Miejang en eggo’s van vrou tot vrou

NESKE BEKS

Miejang en eggo’s van vrou tot vrou

Sy staan op die skouers van vroue soos Toni Morrison en Audre Lorde wat soos sy ’n stryd moes voer om gehoor en gesien te word, sê die Belgiese skrywer en kunstenaar Neske Beks. Nou is sy geroepe om haar skouers vir ’n jonger geslag, ook in Suid-Afrika, aan te bied. ANASTASIA DE VRIES vertel meer.

OOIT is miejang in ’n lesinglokaal brand gesteek. ’n Pluim welriekende rook krul uit die wierook in haar hand. Sy ontspan merkbaar toe sy sien hulle herken dit, dié reinigingsritueel. Miejang teen wat slegte energie ook al daar is, teen wat vir magte ook al nog jou woorde, taal, jou stem gyselaar hou. Sy is Neske Beks en sy kom nie alleen nie. Agter haar staan haar ma, ’n Nederlandssprekende Belg, haar pa, ’n man uit Senegal, en agter hulle hulle ouers en agter hulle ... sy tel hulle af tot 64, haar voorouers. Ook julle kom nie alleen nie, sê dié Belgiese skrywer, akteur, film-, teater- en musiekmaker, ook agter julle staan julle ouers en agter hulle hulle ouers en agter hulle ... “Ons sien hulle nie, maar hulle is hier. Ons kom nooit alleen nie.”

Ons kom nooit alleen nie. Sy sing dié woorde, luidkeels, bulderend selfs. Die klank golf by die deure uit. Die jong klomp klap hande. Sy sien dat hulle dit wel begryp, sê sy, en dat sy nog nie die woorde het om te beskryf wat dit vir haar beteken om voor mense te staan aan wie sy nie haarself, haar hier wees soos sy is, hoef te verduidelik nie. Dis wat kuns, die letterkunde veronderstel is om te doen, vervat sy, om ons te laat sien wie en wat daar is en wie of wat daar nie is nie en dit in eie woorde uit te sê. Sy laat hulle een van haar kortfilms kyk, vertel oor haar familie, verwys hulle na Eigen volk/My people (of all people), ’n dokumentêr waarin sy sin probeer maak van haarself in dié bloedverweefdhede.

Sy lees voor uit haar boek De kleine Morrison, uit haar Nederlandse vertaling en uitleg van Toni Morrison se toespraak by die ontvangs van die Nobelprys vir letterkunde in 1993. Sy praat oor die mag van taal om kennis te onderdruk, “ze is niet ontvankelijk voor ondervraging, kan geen nieuwe ideeën vormen of verdragen, noch andere gedachten vormen, andere verhalen vertellen of verbijsterende stiltes vullen”. Taal skep die werklikheid, sê sy. Taal kan dit doen. Taal is mag. Daarom, skep jou eie werklikheid. In jou eie woorde. Jou eie taal. Verhef jou stem! Sy sing dit. Bulderend. Vuis in die lug...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.