Skrywers hou op staak en ander dinge om voor dankbaar te wees

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Skrywers hou op staak en ander dinge om voor dankbaar te wees

DEBORAH STEINMAIR sê die Afrikaanse boekepoel is klein maar helder, WILLEM KEMPEN sien hoop in 'n boom wat omgeval het, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 26 September 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Swaar reënbuie en stormweer het geweldige skade aan huise, paaie, brûe en ander infrastruktuur in verskeie dele van die Wes-Kaap aangerig. Verskeie gebiede is oorstroom en in een stadium was al die toegangsroetes na Kaapstad onbegaanbaar.

2. Augustus en September se verwoestende brande in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes en Limpopo het boere minstens R1 biljoen aan verlore oeste en vee gekos, het Agri SA gesê. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, het volgens News24 gesê minstens 1,2 miljoen hektaar grond is geraak.

3. Pres. Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid gemagtig om 'n tender van R290 miljoen te ondersoek wat aan die berugte “sakeman" Edwin Sodi toegeken is vir die opknapping van die Rooiwal-watersuiweringsaanleg in Tshwane. Die mislukking van dié projek word regstreeks verbind met Mei se dodelike cholera-uitbraak in Hammanskraal.

4. Die DA het vir Chris Pappas, tans burgemeester van uMngeni, as sy premierskandidaat in KwaZulu-Natal vir volgende jaar se verkiesings aangewys.

5. Joe Phaahla, minister van gesondheid, moet teen vandag verduidelik wat gebeur het met 'n forensiese ondersoek in Oktober 2020 wat grootskaalse korrupsie van sowat R1,2 biljoen in Noordwes se gesondheidsdepartement oopgevlek het, het die Gautengse hooggeregshof in Pretoria beveel. Phaahla kan vir tot twee jaar tronk toe gestuur word as hy nie gehoor gee aan die hof se bevel nie, het News24 berig. 

6. Hollywood se skrywersvakbond, die Writers Guild of America (WGA) het 'n voorlopige arbeidsooreenkoms met die land se groot ateljees bereik. Die ooreenkoms sal na verwagting minstens een van twee stakings beëindig wat die produksie van die meeste Amerikaanse flieks en TV-reekse die laaste paar maande tot stilstand laat kom en die Kaliforniese ekonomie biljoene dollar gekos het. Die soortgelyke staking deur akteurs duur voort.

7. Duisende etniese Armeniërs het gister uit die bestrede Nagorno-Karabach gevlug ná 'n militêre offensief deur Azerbeidjan. Van die vlugtelinge het aan Reuters gesê hulle wil Armenië probeer bereik omdat hulle vervolging en etniese suiwering onder die Azerbeidjanse bewind vrees.


Daar is waarskuwings oor skadelike wind en golwe tussen Plettenbergbaai en Durban, asook oor dele van die Oos-Kaap, waar swaar reën verwag word. Daar is ook waarskuwings oor swaar donderbuie oor Limpopo en Mpumalanga. Dis vandag deels bewolk tot bewolk met buie oor die grootste deel van die land behalwe, Gauteng en Noordwes.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 21°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 18°C • Durban 24°C • Kimberley 17°C • Bloemfontein 17°C • Polokwane 27°C • Upington 22°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 19°C.


Willem Kempen | Kom ons wees positief, een gevalle boom op ’n slag


Nee regtig, kom ons wees positief. Mens kan ook net sóveel keer lysies maak van als wat skeefloop en almal wat skelm is of nie hulle werk wil of kan doen nie.

So, niks se gewalg in die modder van ons LP's wat besluit het om meer as twee jaar ná die stroop-en-plunder van Julie 2021 'n spesiale komitee van ondersoek na die gebeure aan die volgende parlement oor te laat nie.

Ook geen vrae oor die verband tussen die kwalifikasies van die mense wat aangestel is in die direksie van die maatskappy wat oor die Johannesburgse metroraad se eiendomsportefeulje van R8,7 biljoen moet toesig hou en die getal mense wat al in daai geboue doodgebrand het nie. (Wanneer laas is daai waardasies geoudit?)

