Die woede van die mense is besig om op te stoot

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Die woede van die mense is besig om op te stoot

Dié soort ding is obseen, sê MAX DU PREEZ, en MERCY KANNEMEYER dink niemand is verhewe bo trashy reality TV nie.

Goeiemôre

1. Woedende inwoners van Hammanskraal noord van Pretoria het gister by die Jubilee-distrikshospitaal betoog te midde van ’n cholera-uitbraak in die gebied. Hulle het ’n afvaardiging bestaande uit onder andere Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, en Nomantu Nkomo-Ralehoko, Gautengse LUR vir gesondheid, weggejaag wat die hospitaal wou besoek. Die huidige cholera-uitbraak het reeds 15 lewens in Gauteng geëis. Inwoners is gevra om nie kraanwater te drink nie.

2. Pres. Joe Biden het gister weer met Republikeinse onderhandelaars vergader in ’n poging om die wetlike skuldplafon betyds gelig te kry sodat die Amerikaanse regering al sy skuldverpligtinge kan nakom. Biden het vroeër gesê hy meen hy is by magte om die perk ingevolge die 14de wysiging aan die land se grondwet eensydig op te stoot, maar die onsekerheid hieroor en die min tyd wat oor is, maak dít ’n onwaarskynlike opsie.

3. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal na verwagting rentekoerse Donderdag met ’n verdere 0,5 persentasiepunte verhoog ná afloop van die vergadering van sy beleidskomitee.

4. ’n Biografie van die stigter en leier van ActionSA, The Outsider: The Unauthorised Biography of Herman Mashaba, is g’n ongemagtig soos die titel dit wil hê nie, beweer een van die navorsers wat glo by die projek betrokke was. Mashaba het trouens volgens Brutus Malada, ’n senior navorser en self ’n lid van ActionSA, meer as R12,5 miljoen betaal vir die skryf van die boek. Malada sê die skrywer van die biografie, die politieke ontleder Prince Mashele, het insette van Mashaba gekry oor die verskillende hoofstukke van die boek, het News24 berig.

5. Die voorsitter van die raad van die Universiteit van Kaapstad, Babalwa Ngonyama, het haar bedanking ingedien nadat ’n voorlopige verslag oor bestuurskwessies by Ikeys aanbeveel het dat sy van die raad verwyder word. Die paneel wat die ondersoek lei, het gesê Ngonyama het geweier om haar samewerking te gee. Die verslag sê haar verwydering “kan nie wag” vir die paneel om die ondersoek te voltooi nie, nog minder wag vir die saak om in die hof te beland: “Die feite is duidelik, en die raad moet optree.”


Vandag se weer

Gauteng kan oggendmiskolle verwag en sal by tye bewolk wees. Limpopo en Mpumalanga sal deels bewolk wees en kan oggendmis verwag met ligte reën langs die platorand. Noordwes en die Vrystaat sonnig tot deels bewolk. Oggendmis ook voorspel vir die Noord-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal waar dit deels bewolk en koel sal wees. Deels bewolk tot bewolk en koel in die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 18°C • Durban 21°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 20°C • Upington 27°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 22°C.


Max du Preez | Armoede knaag aan vesel van ons gemeenskappe

Die snelle agteruitgang van die ekonomie en meegaande styging in werkloosheid is besig om in 'n nuwe vlaag van misdadigheid, gewelddadigheid en desperaatheid te manifesteer.

’n Navorser oor misdaad en polisiëring sê die naweek vir my die laaste misdaadstatistieke wat deur die polisie uitgereik is, reflekteer nog nie heeltemal die skerp opwaartse kurwe nie.

’n Maatskaplike werker wat in Khayelitsha en Mitchells Plain werk, sê sy en haar kollegas bespeur 'n merkbare toename in gesinsgeweld en kindermishandeling.

Brokkies uit die daaglikse nuus begin wel 'n aanduiding gee dat die groeiende armoede in veral die swart gemeenskappe 'n wesenlike impak op mense se gedrag het.

Verlede week is 'n beminde Malawiese man wat in tuine in Kommetjie in die Kaapse Skiereiland werk, byna doodgeslaan deur 'n werklose man wat naby hom in Masiphumelele woon. Die tuinman woon al lankal in die buurt en is 'n gewilde figuur. Niks is by hom gesteel nie. Die aanvaller en slagoffer het geen rusie gehad of woorde gewissel nie.

Saterdag is Johann van Loggerenberg, skrywer en gewese senior ondersoeker van die nasionale inkomstediens, woes buite Pretoria aangeval en sy fiets is gesteel. Hy sê daar was 'n “soort woede” in sy aanvallers: “Ek dink daar is iets dieper aan die gang in die land. Ons moet vra hoekom mense só optree.”

