Hot takes, dooie digters en ’n dosis Donald

DONDERDAG MET MERCY

Hot takes, dooie digters en ’n dosis Donald

MERCY KAY skrie uit in die niet, WILLEM KAY wonder hoekom sommige mense Trump alles vergewe, en daar is soos altyd sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 17 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die opposisiepartye wat in Kempton Park byeen is om te praat oor 'n moontlike koalisie met die oog op volgende jaar se verkiesing, het ná “robuuste gesprek" besluit om voorlopig onder die naam “Multi-Party Charter for South Africa" voort te gaan. Prof. William Gumede tree as onafhanklike voorsitter van die gesprekke op. Die betrokke partye is die DA, IVP, VF Plus en ActionSA, asook drie kleiner partye, die Spectrum National Party, Isanco en die United Independent Movement, het eNCA berig.

2. Dit was gister 11 jaar sedert die Marikana-slagting van 2012 toe 34 mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is. Oorlewendes en familielede van die slagoffers het gister opnuut geëis dat geregtigheid geskied, en gesê baie vrae oor die slagting is tot vandag toe onbeantwoord, soos wie die opdrag gegee het om te skiet.

3. 'n Jurie het die Suid-Afrikaanse dokter Lauren Dickason gister in die hooggeregshof in Christchurch, Nieu-Seeland, skuldig bevind aan die moord op haar drie dogters, Liané (6) en die 2-jarige tweeling Maya en Karla, op 16 September 2021. Dickason is steeds in aanhouding.

4. Die Johannesburgse hof vir gespesialiseerde misdaad het gehoor dat Hildegard Steenkamp, die rekenmeester wat meer as R537 miljoen gesteel het van haar werkgewer, die mediese voorsieningsmaatskappy Medtronic, oor vyf jaar meer as R67 miljoen by Emperors Palace uitgedobbel het. Steenkamp sê sy en haar oorlede man, Mathys, het hulle dobbelkaarte gedeel en dat hy dus ook van die geld daar bestee het.

5. Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) sou gister die kantore van die Padongelukkefonds (POF) besoek as deel van 'n ondersoek na dié se geldsake. Tsakani Maluleke, die ouditeur-generaal, kon vroeër nie stawing vind vir uitgawe- en laste-eise van byna R65 biljoen nie. Die komitee sal ook kyk na verslae oor die onbehoorlike hantering van eise en 'n ongunstige werksomgewing.

6. Die Amerikaanse soldaat Travis King het na Noord-Korea oorgeloop om “mishandeling en rassediskriminasie in die Amerikaanse weermag” vry te spring, het staatsmedia in Pyongyang gister gesê. Dit was die eerste amptelike bevestiging dat King wel in Noord-Korea is. King sou in Julie na die VSA terugkeer van waar hy in Suid-Korea gestasioneer was, maar het van die lughawe af weggeglip en aangesluit by 'n groep toeriste wat die gedemilitariseerde sone (DMZ) besoek het, en toe sy kans afgewag om oor die grens na die noorde te hardloop.

7. Sommige inwoners van Maui in Hawai is woedend dat toeriste reeds weer die tropiese strande begin geniet het terwyl reddingswerkers steeds tussen die puin soek na slagoffers van die VSA se dodelikste veldbrand in meer as 'n eeu, het Reuters berig.


Daar is waarskuwings oor sterk wind in dele van die Oos- en Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat, asook toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir die genoemde dele, die Oos-Kaap uitgesluit. Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal sal deels bewolk tot bewolk wees. Buie en donderbuie word oor dele van die Kaapprovinsies verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 15°C • Durban 28°C • Kimberley 27°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 20°C • Upington 23°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 21°C.


Willem Kempen | Die ding met Donald

Wat is die éintlike ding met Donald Trump dat so baie mense so 'n fanatiese bewondering vir hom het? 'n Bewondering wat strykdeur al sy skades en skandes dikwels net groter word? 

Gister weer het dit nog skaars bekend geword dat Trump vir 'n vierde keer strafregtelik aangekla gaan word, dié keer weens sy pogings om die uitslag van die 2020-verkiesing in Georgia omgekeer te kry, toe begin #Trump2024NowMoreThanEver die volgelinge opstapel.

Sekerlik is 'n klomp van dié mense rassiste of haters of malletjies of komplotsotte wat oortuig is “die linkses" wil ons almal eendag onder 'n enkele wêreldregering aan ewige slawerny onderwerp, maar daar is ook – of so lyk dit vir my – in daardie geledere heelwat nugtere en nadenkende en ingeligte mense wat dink die son skyn sonder ophou uit Donald se deurlugtige alie uit. Diesulkes glo dikwels niks wat sleg is oor hom nie: nie dat hy 'n rassis is nie; nie dat hy skelm en korrup is nie; nie dat hy 'n ongemanierde boelie en 'n sekspes is wat nie sy handjies van vroue kan tuishou nie; nie dat hy 'n vyand van demokrasie is nie; selfs nie dat hy ernstig was toe hy gevra het of mens bleikmiddel kan drink om van Covid genees te word nie. En hulle is dikwels ewe oortuig dat Trump inderdaad deur slinkse Demokrate van 'n tweede termyn beroof is. 

