ANC moet sê oor ontplooides, en Sisi Khampepe gaan die brand bekyk

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

ANC moet sê oor ontplooides, en Sisi Khampepe gaan die brand bekyk

Oorkom jou innerlike kolonialis, sê DEBORAH STEINMAIR; WILLEM KEMPEN wonder of Bophuthatswana se ‘bonusobligasies’ weer nuttig kan wees; en daar is sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 05 September 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Die appèlhof het die ANC se aansoek om te mag appelleer teen 'n beslissing ingevolge die Wet op Openbare Toegang tot Inligting (PAIA) dat boekstawing van kaderontplooiing met die DA gedeel moet word, met koste van die hand gewys. Die hof het opdrag gegee dat alle vergaderingnotules, WhatsApp-gesprekke, e-pos, CV's en ander boekstawing van die ANC se ontplooiingskomitee sedert 1 Januarie 2013, toe Cyril Ramaphosa voorsitter daarvan geword het, openbaar gemaak moet word.

2. Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het 'n kommissie van ondersoek aangewys om verlede week se rampspoedige brand in Marshalltown, Johannesburg, te bekyk. Regter Sisi Khampepe is die voorsitter van die kommissie, en sy sal bygestaan word deur adv. Thulani Makhubela en Mathilda Mabena.

3. David Feldmann, 'n woordvoerder van die Amerikaanse ambassade, het gister gesê die Amerikaanse regering “waardeer die erns" van pres. Cyril Ramaphosa se verbintenis om bewerings te ondersoek in verband met die Russiese vragskip Lady R wat in Desember in Simonstad vasgemeer het. 

4. Die prys van 93 sowel as 95 oktaan loodvrye petrol styg van Woensdag af met R1,71 per liter. Diesel word R2,84 per liter duurder.

5. Matshela Koko, voormalige bedryfshoof van Eskom, was onder die 18 beskuldigdes, onder wie verteenwoordigers van verskeie maatskappye, wat gister vlugtig in Middelburg se gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn het in verband met beweerde korrupsie ter waarde van R2,2 biljoen by die Kusile-kragstasie. Die staatsaanklaer, adv. Tiny Seboko, het nogmaals om uitstel gevra om die ondersoek af te handel.

6. Genl. Brice Oligui Nguema, leier van die staatsgreep waarin pres. Ali Bongo se bewind verlede week omvergewerp is, is gister as tussentydse president van Gaboen beëdig, het Reuters berig.

7. Pres. Tayyip Erdoğan van Türkiye het gister ná samesprekings met pres. Vladimir Putin van Rusland gesê die Swartsee-graanooreenkoms kan dalk herleef. Dit kan daartoe lei dat meer Oekraïniese graan internasionale markte kan bereik en druk op kospryse verlig.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van Noordwes, die Vrystaat, Noord- en Oos-Kaap, asook KwaZulu-Natal en Gauteng. Geïsoleerde tot verspreide buie word verwag oor dele van die Wes- en Oos-Kaap, asook in KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 15°C • Durban 25°C • Kimberley 24°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 30°C • Upington 18°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 18°C.


Willem Kempen | ’n Bietjie Bop in die stukkende strate 

Die “staatsgrense” van die destydse Bophuthatswana was 'n bron van 'n menigte grappies, waarvan baie later heel ernstig herleef het as deel van een of ander oom van Pretoria se visioene vir waar die Volkstaat sou wees. (“Sien jy daardie stopstraat? Nou ja, Boerania begin links van die geelstreep, en oorkant die pad is Bophuthatswana Extension fourty-seven.”)

Tog is Bop nie heeltemal vergete nie. Lucas Mangope se ou party, die United Christian Democratic Party, wen selfs nog nou en dan 'n plaaslike verkiesing iewers in Noordwes, en Kwena Mangope, sy seun, is so 'n jaar of twee gelede as voorsitter van ActionSA in die provinsie verkies.

Oom Lucas – die swart PW? – het iets bemeester waarmee die ANC tot vandag toe sukkel; wat 'n mens sou kon noem “konstruktiewe korrupsie”. Ja, die geld het lekker onder die tafels gevlieg sodat plekke soos Sun City gebou kon word, maar uiteindelik het Sol se dobbelpaleis darem wel daar in die middel van niks verrys en aan duisende mense werk gegee.

Image: ANGELA TUCK

Hier aan die einde van die 1980's het Pretoria se geldkrane begin opdroog, wat gelei het tot 'n ander ding waarvoor Bophuthatswana nog soms onthou word: ontwikkelingsobligasies, beter bekend as Bop Bonds. Jy kon hulle in Suid-Afrika by die Poskantoor oor die toonbank koop, in vaste denominasies van R10 of R20. Hulle het min rente betaal, maar een keer 'n week was daar 'n trekking waarin 'n klompie gelukkige obligasie-eienaars 'n groot bedrag geld kon wen. Dit was die naaste wat Suid-Afrika destyds aan 'n lotery gekom het.

