Ons hoort almal hier en gaan saam sink of swem

MAANDAG MET MAX

Ons hoort almal hier en gaan saam sink of swem

Ná Erfenisdag skryf MAX DU PREEZ oor ons gedeelde geskiedenis en vra dat ons die laers moet oopgooi, ANNELIESE BURGESS voel nogmaals welkom in die Wes-Kaap, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 25 September 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gister ’n vlak 9-waarskuwing oor ontwrigtende reën oor Kaapstad, dele van die Overberg en die Kaapse Wynlande uitgereik. Swaar reën en stormsterk winde sal na verwagting die streek van Sondag tot Maandag beïnvloed, het News24 berig. Die weerdiens het gesê wydverspreide oorstromings, hewige donderstorms, stormsterk winde en onstuimige seetoestande kan verwag word.

2. Die katastrofiese weghol-veldbrande wat vir langer as drie dae in die omgewing van Daniëlskuil en elders in die Noord-Kaap gewoed het, is gister in bedwang gebring, het Netwerk24 berig. Brande woed ook steeds in dele van Noordwes, onder meer by die Madikwe-natuurreservaat.

3. Die Proteas onder aanvoering van kaptein Temba Bavuma het gister na Indië vertrek vir krieket se Wêreldbekertoernooi. Bavuma het gesê die toestande in Indië sal vir ’n interessante toernooi sorg en dat die span “dapper, vreeslose en positiewe” krieket wil speel tydens die toernooi, wat op 5 Oktober begin.

4. Drie mense is dood en meer as 1 000 haweloos gelaat deur Saterdagaand se brand in die Cemetery View- informele nedersetting in Pretoria. Noodwerkers het gister afgekom op die oorskot van drie mense wat doodgebrand het, onder wie ’n vyfjarige meisie.

5. Koning Misuzulu kaZwelithini het gister op Erfenisdag ’n beroep op lede van die Zoeloe-koningshuis gedoen om end te kry met die binnegevegte wat woed sedert die heengaan van koning Goodwill Zwelithini in 2021. Hy het ook gesê ’n nuwe tradisionele eerste minister sal in die plek van prins Mangosuthu Buthelezi aangestel word sodra die routydperk verby is.

6. ’n Geraamde 40 000 Spanjaarde het gister in Madrid betoog teen waarnemende premier Pedro Sanchez se planne om amnestie aan Katalaanse separatiste toe te staan om homself in die amp te hou. Sanchez het tweede gekom in Julie se verkiesing, maar kan as premier aanbly as hy die steun kry van die Kataloniese separatisteleier Carles Puigdemont, wie se Junts per Catalunya-party sewe setels in die Spaanse parlement het.

7. Nasa se Osiris-Rex-ruimtekapsule sou gister ná ’n reis van sewe jaar in die woestyn in Utah land met die grootste hoeveelheid asteroïdestof aan boord wat tot nog toe versamel is. Osiris-Rex het in 2016 op die asteroïde Bennu geland en ongeveer 250 gram stof van die rotsagtige oppervlak bymekaargemaak.


Waarskuwings wat wissel van vlak 2 tot 9 is uitgereik oor ontwrigtende reën, vloede en wind in dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap (kyk ook by punt 1 hier bo by “Sewe goed wat jy vandag wil weet”). Ernstige donderstorms, swaar reën en wind sal in dele van die Oos-Kaap en KZN, Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Limpopo en Mpumalanga voorkom. Tussen Kaap Agulhas en Plet en ooswaarts tot by Port Edward sal skadelike winde en golwe voorkom, met erge golwe tussen Tafelbaai en Kaap Agulhas, asook langs die KZN-kus. Uiters hoë brandgevaar word ook voorspel oor dele van Noordwes, Limpopo en Mpumalanga.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 16°C • Durban 28°C • Kimberley 18°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 26°C • Upington 18°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 22°C.


Anneliese Burgess | Ons regering lewe in ’n borrel met ja-en-amen-lakeie

Dat iets ’n cliché geraak het, maak dit nie minder waar nie. As jy lank genoeg gemarineer het in ’n regering se wanfunksionaliteit, soos ek het in die Oos-Kaap – waar die staat so te sê heeltemal verdwyn het – dan is daar iets wonderbaarliks om die Wes-Kaap binne te ry. Jy hoef nie eers te wag vir die “Welkom in die Wes-Kaap”-bordjie nie; jy kan dit net voel. Heng, dit voel selfs asof die bestuurders beter bestuur, omdat daai verkeersbeampte wat onder ’n bloekomboom staan miskien nie vir jou vir ’n cooldrink gaan afshake nie, maar actually gaan doen wat ’n verkeersbeampte moet doen.