Hoe klop dit alles?

'n Rukkie terug sê iemand wat ek net vaagweg ken met groot oortuiging vir my dat wat Suid-Afrika nou nodig het, is 'n Donald Trump van ons eie. Jy bedoel iemand soos Jacob Zuma? wou ek weet. Maar nee, dis glad nie wat hy bedoel het nie. Inteendeel.

In dié ou se wêreld is Trump deel van die oplossing vir die soort probleme wat deur die Zumas en die Malemas en selfs die Joe Bidens veroorsaak word, nie deel van dieselfde probleem nie.

Maar dan weer kry jy ook die soort gesprekke waar niemand vir 'n oomblik probeer verstaan waarom Trump so gewild is onder sê Amerikaners wat in 'n steenkoolmyn of op die monteerbaan van 'n motorfabriek werk nie. Elke keer wanneer 'n Demokraat by een van dié mense die indruk skep dat klimaatsverandering 'n dringender kwessie is as wat sy kinders vanaand gaan eet, dan meld daar nog iemand vir MAGA aan. En iets soortgelyks gebeur hier by ons.

As ons nie dié soort dinge kan versoen nie, gaan ons aanhou om verder en verder van mekaar weg te beweeg, mekaar te beswadder en naderhand glad nie meer gemene grond kan vind nie. En dán is ons nog dieper in die moeilikheid as wat ons reeds is.


Image: ANGELA TUCK

Los die elitisme in poësie

’n Interessante opvatting, of “hot take” soos die kinders sal sê, wat ek vandeesweek gelees het, meen daar word neergekyk op Instagram poetry en digters wat slegs op Instagram publiseer, omdat die poësieliefhebbers digkuns in ivoortorings wil hou. As jy geen idee het van enige van die woorde wat jy tot dusver gelees het nie, kom ek wys eers wat byvoorbeeld as ’n Instagram gedig geklassifiseer sal word.

Koffie

deur Mercy Kay (Vir Instagram moet jy ’n catchy naam het. “Mercy Kannemeyer” lees geensins cool genoeg vir Instagram nie.)

Mucho java
Mucho java in my rooi koppie
Gisteraand geniet ek my soppie.
Dit laat my dink aan al die mense
Die mense sonder kersfees-wense.
Maar ek is nog hier.
Al sukkel ek met my huur.
Dalk is dinge soos dit moet wees.
Binnekort hou ons weer fees.

Bostaande gedig sou perfek wees vir Instagram. Ongekompliseerd. Tot op die punt. Jy mag dalk twyfel aan my skryfvermoë, maar daar’s g’n twyfel aan die feit dat jy presies verstaan het nie, right?!

Nog ’n gedig wat as Instagram-gedig kan deurgaan, is iets wat ek in my derdejaar op universiteit geskryf het … 21-jarige ek het standvastig in die literêre waarde van die onderstaande gedig geglo.

H

              A

                             L           

                                           Looooo

Hallo!!
Skrie ek uit in die niet.
Lyk my julle het va’ my vi’giet.

Image: ANGELA TUCK

28-jarige ek weet van beter.

Die argument (oftewel hot take) meen ook dat poësie deur middel van Instagram toegankliker is as dié wat op die tradisionele manier in boekformaat uitgegee word. Nie almal wil groot literêre pryse wen nie. Sommige digters wil bloot mense bereik, hulle laat voel, hulle op ’n reis neem.

So, van waar die elitisme wat met sommige poësie gepaard gaan?

Myns insiens het dit baie te make met die maniere waarop ons aanvanklik aan poësie blootgestel word. In Afrikaans Huistaal op skool het ons slegs gróót digters bestudeer. Jou N.P. van Wyk Louw, jou Breytenbach, jou Eybers. Aan die Universiteit St*llenbosch (😉) leer ons van die Dertigers, die Sestigers, en die digters wat in die 90’s en die Nuwe Suid-Afrika publiseer. Die manier waarop ons oor poësie geleer het, was met ’n tipe heiligheid. Die Groot Verseboek het byna die Bybel kom vervang. En daar’s niks mee fout nie. Poësie leer ’n mens dissipline; dit leer jou om baie met min woorde te sê.

Ná my studentedae bly die Sestigers my nog altyd by. Ek’s ’n fan. Die tydsgees, die atmosfeer van die land wat die Sestigers raak geskryf het en die vriendskappe (sowel as vyandskappe) wat onder menige Sestigerdigter gesmee is, is bewonderenswaardig.

Ek het soveel respek vir digters. Dis nie almal wat kan doen wat julle doen nie. Of jy op Instagram publiseer of by ’n uitgewer, doen wat jy moet doen.


Image: ANGELA TUCK

Bespreek sommer nou dadelik jou kaartjies vir Vrye Weekblad se eerste Melkbos-boekefees hier. Dit begin vanaand!


koeplet

behalwe jou kloppend verruklik besneë steel
kan niks meer my naterige gate heel

– Antjie Krog

(Uit: Gedigte 1989 - 1995)


VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.