Laat dié wat praat, stilbly en die stilles praat

DONDERDAG MET MERCY

Laat dié wat praat, stilbly en die stilles praat

Verbeel jou daar was ’n nasionale dag van stilte, sê MERCY KANNEMEYER. Stilte gaan egter nie die stank laat weggaan wat hang oor adj.pres. Paul Mashatile se weelderige leefstyl nie, meen WILLEM KEMPEN. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 13 Julie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Suid-Afrika het Manuel Chang, voormalige minister van finansies van Mosambiek wat byna vyf jaar lank hier in aanhouding was, gister aan die VSA uitgelewer om tereg te staan in verband met bedrog en korrupsie van meer as $2 biljoen met bedrieglike staatslenings.

2. Die Gautengse LUR vir menslike behuising en infrastruktuur, Lebogang Maile, het die raad van die Gauteng Partnership Fund (GPF) opdrag gegee  om dringend vas te stel of buitensporige lenings oor meer 'n dekade toegestaan is aan besighede van Nceba Nonkwelo, die skoonseun van adj.pres. Paul Mashatile. (Sien ook ons siening daaroor onder.) 

3. Die Konstitusionele Hof het bevind dat die Wet op die Administratiewe Beslissingsbevoegdheid van Padverkeersoortredings (Aarto) wel grondwetlik is. Die vroeëre beslissing deur die hooggeregshof in Pretoria dat Aarto ongrondwetlik en ongeldig is en in geheel geskrap moet word, word dus ter syde gestel.

4. Nog vier vragmotors is gisteroggend omstreeks 05:30 op die N2 tussen Piet Retief en Ermelo aan die brand gesteek. Een persoon, 'n passasier in een van die vragmotors, het brandwonde opgedoen. Dit bring die totaal sedert Saterdagaand in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo op 20 te staan. Volgens Bheki Cele, minister van polisie, is 12 mense geïdentifiseer wat moontlik by die reeks aanvalle betrokke is.

5. Die Tsjeggiese romanskrywer Milan Kundera, uit wie se pen onder meer The Unbearable Lightness of Being verskyn het, is ná 'n lang siekte in die ouderdom van 94 oorlede.

6. Benewens die bykomende reddingsboei van R3,8 biljoen wat die regering aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor gaan gee, meen die DA minstens 7 000 poste sal ook besnoei moet word om die sakereddingsplan te laat werk.

7. Trevor Noah se ma, die sakevrou Patricia Noah, skuld die Inkomstediens nou meer as R50 miljoen, het City Press berig.


Daar is waarskuwings oor sterk wind en toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou in die Richtersveld en Nama Khoi in die Noord-Kaap. Miskolle word vanoggend langs die Wes-Kaapse suidkus verwag, terwyl ryp in die noorde van die Oos-Kaap verwag word. Daar is ook vanoggend miskolle en dit kan later deels bewolk wees in dele van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 18°C • Johannesburg 17°C • Mahikeng 18°C • Mbombela 19°C • Kaapstad 23°C • Durban 20°C • Kimberley 18°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 1°C • Upington 22°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Dié ding met Mashatile gaan aanhou stink

Paul Mashatile se reaksie op besonderhede van sy weelderige leefstyl en hoe hy dit kan bekostig, is tot dusver glad nie oortuigend nie. Dit versterk trouens die vermoede dat hy heelwat het om weg te steek.

News24 het gister verdere onthullings oor die adjunkpresident gedoen nadat vroeër berig is oor sy noue bande met hoogs omstrede karakters soos Edwin Sodi en Ndavhe Mareda wat albei floreer danksy die besigheid wat hulle met die staat doen. Mashatile het byvoorbeeld tot onlangs die gebruik gehad van twee spogwonings in Kaapstad wat onderskeidelik aan Sodi en Mareda behoort.

Dit het nou ook aan die lig gekom dat Mashatile in 'n huis ter waarde van sowat R37 miljoen in Waterfall Estate in Midrand woon wat hy nie self besit nie, maar wat gekoop is deur sy skoonseun Nceba Nonkwelo en sy seun, Thabiso Mashatile. Nonkwelo is getroud met die adjunkpresident se dogter, Palesa.

Image: ANGELA TUCK

Volgens News24 behoort die eiendom ingevolge 'n 99 jaar-huurpag aan Legacy Properties, wat Nonkwelo sowel as Thabiso Mashatile onder sy direkteure tel. Legacy Properties het die aankoop gefinansier met 'n lening van een van Nonkwelo se ander maatskappye, Nonkwelo Investment Holdings (NIH), wat by minstens een geleentheid in 2021 R2 miljoen aan die ANC geskenk het.

'n Afsonderlike maatskappy, Nonkwelo Investments (nié NIH nie), het miljoene rande van die Gautengse provinsiale regering gekry om behuising vir studente te ontwikkel, maar dit is nog nie gedoen nie.

