Kopskoonmaak op Corfu

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Kopskoonmaak op Corfu

ANESCA SMITH besoek die groenste van die Griekse eilande om ‘uit te waaien’, en DEBORAH STEINMAIR vertel meer oor die Boeke- en Vrye Tyd-artikels in ons jongste uitgawe wat jy by jou naweekleesstof kan voeg. Kry ook die program vir ons Clarens-boekefees in Julie.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Ons is op die Griekse eiland Corfu om te rus en bietjie kop skoon te maak. Of “uit te waaien”, soos die Nederlanders sê.

Waarom “uitwaaien” sou ek nie weet nie. As ek met vakansie is, is winderige weer beslis nie my idee van ontspan en my hoof skoon te kry nie. Eerder hoofpyn, ja.

Nietemin, op ons eerste dag reën dit katte en honde – juis die soort weer waaraan ons in Nederland wou ontsnap. Daarna maak die weer gelukkig ’n ommeswaai en kon ek doen waarvoor ek na Griekeland gekom het: om lekker te eet en lang bergwandelings te maak.

Image: ANESCA SMITH

Corfu staan bekend as die groenste van die Griekse eilande. Dit is ongeveer 64 km in lengte en maar 32 km breed met veel berge.

Op ons tweede dag kies ons willekeurig ’n plek op die kaart om te besoek. Dit is ’n klein vissersdorpie op die eiland se noordoostelike kus waar ons dadelik wegspring met ’n lang wandeling in die heuwels wat die strand omsoom.

As jy ’n natuurliefhebber is, sal ek jou aanraai om Griekeland in die lente te besoek – die wilde blomme is dan in bloei en ’n ware lus vir die oog. Sommige toring selfs bo jou hoof uit. Daar loop jy dan, heuwel op en heuwel af, tussen die blomme, skoenlappers en ander insekte. So nou en dan stop ons by ’n verlate strandjie om te swem.

Image: ANESCA SMITH

Ná ’n paar uur keer ons terug na die dorpie om by een van die plaaslike restaurante te eet. Ek bestel murgpampoentjie-blomme gevul met gebakte feta en kruie – een van die restaurant se spesialiteite – en my man geroosterde calamari, eenvoudig in olyfolie en suurlemoen voorgesit.

Om te drink kies ek ’n gemmer-en-koemkwat-drankie wat onmiddellik heimwee gee na my ouers se tuin – in my kinderjare het ons ’n koemkwatboom in ons agtertuin gehad. Ek probeer ook ’n suikervrye pomelo-en-bergamot-bruisdrankie – byna so goed soos die eerste een. ’n Plaaslik gemaakte bier vir my man.

Hierna is dit tyd om huiswaarts te keer. Ek gaan nie doekies omdraai nie: Die slingerende Corfu-bergpaaie is hel. So smal (en by tye vol slaggate) dat dit lyk of hulle vir eenrigtingverkeer gemaak is. Gevolglik hou jy jou hart vas elke keer as daar ’n voertuig van voor kom en julle net-net by mekaar verbyskuur.

Gelukkig maak die asemrowende uitsigte en lowergroen grasvelde langs die weg die senutergende rit die moeite werd.

Image: ANESCA SMITH

Oral word daar ook gebou en getimmer in die afgeleë bergdorpies. Ek het iewers gelees dat talle mense wat in die 1970’s en ’80’s die klein dorpies op Corfu vir die groot Griekse stede verlaat het, nou terugkeer na hulle geboorteplekke om hulle toeristevriendelik te maak.

Jy sou dink met al daardie geld wat die Grieke uit toerisme verdien, sou hulle ten minste die slaggate laat opvul, maar nee meneer.

Groete tot volgende week
Anesca


Image: ANGELA TUCK

Ons hou weer boekefees – in die Vrystaat!

Die naweek van 21 tot 23 Julie, in die hartjie van die winter, gebeur Vrye Weekblad se Clarens-boekefees in hierdie skilderagtige Oos-Vrystaatse dorpie. Sneeu is (dalk) nie uitgesluit nie! Populiere troon soos goue kerse aan die voet van berge. Daar is heelwat kunstige restaurantjies, want dis ’n toeristedorpie. Die fees vind plaas in die Protea Hotel by Marriott Clarens – swierig en bestand teen wind, weer en beurtkrag. Bespreek vroeg verblyf en kom kuier saam.

Hier is die program.

Sien jou daar!


Die winter is vinnig in aantog en selfs met beurtkrag kan jy 'n skerm nadertrek en jou verkneukel in ons Boeke- en Vrye Tyd-aanbiedings. Hopelik verwarm dit jou hart en laat jou skaterlag en nadink.


BOEKE

Is dit te laat om Siri aan te sê om te skoert, wonder Deborah Steinmair, wat haar bedenkings het oor KI.

Gewetenlose, seksueel aggressiewe botte


Joan Hambidge skryf oor een van ons Nobelpryswenners se spel met taal en karakters.

J.M. Coetzee se dubbelspel


Kerneels Breytenbach maak ons lus vir splinternuwe boeke op die rak.

Groenbone, Harry Hole en kristalkrag


Die tweede aflewering van Dianne du Toit Albertze se kortverhaal.

Die misbaksel Deel II


Deborah Steinmair sukkel om haar lugbraaier te bemeester.

Bly kalm, ons gaan lugbraai


VRYE TYD

Henk Serfontein kyk na Zanele Muholi se Paryse oorsiguitstalling.

Gegroet, die donker leeuin


Laureen Rossouw gesels met Anton Kannemeyer oor Bitterkomix 19.

15 vrae aan Anton Kannemeyer


Aletta Lintvelt eet graag broccolisop in die bad.

Aletta se eie Cook Pray Soak


Louis de Villiers bepleit eerder 'n inheemse dierenaam vir die rugbyspan van die Westelike Provinsie.

Noem Stormers eerder Dassies of Bobbejane


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.