Ek sal nie verbaas wees as bitter min van Bop se inkomste uit sulke obligasies uiteindelik vir ontwikkeling gebruik is nie, maar ek kan ook nie help om te wonder of daar dalk in dié model 'n manier skuil om dienslewering in plaaslike gemeenskappe te finansier nie. Sê nou net dis 'n manier vir 'n onafhanklike wyksraadslid om geld te bekom waarmee slaggate opgevul of bome geplant of straatligte herstel kan word, sonder dat dit deur die lomp begrotingsproses hoef te gaan van 'n munisipaliteit wat oorheers word deur 'n ander party wie se mense net vir eie gewin daar is?

Sê nou net dit kan 'n manier word waarop 'n deeltjie van munisipale belasting 'n bietjie nader bestee word aan waar dit ingesamel is? Dalk kan 'n opposisieparty selfs só iets op 'n nasionale vlak bedryf ten bate van die wyke of rade waar dit in beheer is.

Of is daar 'n duisend stukke wetgewing en regulasies wat so iets onmoontlik of onprakties maak? 


Image: ANGELA TUCK

Afrikane is plesierig

Ons was die naweek onderweg en het in twee weelderige hotelle tuisgegaan wat swaar dra aan hulle eertydse glorie en glans. Nou is hulle onderrokke effe verslete, maar hulle is steeds statig.

Wat my opval, is hoe die klandisie verander het. Toe ek ’n kind en jonk was, was sulke ruimtes bleek, bedeesd en ingehoue, vol koloniale swier met kerslig en kristal. In die eetsaal was die gaste gedemp en vreugdeloos, soos ons Europese en Britse voorsate mos maar was: stywe bolip, sedig, lag nie hardop nie, lyk nie uitermate beïndruk of vreugdevol oor enige skoonheid of heerlikheid nie.

Hoe anders is dit nou! Die hotelle is lawaaierig, oral klink luide gelag op. In die eetsaal gesels mense oor tafels heen, skep hulle borde boordensvol met uitdrukkings van ekstase, drink hartlik en rumoerig.

Dis asof bleker klante deesdae wegbly, asof hulle soveel uitgelatenheid as barbaars beskou, want wie kan jouself hoor dink? Dit terwyl die bleker etendes in elk geval meestal in stilte stip voor hulle uitgestaar het, besig om ’n klagte te formuleer.

Hoekom? Waar het ons die kind in ons verloor, of is sy vroeg-vroeg versmoor? Sit regop, eet stadig en matig, moenie aan tafel lag of skree nie, moenie lyk asof jy niks gewoond is nie. Stoïsyns is elke tafel ’n eiland, afgesonder in die lamplig.

Image: ANGELA TUCK

Onthou, ons is in Afrika en hier word dinge met oorgawe geniet en mense is nie skaam om te wys dat dit wonderlik is om by ’n tafel met gestyfde linne aan te sit en jouself te help aan ’n oorvloedige buffet nie. Wie gee om oor watter mes en vurk om in te span? Ons het ons eie tradisies in Afrika en ons was lank genoeg gekniehalter deur Europese voorskrifte van fatsoenlikheid.

As ’n mens jou innerlike kolonialis oorkom en ontspan, besef jy dis bevrydend. Dis ’n ander kontinent dié, dis vibrant en kleurvol en luid.

Moenie my verkeerd verstaan nie, Afrikaners is plesierig en kan om die braaivure lekker bollas losknoop en naam weggooi. Maar in ’n deftige openbare ruimte is ons geïnhibeerd, wil nie aandag trek nie, wil blasé en alles gewoond voorkom.

Spring jy oor daardie puriteinse hekkie in jou kop en omhels jou vasteland, kan jy opgaan in die rumoerige vreugde van jou landgenote. Ons is nie ’n koue kontinent met min lewensruimte en hordes sosiale voorskrifte nie. Ons is genieters; ons gryp die oomblik soos kinders. Ons skep ruim in en gesels hartlik met iemand aan die ander kant van die vertrek. Ons lag maklik en luid. En dis ’n goeie ding. Ons is openlik opgewonde oor ’n freebie of ’n eet-soveel-jy-wil.

Want dis ons land. 


Lente in Albertstraat, Jozi

Lywe bloeisels
uit vensters
herfs te vroeg
in rooi
geel oranje vlamme

Lyfies bot
in skakerings
van rooi
oranje
geel kole

Lakens vertakkende lere
na uitgestrekte arms
Die verraderlike blou maan
’n groeiende geel
oog

Die staatsmanne kom huil
en kyk
en wag

Die owerman ontken
en kyk
en wag

Die godsman bid
en kyk
en wag

Die klawerbordklitsers
blameer en
kyk maar wag

Die wag
red ontredderd
verslane in sy onmag
om volkome te waak

Die verskroeide vreemdeling
skree skor: Hoe lank gaan julle nog
kuikenwag
op
’n
Arabiese lente?

– Marchelle van Zyl, 1 September 2023

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.