Kom ons lieg almal saam oor Tarzan en die dryfsand

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Kom ons lieg almal saam oor Tarzan en die dryfsand

DEBORAH STEINMAIR skryf oor dryfsand, morele kompasse en klippe, WILLEM KEMPEN wonder wat maak Wally nog daar, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 20 Junie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Pres. Cyril Ramaphosa het gister in sy weeklikse nuusbrief gesê die besoek aan Rusland en Oekraïne was histories “omdat dit die eerste keer is dat Afrika-leiers ’n vredesending buite die vasteland onderneem”. Opposisiegroepe soos Rise Mzansi het die besoek egter bestempel as ’n volslae ramp wat niks bereik het nie.

2. Die regering se SEAD-SA-program is gister amptelik bekendgestel as ’n poging om ’n beter begrip van die geografiese verspreiding en ekonomiese aktiwiteit in die land te kry deur administratiewe data en belastinginligting te ontleed. Enoch Godongwana, minister van finansies, het by die bekendstelling gesê die program kan van die raaiwerk uit beleidsbeplanning neem.

3. ’n Groep gewapende mans het gisteroggend die personeel en pasiënte van die provinsiale hospitaal in Carolina in Mpumalanga aangehou en van persoonlike besittings beroof. Toerusting en meubels is ook gevandaliseer.

4. ’n Dooiepunt in loononderhandelinge tussen die bestuur van die Gautrein en die vakbond Numsa kan beteken dat dié diens tot stilstand kom. Hoewel daar ooreengekom is op ’n 8%-loonverhoging, is daar steeds ongelukkigheid oor ander kwessies, soos dat personeel nie meer self gratis op die Gautrein kan ry nie.

5. Gift of the Givers het op verskeie plekke in die Wes-Kaap gehelp om slagoffers van onlangse oorstromings met kos, komberse en ander items by te staan, het eNCA berig. Die provinsie se nooddienste is op ’n hoë gereedheidsgrondslag aangesien meer reën in die komende dae verwag word.

6. Europa moet gereed maak vir meer dodelike hittegolwe weens klimaatsverandering, is bevind in ’n omvattende verslag deur die Wêreld- Meteorologiese Organisasie en die Europese Unie se Copernicus-klimaatveranderingsdiens. Luidens die verslag is Europa die vasteland wat die vinnigste warmer word, met temperature wat verlede jaar gemiddeld sowat 2,3°C warmer was as in pre-industriële tye.

7. China se ekonomie het in die tweede kwartaal van 2023 verder verlangsaam en teen sy stadigste pas in meer as twee jaar gegroei. Die land worstel steeds met die nadraai van Covid-19 en ’n voortslepende eiendomskrisis.


Daar is weer waarskuwings oor sterk wind in die Wes-Kaap, asook dele van die Noord- en Oos-Kaap langs die kus en in die sentrale gebiede. Die kouefronte bring ook swaar reën oor veral die Kaapse Wynlande en die Overberg. Dan is daar brandgevaartoestande in dele van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Sonskyn in die noorde en oggendmis in KZN.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 20°C • Johannesburg 18°C • Mahikeng 18°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 14°C • Durban 20°C • Kimberley 13°C • Bloemfontein 13°C • Polokwane 23°C • Upington 15°C • Gqeberha 16°C • Oos-Londen 15°C.


Willem Kempen | Wally Rhoode, Teen-Pool van effektiwiteit 

Genl.maj. Wally Rhoode het waarskynlik baie lanklaas, indien al ooit, in ’n tou moes staan en wag om bedien te word by ’n poskantoor of ’n tak van binnelandse sake of sy plaaslike munisipaliteit.

Want as hy wel onlangs self een van hierdie dinge moes gedoen het, sou hy geweet het dis die reël, nie die uitsondering nie, dat wanneer jy uiteindelik voor by die toonbank uitkom, jy “begroet” sal word deur ’n nors amptenaar wat skaars die moeite doen om op te kyk, gereed is om op lunch te gaan, en nie in die minste belang stel om jou te help nie. Daar is ’n goeie kans dat jy dán eers die vergeelde kennisgewing op die toonbank sal sien met die lys van dokumente wat jy moes gehad het om gedoen te kry waarvoor jy pas die hele oggend staan en wag het. Dis nou as die rekenaarstelsel nie op presies daardie oomblik van lyn af gaan en eers drie dae later ’n stowwerige terugkeer maak nie.

Die generaal sou heel moontlik ook gesien het dat swart en wit mense by enige van hierdie plekke met min of meer dieselfde minagting en disrespek behandel word.

Wat die generaal nié sou gesien het nie, is dat enige van dié slagoffers van ’n ongeërgde burokrasie in reaksie dadelik op die naaste stoel spring en ’n impromptu-perskonferensie hou om almal van rassisme te beskuldig, soos die generaal daar op die lughawe in Warskou gedoen het.

