Voortreflike mense vol geesdrif en nuuskierigheid

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Voortreflike mense vol geesdrif en nuuskierigheid

DEBORAH STEINMAIR praat van Mandjie en Kaartjie se bydraes om van ons eerste Clarens-boekefees so ’n sukses te gemaak het, WILLEM KEMPEN dink Space Karen sit Twitter se pot mis, en soos altyd is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 25 Julie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Eskom het gistermiddag om 14:00 na fase 5-beurtkrag teruggekeer nadat altesame vyf opwekkingseenhede glo weer onklaar geraak het. Dit sal voorlopig aanhou tot vanoggend om 05:00, waarna fase 4 hopelik sal hervat.

2. Die korrupsieverhoor van Zandile Gumede, voormalige burgemeester van eThekwini-, en 21 ander is gister uitgestel ná ’n aanval by die huis van ’n getuie oor die naweek. Dié getuie sou gister getuig het, maar is nou nie meer gemaklik om dit te doen nie, het eNCA berig.

3. Pres. Cyril Ramaphosa het gister in sy weeklikse nuusbrief gesê verskeie van die ongelukke, siektes en ander rampe wat die land onlangs getref het, is weens “versuim om openbare infrastruktuur in stand te hou”.

4. Ontleders meen die nuwe leierskap van die ANC-vroueliga (ANCWL) wat die naweek by Nasrec verkies is, is oorwegend in die Ramaphosa-kamp. Sisisi Tolashe is met ’n groot meerderheid as nuwe president van die liga verkies. Wenkbroue het wel gelig oor die verkiesing van Dina Pule, wat al skuldig bevind is aan ’n oortreding van die parlement se gedragskode vir lede, as adjunk-sekretaris-generaal.

5. Die staat het borgtog teengestaan vir die agt lede van die polisie se BBP-beskermingseenheid wat afgeneem is waar hulle ’n motoris op ’n Johannesburgse snelweg aanrand. Die beskuldigdes het gister in die Randburg-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ’n vuurwapen.

6. Noord-Korea het twee ballistiese missiele in die see langs sy ooskus afgevuur, het Suid-Korea se weermag gesê, slegs ure nadat ’n Amerikaanse kernaangedrewe duikboot by ’n vlootbasis in Suid-Korea aangekom het.

7. Rusland het gedreig met vergeldingsmaatreëls teen Oekraïne nadat twee hommeltuie vroeg gisteroggend geboue in Moskou beskadig het, waaronder een naby die ministerie van verdediging se hoofkantoor. Niemand is in die aanval beseer nie, maar ’n senior Oekraïniese amptenaar gesê het daar sal nog sulke aanvalle gedoen word.


Mis kan vanoggend oor dele van Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en die Wes-Kaap verwag word. Gauteng en die Oos-Kaap is vandag deels bewolk tot bewolk. Ligte reën word oor die platorand in Limpopo en Mpumalanga verwag. Reën word ook in KwaZulu-Natal verwag met moontlike donderbuie in dele van die Noord-Kaap. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 21°C • Mbombela 20°C • Kaapstad 18°C • Durban 22°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 20°C • Upington 30°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Die X-man vind nog ’n plek om sy merkie te maak

Tensy hulle die Amerikaanse media oor die naweek fyn dopgehou het, sou miljoene mense eers gisteroggend agtergekom het dat Elon Musk besig is om Twitter se naam, logo en sommer hele identiteit te verander.

Image: ANGELA TUCK

Twitter gaan voortaan X genoem word, die domein gaan skuif na www.x.com, en die bekende blou voëltjie-logo en alles wat daarmee saamgaan is op pad asblik toe en gaan vervang word met 'n steriele, generieserige “X"-logo. Musk – na wie iemand gister gepas verwys het as “Space Karen", wil selfs hê 'n tweet moet van nou af 'n “X" genoem word, en “followers" moet “viewers" genoem word.

Hoeveel gebruikers gaan hulle hieraan steur? En hoe gaan dit enigiemand se ervaring van die platform verbeter?

Dit kom daarop neer dat omtrent alles aan Twitter wat eens op 'n tyd goed gewerk het en nuttig was, en waarmee almal vertroud geraak het, nou by die venster uitgegooi is, en omtrent alles wat stukkend was, is nog steeds stukkend.

Boonop word alles stuk-stuk gedoen: Teen gister was die voëltjies reeds weg, maar afgesien van so 'n skamerige X links boaan die webwerf was alles nog maar dieselfde. Die res word glo later verander.

