Van stryk gebring deur vals viole en die ware Jacob

WOENSDAG MET WILLEM

Van stryk gebring deur vals viole en die ware Jacob

WILLEM KEMPEN vat die spoor van die Bothaville-Stradivarius, en wonder oor die renosters wat deesdae oral opduik. Soos gebruiklik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 12 Julie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre


1. Die Europese Hof vir Menseregte het gister beslis dat daar teen die dubbele Suid-Afrikaanse Olimpiese 800 m-kampioen Caster Semenya gediskrimineer is in haar appèl teen internasionale atletiekregulasies oor vroueatlete met natuurlik hoë testosteroonvlakke. Dit word gesien as ’n tegniese oorwinning en beteken nie dat Semenya spoedig weer sal mag deelneem nie, tensy sy medikasie neem wat haar testosteroonvlakke sal verminder, iets wat sy om gesondheidsredes weier om te doen.

2. Nog twee vragmotors is Maandagaand aan die brand gesteek, dié keer op die N2 naby Empangeni in KZN. Dit bring die aantal vragmotors wat die afgelope drie dae in dié provinsie, Mpumalanga en Limpopo aan die brand gesteek is op 16 te staan.

3. Die Nongoma- plaaslike munisipaliteit se nuutverkose burgemeester, Clifford Ndabandaba, het glo oor die naweek twee ampsmotors se blou ligte gebruik om sy nuwe pos te vier, het News24 berig. Ndabandaba ontken dit, ondanks videomateriaal oor die voorval wat wyd in omloop is.

4. Die heropende geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis Ernest Moabi Dipale is in die hooggeregshof in Johannesburg afgehandel. Regter Motsamai Makume het bevind dat Dipale se dood veroorsaak is deur lede van die destydse veiligheidspolisie wat by John Vorsterplein gestasioneer was.

5. Die Amerikaanse handels-en-ontwikkelingsagentskap (USTDA) het $1,3 miljoen (R24 miljoen) aan Eskom gegee om die jongste tegnologieë te ondersoek om die uitbreiding en versterking van Suid-Afrika se elektrisiteitsnetwerk moontlik te maak, meer groenkrag te benut en beurtkrag te verminder.

6. Donald Trump se regsverteenwoordigers het gevra dat die hofsaak oor die geklassifiseerde dokumente by Mar-a-Lago onbepaald uitgestel word, of minstens dat dit eers ná volgende jaar se presidensiële verkiesing plaasvind. Die departement van justisie wil daarenteen hê die saak moet in Desember begin.

7. Eienaars van onder meer sportnutsvoertuie (SUV’s) gaan van volgende jaar af heelwat meer vir parkering in Parys betaal as deel van die Franse hoofstad se planne om besoedeling te bekamp. Voertuie se grootte en gewig sal in ag geneem word wanneer die nuwe regulasies op 1 Januarie 2024 in werking tree.


’n Waarskuwing is uitgereik oor ’n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap. Miskolle sal vanoggend in Gauteng en dele van Mpumalanga en die Vrystaat voorkom. Gauteng en Noordwes sal later deels bewolk wees. Buie kan in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwag word. Dis vandag koud tot koel in die Wes- en Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 17°C • Johannesburg 15°C • Mahikeng 20°C • Mbombela 16°C • Bloemfontein 18°C • Polokwane 16°C • Kimberley 16°C • Upington 22°C • Kaapstad 19°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 20°C • Durban 20°C.


Willem Kempen | Renosters, renosters en nogmaals renosters

Moenie nou kyk nie, maar daar is ’n sterk moontlikheid dat almal om ons besig is om in renosters te verander. Of reeds het. Ons self ook.

Renosters, soos in die Frans-Roemeense dramaturg Eugène Ionesco se absurde (of is dit?) toneelstuk met dieselfde naam. Dié speel af (of dalk nie) in ’n klein Franse dorpie waar die inwoners gaandeweg almal in renosters verander. Die temas is min of meer oorgawe of verset teen konformisme en kuddementaliteit en so aan (of dalk gaan dit net oor renosters, wie weet).

Die moontlikheid van grootskaalse verrenosterifisering is een van die min omvattende verklarings vir alles wat om ons in Suid-Afrika afspeel. Met die skynbare uitsondering van ons regering is almal op hulle senuwees dat duistere magte aan die beplan is vir ’n herhaling van die afgryse van Julie 2021.

