Trump klok in met 91, en Siya speel Saterdag

WOENSDAG MET WILLEM

Trump klok in met 91, en Siya speel Saterdag

WILLEM KEMPEN vind die beste nuus deur by die venster uit te kyk, en wonder hoeveel die president regtig weet van alles wat in die sogenaamde veiligheidsagentskappe aangaan. Soos altyd is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 16 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Donald Trump en 18 medepligtiges is gister formeel aangekla oor sy pogings om die uitslag van die 2020-verkiesings in die deelstaat Georgia te bekook. Trump het nou altesame 91 aanklagte in vier strafsake in vier verskillende jurisdiksies teen hom, waarvan twee federale sake en twee op deelstaat-vlak is.

2. Statistieke SA se jongste syfers toon dat die werkloosheidskoers in die tweede kwartaal vanjaar met 0,3 persentasiepunte tot 32,6% gedaal het vergeleke met die vorige drie maande. Dit is beter as wat die meeste ekonome verwag het, en indiensneming is nou amper weer waar dit was voor die Covid-pandemie.

3. Santaco het gistermiddag gesê 'n nuwe staking kan nie uitgesluit word nie nadat nog van hulle taxi's die laaste paar dae geskut is, volgens die vereniging in weerwil van die ooreenkoms wat verlede week met die Stad Kaapstad bereik is.

4. Die DA-LP Nomsa Tarabella-Marchesi het uit dié party bedank om by Rise Mzansi aan te sluit. Sy was die afgelope 10 jaar 'n DA-LP en was onder meer die party se adjunkwoordvoerder vir vroue, jeug, en mense met gestremdhede. Tarabella-Marchesi het volgens News24 gesê Helen Zille, die DA se federale leier, stel nie in veel meer belang as om die party se bestaande steun te konsolideer nie, en dat daar dus nie 'n rol is vir 'n swart vrou om meer kiesers na die party te lok nie.

5. Pres. Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE)  gemagtig om die korrupte netwerke van meer as R1 biljoen by die Tembisa-hospitaal te ondersoek waaroor die vermoorde Babita Deokaran destyds alarm gemaak het. Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, sê die SOE het reeds met hul ondersoek begin.

6. Kaptein Siya Kolisi het reeds genoeg van sy kniebesering herstel om in Saterdag se Wêreldbeker-opwarmwedstryd teen Wallis vir die Springbokke op te draf.

7. Meer as 180 000 inwoners van die Japanse stad Osaka is gistermiddag versoek om skuiling te soek teen 'n tropiese storm wat vloede en modderstortings kan veroorsaak. Dié storm is vroeër afgradeer van 'n tifoon wat Lan gedoop is.


Daar is waarskuwings oor sterk wind in dele van die Noord-Kaap en 'n hoë brandgevaar in die dele van die Noord-Kaap en Noordwes. Die grootste deel van die land is vandag deels bewolk tot bewolk. Buie kan in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag word en ligte reën in Limpopo en Mpumalanga.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 21°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 23°C • Kimberley 28°C • Upington 31°C • Kaapstad 16°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 22°C • Durban 22°C.


Willem Kempen | Lady R, sluipmoord en ontvoering: Is iemand in beheer?

Hennie van Vuuren van die organisasie Open Secrets se onthullings in Daily Maverick oor die moontlike skakels tussen die Lady R, die plaaslike ontvoering van buitelanders met vermeende Isis-bande en die sluipmoord op 'n senior polisieman laat 'n hele klomp vrae ontstaan wat dringend antwoorde kort.

Die belangrikste hiervan is watter rol allerhande spesmag-eenhede en frontorganisasies in ons binnelandse politiek en buitelandse diplomasie speel, op watter vlak weet die Suid-Afrikaanse regering hiervan, en wie se agendas word gedien?

Kortliks dui Open Secrets se ondersoek daarop dat voertuie wat met die weermag se 5 Spesiale Magte-regiment in Phalaborwa in Limpopo verbind kan word, in die nabyheid was toe goedere vroeg in Desember in Simonstad op of van die Russiese skip Lady R gelaai is, en aan die einde van daardie maand ook in die Mall of Africa in Midrand was op dieselfde dag toe 'n prominente Ethiopiër (wie se naam op 'n Amerikaanse sanksielys is weens beweerde bande met Isis) en sy lyfwag daar ontvoer is.

Dié man, Abdella Hussein Abadiga, en sy lyfwag, Kadir Jemal Abotese, word steeds vermis. Eersgenoemde se broer, Abdurahim Abadiga, beweer in hofstukke in die Johannesburgse hooggeregshof dat “overwhelming probabilities are that they were abducted by members of the SANDF”. En dit was lt.kol. Frans Mathipa, die polisieman wat deur die Valke getaak is om die ontvoering te ondersoek, wat op 6 Augustus op die N1 naby die Hammanskraal-afrit deur klaarblyklik hoogs bedrewe sluipmoordenaars in sy kar doodgeskiet is.

Luidens 'n berig op 13 Augustus in Rapport en City Press het Mathipa voordat hy vermoor is gedreig om verdagtes in die spesmagte in hegtenis te neem “whether the army cooperated or not".

