Slapelose Bheki, Steinhoff, en die buffels van Phala Phala

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Slapelose Bheki, Steinhoff, en die buffels van Phala Phala

DEBORAH STEINMAIR skryf oor goed wat te veel soos mense lyk. WILLEM KEMPEN skryf oor hubris wat die ANC se einde kan beteken. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 22 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Die Reserwebank se ondersoek na die Phala Phala-gebeure het bevind dat Ntaba Nyoni Estate, aan wie pres. Cyril Ramaphosa se plaas behoort, onder geen wettige verpligting was om die betrokke buitelandse valuta aan te meld nie omdat die buffels in die transaksie nooit aan die koper gelewer is nie. Opposisiepartye het gister gesê die SARB se verslag laat die publiek met meer vrae as antwoorde.

2. Wetstoepassers by die Brics-beraad in Sandton sal moet gewoond raak aan “nagte sonder slaap” sodat die besoekers veilig gehou kan word, het Bheki Cele, minister van polisie, gister beweer. 

3. Dirk Schreiber, voormalige finansiële hoof van Steinhoff se  Europese bedrywighede, is gister deur ’n Duitse hof tot tronkstraf van drie en 'n half jaar gevonnis, het Bloomberg berig. Dit maak hom die eerste persoon wat in die tronk kan beland as gevolg van die Steinhoff-skandaal. Die hof in Oldenburg het ook die voormalige Steinhoff-direkteur Siegmar Schmidt skuldig bevind en hom ’n opgeskorte vonnis van twee jaar opgelê.

4. 'n Vrou is gister lig beseer toe ’n vulliskompakteerder-vragmotor van die Stad Kaapstad in ’n sinkgat in Lavender Hill geval het. Die pad het glo nie vooraf enige geen sigbare tekens van skade getoon nie.

5. Die hooggeregshof in Pretoria het ten gunste van ’n aantal aktivistegroepe beslis en opdrag gegee dat al die staat se Covid-19-entstofkontrakte binne 10 dae vanaf verlede week se uitspraak openbaar gemaak moet word, het eNCA berig.

6. Inwoners van dele van suidelike Kalifornië en elders in die suidweste van die VSA is gister gewaarsku teen moontlike blitsvloede, oorstromings en modderstortings nadat die storm Hilary oornag tot rekord-reënneerslae gelei het.

7. Pres. Volodymyr Zelensky van Oekraïne het gister aan 'n gehoor in Denemarke gesê die beloofde aflewering van Amerikaanse F-16-vegvliegtuie aan sy land laat hom glo dat Rusland nie die oorlog sal wen nie.


Daar is waarskuwings oor sterk wind en golwe langs dele van die Wes-Kaapse kus en 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Dis vandag warm oor die grootste deel van die land (behalwe Kaapstad, al weer!). Die Wes-Kaap kan buie verwag, terwyl dit deels bewolk in dele van die Noord- en Oos-Kaap is.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 14°C • Durban 23°C • Kimberley 26°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 32°C • Upington 25°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Arrogant National Congress

Helen Zille skryf Saterdagoggend op X:

Hundreds of aspirant candidates to become MPs and MPLs for the DA are writing their first major test today. There are 4 Modules, and the pass mark is 80% average. Good luck.

Vergelyk nou die indruk wat dié boodskap skep met die tirade wat Lebogang Maile, Gautengse LUR vir menslike nedersettings, die vorige dag teenoor die verslaggewer Kyle Cowan gelewer het omdat dié hom durf vra het oor die vordering met ’n ondersoek wat verband hou met News24 se reeks stories oor adj.pres. Paul Mashatile. Maile het Cowan onder meer ’n “stupid racist white man” genoem en aangesê om te “shut up”.

Image: ANGELA TUCK

Maile se gedrag is onverskoonbaar en versterk die vermoede dat hy, die ANC en Mashatile baie het om van kiesers weg te steek. Cowan het die volste reg om aan te dring op antwoorde oor ’n ondersoek wat duidelik in die openbare belang is, en hy het sy vrae op ’n beleefde en korrekte manier gevra.

Die dae is verby dat Gauteng se kiesers toelaat dat die regerende party met sulke goed wegkom. Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, verwys in sy kommentaar op die voorval na peilings wat daarop dui dat die ANC volgende jaar minder as 40% van die stemme in Gauteng gaan kry:

“The ANC will appoint a task team of elders afterwards to assess what happened and where things went wrong after 30 years of ruling Gauteng. I could spare them some time and money; start with the conduct of Human Settlements MEC Lebogang Maile this week to answer your question about how the ANC lost Gauteng.”

Lees dit ook saam met die druk op die ANC se eie finansies in aanloop tot die verkiesing. Hieroor het Piet Croucamp verlede week in Vrye Weekblad geskryf: 

“Die ANC is besig om beheer oor groot dele van die bemagtigingsbedryf te verloor waaraan dit histories verbind was, en dit plaas enorme druk op die party se finansiële oorlewing, maar hou ook toenemend ’n politieke bedreiging vir die staat en Suid-Afrika in en verklaar hoekom die Russiese oligarge so ’n noodsaaklike alternatiewe bron van inkomste vir Luthulihuis geword het."