En nie 'n woord oor die 19 plaaslike raadslede wat vanjaar al in KZN doodgeskiet is nie, of dat Paul Mashatile waarskynlik ons volgende president gaan wees nie.

Hier is my lysie van die beste dinge wat die laaste tyd in die land gebeur het:

Ons is oplaas heeltemal ontslae van Busisiwe Mkhwebane, loshande die swakste openbare beskermer wat ons al gehad het, selfs as jy ruimte laat vir die moontlikheid dat haar onbeholpenheid ook aan kwade bedoelings eerder as net onkunde toegeskryf moet word.

Mkhwebane se vertrek beteken ook, soos Mondli Makhanya Sondag in City Press geskryf het, dat ons nou die laaste gesien het van die ergste oorblyfsels uit die Jacob Zuma-skrikbewind: die swakste kommissarisse van polisie in Riah Phiyega en Khehla Sitole, die gevaarlikste baas van die Inkomstediens in Tom Moyane, die vrotste nasionale direkteur van openbare vervolgings in Shaun Abrahams, die powerste hoof van die Valke in Berning Ntlemeza, en die vergeetbaarste hoofregter in Mogoeng Mogoeng.

Volgende op my lys: Dat Nkululeko Mkhize deur lede van die polisie se nasionale intervensie-eenheid doodgeskiet is in 'n skietgeveg by die weelderige Zimbali-landgoed in KwaZulu-Natal. Selfs nie sy eie prokureurs sou wou voorgee Mkhize was enigiets anders as 'n gangster en 'n rubbish nie, en dis 'n blye dag dat geen ondersoekbeamptes of staatsaanklaers verder tyd sal hoef af te staan om hom agter tralies te kry nie.

Die laaste ding op my lys is 'n bittersoet herinnering dat ek nie regtig meer in dieselfde land woon as die mense van Kaapstad nie: 'n boodskap op X dat 'n boom wat gister iewers in die stad omgetrek is en 'n pad versper het, glo in minder as 45 minute deur die owerhede opgeruim is. Kan dit wees? In die middel van al die stormskade?

Ja, ek weet daar is waarskynlik ook iewers in Kaapstad 'n boom wat al 45 dae of selfs 45 maande daar lê sonder dat iemand iets dááraan doen, dalk selfs baie sulke bome, maar tog.

Hoe gaan ons die land weer aan die gang kry, anders as een boom op 'n slag?


Image: ANGELA TUCK

Weelde in die skadu van Tafelberg

Om op ’n kortlys te wees, is ’n gemengde seën. Dis ’n groot eer, ja. Jou dwase hart maak bokspronge en daardie gevaarlike ding, hoop, meld in jou borskas aan.  

Ek was al op ’n paar kortlyste en het nie altyd die geleenthede bygewoon nie, om nie soos die derde prinses by ’n skoonheidskompetisie deur die trane van teleurstelling te moet glimlag nie. As ’n mens wel ’n wenner is en jy laat weet dat jy nie gaan nie, weet ek reeds, bel die organiseerder jou en vertel jou jy móét daar wees.  

Vanjaar was ek nie ’n onwillige stiefsuster nie. Ons het besluit om te gaan, wen of te not, want ’n nag in die Mount Nelson is nie te versmaai nie. En ’n vlug Kaapstad toe. Ek het my verwagtings bestuur omdat my resensie wat in aanmerking gekom het vir ’n kykNET-Rapport-prys in Vrye Weekblad verskyn het, buite die stal van Rapport en kykNET.  

Ons was glad nie voorbereid op die ouwêreldse weelde van die ou pienk dame in Kaapstad nie. Butlers ontmoet jou by jou voertuig met ’n warm pienk waslappie. Almal is stralend vriendelik. Jou bagasie word geneem en by jou suite afgelewer.  

Ons suite was verbysterend groot en ons het gevoel soos plaasmuise wat niks op aarde gewoond is nie. Darem straatslim genoeg om te weet: Moenie in die minikroeg invaar nie, dit gaan jou duur te staan kom. So ook die neute, tjips en versnaperings. Daar was darem twee komplimentêre botteltjies pienk jenewer met ’n verwelkomingskaartjie, en pienk macaroons. ’n Uitsig op die berg.  