Ek ry Kaap toe. Net voor Oudtshoorn word ek afgetrek. Ek het my rybewys by die huis vergeet. Ek het ’n foto daarvan op my foon, maar meneer Adonis sê dit gaan nie help nie, want hy moet dit scan. En sonder die actual lisensie gaan eNaTIS dit uitskop. Hy is hoflik en uiters professioneel. Hy gaan druk my boetepapiertjie uit op ’n drukker in sy kar. R800. Ek voel nie eens gegrief nie. Ons groet vriendelik. Hy skryf ’n nommer vir my agter op my boete wat ek kan bel om te vra dat die boete tersyde gestel word.

’n Paar maande gelede word ek in die Oos-Kaap in ’n padblokkade afgetrek – op pad hospitaal toe na my ma, in my ma se bakkie. Daar is ’n agterstallige boete van my liewe moeder wat iewers naby Aliwal 123 km per uur in 80-sone gery het.

Oh well. My ma het van spoed gehou.

In die karavaantjie word my betaling omgeruil met iemand anders s’n. Ek kom eers later agter dat ek ene W.K. Mzweni se boete betaal het. Hoe begin mens om so ’n ding reg te stel? Die antwoord is: Jy kan nie. Jy aanvaar maar dat daar vir jou op een of ander manier ore aangesit is. Want jy het lankal ophou glo dat die staat doen wat ’n staat moet doen. Jy aanvaar maar dis ’n mafia-getjommel. The luck of the draw.

Dis ’n anekdote oor ’n groter ding. My vriendin K woon in Groenpunt. Sy stuur elke nou en dan vir my ’n foto van die president se kavalkade wat saans terugkeer na sy woning in die buurt.

Voor ek by Vrye Weekblad begin werk het, was ek 10 jaar lank ’n konsultant vir verskeie ministers en LUR’e. Ek het van my werk gehou. Dit was interessant. Ek het vir van die voorste mense in die kabinet toesprake geskryf. Maar elke keer as ek die narratief na gewone mense toe wou begin plooi, is ek teruggeruk na die voorspelbare “better life for all”-ANC-retoriek.

Sinnelose politieke geprewel. Omdat die groot kokkedore in die regering en die staatsdiens heeltemal uit voeling is met wat nou eintlik op voetsoolvlak aangaan.

Ek het weer daaraan gedink toe ek onlangs lees hoe die groot, “geheime” krisisvergadering oor die staatskas wat leegloop op Spier gehou word, ’n spoggerige wynlandgoed buite Stellenbosch. Vir wat? Is Tuynhuys en Groote Schuur is nie goed genoeg nie?

Ons regering woon in ’n borrel. Ons president het nie ’n idee wat aangaan nie. Hy word omring deur ja-en-amen-lakeie. Hy gaan beslis nooit sien hoe die ou omie met sy handgemaakte houtraam die strepe op die pad na ons woonbuurt verf nie. Omdat sy regering te vrot is om dit te kan doen.


Goeie nuus: Jy kan jou voorsate kies

Dis Erfenisdag. So, wat is ons “erfenis”? En wie is “ons”?

In 2008 sit ek op die balkon van ’n klein hotelletjie in die eeue oue stad Mostar in Bosnië-Herzegovina. Ek skryf die voorwoord vir my boek Of Tricksters, Tyrants and Turncoats, die tweede in my reeks boeke met ongewone verhale uit ons geskiedenis; met “ons” wat verwys na ons hier aan die suidpunt van Afrika.

Honderd meter of so van my balkon is daar ’n manjifieke antieke gebou wat in 1993 tydens die oorloë in die ou Joego-Slawië aan stukke gebombardeer is. Die Serwiërs en die Kroate het die geskiedkundige ou stad tot bouvalle verniel, waaronder die brug en die moskee wat in die 1500’s gebou is.

Die brug en die moskee is in die Moslem-sektor, my hotel is in die Kroatiese sektor. Die meeste Serwiërs was in daardie stadium uit die stad gedryf.

’n Plaaslike vredesaktivis gaan wys vir my die plaaslike hoërskool waar Moslemkinders (deesdae word na dié groep as Bosniakke verwys) en Kroate afsonderlik skoolgaan.

Die mense bly in dieselfde dorpe en stede. Hulle praat dieselfde taal. Hulle lyk dieselfde. Maar die kinders word vertel dat hulle niks gemeen het nie. Hulle geskiedenisonderwysers leer hulle dat “hulle”, die ander groep, bose vyande is.

Ek was tydens dié besoek aan die Balkans ook in Serwië, Kosovo en Kroasië. Ek is selfs onder polisiebegeleiding na Mitrovica in Kosovo waar etniese Albanese en Serwiërs mekaar so haat dat ’n VN-vredesmag hulle uitmekaar moet hou.

In dié wêreld sal een gemeenskap vir jou ’n gehate oorlogsmisdadiger uitwys; ’n kilometer of wat verder sal ’n ander gemeenskap dieselfde man as edele, dappere nasionale held noem.

