Slyp ’n byl vir plekke waar Jan Taks en Bheki Cele nie kan uitkom

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Slyp ’n byl vir plekke waar Jan Taks en Bheki Cele nie kan uitkom

DEBORAH STEINMAIR bulder uit desperaatheid. WILLEM KEMPEN wonder waarom die minister van polisie nooit reguit vir die land wil sê wat fout is nie. En daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 11 Julie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Dit het gister vir die eerste keer sedert 2012 in dele van Johannesburg gesneeu. Ook elders in die land het die huidige kouefront temperature laat val, en Eskom het die gepaardgaande hoër vraag na elektrisiteit die skuld gegee vir ’n herinstelling van fase 4-beurtkrag.

2. Rand Water sê die sneeuval in Johannesburg sal nie die beplande wateronderbreking keer wat na verwagting vandag om 19:00 sal begin en Donderdag om 15:00 sal eindig nie.

3. Die Suid-Afrikaanse Poskantoor is gister amptelik in sakeredding geplaas. Die sakereddingsproses moet onmiddellik begin, het die hooggeregshof in Pretoria beslis.

4. Die staatsbeheerde onlusteversekeraar Sasria het gister in die bekendstelling van sy dokumentêre fliek The Unrest in Sandton gesê dis net die privaat sektor se hulp en leiding wat ’n herhaling van die gebeure van Julie 2021 sal kan voorkom. Topbestuurslede van Sasria is in die fliek hoogs krities oor die regering se hantering van die onluste.

5. Inwoners van Kaapstad sukkel om die stad se 17,6% duurder elektrisiteit te hanteer wat op 1 Julie in werking getree het, het News24 berig.

6. Meer as 180 infrastruktuur- en konstruksieprojekte, wat na raming R63 biljoen werd is, moes al pogings tot afpersing deur die “konstruksie-mafia” in Suid-Afrika trotseer, het Anthony Afordofe, president van die Association of Construction Project Managers, tydens ’n webinaar gesê wat onder andere ook deur Sihle Zikalala, minister van openbare werke en infrastruktuur, bygewoon is.

7. Vroue sal vir die eerste keer in sokkerstadions toegelaat word wanneer Iran se topliga eersdaags begin, het die hoof van die land se sokkerfederasie gesê.


Die koue toestande duur voort, veral in die Oos-Kaap, waar dit deels bewolk is met ryp vanoggend in sommige dele. Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap kan ook vanoggend ryp verwag. Oggendmis kan in die Wes- en Noord-Kaap en Mpumalanga voorkom. Geïsoleerde buie word in die Laeveld en dele van Limpopo verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 15°C • Johannesburg 11°C • Mahikeng 17°C • Mbombela 15°C • Kaapstad 16°C • Durban 18°C • Kimberley 15°C • Bloemfontein 14°C • Polokwane 15°C • Upington 19°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 18°C.


Willem Kempen | Dis ‘amper asof’ iemand in beheer van die land is

Kan iemand nog ’n woord glo wat uit Bheki Cele se mond kom?

Nou het hy weer geweet te vertel die vragmotors wat Saterdagaand in Van Reenenspas op die N3 aan die brand gesteek is, was die gevolg van “suiwer misdadigheid”. En die polisie is “warm op die spoor” van die skuldiges.

Nie een van die twee is waar nie. Sy gewharra-wharra oor die rol van “mededingende vervoermaatskappye” is reeds ’n erkenning dat dit nie net misdadigheid was nie, en boonop was daar minder as twee dae later ’n soortgelyke voorval by Emgwenya (Waterval-Boven). Dit alles presies twee jaar nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg op 9 Julie 2021 die uitspraak oor Jacob Zuma se skuldigbevinding aan minagting van die hof en tronkstraf bekragtig het, wat die vonk was vir die geweld en vernietiging in die dae daarna.

Die N3-“misdadigers” het op presies die regte tyd op presies die regte plek toegeslaan om die maksimum ekonomiese ontwrigting te veroorsaak. Hulle seker gemaak niemand word beseer nie en hulle het niemand van enigiets beroof nie. Ondanks al die kameras en mikrofone en die voltydse teenwoordigheid van die polisie en verkeerspolisie oral op die N3, en al is daar eintlik net twee paaie waarmee die brandstigters kon wegkom, is hulle nie aangekeer nie. As hulle nie binne ’n uur of drie ná die voorval in hegtenis geneem is nie, gaan dit waarskynlik nooit gebeur nie.

Maar dis nou maar soos ons regering op enige krisis reageer: ontken, mislei, onderspeel. Soos met Julie 2021, soos met elke ander krisis met die land se padvervoerbedryf, soos met die onlangse hantering van die agterstande by die polisie se forensiese laboratoriums.

Oor die N3-voorval het ook ons president sy gebruiklike rympie opgesê:

Cyril Ramaphosa is “concerned” oor die “negative impact on our economy”.

“... it’s almost like economic sabotage”.

“The intelligence agencies are going to be giving me a report on that.”

Dis ’n ope vraag of ons intelligensieagentskappe deesdae enigsins tot beter in staat is as ná Julie 2021, toe daar kamtig ’n lang lys van samesweerders was wat aan die pen sou ry.