Musk se lys van suksesverhale sou sekerlik korter gewees het as hy hom aan konvensie en gevestigde idees gesteur het, en niemand kan betwyfel dat hy 'n besondere gawe vir bemarking het nie, veral van homself, maar hy het ook 'n impulsiewe streep weg, en gee nie maklik toe dat daar iets is waaroor hy nie die beste weet nie. Dit lyk of laasgenoemde kant van sy persoonlikheid al weer die oorhand gekry het.

Al wat hy met dié lomp poging gaan regkry, is om bestaande gebruikers en potensiële adverteerders en bemarkers nóg harder na alternatiewe te laat soek.


Image: ANGELA TUCK

Êrens in Clarens

Ons sit voor skerms en tik in die hoop dat ons woorde lesers vind. En soms kry ons die kans om lesers van aangesig tot aangesig te ontmoet.

Die pas afgelope naweek het ek party van julle onder oog gehad. Vrye Weekblad se eerste Clarens-boekefees was ’n dawerende sukses. Mense het gesê dit gaan te koud wees, dis te ver, dis slegs ’n week ná die Vryfees in Bloemfontein. En tog. Skares het opgedaag, tougestaan en staande ovasies gegee. Om ’n see van geïnteresseerde, meelewende, waarderende gesigte voor jou te sien is ’n onbeskryflike ervaring.

Dis onmoontlik om te praat van hoogtepunte, want die lug het regdeur die fees geknetter van energie. Vir my persoonlik, ’n versvraat, was Antjie Krog, wat haar gedigte met soveel gevoel en ritme voorlees, en Jolyn Phillips, wat haar betowerende woorde sing en onweer met ’n handgemaakte instrument voortbring, hoendervelwekkend en meer – snot en trane, geruk tot in die vesels. Ook Dianne du Toit Albertze wat in ’n rooi rok dans en die Vrystaatse gehoor konfronteer met trans kinders en moffies – dit alles met ’n roerende weerloosheid.

Die saal was Vrydagaand reeds stampvol vir die redaksionele gesprek. Ons praat van 200 stoele. Wat ’n briljante liefie is prof. Francis Petersen nie! En natuurlik my gewaardeerde kollegas wat ’n hond uit ’n bos kan praat en immer bly glo in ’n nuwe begin.

Saterdagoggend het 'n horde mense die koue trotseer om jeugboekskrywers te beleef. Zelda Nel Bezuidenhout is ’n besonder sprankelende gasvrou en skrywers soos Fanie Viljoen het die gehoor met nuwe oë na jeugboeke laat kyk.

Daarna het Ihette Senekal met twee Vrystaatse romansiers gesels; Sidney Gilroy met sy radiostem en bedaarde baard het liries geraak oor die provinsie se landskappe, en die rustige, insigryke Francois Smith se skryfwerk is ook stewig gewortel in die vaal gras en vlaktes, die heuwels van die Vrystaat.

“Takseer hom op sy baadjie”, ’n gesprek oor die impak van boekomslae, het opslae gemaak. Gasvrou Diane de Beer het hier en daar ’n woord ingekry. Die weergalose Angela Tuck, VWB se kunsredakteur, en Hanli Deysel, Protea Boekhuis se geheime wapen, het die gehoor omgeboul met hulle passie vir kuns en ontwerp, vir kleur, uitleg en font. Dit was ’n lewendige, wilde gesprek.

Ek het met Pieter P. Fourie en Lucinda Hooley oor hulle heel uiteenlopende boeke gesels en vele raakpunte gevind. Hulle is empaties, pittig en passievol.

Daarna was dit Antjie, oor wie se sessie daar al hier geskryf is. Sy is ’n nasionale skat, anderkant woorde.

As Max en Antjie ’n paartjie was, was hulle couple name Mandjie. So het ek gehoor Karen Meiring en Saartjie Botha s’n is Kaartjie. Max en Antjie het die Vrystaat aan die brand gepraat en nasionale turksvye kaalhand aangepak.

Sondagoggend was die plaaslike bibliofiele aan die woord, ’n halfdosyn van hulle, gemodereer deur die geartikuleerde, beheersde Louis Gaigher. Die sessie was in Engels en dis duidelik dat groot geeste op Clarens woon, soos Rodney Moffett, Peter Badcock, Brenda Shepherd, Debra Stewart, Natalie Dell en Johrné van Huyssteen.

Die laaste sessie was ’n hoogtepunt, as jy my vra. Vier digters en nie ’n droë oog in die saal nie.

Ons maak volgende jaar weer so. Dankie, Clarens, dit was intens. En baie dankie aan dié van julle wat daar was. Julle is voortreflike mense vol geesdrif en nuuskierigheid, presies soos ek my Vrye Weekblad se lesers voorgestel het.


Tong-trilogie

Luister self hoe Jolyn Phillips haar gedig voorlees op Die Wasgoedlyn.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.