Ek was ’n bietjie soos ’n evangelis tydens dié besoek, skryf ek in my voorwoord. Die oorloë daar het in 1995 geëindig, net mooi ’n jaar nadat ons ’n demokrasie geword het. Ek het kopieë van my vorige boek, Of Warriors, Lovers and Prophets, aan gemeenskapsleiers uitgedeel en gespog met hoe ons in Suid-Afrika ons gedeelde geskiedenis en erfenis ontdek en watter vordering ons na groter sosiale kohesie ná eeue van bittere onreg gemaak het.

Die reaksie op my drie populêre geskiedenisboeke het my aangenaam verras. My resep is om die stories van interessante, ongewone mense uit die 350 jaar van ons geskiedenis – ons gedeelde geskiedenis, ons almal se geskiedenis – te vertel, sonder om skuld uit te deel of vingers te wys. Dié mense se stories gee dan die agtergrond van wat in hulle tyd in ons land gebeur het.

Image: ANGELA TUCK

By een hoërskool waarheen ek genooi is om oor die boeke te praat, het ’n swart seun in ietwat gebroke Engels vir my gesê die storie wat hom die meeste aangegryp het, was my storie van Nonnie de la Rey, vrou van generaal Koos. By ’n meestal wit skool het ’n meisie weer gesê haar gunsteling-storie was dié van die “oorlogdokter” van die Xhosa, Makhanda.

En hieruit het my tesis ontwikkel dat ons almal ons ancestors kan kies. (Voorvaders is net manlik en voorsate voel asof dit na biologiese mense verwys van wie jy afstam. As ek voorsate gebruik, bedoel ek dit in die sin waarin veral swart landgenote van ancestors praat: nie dooies aan wie jy noodwendig biologies verwant is nie.)

Dis nie so vreemd nie. Jan van Riebeeck word byvoorbeeld as ’n Afrikaner-voorsaat gesien, maar hy was maar net ’n paar jaar lank hier, het glad nie van die plek gehou nie en het geen bloedlyn agtergelaat nie. Afrikanerhelde soos Piet Retief, Christiaan de Wet en Jopie Fourie word ook as voorsate gesien deur mense wat geen bloedverwantskap met hulle het nie.

Dan mag ek mos sê ek verkies om nie Hendrik Verwoerd of Jimmy Kruger as ’n voorsaat te hê nie, veel eerder die Khoe-kryger Doman, die Sotho-filosoof Mohlomi, Beyers Naudé of Nelson Mandela?

Wat ek eintlik wil sê, is dat ons almal mekaar beter gaan verstaan as ons die stories van al ons gemeenskappe ken.

Ek is self baie verryk deur my jarelange navorsing oor die geskiedenis van my geboorteprovinsie, die Vrystaat, veral die voor-koloniale en vroeë koloniale geskiedenis van die Basotho. En dit het net gebeur omdat my pa my as kind van die besonderse koning Moshoeshoe vertel het.

My navorsing vir die geskiedenisboeke – en twee wat op pad is – het my oneindig baie gehelp om my nasie beter te verstaan.

My grootste spyt is dat my Sesotho baie elementêr is en ek geen ander inheemse taal leer praat het nie.

So wat is my “erfenis”; wat is my “kultuur”?

My liefde vir vleisbraai deel ek met die meeste swart Suid-Afrikaners. Rugby ook, veral Xhosasprekendes. My kossmake kom veral uit ons Maleiergemeenskap.

Die res is eintlik net taal: Afrikaans is my moedertaal. Ek is nie ’n politieke Afrikaner nie; ek praat net Afrikaans en is die produk van ’n Afrikaanssprekende agtergrond.

Ek is al 23 jaar lank met ’n Engelssprekende vrou getroud en daar is nie ’n jota se “kulturele verskil” tussen ons nie, net taal. En gelukkig kan ek Engels en sy Afrikaans praat.

Ek het in my jonger dae ’n paar Boerejode geken, soos Boetie Edelstein, wat net so Afrikaans soos ek was, maar steeds die Joodse geloof aangehang het.

Natuurlik is ons almal nie eenders nie, dank die vader. Maar as ek party Afrikaners se goed op sosiale media of hulle kommentare op Afrikaanse webwerwe lees of na van die Afrikaanse musiek luister, is dit ook duidelik dat ek meer met my swart stedelike vriende en kollegas as met dié mense gemeen het.

Maak die laer oop, kamerade, almal van julle, uit alle gemeenskappe. Dit is ’n wonderwêreld van ontdekking. Ons hoort almal hier en gaan saam sink of swem.

Groetnis
Max


Fugal

A shriek, dawn-like, birdless – an ordained
stratum – pulsing canticle of the numen. 

The chant coarsely flung at the bosky ridges 
of shattered clavicle – skull doused in lacquer. 

Hear into the negative of bone the annals of a hut,
lamina of guttural gowk.                                         
Fluted brinks of obsidian 
cloaked dimly in canon – clamor, mist, shaping the glum 

worship. The rite of splay – to utter a corpse to dazzle
– entombing the nebulous flesh in funerary hum, a syllabic urn.

– Santee Frazier


Lees hierdie week se hele uitgawe:

Image: ANGELA TUCK

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.