Ons moet almal beter op hulle tone hou

MAANDAG MET MAX

Ons moet almal beter op hulle tone hou

Is heropbou of die afgrond Suid-Afrika se voorland ná volgende jaar se algemene verkiesing? vra MAX DU PREEZ. En, sê hy: Ons het nie ’n revolusie nodig om die land ’n baie beter plek vir almal te maak nie, net eerlike, harde werk. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 03 Julie 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiedag!

1. Woensdag is Internasionale Werkverslaafdedag – Workaholics Day. Daar word nie verwag dat dit in die Suid-Afrikaanse staatsdiens gevier gaan word nie, hoewel daar glo ’n moontlikheid is dat ’n kommissie van ondersoek aangestel gaan word om die aangeleentheid te ondersoek.

2. Die hoofbestuurder van Krygkor, Solomzi Mbada, is voorlopig deur sy raad geskors. Die aanklagte teen hom is onder meer dat hy self sy werkskontrak aangepas het, dat hy verhoudings met junior werknemers gehad het en hulle toe bevorder het en by ongerymdhede betrokke is. Hy weier om met Krygkor se raad te vergader.

3. Die stemlys onder die slagkreet “ekonomiese vryheid of die dood” het al ses die leiersposisies in die ANC-jeugliga se verkiesing gewen met parlementslid Collen Malatji as president. Dit is die eerste suksesvolle kongres van die jeugliga in agt jaar.

4. Die drol in die swemwater: Sewe strande om Umhlanga is weer gesluit nadat onverwerkte rioolvullis in die see beland het.

5. Die direkteur-generaal van justisie en korrektiewe dienste, Doctor Mashabane, word ondersoek nadat hy glo drie bewaarders van die Kgosi Mampuru-gevangenis opdrag gegee het om as lyfwagte vir hom te dien nadat die polisie sy versoek om lyfwagte geweier het.

6. Duisende mense het oraloor in Australië aan saamtrekke deelgeneem wat steun vir ’n referendum werf waar beslis gaan word of die grondwet verander moet word om ’n adviesraad vir inheemse mense in te stel.

7. Koning Misuzulu kaZwelithini van die Zoeloes is dalk vergiftig, sê sy tradisionele eerste minister, hoofman Mangosuthu Buthelezi. Die koning se senior aide, Douglas Xaba, wat by Buthelezi ingewoon het, is skielik dood en Buthelezi sê hy vermoed Xaba is ook vergiftig. ’n Woordvoerder van die koningshuis sê die koning is nie siek nie en nie in die hospitaal nie. ’n Woeste magstryd word tans deur van die koning se familielede teen hom gevoer.


Sonnige en koel weer word vir die grootste deel van die land voorspel. Ryp kan vanoggend in die suide van Gauteng, dele van Mpumalanga en die noordooste van die Oos-Kaap verwag word. Dis vanoggend mistig in die suide van die Oos-Kaap, suidweste van die Wes-Kaap en deels bewolk in die ooste van Mpumalanga vanmiddag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 20°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 18°C • Durban 23°C • Kimberley 21°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 20°C • Upington 26°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 24°C.


Max du Preez | Stem vir Cyril, kry vir Paul

Volgende jaar se algemene verkiesing, waarskynlik in Augustus, kan ’n draaipunt in ons geskiedenis wees. Suid-Afrika gaan daarna óf met ’n heropbou begin, of die vaart afgrond toe gaan versnel.

Heskiël 4 vers 6: God weet, só kan dit aangaan nie.

Soos dinge nou, net meer as ’n jaar weg, lyk, beplan die beleërde ANC weer om Cyril Ramaphosa as die Groot Vernuwer te gebruik om stemme te trek.

Dis nou as hy oor 13 maande nog president is.

Dit gaan nie so goed werk as met die laaste algemene verkiesing nie, toe Ramaphosa onder kiesers heelwat gewilder as die ANC self was.