Niks het verander nie; hoekom sal dit dan nou nié weer gebeur nie? Buitelandse beleggers is selfs banger as voorheen om hier te kom investeer. Die misdadigers en saboteurs is selfs beter georganiseer; die polisie selfs swakker. Meer mense het nie werk of blyplek nie.

In ’n land met ’n oorvloed steenkool hou Eskom die ligte (soort van) aan deur elke uur van die dag diesel ten duurste te verbrand. Ons treinspoornetwerk is so verniel dat omtrent al ons goedere per vragmotor van en na die hawens vervoer moet word, maar nou word hulle ook wéér geteiken. En tussendeur dit alles handhaaf ons regering ’n buitelandse beleid wat lynreg indruis teen alles wat in ons eie beste ekonomiese belang is.

Moontlik die mees bisarre nuus van die afgelope week is dat Jacob Zuma iets gekry het om hom tussen hofsake mee besig te hou terwyl hy hardnekkig veg teen die onvoorspelbare ongesteldheid wat hom van tyd tot tyd oorval. Hy is naamlik ’n raadslid van die Belarus Africa Foreign Trade Association (Bafta), wat vandeesweek twee miljoen koolstofkrediete aan ’n nuwe Zimbabwiese koolstofbeurs geskenk het. Nou gons dit oor die oorsprong van dié krediete. Die omgewingsgroep Carbon Pulse noem dit “bedenklik”, en word as volg deur Carol Paton van News24 daaroor aangehaal:

“Considering Russia’s and Belarus’ close ties, observers said it would not be surprising if these 2 million bequeathed ERUs [emission reduction units] were of Russian origin, as these credits would be difficult to sell anywhere else due to their dubious quality as well as international sanctions against Russia because of its invasion of Ukraine.”

Is hier nogmaals ’n internasionale gekonkel aan die gang, of ons is almal bloot op volle vaart besig om renosters te word? Of albei?


Op die spoor van die suiwerste note langs die Valsrivier

Dominique Botha vertel in verlede week se uitgawe die pragtige verhaal van Abe Steinberg, die “laaste Jood van Bothaville" wat in die Depressiejare stoksielalleen daar aangekom het om dié Vrystaatse dorpie se skoenmaker te word.

En hoe hy saans in die agterjaart viool gespeel het: 

Oor die snare van sy instrument het die strykstok in Abe se hand die staf van Aäron geword, waaruit amandels en blomme bloei. Wat water uit klip kon slaan sodat die mense mag drink. ’n Sussende stroom van vredige verdriet het oor die dorp gespoel soos die geheime geskiedenis van angeliere ...

Dominique skryf hoe daar jare ná Abe se dood 'n brief opdaag van ene William Steinberg, wat sê Abe was sy broer, dat hy toe pas eers van sy dood verneem het, en dat die viool, vervaardig deur Antonio Stradivari van Cremona in Italië, asseblief na hom aangestuur moet word. Wat toe gedoen is, en eers nóg jare later is besef hoe waardevol dié instrument dalk was.

Maar kon 'n skoenmaker van Bothaville regtig jare lank een van die wêreld se waardevolste en mees gesogte musiekinstrumente in sy besit gehad het? Dalk sonder om dit self te weet?

Die eerste leidraad is dat William Steinberg klaarblyklik onder die indruk was dat sy broer se instrument wel 'n egte Stradivarius was. En William Steinberg sou nie vir 'n goedkoop namaaksel val nie: Hy was 'n internasionaal gerekende dirigent en self 'n bedrewe violis. Sy doodsberig in The New York Times op 17 Mei 1978 noem dat hy net meer as twee weke tevore nog die New Yorkse Filharmoniese Orkes in 'n privaat konsert gedirigeer het.

Nóg die doodsberig nóg William se inskrywing op Wikipedia noem iets van 'n broer of suster. Laasgenoemde sê wel “the Steinbergs" het in 1936 uit Nazi-Duitsland gevlug en hulle in Palestina gaan vestig in die Britse mandaatgebied wat ná die Tweede Wêreldoorlog Israel sou word. William het later sy loopbaan as dirigent in die VSA gaan voortsit, maar ek kry nêrens enige verwysing na 'n broer en suster wat hulle in Suid-Afrika sou kom tuismaak het nie.