’n Ruim sitkamer, ’n reuseslaapsuite, ’n leeskamer met uitsig, met spoggerige skryfbehoeftes van die hotel. Pantoffels, japonne, kussingsproei, elke luuksheid. ’n Grootskerm-TV wat uit ’n kas aan die voetenent van die bed oprys, om die rugby te kyk voor ons gaan slaap. 

Die geleentheid is in die banketsaal gehou en alles was swierig. Opeens het ek die hele boekewêreld lief, mense teen wie ek al meegeding het, met wie ek al gestry en aanlyn geveggies gevoer het – my trop; mense wat leef vir boeke.  

Daar is aangrypende, beeldskone figure soos Bibi Slippers in ’n warm pienk minirok met pienk hoëhakskoene, woordseker soos altyd. Peter van Noord wat soos 'n Baldwin-broer lyk met lang, reguitgeblaasde hare. Kerneels Breytenbach, flambojant in sultanbroek, veelkleurig. Die sagte glimlag van Anita van Zyl wat agter die skerms woeker, en haar lieflike serp. 

Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse (saam met Hettie Scholtz, boekefee, derde van regs) is (van links): Theodore Rossouw (niefiksie-resensent), Deborah Steinmair (fiksie-resensent), Kirby van der Merwe (Jan Rabie-Rapportprys en kykNET-Rapportprys vir fiksie), Eunice Visser (kykNET-Rapportprys vir niefiksie) en Chris Karsten (kykNET-Rapport-Herman Binge-prys vir film).
Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse (saam met Hettie Scholtz, boekefee, derde van regs) is (van links): Theodore Rossouw (niefiksie-resensent), Deborah Steinmair (fiksie-resensent), Kirby van der Merwe (Jan Rabie-Rapportprys en kykNET-Rapportprys vir fiksie), Eunice Visser (kykNET-Rapportprys vir niefiksie) en Chris Karsten (kykNET-Rapport-Herman Binge-prys vir film).
Image: NAOMI MEYER

Daar was net een mens wat ek nie wou sien nie, en hy duik oral by boekgeleenthede op. ’n Eksbaas wat my altyd laat dink aan T.S. Eliot se woorde:  

How unpleasant to meet Mr. Eliot!  
With his features of clerical cut,  
And his brow so grim  
And his mouth so prim.  

Ons het lekker met Thys Human gesels, ’n dromerige man wat die mooiste commendatio oor Kirby van der Merwe se Eugene gelewer het: ’n kunswerk op sigself. Met my oudredakteur, Alida Potgieter, skrander, stralend, tydloos. Tussendeur flonker die goeie fee van boeke, Hettie Scholtz, in 'n eksotiese jassie, vol belofte en goedgunstigheid. Eloise Wessels met sagte, skouerlengte silwer hare en haar hoogs belese Andries. 

Ek het opeens daardie stal vir wie ek eens gewerk het en met wie ek al koppe gestamp het, liefgekry: die groot mediahuis met vele wonings. Hoe ruimhartig dat hulle ’n resensent van Vrye Weekblad laat wen het! Dat hulle my betaal het om in weelde te gaan rondwals. Ek is diep dankbaar.  

Ek het my toekenning opgedra aan Schalk Schoombie, wat self al bekroon is. Ek het Vrye Weekblad bedank vir die lekkerste werk van my lewe. Dit was ’n magiese aand.

Die boekepoel in Afrikaans is maar klein en op ’n aand soos Saterdagaand sien jy dis glad nie modderig nie, maar helder, soos ’n kuil vol maneskyn.  


tyd

mag dit laatmiddag wees
mag jy by die venster sit
wanneer skadu's sag beslag lê op die werf
wanneer hadidas roep oor huis toe gaan
wanneer jy die bries verwelkom
ná die hitte van die dag

wanneer die son ver kyk berge toe
en vir oulaas oor sy gunstelinge streel
die rooi dak oorkant die straat
die hoogste takke van die vlier
jou sake gedaan
jou dun wit haartjies blinkgewas

– Corné Coetzee

(Uit: nou hier)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.