Cyril Ramaphosa verwys na die Kempton Parkse koalisiegesprekke as ’n “sideshow”, en sê hy sal hom nie deur die Wes-Kaap “laat afdreig” oor die taxistaking nie, maar oor Maile en die bewerings teen Mashatile kruip hy agter vaaghede weg. Dit pas hom dat Mashatile besig gehou word met ander dinge as sy ambisie om die land se volgende president te word.

Vir albei dié twee faksies is die interne politiek in die ANC skynbaar belangriker as om die kiesers daar buite te oortuig om nogmaals vir hulle te stem. Daar wag dalk ’n helse ontnugtering op hulle.


Image: ANGELA TUCK

Bobbejaan agter die bult gaan haal

Het jy al gehoor van die uncanny valley-effek? Dis die verhouding tussen ’n voorwerp se graad van ooreenkoms met ’n mens en mense se emosionele reaksie op die voorwerp. Mensagtige voorwerpe soos poppe wat te veel na mense lyk, maak mense ongemaklik en laat hulle weersin ervaar. “Valley" dui op die afname in die menslike waarnemer se affiniteit vir die replika.

’n Pop of robot wat te menslik voorkom, laat kykers kil en afsydig voel en laat hulle koud. ’n Babapop moet min of meer soos ’n suigeling lyk, maar darem nie presies soos ’n dooie baba nie, dan is dit net plein grillerig.

Ek wonder soms of dit van toepassing is op bobbejane: Hulle lyk soveel na mense dat dit amper voorkom asof hulle ons na-aap, spot. Ons herken soveel van onsself, maar wil nie identifiseer nie. Honde, katte of perde wat minder na mense lyk, ontlok egter liefdevolle gevoelens.

Bobbejane, met hulle gevaarlike slagtande, kan baie mak word en allerlei menslike gedrag aanleer. Daar was ’n bobbejaan, Jackie, wat ’n korporaal in die Suid-Afrikaanse weermag was tydens die Eerste Wêreldoorlog. Hy het ’n medalje en oorlogspensioen gekry en is (weens luierende PTSV) aan ’n hartaanval dood toe die weerlig in vredestyd naby hom geslaan het.

Daar was ’n ander bobbejaan, ook Jack, wat in diens van die Spoorweë was. Hy was wisselaarwagter in Uitenhage. ’n Wisselaar is ’n toestel met hefboom wat getrek word om treinspore te verander sodat ’n bewegende trein na ’n ander spoor oorgaan. Verantwoordelike werk, dus.

In ons samelewing word bobbejane toenemend ’n bedreiging, of eerder: Mense met hulle woongebiede wat aanhou uitbrei en teen berghange opkruip, bedreig die habitat van bobbejane.

Image: MAX DU PREEZ

By uitkykposte word toeriste gewaarsku om bobbejane nie te voer nie. Almal gee natuurlik nie gehoor nie. Die bobbejane het al so slim geword dat wanneer mense nader stap aan hulle motors en solank met afstandbeheer die deure oopsluit, die bobbejane die geluid van die afstandbeheerder herken, in die motors spring en vinnig buit wat daar te ete is.

Iemand het my ’n bobbejaanstorie vertel: Bobbejane het mense al hoe meer begin terroriseer by ’n gewilde piekniekplek. Vakansiegangers het graag daar uitgespan met koffie, tee en eetgoed. Skaars is jou kossies uitgepak of jou spek, frikkadel, eiers en kasie word deur harige hande voor jou neus weggeraap. Dan sit die abjaters smaaklik en vermaaklik in die boom en smul aan piekniekkos.

Veral een mannetjie het geniepsig geraak. Wanneer die skoonmakers nader staan, het die bobbejane hakskene gewys, maar later het dit nie meer gehelp nie. Toe veldwagters met hulle voertuie daar opdaag, het hulle aanvanklik koers gekies. Maar toe het die afskrikmiddel ook nie meer gewerk nie.

Hulle het toe besef die bobbejane eien die uniforms en bakkies van die Parkeraad. Klagtes het bly instroom en die veldwagters besluit om in gewone klere met ongemerkte bakkies op te daag. Hulle kom toe doodluiters aangestap met gewere – die doel was om die bobbejane te verdoof, spesifiek die gevaarlike een.

Pandemonium bars los. Mense besef nie dis veldwagters nie. Terroriste! gil iemand. Almal storm na hulle karre en druk in die hardloop afstandbeheerders vir oopsluit en inspring. Natuurlik hol bobbejaan se kind los voor, meegevoer in die massa-histerie. Bobbejane spring in die oopgesluite motors, gil, druk die toeters en skyt die sitplekke vol. ’n Kakofonie.


The Tell-Tale Heart

Confinement is part of confinement.
As it is part of worms
to go through the surface
(like death and roots),
confinement starts
at the very moment of impairment.
They say that a few inches underground
it is possible to hear all
the rumors of the world.
That they are just heartbeats, almost imperceptible
that become from one moment to the next
like a desperate pounding.
They say humidity is part of the charm,
and that it sometimes suffocates,
like the measured sadness
that comes from the impossibility
of seeing one’s own face
in the mirror.

– Carlos Soto-Roman

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.