Die volgende vraag is of daar enige boekstawing is dat William Steinberg ooit 'n Stradivarius besit het. Daar is nie, maar dit beteken nie noodwendig iets nie omdat soveel Strad-eienaars verkies om dit stil te hou uit vrees vir diefstal of ongewenste publisiteit. Baie van die instrumente word deur trusts of museums of privaat versamelaars besit, wat hulle dan weer by geleentheid aan kunstenaars beskikbaar stel wat volgens hulle waardig is om dit te bespeel. Wikipedia noem altesame 282 Stradivarius-instrumente waarvan die geskiedenis bekend is, maar oor verskeie van hulle is daar twyfel oor hulle egtheid. Kenners het selfs al gewonder of moontlik die beroemdste en waardevolste van hulle almal, die sogenaamde Messias-Stradivarius wat in Oxford se Ashmolean Museum gehou word, die ware Jakob is.

My goeie vriend Piet Koornhof, self 'n bekende konsertviolis en professor in viool aan die Noordwes-Universiteit, sê daar is ondanks vele soektogte oor die jare geen onbetwiste rekord van 'n Stradivarius wat ooit deur 'n Suid-Afrikaner besit is nie. Die “Strad" wat destyds deur 'n weldoener aan die befaamde Johannesburgse vioolonderwyser prof. Alan Solomon geleen is, het later geblyk 'n kopie te wees wat eintlik gemaak is deur Giovanni Pressenda, die “Stradivari van die 19de eeu" – sonder twyfel 'n uitmuntende instrument in eie reg, maar eers twee eeue later vervaardig.

Tot vandag toe maak die beste vioolmakers soms kopieë van die beroemdste instrumente as huldeblyk aan Amati, Stradivari, Guarneri, Bergonzi, Guadagnini of ander meesters. (Piet speel gewoonlik op 'n eietydse viool van Boris Sverdlik, wie se werkswinkel in einste Cremona is.) Ander viole is weer eenvoudig namaaksels, soms uitstekend en soms van minderwaardige gehalte. En dikwels word enigiets wat ouer as die res lyk sommer 'n Stradivarius genoem, al is daar geen gronde voor nie. Die vorige keer toe ek by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein was, was daar byvoorbeeld 'n bra onindrukwekkende ou viool wat agter glas as 'n “Stradivarius" uitgestal is. As dit waar was, dan sit die museum daar met iets wat tiene miljoene dollar werd kan wees.

Op die lyste van die wêreld se waardevolste viole is daar gewoonlik ook verskeie deur Guarneri, waaronder Il Cannone, “Die Kanon", die instrument waarop die wêreld se oorspronklike bad boy rock star, Niccolò Paganini, sy lewe lank gespeel het nadat hy sy Amati op die dobbeltafel verloor het.

Die ander viool wat soms die lyste haal, is nie 'n Stradivarius of 'n Guarnerius nie, maar 'n relatief beskeie instrument wat behoort het aan Wallace Hartley, die leier van die orkes wat op die dek van die Titanic aanhou speel het terwyl die skip onder die ysige waters van die Noord-Atlantiese Oseaan verdwyn het. Hartley se lyk is twee weke later gevind met sy musiektas nog aan hom vasgemaak. Die tas het sy viool feitlik ongeskonde bewaar.

Nou ja, dit het sekerlik nog nooit vir enigiemand saak gemaak dat die laaste klanke wat aan boord van daardie gedoemde skip gehoor is, nie van 'n Stradivarius afkomstig was nie ...


The Music of Beauty

To me thy lips are mute, but when I gaze
Upon thee in thy perfect loveliness,—
No trait that should not be—no lineament
To jar with the exquisite harmony
Of Beauty’s music, breathing to the eyes,
I pity those who think they pity me;
Who drink the tide that gushes from thy lips
Unconscious of its sweets, as if they were
E’en as I am—and turn their marble eyes
Upon thy loveliness, without the thrill
That maddens me with joy’s delirium.

– James Nack


Oor minder as twee weke kuier ons in Clarens. Onthou om verblyf te bespreek en pak jou jas en serp in. Kliek hier om kaartjies te bespreek.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.