Vrede? Nee, op die gouste eers die volgende dag

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Vrede? Nee, op die gouste eers die volgende dag

Sy is nie ’n Camilla-apologeet nie, sê MERCY KANNEMEYER, maar dis onregverdig dat Charles III se vrou soveel haat moet verduur. WILLEM KEMPEN skryf oor vanjaar se ironiese herdenking van Vrede in Europa in 1945. En daar’s vyf dinge wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre

1. Sasria-polishouers sal voortaan nie gedek wees teen skade weens oproer weens ’n ineenstorting van die nasionale elektrisiteitsnetwerk nie. Sasria, die versekeraar in staatsbesit, het R32 biljoen in eise uitbetaal ná die oproer van Julie 2021 en het gevolglik ’n reddingsboei van R22 biljoen van die regering gekry. Van 1 Junie sal alle bestaande en nuwe polisse dekking weens ’n ineenstorting van die kragnetwerk uitsluit.

2. Die departement van openbare ondernemings gaan appelleer teen verlede week se hooggeregshofuitspraak waarvolgens hospitale, skole en polisiekantore van beurtkrag vrygestel moet word.

3. Die Gautengse regering wil sowat 6 000 jongmense oplei as sonkrag-tegnici en installeerders na aanleiding van die plan wat in Februarie deur premier Panyaza Lesufi bekendgemaak is. Percy Moleke, hoof van die Gauteng City Region Academy, het aan eNCA gesê die “barriers to entry for the solar technicians, especially the installers, are very low”: “Anyone who has matric, is from Gauteng and is a young person who matriculated before 2016 can apply for this programme.”

4. n Staking is afgeweer by ArcelorMittal, een van die grootste staalprodusente in die Suidelike Halfrond, danksy ’n loonooreenkoms oor drie jaar wat met die National Union of Metalworkers (Numsa) bereik is. Die skikking maak onder meer voorsiening vir verhogings van tot 6,5% vir die eerste twee jaar.

5. ’n Resessie in Duitsland word opnuut gevrees nadat die land se nywerheidsproduksie in Maart met meer as die verwagte persentasie gedaal het: 3,4% vergeleke met die 1% wat voorspel is. Veral die magtige Duitse motorbedryf loop deur onder verbruikers se reaksie op die hoë pryse van aardgas en ander brandstowwe weens die sanksies teen Rusland.


Vandag se weer

Bewolk met motreën en plek-plek mis in die oggend oor Gauteng. Bewolk met verspreide buie en plek-plek geïsoleerde donderbuie oor Mpumalanga, Limpopo en KZN. Deels bewolk oor Noordwes, die Noord-Kaap en die Vrystaat. Sonnig in Kaapstad en langs die Oos-Kaapse kus met ligte tot matige wind. Bewolk in die Suid-Kaap in die oggend, andersins sonnig, maar met ’n ligte tot matige wind.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Rustenburg 21°C • Mbombela 19°C • Kaapstad 22°C • Durban 23°C • Paarl 26°C • Oudtshoorn 25°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 20°C • Upington 27°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Om vrede met n oorlog te herdenk

Gisteraand om 23:01 Sentraal-Europese tyd was die 78ste herdenking van die oomblik in 1945 toe Duitsland se amptelike oorgawe in die Tweede Wêreldoorlog van krag geword het. Vrede in Europa.

In Rusland en ander Oos-Europese lande word VE-dag eers vandag gevier omdat dit op die presiese oomblik van oorgawe al die 9de was.

Baie mense in Oekraïne vier VE-dag ook die afgelope jare op die 8ste, as ’n daad van verset teen Rusland. Pres. Volodymyr Zelensky het dié gebruik nou amptelik gemaak; ’n daad waarvoor die Russiese minister van buitelandse sake hom uitgekryt het as ’n verraaier van die nagedagtenis van die Oekraïners – baie van hulle Jode – wat aan die hand van die Nazi’s dood is.

