Kiere in die kosmos

IETS HET GEBEUR

Kiere in die kosmos

Miskien, skryf CAS WEPENER, is almal tegelyk begrafnisgangers én getuies van die opstanding in hierdie lewe; en as sodanig openinge, gleuwe, splete waardeur iets van die Iets vir 'n oomblik in die ewigheid flits.

TWEE dekades gelede was ek 'n proponent in 'n gemeente in die Klein-Karoo; vars uit die Kweekskool, bloedjonk en heeltemal uit my diepte. Elke keer wanneer ek op die rand van 'n klipbankgraf met huilende mense rondom my moes voorgaan terwyl stof oor my skoene waai; of wanneer ek in die siekeboeg van die aftree-oord met 'n sterwende mens se hand in myne gesit en skuldig gevoel het omdat ek niks sê nie en besoldig word om seker ten minste iets kwyt te raak, maar aangevoel het dat die oomblik in 'n domein anderkant woorde tuishoort; ook wanneer ek aan 'n deur moes klop om die ergste boodskap aan die ouers mee te deel en in hulle oë sien hulle bid dat ek nie gaan sê dat hulle vermoed ek gestuur is om te sê nie, het 'n jong dominee uit die Suid-Vrystaat sy hand opgehef en dit op my skouer gesit. Telkens het ek iets beleef, dalk was dit die groot Iets, wie sal weet, dit was wel iets, iets het beslis gebeur.

Die dominee se naam was Theophilus – letterlik “geliefde van God”. Toe hy my so ondersteun het, was hy self ook maar pas uit die Kweekskool, bevestig as leraar in 'n plattelandse gemeente in die Suid-Vrystaat, moes dieselfde soort take verrig as die waarmee ek besig was en het gesukkel met sy gesondheid. Sy vrou het gedink hy is as predikant 'n mislukking. Hy kon moderator van die Vrystaatse Sinode geword het, maar nee, hy verkwis die meeste van sy tyd deur dit deur te bring by die arm mense in die onderdorp; om te sien na sterwende mense en hom op te hou met die noukeurige versorging van 'n uitgawe van 'n vergete Griekwa-skaapwagtertjie se versies. Dominee Theophilus Heyns se roepingswoorde wat sy dade gerig het, was die geknakte riet wat nie moet afbreek, die lamppit wat nie moet doof nie en die genadejaar wat aangekondig moet word. Hy was nie die eerste versorger van die buitestanders in ons samelewing wat daardie woorde vir homself toegeëien het nie, maar hy het wel daardie eeue oue woorde opnuut laat vlees word in die Vrystaat.

Theophilus Heyns het my dikwels as 'n engel besoek met sy opgehefte hand op my skouer. Hy was nie in die vlees by my daar in die Klein-Karoo nie, maar hy was wel in die gees by my. Ds. Heyns is 'n karakter in Die uur van die engel, 'n roman wat deel is van Karel Schoeman se Stemme-drieluik, saam met die romans Verliesfontein en Hierdie lewe. Indien mens hierdie boek stip lees, besef jy daar is regdeur hierdie roman opgehefte hande. Vele karakters, veral karakters wat iets van gebrokenheid aan eie lyf beleef, hef hulle hand op, al verg dit dikwels inspanning. Die opgehefte hande is deurgaans 'n teken van 'n karakter se engelskap, 'n teken dat in hulle handelinge wat te kort skiet en in hulle stotterende woorde, soos in die woorde en dade van Theophilus Heyns, “die uur van die engel” telkens aanbreek. Dit is in hulle daarwees, dat die woord aanhou om vlees word...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.