Selfs as die generaal en sy troepe die regte permitte en ander dokumente gehad het – wat duidelik nie die geval was nie: Was daar in die geskiedenis van die internasionale lugvaart al ooit ’n geval waar ’n passasier uiteindelik sy sin gekry het deur ’n vloermoer te gooi en ’n doeanebeampte van onregverdige behandeling te beskuldig?

Dis nie die eerste keer dat Rhoode aan die verkeerde kant van die reëls beland nie. In Maart het adv. Kholeka Gcaleka, waarnemende openbare beskermer, in haar verslag oor Phala Phala gesê hy het onbehoorlik opgetree in sy hantering van die diefstal op die president se plaas en nie die regte kanale gevolg nie: “Rhoode het versuim om ’n saakdossier te open en het ook nie die diefstal by sy bevelvoerder, die nasionale kommissaris, aangemeld nie,” het Gcaleka volgens Netwerk24 bevind.

As dít Rhoode nie sy werk as hoof van die president se beskermingsdiens gekos het nie, watter kans is daar dat dit dié keer anders gaan wees?


Image: ANGELA TUCK

Morele kompas van ’n kliptomaan

Ek het iewers gelees dat iemand reken die flieks wat hulle as kind gesien het, het hulle nie op die regte lewe voorberei nie. So het byvoorbeeld Tarzan-flieks ’n mens die idee gegee dryfsand (quicksand) gaan ’n veel groter probleem in die lewe wees as wat dit is.

Dit het my laat dink: Maar dit ís. Net nie letterlik nie. Emosionele en etiese dryfsand. Daardie gevoel dat die grond onder jou voete onvas is en begin beweeg. Dat, hoe meer jy stoei, hoe vinniger gaan jy ingetrek word.

Dit het my weer laat dink aan ’n morele kompas. Word ’n mens daarmee gebore, leer jy dit aan, waar koop jy dit? Ons regering donder trots kompasloos voort. ’n Gewete is immers ’n ongerieflike, krapperige ding.

Daar was onlangs ’n storie in die nuus oor ’n Picasso-skildery wat in 1969 gesteel is op ’n lughawe in Boston. ’n Lughawe-werker, Bill Rummel, het ’n krat gevat en op sy bakkie gelaai sonder om te weet wat daarin was.

Die skildery, Portrait of a Woman and a Musketeer, was vir hom skreeulelik, want hy verkies realisme; of ten minste mooi prentjies van blomme, watervalle en die see. Te aaklig om teen die muur te hang. Hy en sy vrou het dit agterin ’n kas geprop en probeer om daarvan te vergeet. Toe hy hoor die FBI is besig om na die skildery te soek, het hy paniekerig geraak en sy pa gevra om hom te help. Sy pa het hom aangeraai om dit óf te vernietig óf terug te gee.

Sy broer Whitcomb, wat links is, het met sy regterhand ’n nota geskryf en dit geteken “Robbin’ Hood”. Hy het homself vermom, die skildery agterin ’n taxi gesit en die bestuurder gevra om dit na die Museum of Fine Arts te vat.

Watter soort mense is die Rummels? Sam en sy broer was van kleins af kleptomaniese kwajongens. Hulle pa het elke keer hulle diefstalle toegesmeer en hulle teen die gevolge beskerm.

Hierdie diefstal en teruggee van die skildery het later ’n lekker storie geword waarop Rummel blykbaar heel trots is.

Dit het my laat nadink oor wat ek sal steel. Ek het, toe ek jonk was, soms ’n boek of wat nie teruggegee nie. Daarmee het ek opgehou, want ek weet nou hoe dit voel om na die boekrak te loop op soek na ’n spesifieke boek en net ’n gaping te sien. Al wat ek vandag nog steel, onbeskaamd, is klippe. Darem nou nie geliefde klippe uit iemand se versameling nie, maar klippe in die veld en op ’n strand – dit is deesdae ook onwettig. En onlangs uit die tuin van ’n restaurant in die Transkei.

Nou ja, dit hang af waarmee ons kan saamleef. Wat jou uit die slaap hou, is moontlik vir my heel aanvaarbare gedrag. En om te lieg oor Russiese skepe en vredesendings is vir die volgende persoon tweede natuur.

Ek wil myself in die spieël in die oë kan kyk terwyl ek my tande borsel; dit het my maatstaf geword.

Dryfsand is wel ’n probleem in die grootmenslewe, sien?


Jahman without qualities

Noem my Goldilocks
Baby Bear of Innie Mirrel Cyril
Wan ek drift met my kop op my sleeve
Opsoek narie median tussen
Robert Musil en Robert Marley
'n Jahman without qualities

– Nathan Trantraal

(Uit: Oolog)

♦ VWB ♦


Kom luister na ons gesprek oor fiksie wat op werklikheid gebaseer is. Het jy al kaartjies bespreek by Quicket?


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.