Koeksnyers en bloedsuiers en ander geheime wapens

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Koeksnyers en bloedsuiers en ander geheime wapens

DEBORAH STEINMAIR sê poësie is ’n geheime wapen wat revolusies kan laat opvlam; 'n dwelm wat benewel. WILLEM KEMPEN wonder oor wat dit beteken om te behoort. En daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 04 Julie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Die 21-jarige Marioné Fourie het by die La Chaux-de-Fonds-byeenkoms in Switserland ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord in die 100 m-hekkies vir vroue opgestel: 12,55 s. Haar wentyd is 0,21 s vinniger as die rekord wat haar landgenoot Taylon Bieldt vier weke gelede in Italië opgestel het.

2. Loodvrye petrol (95 oktaan) word môre 17c per liter en 93 oktaan 24c per liter goedkoper. Dieselpryse sal met tussen 12c en 18c per liter styg, afhangende van die swaelinhoud.

3. Die Gautengse hooggeregshof het ten gunste van die amaBhungane-ondersoekeenheid beslis en ’n bevel voorlopig tersyde gestel wat joernaliste verhinder het om dokumente te gebruik wat deur ’n fluitjieblaser laat uitlek is in verslaggewing oor die Moti-groep en sy stigter, Zunaid Moti. Die Moti-groep is ook gelas om die koste van vier van die respondente te betaal.

4. Suid-Afrika het in 2020 laas die verkoop van enige ammunisie of wapentuig aan Rusland gemagtig, het Mondli Gungubele, minister van digitale kommunikasie en ook voorsitter van die nasionale beheerkomitee oor konvensionele wapens (NCACC), gesê.

5. Die ANC-jeugliga wil meer jong wit mense in sy geledere hê, het Olga Seate, pas verkose tweede adjunk-sekretaris-generaal van die organisasie, oor die min lede van minderheidsgroepe in die jeugliga gesê.

6. Nuwe belastings sal nodig wees om die Nasionale Gesondheidsversekering te finansier, blyk uit ’n verslag deur Carol Paton van News24. Die bykomende geld sal waarskynlik deur ’n betaalstaatbelasting en ’n bobelasting op inkomste geïn word.

7. Van bloedsuiers gepraat: Bosluise benut waarskynlik statiese elektrisiteit om op gasheerdiere en -mense te beland en dan vas te klou, luidens ’n navorsingsverslag wat in die vaktydskrif Current Biology gepubliseer is.


’n Kouefront sal na verwagting vanmiddag oor die Oos-Kaap begin inbeweeg en bewolkte toestande met moontlike buie tot gevolg hê. Die Wes-Kaap is ook deels bewolk met moontlike reën. Dis ook deels bewolk in Limpopo en Noordwes, asook Gauteng en KwaZulu-Natal vanaand. Mis kan vanoggend in dele van die Oos-Kaap en Limpopo verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 16°C • Durban 24°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 21°C • Upington 26°C • Gqeberha 16°C • Oos-Londen 17°C.


Willem Kempen | Sodat meer Maties welkom kan voel

Kort van die lank oor prof. Wim de Villiers: Hy het ’n “betreurenswaardige oordeelsfout” begaan en ’n “gebrek aan etiese insig” getoon toe hy sy diskresie gebruik het om aan twee van sy vrou se nefies toelating tot mediese studies op Maties te gee. Maar dit was nie oneerlik nie en hy het geen reëls of beleid oortree nie; dus bly hy aan in sy pos as die Universiteit Stellenbosch se visekanselier en rektor. Die apologie wat hy reeds aan die universiteitsraad gebied het, gaan openbaar gemaak word en hy sal dalk ook sy jaarlikse prestasiebonus kwyt wees.

Mens sou kon gehoop het dié bevinding van die ondersoekpaneel na De Villiers se optrede is die einde van die saak en dat almal nou kan aanbeweeg, maar ons weet ook dat die hele affêre meer te doen het met persoonlikhede wat agter die skerms baklei oor groter sake soos die soort universiteit waarheen almal op pad is (en dalk ook oor ’n paar veel intiemer geveggies). Daardie deel van die stryd is nie verby nie.

Die grootste ligpunt in die sage is dat danksy die SUNewConvoRise-veldtog niemand voortaan meer die konvokasie sal kan afmaak as ’n apatiese massa van wie ’n handjievol elke nou en dan die moeite doen om oor iets te stem nie. En daarmee saam het die konvokasie ook ’n forum geword waar ’n baie belangrike ding kan gebeur: dat die stemme gehoor word en ernstig opgeneem word van almal wat sê: Waarom is dit dat sommige van ons nog steeds nie op Stellenbosch welkom voel nie, dat ons nie hier tuis voel nie, dat ons nie voel of ons behóórt nie?

