VSA probeer al weer ’n skuldplan maak, en olie mik vir $100

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

VSA probeer al weer ’n skuldplan maak, en olie mik vir $100

DEBORAH STEINMAIR neem afskeid van haar goeie vriend Schalk Schoombie, en WILLEM KEMPEN wonder wat in mense se koppe aangaan wat hulle rommel orals strooi vir ander mense om op te tel. Soos altyd is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 19 September 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Opruimoperasies is aan die gang in dele van die Wes- en Oos-Kaap nadat die springgety oor die naweek groot skade aangerig het. ’n 93-jarige vrou, Jo Hartman, is by Wildernis naby George dood toe ’n golf oor 'n parkeerterrein gespoel het. Ook in KZN is 12 mense beseer toe 'n golf ’n eetplek in Marinastrand getref het.

2. Dit gons oor waarom Bob van Dijk gister skielik as uitvoerende hoof van Naspers bedank het. Die direksies van Naspers en Prosus het in ’n verklaring gesê hulle het onderling ooreengekom dat Van Dijk dadelik uit sy poste as uitvoerende hoof en ook as direksielid van albei maatskappye sal tree.

3. Pres. Cyril Ramaphosa het gister die 78ste sitting van die Verenigde Nasies se algemene vergadering in New York toegespreek. Ramaphosa het ’n beroep op wêreldleiers gedoen om vroue en kinders se gesondheid te prioritiseer. Hy het hulle ook aangemoedig om maniere te vind om geslagsgeweld te beëindig.

4. Twee mense is dood en 14 is in ’n kritieke toestand ná ’n massaskietery gister by ’n taverne in Kanyamazane buite Nelspruit. Die polisie sê ’n motief is nog nie vasgestel nie.

5. Vyf Amerikaanse burgers wat in Iran aangehou is, het in Qatar aangekom as deel van ’n uitruilooreenkoms tussen die VSA en Iran. Terselfdertyd is vyf Iraniërs wat in die VSA aangehou is, vrygelaat, en die VSA het $6 biljoen van Iran se geld ontvries en dus weer aan dié land beskikbaar gestel, het Reuters berig.

6. Die Amerikaanse regering kan nogmaals tot stilstand gedwing word as die Republikeins-beheerde Huis van Verteenwoordigers en die Demokraties-geleide Senaat nie voor 30 September die nodige wetgewing oor skuldfinansiering aanvaar sodat federale agentskappe hulle deure kan oophou nie.

7. Die lopie in internasionale oliepryse duur voort, met sommige soorte olie wat gister reeds vir meer as $100 per vat verhandel het. Die hoër pryse word aangevuur deurdat Saoedi-Arabië en Rusland albei hulle lewering aan internasionale markte ingekort het.


Daar is waarskuwings oor skadelike golwe tussen Kaappunt en Struisbaai later vandag, asook 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Dis heelwat warmer in die binneland, maar buie kan oor die grootste deel van die land verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 31°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 17°C • Durban 24°C • Kimberley 32°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 28°C • Upington 31°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 22°C.


Willem Kempen | A Bitter Life for All

'n Paar weke gelede is die sypaadjies rondom Olënpark hier in Potchefstroom waar ek woon 'n slag skoongemaak en die gras gesny. Dalk het dit niks te doen gehad met die ANC se “2019 Manifesto Review" wat die afgelope Saterdag hier gehou is nie, dalk het dit.

Ek kan nie agterkom wat die 2019-manifes so besonders maak dat dit juis herbesoek moes word nie. En ondanks die glimlaggende gesig op die reklameplakkate vooraf was adj.pres. Paul Mashatile die mees senior ANC-leier wat dit bygewoon het. Mashatile het ook nie sover ek kon agterkom 'n noemenswaardige toespraak gehou of iets nie. Mens kon wel vroeg Sondagoggend nog die musiek uit die stadion tot aan die ander kant van die stad hoor weergalm.

Ek het Saterdagoggend daar verbygery, tussen 'n menigte mense deur wat in die middel van die pad aangedrentel het met min ontsag vir die opeenhopende verkeer agter hulle. Langs die pad was die een ná die ander stalletjie waar iemand ANC-klerasie probeer verkoop het; te oordeel na al die oorblywende voorraad sonder veel sukses. Nêrens was daar tekens van enige woedende jong aktivis wat 'n plakkaat rondswaai of 'n slagspreuk skreeu nie.

Al wat dalk nog van die ANC 'n broad church maak, is die geldskieters in die tempel se voorportale.

Ek moes gisteroggend weer by die stadion verbyry om die kinders by die skool te gaan aflaai. 'n Goeie kilometer voor mens by die stadion kom, begin die oorblyfsels van Saterdag se makietie jou begroet: 'n see van plastiekbottels, polistireenhouers waarin duisende middagetes klaarblyklik voorgesit is, KFC-kartonhouers, en sommer net gemors, net waar jy kyk. Op die sypaadjies, voor mense se huise, diep die veld in langs die pad ook sommer. Ook oral op die terrein van Potch se eeu-oue treinstasie wat drie jaar gelede afgebrand het en net so gelos is om stukkie vir stukkie verder gestroop te word. Dalk gaan al die rommel om die stadion ook oor drie jaar nog daar lê.