Gister of vandag, daar was in elk geval nie veel om te vier nie. Nie in Oekraïne nie en ook nie in Rusland nie. Laasgenoemde het die geleentheid gebruik om die grootste enkele dreuntuig-lugaanval in etlike maande teen teikens in Kyiv en ander plekke te doen. Die burgemeester van die hoofstad het aan Reuters gesê 36 “kamikaze drones” is na teikens in Kyiv gestuur, maar geen sterftes is aangemeld nie.

Rusland het ook opnuut probeer om wat oor is van die stad Bakhmut in die suide van Oekraïne te verower. Die idee is glo dat Vladimir Putin betyds vir die Russiese herdenking van Vrede in Europa iets sou hê om te wys vir die offensief van die afgelope winter.

In Moskou sal VE-dag nie op dieselfde skaal as tevore gevier word nie. Groot militêre parades is afgeskaal of heeltemal gekanselleer, deels weens vrese dat Russiese troepe en toerusting ’n teiken sal wees, en waarskynlik ook weens die geweldige verliese wat reeds gely is.

Wat eens gevier is as ’n oomblik van eenheid teen ’n gemeenskaplike vyand wat oorwin is, het nou nog ’n bron van bitterheid en verdeeldheid geword. Nou stry hulle selfs oor hoe om die vrede te onthou. En vir wat?


Image: ANGELA TUCK

Wanneer ’n vrou die skuld vat vir ’n man wat nie sy mind kon opmaak nie

In die geheim loer ek so af en toe na wat die royal family alles aanvang. Die hele familie is fassinerend. Behalwe vir Andrew wat opgesluit moet word, is die res van die familie interessant. En wanneer daar ’n event is – soos die dood van die koningin of die kroning van die koning die afgelope naweek – sien ek altyd uit daarna om te kyk wat almal gaan aantrek, hoe almal in die publiek gaan vertoon, en hoe die familie se dinamika gaan uitspeel.

Dis as’t ware skouspelagtig. Dink jou net in. Die commitment aan ’n orde. Die kyk-noord-en-fok-voort-houding wanneer daar soveel kritiek teen jou familie is. Die familie is in hierdie ding in gebore, en ons het mos nou gesien met Harry dat wanneer jy daarteen opstaan, die media jou absoluut gaan verwoes.

Image: @LUCKISONYOURSIDEX

Na afloop van die koning se kroning hierdie naweek val dit my weer by hoe uitgesproke talle mense oor Camilla en Charles is. Veral Camilla. Van jongs af onthou ek dat Camilla die vark in die sprokiesverhaal was. En toe ek nou verstand kom kry, kom ek agter dat Camilla die skuld vat vir ’n man wat nie sy mind kon opmaak nie. Die liefdesdriehoek tussen Charles, Diana en Camilla het destyds ’n onaangename prentjie van Camilla in ons ma’s se koppe geplant. Tot vandag toe word daar in menige huishouding met die grootste afsku van Camilla gepraat. En wat was Camilla se eintlike fout nou? Dat sy verlief geraak het op die verkeerde persoon? Dat sy haar man verneuk het en dat sy ’n ander vrou se man afgevat het? (Net so terloops, niemand kan iemand anders se man afvat nie. ’n Man wat afgevat wíl wees, gaan afgevat word.)

Verstaan my bitter mooi. Ek is nie ’n Camilla-apologeet nie. Dit is net geweldig onregverdig dat Camilla soveel haat ontvang, terwyl Charles net so deel van die ding was! As Camilla se verhouding met Charles nie in die spotlight was nie, sou ons gesê het Charles is ’n royal vark. As die ander vrou in die affair nie prinses Diana was nie, sou ons heel waarskynlik ook nie so baie omgegee het nie. Maar nou was dit Diana. Die mees geliefde prinses wat al ooit bestaan het. Diana is gans te vroeg dood, en as sy nog gelewe het, sou ons waarskynlik met ander oë na die hele royal family gekyk het.

Moenie vir Camilla haat net omdat sy op die einde vir Charles gekry het nie. Wie wil anyway vir Charles hê?


A frail hepatica

A frail hepatica
Shyly holds its fragrance
Beneath the fresh morning dew.
So, Elizabeth.

– Jun Fujita


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.