As jy nog nie het nie, gaan lees gerus Anneliese Burgess se onderhoud met vier swart alumni van die US. Dan besef jy weer dat transformasie – afgesien van jou definisie daarvan – gaan oor regte mense wat die meeste probeer maak van die geleenthede wat oor hulle pad kom, en waarvan die kans om ’n Matie te word sekerlik een van die grootstes is. En sonder mense van dié gehalte gaan die US sukkel om op die pad van uitnemendheid te bly.


Image: ANGELA TUCK

’n Geheime wapen teen die alledaagse

Uitgewers publiseer al hoe minder digbundels, want dit verkoop so treurig. Selfs ’n oplaag van 500 is moeilik om van die hand te sit. Ons lees te min poësie. Ek weet nie hoekom nie, want dis ’n geheime wapen wat revolusies kan laat opvlam, ’n dwelm wat benewel. Dis subversief, gevaarlik en hoogs verslawend. Almal kla dat hulle nie tyd kry om te lees nie. Gedigte is kort en kan in teetyd of op die trein ingeneem word. Vensters waai oop in jou kop en jou dag verkry die ritme van ’n sensuele skuifeldans.

Ek het onlangs oor Tom Dreyer se Nou in infrarooi geskryf wat my oorrompel het. Nog ’n klein bundel met groot skop het kom aantree op die rak: Pieter Odendaal se Ontaard. Pieter het van jongs af aandag getrek. Hierdie is sy tweede bundel. Sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, handel oor die politiek van verskil en uiteindelik vra hy die vraag: Re mang? Wie is ons? En wie is hulle?

Ontaard is meer persoonlik, en ook betrokke. Hy skryf oor sy voorsaat, ’n VOC-soldaat wat op ’n skip hier aangeland het: “’n ontmoeting van waters is ek / ’n samevloei van sout en vars / waar oestervangers meeue mense / deur getye stroom ...”

Hy dig oor sy tweelingbroer wat in die baarmoeder dood is: “al die heilige klippe weet van jou / en jou ma en broer wat jou nooit sien mens word het nie.”

Besonder aangrypend vir my is die gedig “Scenes from a gay childhood” wat hard moker en só eindig:

ek hol terug huis toe
my tas sny deur my sleutelbene
iemand het moffie in die laaste klas geproes
ek vra vir jesus om vergifnis
fokken kak! fokken kak fok fokken kaaaak!          skree ek
vir die eerste keer in my lewe

die wind slinger my krete
en die seuns se frozen harte
in die straat vol leë bome af
waar jy my nie kom soek nie

ek trek die streepdas styf om my nek      
          lag van die huil
vir die vryheid in my mond

Sy gedigte is grinterig, oor onmooi dinge soos mynhope, en gestroop, eenvoudig, vol gravitas en ’n gelate ennui, soos:

dit is winter of somer
alles gebeur gelyk
en kruie vir ewig aan

ons bly op ’n plot
vol hadidas en hase
tamaties, aarbeie en uie

Die digter scroll dating apps op soek na muses:

ek message ’n kwatryn vol klanke en beelde
groen middae, sypaadjies, stof en sweet
slaapkamervensters knetter in die wind
lywe commune tussen lakens in die goue uur

ek stort en was die droewe dag weg
wag vir my muse om sy location te stuur

Daar is verse oor reise en intieme ontmoetings met vreemdelinge, en verlange:

gisteraand het ek my afgedroog
en kaal in die badkamer bly staan
want die man in die bed was nie jy nie
en ek was nie sy eks nie

“as ek opstaan voor ek sterf” eindig só:

terugstap huis toe
onder die ver blou duvet inkruip
en my skelet by die hitte
van jou vel ontdooi

In “die sorgvryste droom oor pa in jare” daal ’n skare hadidas, flaminke, papegaaie neer:

hulle land soos ’n kweer kwilt om ons
vou hul vlerke saam soos tuiskoms

Hier is lieflike, sterk homo-erotiese verse en gedigte oor ontheemding, verlies en verlange. Dit maak ’n geweldige aanspraak. Koop die bundel.


hasepad
vir X

Jy’t die apokalips voor die res van ons gesien
en koekgesny deur die stil gras huis toe

– Pieter Odendaal

(Uit: Ontaard)

♦ VWB ♦


Jou lewe het poësie nodig, want die alledaagse dreun al op een noot voort. Kom kuier saam by ons Clarens-boekefees en kom luister hoe vier digters hulle verse voorlees. Natuurlik is daar ook, die Saterdagmiddag, die een en enigste Antjie Krog. Kliek hier vir die program.

Bespreek sommer 'n naweekkaartjie teen R600 by Quicket.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.