Niks hiervan getuig van 'n gedissiplineerde organisasie wat gestel is op menswaardigheid, opoffering of diens aan die gemeenskap nie. Dit het plek gemaak vir 'n ordelose, rigtinglose en idee-lose beweging waar alles net oor eiebelang en politieke oorlewing gaan.

Die slagspreuk op al daai T-hemde kan net sowel lees: “Ons voel fokol."


Image: ANGELA TUCK

’n Sagte, sagte man

Sondagoggend kry ek ’n WhatsApp van Elmari Rautenbach:

Miskien weet jy: Schalk Schoombie is vanoggend dood nadat breinvliesontsteking maande gelede by hom gediagnoseer is en toe TB van die ingewande ontwikkel het wat te laat opgetel is. Was in ’n koma af en aan vir die afgelope paar weke. ’n Verskriklike lyding gehad.

Verdwaas plaas ek haar woorde op Facebook. Ek het nie eens geweet hy was so siek nie.

Eens, nie lank gelede nie, voor Covid, was ons, soos my ouma sou sê, so dik soos diewe. Close.

Hy het vir my geskryf om dankie te sê vir ’n positiewe resensie oor sy boek Rooi haring. Ons het oor boeke begin gesels. Ons het ontmoet en redelik gereeld begin lunch en nooit ophou praat oor boeke nie. Hy het deel van my Pretoriase skrywersvriendekring geword. ’n Dromerige, sensitiewe man, uiters begaafd in vele rigtings. Hy het as akteur begin en het selfspottend vertel dat Franz Marx hom “jazz-voetjies” genoem het omdat hy met sy voete na buite stap, soos tien voor twee.

Hy het dramas geskryf en bekroonde romans. Hy het nooit gemansplain of gemanspread nie. Hy kon nie reverse nie – dit weet ek omdat hy die kantspieëltjie van sy vrou se nuwe oranje vuurwa morsaf gery het by Protea Boekhuis in Minnistraat waar ek gewerk het. Ons het graag ’n paar glase wyn gedrink, maar daardie dag was hy klipnugter; hy het my op kantoor kom besoek om oor sy manuskrip te praat.

Ons het saam die kunswebwerf Skrop begin. Dit was sy idee en sy entoesiasme het my ingekatrol. Daar het ek my een keer opgeruk toe hy streng gebied dat ek minder oor Protea se boeke en skrywers skryf. Ek het gevoel hy kan nie kla oor gratis arbeid nie; dit het my Sondae in beslag geneem. Maar hy was natuurlik reg. Ek het later onttrek, want my dae het te dol geword. Toe het ons nie meer elke dag gepraat nie.

Image: ANGELA TUCK

Ná die inperking het ons minder kontak gehad. My wêreld het kleiner geword, met minder skrywerslunches en groot kuiers. Johannesburg het ver begin voel. Ek weet hy het gesukkel met sy oë, wat rooi was en getraan het. Hy het gesukkel om te lees. Die dokters het gesê hy gaan blind word, dis onomkeerbare sonskade of iets.

Hy was een van die mense by wie ek tuis gevoel het; onder sy sagte blik kon ek ontspan. Hy was ’n ruimhartige skrywer met immer iets goeds te sê oor ander skrywers. So ’n mooi man met 'n radiostem, maar koddig, met ’n sekere weerloosheid in die wêreld, Jazz-voetjies, met sy bles wat maklik brand, sy deurskynende wimpers en snorklag. ’n Liewe, liewe mens. Nou het die wêreld ’n Schalk-vormige gat. Ons het al soveel verloor.

Hier is wat twee vriende op Facebook oor hom gesê het:

Jan Barend Wolmarans:

Schalk is een van die heel beste en mees versorgende, skadelose mense wat ek ooit leer ken het. In ’n tyd vol roemhoere en sluwe prestasiekonkelaars was hy God Weet ’n Engel.

Martie Swanepoel:

En sagtheid. Schalk sal als omring met sagtheid.

Slaap sag, Schalk, jammer ek het nie saam met jou huis toe gestap nie.


’n Dromer en ’n gentleman

Die nag ruik na spoed
het jy geskryf
en geruisloos
tussen die reëls verdwyn
met jou koordferweelstem

Jou laaste manuskrip
sit nog in my inboks
Jou pet het hier bly lê
soos iets wat jy wou sê

Ons drink lou rooiwyn
In 'n lente vol stuifmeel
Snorklag tot ons oë traan
Ons het die pes oorleef
Jou sig is aan die krimp

Die lig is te skerp
Jou hug is warm
jou hart is sag
jou oë bleekblou
'n yssplinter hang
aan jou neuspunt

Watter boek gaan jy lees
Schalk, voor jy gaan slaap
Op bladsy hoevil was ons

Die boekmerk het uitgeval

– Deborah Steinmair

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.