEET DIE ANDER

Leer uit seer en swaarkry om weer te lewe en aan te hou lewe

ANASTASIA DE VRIES vertel van ’n lang, maer man met ’n Afrikaanse naam en Skotse agternaam, en met lyne op sy gesig wat lyk soos ’n padkaart na eeue se geskiedenis. Oor dubbelbloedigheid, oor hoe om naby die aarde en die see te leef, en oor wat gebeur as jy niks bevraag nie.

TUSSEN hulle lê daar meer as 150 jaar, sê die jonger man. Net die klosse wit in sy hare en baard verklap dat hy nie meer vandag se kind is nie. Hoe die verdeling van jare loop, sê hy nie, praat kant-en-wal vandat hy aangekom het, skynbaar gewoond daaraan om na geluister te word of dat grysgeit-is-wysheid mens noodwendig ’n spul gevange toehoorders verseker. Diep weggesak in ’n stoel met geblomde pofkussings lyk hy soos ’n Moses wat pas die Tien Gebooie ontvang het. Hy trap van sy berg af, hy’s in sy illemint soos een van die jongmense laat hoor, arms wyd oopgegooi met die praat saam. Die volk luister. Hy práát, laat loop met die geskiedenis van “sy plek” waar die geskiedenis van “hierdie hele se plek” begin het. Sy stem is laag, klink gesaghebbend, ’n stem bo alle stemme.

Langs hom die res van die meer as 150 jaar tussen hulle, ’n lang, maer man met waaksame oë, kiertsregop op ’n stoel met ’n hoë rugkant. Weerskante van die stoel die krukke wat sy bene flous dat hy steeds met die reguit rug en waterpas skouers van ’n jongman deur die lewe loop, spot hy toe hy praatkans kry. Die baie lyne op sy gesig lyk soos ’n padkaart na eeue se geskiedenis. Hy’t ’n Afrikaanse naam, Daniel, en ’n Skotse agternaam, vertel hy. Sy oë word jonk toe hy die verlede instap, tot by sy Skotse voorvader wat hier kom huis opsit het toe hul skip aan hierdie kus “kom strand loop het”. Nee, hy weet nie watter jaar dit was nie, maar dalk kan die jonges in die geselskap dit loop opsoek?

Sy oë gooi ’n lyn na daardie tyd, ’n tyd waarvan hy die spore seker self laat wegvaag het, sê hy. Want ná daardie dag wou hy nie meer weet nie, die dag toe hulle sy grond bo in die rante wou kom afvat. Witmensgrond, het hulle gesê. Voertsek van my grond af, het hy gesê en die kaart en transport in sy ou Skotse stamvader se naam, met die bedrag wat hy betaal het, voor die ampergrondvatter se neus rondgeswaai. En die stamboom in die Engelse Bybel met vooraan die name van die ou Skot en sy vrou sonder jongmeisievan laat saampraat. Sy was Khoe, “Koewhê” soos sy pa dit uitgespreek het wanneer hy hulle verhaal vertel het. Dié dag het hy, soos sy pa en sy oupa voor hom, daardie dokumente in die matras op sy kooi toegestik. Mens weet maar nooit. Want ook op die gesigte van sy nageslag, sy kleinkinders, lê die bloed van die Skot én die Khoe. Dis einste diese dubbelbloedigheid wat hom amper sy grond gekos het, sê hy. So vir sy nageslag .....

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.