Die hoof van handelsmisdaad van die spesialisversekeraar iTOO sê gister dié vorm van misdaad het in die jaar tot 2022 met 25% gestyg soos mense desperaat probeer om hulle lewenstyl te handhaaf: “In moeilike tye steek lang vingers kop uit.”

Verlede week het 'n dooie walvis in Hermanus uitgespoel. Die stadsraad se waarskuwings dat die vleis dalk toksies is en nie geëet moet word nie, is heeltemal geïgnoreer en mense het die karkas gou gestroop. Hulle is honger.

Die skoolvoedingskemas vir miljoene kinders in KZN en die Oos-Kaap het ineengestort.

Armoede, honger en die ineenstorting van plaaslike dienste is nou besig om aan die vesel van ons armer gemeenskappe te begin knaag.

Die regerende ANC kan nie langer die effek van die Covid-epidemie vir die ekonomiese insinking blameer nie. Ander ontwikkelende lande, soos Kenia, het ná die epidemie flink opgestaan.

Onbeholpe administrasie, korrupsie, ideologiese onbuigsaamheid en beleidonsekerheid is net die ANC en hulle leiers se skuld.

Soos ons die naweek uitgevind het, bestee die regering R93 miljoen oor drie jaar aan ministers en amptenare se huise – anderhalf miljoen vir een minister se nuwe kombuis en 'n kwartmiljoen rand om kakkerlakke te beveg – en kort by die R2 biljoen per jaar aan die beskerming van BBP’s.

Dit is obseen.


Image: ANGELA TUCK

Ons het almal daai mense in ons families

As ’n mensdom het ons bang geword om vir onsself in die spieël te kyk. Vandaar ons afsku in realiteitsprogramme soos Die Real Housewives van die Wynlande, komedies soos Poena, en Huisgenoot-artikels wat ons ooglede laat spasmas kry van die cringe.

Jy weet waarvan ek praat, man! Mense of karakters wat too close to home is, maak ons bang. Daai een housewife wat so vloek en suggestiewe opmerkings maak, Poena se gly-op-’n-piesangskil-tipe-humor, tannies wat in die koerante oor hulle lewe huil en celebrities wat hopeloos te veel inligting deel. Oor Poena en Huisgenoot wil ek my nie veel uitlaat nie, maar as ’n groot aanhanger van die Housewives-franchises moet ek bieg: Dis vermaaklike televisie.

Wanneer ek my nie in my een guilty pleasure (die lees van Romanzas, [redaksie, herinner my tog dat ek eendag hieroor moet skryf!]) verlekker nie, kyk ek Housewives. En ek het nou al amper almal gekyk! Beverly Hills, Atlanta, New York, Dubai, Durban, Johannesburg, Pretoria en die jongste natuurlik die Wynlande. Die Housewives-franchises is so ver verwyderd van my lewe, en wanneer ek nie lus is om te dink of te voel nie, verkyk ek my aan die duur klere, die juwele, die skoene, die motors, en luister ek al te lekker na die twak wat ’n mens kan praat wanneer jy te veel geld het! Dis lekker om te sien hoe mense met weelde hulle lewe leef. Dis nog lekkerder om die krake in daai weelde te sien en die mure van Jerigo te sien intuimel wanneer die vroue se ware kleure onthul word.

Nou ja toe, dis nie almal se koppie tee nie. Al wat ek net nie kan verstaan nie, is waarom die geween en gekners van tande wanneer sulke shows op die TV kom? Sit jou TV af, of kyk iets anders. Dis so eenvoudig. Sommige kykNET-tannies skop teen die karre oor programme soos die Housewives. En ek weet hoekom. Mense like nie die Wynlande nie, want daai vroue herinner hulle dalk aan hulleself, of ’n familielid wat hulle ken. Ons het almal daai mense in ons families! Die een met die vuil bek, die drama queen wat ’n vloermoer gooi as daar nie wi-fi is nie, die een wat onvanpaste vrae aan die etenstafel vra. En dis oukei! Hulle hou die lewe interessant.

Laat gaan van julle pseudo-intellektualisme wat vir julle laat glo dat julle verhewe bo trashy reality TV is. As ’n kameraspan jóú moet rondvolg en jou lewe dokumenteer, dink daaroor of mense vasgenael gaan sit, en of hulle eerder hulle oë vir jou gaan rol. Dis al van my kant af vir die week.


Noon

The noon, a mystic dog with paws of fire,
Runs through the sky in ecstasy of drouth,
Licking the earth with tongue of golden flame
Set in a burning mouth.

It floods the forest with loud barks of light,
And chases its own shadow on the plains ...
Its Master silently hath set it free
Awhile from silver chains.

At last, towards the cinctured end of day,
It drinks cool draughts from sunset-mellowed rills ...
Then, chained to twilight by the Master’s hand,
It sleeps among the hills.

– Harindranath Chattopadhyaya


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.