Meningsopnames van die Social Research Foundation het bevind dat Ramaphosa se gewildheid onder Suid-Afrikaners nou op 40,7% staan, af van die 49% in Junie verlede jaar. Binne die ANC self het sy gewildheid die laaste jaar met 7% na 59% gedaal.

As hy wel die gesig op die ANC-plakkate gaan wees, bly dit steeds onwaarskynlik dat hy vir baie lank daarna nog president gaan wees. Dan is, shock and horror, Paul Mashatile ons voorland.

Ramaphosa het al die politieke kapitaal wat hy in Februarie 2018 gehad het, versmaai. Hy is die mees besluitelose, laissez-faire president wat demokratiese Suid-Afrika tot nog toe gehad het.

Image: ANGELA TUCK

Nóg ’n volle termyn vir Ramaphosa gaan rampspoedig wees. Ná wat ons die laaste week van Mashatile weet, gaan hy nog ’n groter ramp wees, ’n soort meer respektabele vorm van Zuma.

Twee kollegas wie se mening ek ag, het my die laaste paar dae hieroor laat nadink.

Justice Malala skryf in Business Day onder die opskrif “It’s not a repair job, it’s an overhaul South Africa needs” dat ons nie ná 2024 net met die stelsel kan peuter nie: “A return to excellence will need a sweeping, focused programme that digs deep into the innards of the governance system and remakes it. South Africa can’t fix what the ANC has broken. We must remake it.”

Barney Mthombothi skryf gister in die Sunday Times dat Ramaphosa nóú moet loop, nie ná die verkiesing nie. “A vote for Ramaphosa next year could quickly result in Mashatile becoming president, with Julius Malema as his deputy. If that’s to be our fate, we need to know it now before we go to the polls. Knowing who or what we’re voting for before we make our cross is crucial. Ramaphosa and his colleagues owe it to the country to act accordingly.

“He should not stick around to con the electorate yet again. Let’s deal with the devil in plain sight.”

Ek stem saam.


Stockholm nie net die hoofstad van Swede

Ek vang myself gister dat ek amper-amper lus is en spring terug op die Thuma Mina-bus.

Elke oggend wanneer ek wakker word, kyk ek gou wat die beurtkragskedule vir die dag is. Hier waar ek bly, was ons ’n hele week lank net twee uur sonder elektrisiteit. Wat ’n bonus. Vyf sterretjies vir Eskom.

Ek is dankbaar en trots as daar water in my krane is en die vullislorrie kom op skedule in my straat aan. Ek ry ’n draai om die slaggat op my weeklikse roete en dink, ag, dit kon baie erger gewees het.

Ek kyk na die woeste tonele op televisie oor die gewelddadige, vernielende proteste in Frankryk nadat ’n polisieman ’n tienderjarige sonder provokasie doodgeskiet het.

Toe ons twee jaar gelede plundering en anargie in veral KZN ervaar het, het die Westerse wêreld gesê dit dui op gevaarlike onstabiliteit en het hulle burgers gewaarsku om nie hierheen te reis nie.

Ons politici lyk nie veel vrotter as die lot in Trump-Amerika en Johnson-Brittanje nie, dink ek stilletjies.

Jy sien, sê ek vir myself, dit gaan maar oral sleg; die wêreld is ’n omgekrapte plek. Ons moet dalk nie so hard op onsself wees hier aan die suidpunt nie.

Dis nou presies wat ’n mens Stockholm-sindroom noem.

Dié verskynsel het sy oorsprong in die vreemde gedrag van gyselaars tydens ’n uitgerekte bankroof in die Sweedse hoofstad in 1973 waar hulle die rowers begin vertrou en ondersteun het.

Dit word nou algemeen gebruik vir die sielkundige verdedigingsmeganisme om trauma te hanteer. Mense ontwikkel positiewe gevoelens, selfs toegeneentheid, met dié wat hulle gevange hou of mishandel. Dis ’n coping mechanism.

Ly die miljoene swart landgenote wat meestal weens ANC-wanbestuur en korrupsie in haglike omstandighede leef en werkloos is, maar steeds vir die ANC stem, dalk aan ’n akute vorm van Stockholm-sindroom?