Mashatile senior “moes" glo na die huis in Midrand trek weens dreigemente wat hy in Maart van 'n “former girlfriend" ontvang het wat kwaad was nadat hy met 'n ander vrou getrou het, en ten spyte daarvan dat die adjunkpresident ook die volle gebruik van twee ampswonings in onderskeidelik Pretoria en Johannesburg het wat deur die staat onderhou word.

Die hele affêre ruik na disrespek vir belastingbetalers se kosbare geld, botsende belange, politieke gunste in ruil vir geld, en 'n minagting van aanvaarde etiese reëls van goeie regering. As die adjunkpresident regtig wil hê kiesers moet hom nie as net nog 'n Jacob Zuma sien nie, sal hy noukeurig en in detail moet verduidelik presies wat hier aangaan.


Image: ANGELA TUCK

Sit dit af, sit dit af

Vandag het ek nie veel om te sê nie. ’n Mens kry mos maar daai dae. Jy verkyk jou aan alles wat rondom jou aangaan, jy wonder oor ditjies en datjies, jou gedagtes maal in jou kop rond, maar woorde ontbreek. Die wêreld sal ook ’n beter plek wees as sommige van ons meer gereeld ons bekke in ons gatte steek.

Daar is ’n episode in Grey’s Anatomy se sewende seisoen waar dr. Alex Karev sy bek oopmaak oor dr. Meredith Grey wat met ’n medisyneproef gelol het. Laat ek eers die konteks skets. Dr. Derek Shepherd, Meredith se man en een van die beste neurochirurge in die wêreld, het ’n alzheimersproef op die been gebring. Meredith, wie se oorlede ma alzheimers gehad het, het saam met Derek aan die proefneming gewerk. Mense met alzheimers kon aan die proefneming deelneem, en dan ná toetse word daar bepaal of hulle die alzheimers-medikasie of die plasebo kry. Nou, alzheimers is gediagnoseer by die vrou van die hoof van chirurgie van die hospitaal, dr. Richard Webber. Richard en Meredith is baie geheg aan mekaar, want Meredith se ma en Richard het vir jare ’n affair gehad. Toe dit nou uitkom dat Richard se vrou die plasebo moes ontvang, het Meredith die papiere gedokter sodat Richard se vrou, haar naam is Adele, die drug kry in plaas van die plasebo.

Image: ANGELA TUCK

Terug by Alex Karev en sy groot bek. Hy het op Meredith gepiemp en toe word sy afgedank. Nou, as Alex net stilgebly het, het Meredith nog haar werk gehad. Nou haat almal in die hospitaal vir Alex, want Meredith was een van die geliefdste dokters in die hospitaal. Ja, wat sy gedoen het, is dalk verkeerd, maar wie besluit wat reg en wat verkeerd is?

Terug na die regte lewe. Dink julle nie ook hier onder ons loop mense wat liefs moet stilbly nie? (Soos wat ek ook vandag eerder net moes stilbly, maar hey, Vrye Weekblad betaal my ten minste om iets te sê). Dink net gou daaraan – as Putin eerder net stilbly, sou die wêreld nou baie anders gelyk het. As Donald Trump moes stilbly, beter plek. My flip, as daai rassistiese oom of tannie van jou langs die braaivleisvuur eerder net niks sê nie, sal jy die aand baie rustiger slaap.

Op ’n ernstige noot, ek praat nou nie sensuur of silencing goed hier nie. Al wat ek probeer tuisbring, is dat ons soms maar net bietjie met ons eie gedagtes moet sit voordat ons dit aan almal met ore gaan staan en uitblaker. Ons word gebombardeer met soveel geraas. Nuus, sosiale media, televisie, musiek. Alles is kliphard. Verbeel jou daar was ’n nasionale dag van stilte. Almal bly stil, fokus op hulleself, sit alles af. Ons sou baie beslis beter luister as ons die geraas uitdoof.


Simon

Vir jou vaakword het ons tone getel
elke keer met 'n flenter groottoonpunt begin
al met die halwe halfmaan af
om die volle vyf te kry

later het jy my vingers om jou voet gevou
jou linkerhand in my palm gelê
die ander een teen my keel
om my woordelose neurie
tot in jou hart te dra

– Jan de Bruyn

(Uit: Witvuurlig)


Kom luister hoe die sprankelende skrywer Zelda Nel Bezuidenhout met drie jeugboekskrywers gesels. Want ons is almal jonk van gees. Kom kuier saam in Clarens. Ons klets die Oos-Vrystaat warm en skink 'n dop op die letterkunde. Hier is die volledige program.

Bespreek nou jou naweekkaartjie teen R600 by Quicket.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.