Die werklikheid is dat die vonnis wat Mbuso Moloi Vrydag in die Durbanse streekhof gekry het, tot dusver een van die hoogtepunte van ons strafregstelsel se reaksie op die onluste en stropery was. Ja, twee jaar nadat meer as 350 mense dood is, biljoene rande se skade aan die ekonomie aangerig is en duisende mense hulle werk verloor het, het ons ’n arme drommel gestraf gekry wat sy misdaad amper per ongeluk pleeg het.

Moloi se grootste fout was dat hy tot die middelklas behoort, wat beteken hy het sy beskeie strooptog by sy plaaslike Woolworths ten aanskoue van werkende sekuriteitskameras uitgevoer en sy mandjie met buit agterin sy Mercedes gelaai voordat hy rustig weggery het sonder om te betaal. En toe het derduisende mense boonop die video daarvan op sosiale media versprei sodat hy geïdentifiseer kon word en nou oplaas suksesvol vervolg is. En met ’n opgeskorte vonnis gestraf is.

Vat so, jou booswig!


Image: ANGELA TUCK

Sit my terug in skubbe

Ek het Walden gelees toe ek baie jonk was. Toe ek nog gedroom het van vryheid en ’n ongebonde lewe gebou op my eie hoë beginsels. Ek het die slapbandboek sien uitsteek by die rugsak van ’n Oostenrykse girl wat ek bewonder het. Dit was in Duits en ek het gedink dit verwys na woude – ek was nie ver verkeerd nie.

Die Amerikaner Henry Thoreau het vir twee jaar, twee maande en twee dae in ’n houthut gaan bly wat hy met sy eie hande gemaak het, in die wildernis, ver van alles en almal, naby ’n diep dam. Is ’n pond in Afrikaans ’n dam? Vlei klink darem so vlak. Dit was darem op die eiendom van sy vriend Ralph Waldo Emerson. Hy het heeltemal onder die radar gelewe, voordat die radar nog so verweef en alomteenwoordig was soos dit vandag is. Sonder elektrisiteit of lopende water. Hy het plante en water bestudeer en verhewe gedagtes so op sy eentjie neergeskryf.

Ek het dit lanklaas gelees, maar ek onthou hy het gesê “most men lead lives of quiet desperation”. Slegs deur na aan die natuur te leef, het hy geglo, kan jy jou slapende self wakker maak en waarlik verlig word. Omdat ek graag klippe versamel, onthou ek sy uitspraak dat klippe in die water of in die veld lieflik is, maar sodra jy hulle binnenshuis uitstal, word hulle dof en vergader stof.

Hy het nog ’n boek geskryf, Civil Disobedience, en dis soms saam met Walden uitgegee: Walden and Civil Disobedience. Hierdie term resoneer by my, dit klink asof ’n mens beskaafd ongehoorsaam is. Natuurlik verwys dit na burgerlike ongehoorsaamheid, soos om te weier om belasting te betaal.

Kan ’n mens nog van die rotwieletjie afklim en ver van die radar lewe, ongekonnekteerd? Ek vermoed dit sal onder beskermde omstandighede moet wees, soos op ’n vriend se plaas. En waarskynlik sal die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), OUTsurance en Google Earth jou steeds opspoor. Tog is dit miskien verkieslik bo ’n uitsiglose sel in die tjoekie.

Daarvan droom ek: om op te staan wanneer dit lig word, vuur te maak, kos te versamel, water aan te dra en te gaan slaap wanneer dit donker word. Om ure lank na die vlamme en in die dieptes te sit en staar en elegante gedagtes te formuleer wat jy in ’n sierlike notaboek neerpen.

Image: ANGELA TUCK

Hoekom het ek weer aan Walden gedink? Omdat die SAID my laat weet het ek skuld hulle meer as R100 000. Hulle beweer dat daar geen bewys is dat hulle die belasting wat my vorige werkgewer maandeliks van my salaris afgetrek het, ontvang het nie. Dis glo my probleem en die bewyslas en skuldlas lê by my.

Sulke dinge wil my gillend laat weghardloop uit die sogenaamde beskawing. Sit my terug in skubbe, soos die Brixton Moord en Roof Orkes gesing het. My desperaatheid is nie stom nie, maar bulderend. Gee aan ’n byl dat ek daai houthuisie begin bou.

Twee dinge wat my dié week laat beter voel het oor die lewe:

Deon Meyer lees vir sy papegaai Nathan Trantraal se rubriek voor

En een lieflike sin van Kerneels Breytenbach:

Waaragtig goeie satires het die manier om jou verby die oppervlakkigheid van die menslike bestaan te laat sien en by jou ’n dieper hartseer te wek vir die maniere waarop mense hul lewens verbrou, en die aarde daarmee saam.


1. in memoriam m.

so 'n dag was bestem Magdalena
vir ons om jou graf toe te dra
en te bêre   koud en bleek en nat
afskuwelik   soos die verloopte kat
moes ons oor die plasse skugter
trap   kat en reën het ons ontnugter
beteuterd en klam   misrabel
van die fabel

– T.T. Cloete

(Uit: Allotroop)


Image: ANGELA TUCK

Waar kom skrywers aan stories? Suig hulle dit uit hulle duim? Dikwels het stories wortels in die werklikheid, met versinsel daarby. Ons noem dit outofiksie. Kom luister op Clarens hoe ons boekeredakteur gesels met twee skrywers wat bande met die dorp het en wie se verhale elemente van outofiksie het. 

Kliek hier vir die volle program.

Bespreek sommer 'n naweekkaartjie teen R600 by Quicket.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.