Dit is natuurlik waar dat ons nie die enigste land met ’n vrot regering, verkrummelende infrastruktuur en erge armoede is nie.

Dit is ook so dat daar sogenaamde Eerste Wêreldlande is met weergawes van ons eie Mbalulas, Nxesi’s, Zulu’s, Malemas en selfs Zumas.

Ons moet ons seëninge inderdaad tel en nie ’n selfbejammerende moangat-nasie word nie.

Maar as ons die verval en wanbestuur in Suid-Afrika as normaal of onafwendbaar begin aanvaar, gaan dit net erger raak.

Image: ANGELA TUCK

Ek het die ander dag ’n Vrye Weekblad-leser wat die ANC-regering aangeprys het, teen die “soft bigotry of lowered expectations” gewaarsku – waar jy mindere verwagtings van iemand of ’n groep mense het weens hulle etniese of ander status.

Ons nasionale rugby- en krieketspanne is meestal in die topvyf in die wêreld. Daar is baie meer sokker- as rugby- en krieketspelers in die land. Maar Bafana Bafana staan op nommer 12 in Afrika en 67 in die wêreld. Kleiner, armer lande soos Marokko, Colombia, Senegal, Ecuador, Tunisië en Kameroen is almal in die top-50; selfs ’n verarmde, sukkelende staat soos Burkina Faso is 12 plekke hoër as Bafana Bafana op die ranglys.

Die enigste verklaring is patetiese bestuur van die sport, en visieloosheid. En ons aanvaar dit maar en borrel oor van patriotisme as Bafana vir Lesotho 1-0 wen.

Ons blameer die swak onderwysuitslae op apartheid en armoede, maar daar is ’n dosyn of so skole in van die heel armste gemeenskappe in ons land wat uitstekend vaar omdat daar ’n ywerige, besielende skoolhoof, onderwysers en ouervereniging is.

Daar is ’n hele klomp staatshospitale en klinieke, en nie net in die Wes-Kaap nie, wat baie goeie, menswaardige diens aan pasiënte verskaf. Maar die grootste gros, met dieselfde begrotings en hulpmiddele as die suksesvolles, is afgryslike plekke.

Laas week was daar weer nuus van nóg ’n eens suksesvolle plaas of landbou-onderneming wat weens wanbestuur ná die oordrag aan opkomende boere ineengestort het. Die ANC dreig bloot om méér kommersiële boere van die grond af te dwing.

Kortom, die ANC het lankal uit verskonings geraak om hulle mislukkings op die verlede en armoede te blameer.

Suid-Afrika kan ’n baie meer suksesvolle, funksionerende land wees sonder dat ons die middelklas en die rykes meer belasting laat betaal of by die Weste gaan bakhand staan.

Elke amptenaar moet net sy/haar werk goed doen, bestuurders moet behoorlik bestuur en die regerings op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak moet sorg dat dit gebeur. En ophou mors en steel.

Ons moet hulle almal beter op hulle tone hou, en nie net met ’n gekerm op Facebook of Twitter of om die braaivleisvuur nie.

Ons het nie ’n revolusie nodig om Suid-Afrika ’n baie beter plek vir almal te maak nie. Net eerlike, harde werk.

Don’t get mad, get even.


I Married You 

I married you
for all the wrong reasons,
charmed by your dangerous family history,
by the innocent muscles, bulging
like hidden weapons under your shirt,
by your naive ties, the colors
of painted scraps of sunset.

I was charmed too
by your assumptions
about me: my serenity –
that mirror waiting to be cracked,
my flashy acrobatics with knives
in the kitchen.
How wrong we both were
about each other,
and how happy we have been.

– Linda Pastan


Ons stap die pad al lank, my lam. Kom luister hoe twee strydrosse en kamerade klets oor die ou dae, en oor vandag. Het jy al bespreek vir ons boekefees op Clarens? Kliek hier vir Quicket en hier vir die volledige program. Bespreek sommer nou verblyf ook, want die dorp raak vol! Sien jou daar in 'n jas wat netjies pas.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.