Van Vuuren skryf: “Gegewe die belange van Suid-Afrikaanse en buitelandse veiligheidsdienste in hierdie saak, moet ons dringend uitvind wie Frans Mathipa vermoor het en hoekom. As ons toelaat dat dit “net nog 'n onopgeloste moord" word, loop ons die risiko om ontvoerings, moorde en verdagte wapentransaksies  te normaliseer, en keer ons die horlosie 30 jaar terug na 'n tyd toe sluipmoordenaars gereeld deur die strate van Suid-Afrika geswerf het."

En dan kan mens ook nie anders nie as om te vra: Weet die president van die land wat alles hier aangaan, dra dit sy goedkeuring weg en is dit onder beheer?


Die beste nuus is buite my venster, nie op Windows nie

Ek dink gereeld as deel van my oggendroetine aan wat Barend la Grange van South Africa Day daai keer aan Anneliese Burgess gesê het van die eerste vier goed wat hulle doen as hulle 'n plek beter wil maak:

Maak skoon. Maak heel. Verf. Plant.

En die volgende dag?

Maak weer skoon wat intussen vuil geword het.

Maak heel wat nog stukkend is.

Verf wat nog nie geverf is nie.

Gee die goed water wat geplant is.

Gisteroggend kyk ek ook wat in die nuus aangaan as deel van my roetine:

“Pedofiel uiters boos, sê regter."

So, 12 keer lewenslank vir die evil Gerhard Ackerman. Nogal optimisties om te dink iemand soos daai se lewensverwagting in die tronk kan veel meer wees as 12 dae, never mind 12 lewens.

Wat nogtans langer sal wees as Jacob Zuma se mees onlangse verblyf daar. Nie dat mens hulle moet vergelyk nie, maar tog.

“She pricks a needle into a banana and this is what happens," tart Microsoft se advertensie my tussen die nuus deur.

Ek wíl weet wat gebeur as jy 'n naald in 'n piesang druk, maar ek verbeel my ek het al vantevore op so iets gekliek, wat beteken die antwoord was nie naastenby so interessant as wat hulle jou wil laat dink nie, anders sou ek dit mos onthou het.

So nee, ek gaan nie weer val vir daai nie.

Dieselfde geld “She washed her hair with Coke and this is what happened".

Maar sê nou net 'n heel nuwe era in my persoonlike haarsorg word ingelui as ek eers weet wat met haar gebeur het nadat sy haar hare met Coke gewas het?

“Marike de Klerk's killer granted parole."

Marike de Klerk? O ja, dáái Marike de Klerk. Gits, so die moordenaar leef nog ná al die jare in die tronk.

“Drake confronts male fan who fought woman for his towel."

Wie is Drake nou weer? Dalk weet die kinders. Wie se handdoek was dit, Drake of die male fan s'n? Hoekom baklei enigiemand hoegenaamd oor 'n handdoek? Dalk was die handdoek om iemand se hare droog te maak wat nog nat van die Coke was?

“What you didn't know about man who ordered R10 000 KFC wings."

Nou wonder ek, is hierdie nuus, of nog 'n advertensie? Hulle laat dit klink of ek reeds weet van die man wat so baie KFC wings bestel het, wat nie die geval is nie. As ek dit wel geweet het, sou ek sekerlik ook soos ander lesers meer oor die besteller wou uitvind, maar vir nou pla dit my nie dat daar 'n oneindig lang lysie van dinge is wat ek nie van hom weet nie.

Aan die ander kant, hoekom sê dit “ordered" en nie “bought" nie? Het die man nooit sy vlerkies gekry nie, of wat gaan hier aan? Is daar sprake van korporatiewe misleiding? Of het iemand by KFC dalk 'n naald in 'n piesang gedruk? Dalk is piesang een van die 11 geheime kruie en speserye wat die kolonel se hoender so finger-licking good maak?

Image: ANGELA TUCK

Net toe ek opgee op die idee om bietjie goeie nuus ook te kry, kom daar 'n WhatsApp van die wykraadslid op die buurtgroep deur: Die munisipaliteit is besig om al die ligte in my straat reg te maak, en hulle behoort teen vanaand klaar te wees!

Hoe lank is dit nou, drie of vier jaar sedert al die straat se ligte laas op een slag gewerk het?

Ek loop buitentoe en gaan kyk vir myself, en sowaar, daar is die manne besig om die gloeilampe te vervang.

Ek was vir 'n oomblik lus om oor te stap en te vra of hulle dalk môre wil terugkom en sommer die lamppale ook 'n slag verf, maar toe dag ek nee, laat ek liewer gaan klaar lees aan Microsoft News se tergende storie oor wat van Einstein se brein geword het.


Bespreek jou kaartjies vir Vrye Weekblad se eerste Melkbos-boekefees hier. Dit begin môreaand!


Moon tonight

Moon tonight,
Beloved . . .
When twilight
Has gathered together
The ends
Of her soft robe
And the last bird-call
Has died.
Moon tonight—
Cool as a forgotten dream,
Dearer than lost twilights
Among trees where birds sing
No more.

– Gwendolyn Bennet

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.