Te veel reëls is ewe lastig in skryfwerk as in rugby

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Te veel reëls is ewe lastig in skryfwerk as in rugby

Hou dit kort, pleit DEBORAH STEINMAIR. Maak dit eenvoudiger, vra WILLEM KEMPEN. En ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 03 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Transnet het verlede jaar twee senior bestuurders afgedank nadat die maatskappy meer as 10 000% van markwaarde betaal het vir weggooibare strooitjies wat vir alkoholtoetsing van werknemers gebruik is, het die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gehoor. In een geval is van dié strooitjies, wat vir 28 sent elk aangekoop is, vir R29 elk aan Transnet verkoop, blyk uit ’n verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid.

2. Pick n Pay se direksie het sy voormalige bedryfshoof Sean Summers ná 16 jaar in Brittanje in dié pos heraangestel om die sukkelende supermarkgroep te kom regruk. Summers vervang Pieter Boone, wat die pos dadelik ontruim.

3. Die kantoor van die openbare beskermer gaan bewerings ondersoek dat Chris Pappas, die DA se premierskandidaat in KZN, sy voormalige verloofde begunstig het toe ’n toerismekontrak in uMngeni aan hom toegeken is.

4. Die Springbokke het die senter Lukhanyo Am opgeroep as plaasvervanger vir die vleuel Makazole Mapimpi, wie se wangbeen Saterdag in die wedstryd teen Tonga gebreek is.

5. Vanjaar se Nobelprys vir geneeskunde is toegeken aan Katalin Karikó en Drew Weissman danksy hul ontdekkings oor nukleosiedbasis-modifikasies wat die ontwikkeling van doeltreffende boodskapperribonukleïensuur-entstowwe (bRNS-entstowwe) teen Covid-19 moontlik gemaak het. Karikó en Weissman is jare lange kollegas aan die University of Pennsylvania.

6. Meer as duisend mense het al sedert die begin van vanjaar in Bangladesh weens knokkelkoors (dengue fever) gesterf. Dit is die land se ergste aangetekende uitbraak van dié siekte, wat deur muskiete oorgedra word. Dié sterftesyfer in Bangladesh is hoër as die totaal van al die vorige jare sedert 2000.

7. Donald Trump is met meer as $1 biljoen begunstig deur aan banke en versekeraars te lieg oor die waarde van sy bates, het staatsaanklaers gister in New York beweer op die eerste dag van die siviele bedrogsaak wat die einde van die voormalige president se uitgebreide eiendomsakeryk kan beteken, het Reuters berig.


Daar is waarskuwings oor ’n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Dis vandag warm tot baie warm oor die grootste deel van die land, veral in die Noord-Kaap, waar donderbuie later verwag kan word. Limpopo, Mpumalanga en die Wes-Kaap is mistig en deels bewolk in sommige dele. Die Oos-Kaap is deels bewolk tot bewolk en KwaZulu-Natal kan mistig wees in sommige gebiede.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 24°C • Durban 28°C • Kimberley 36°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 28°C • Upington 39°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | As so ’n belangrike wedstryd op papier beslis moet word ...

Is die Springbokke nou deur na die kwarteindronde of nie?

Dít is ’n merkwaardig moeilike vraag om te beantwoord, selfs ’n dag of twee ná hulle oorwinning teen Tonga.

Die kort antwoord: Ja, hulle is.

Die effens langer antwoord is: Ja, waarskynlik.

Die baie lang en volledige antwoord brei dan uit op “waarskynlik”: As dié of daai gebeur, en hierdie en daardie nié gebeur nie, en die verskil tussen W en X is groter as Y maar kleiner as Z, dan kan dit of dat ook gebeur, mits ...

En só gaan dit aan.

Van die veranderlikes in dié permutasie is wie wanneer hoeveel bonuspunte kry, en die punteverskille tussen die spanne in die toernooi tot dusver.

En dít alles sodat ons kan weet watter twéé spanne uit ’n poel van net vyf lande – waarvan een Roemenië is, so eintlik net vier lande – na die volgende ronde deurdring. Voeg daarby dat daar altesaam net 20 spanne in die toernooi is, maar dat drie van hulle (die Bokke ingesluit) op papier nog ’n kans het om Poel B en dus ook die toernooi te wen.

Ene Chris Swart het dié tabel opgestel om al die moontlike uitkomste te wys, en sowaar, die man is ’n data-ontleder van beroep:

Ek het geen idee hoe akkuraat Chris se tabel is nie; dis vir my goed genoeg dat Jacques Nienaber ná die wedstryd gesê het: “We’ll have to wait. Our pool gets sorted out on Saturday [die wedstryd tussen Skotland en Ierland], so it’s a waiting game.”

Dis absurd. Wenners kan nie altyd dadelik op die veld beslis word nie, maar dié soort kompleksiteit lyk na iets wat te lank gelede al deur ’n oningeligte komitee bekook is. Dit gaan nie nuwe spelers óf toeskouers na die spel lok nie. Inteendeel.


Image: ANGELA TUCK

Kom ons tel ons woorde

My vriend Schalk het 'n roman geskryf met die titel Boomkastele. Een van sy gunstelingboeke was Richard Powers se The Overstory, oor die geheime kommunikasienetwerk tussen bome.

Ek sukkel om te verwerk dat 'n 16-jarige die beroemde Robin Hood-boom by Hadrian's Wall in die noorde van Engeland oornag afgesaag het. Die boom was meer as 300 jaar oud. Wat sal mense volgende doen om aandag te trek, bekend te raak, belangrik te voel?

Ons wat wil skryf, kalwe natuurlik ook weg aan die wêreld se boombevolking. Dis nie dat skrywers skryf om bome uit te dun of pryse te verower nie; dis meer dat hulle nie anders kan as om veelseggende, monumentale kwessies op die kollektiewe gemoed los te laat nie.  

Hierdie jaar het reeds 'n ryke oes opgelewer. Ek dink aan Etienne van Heerden, S.J. Naudé, Annemarié van Niekerk, Eben Venter en vele ander. Hulle takel morele en filosofiese vraagstukke; hul skryfwerk is swanger aan implikasie. En so verskillend. 

Van Heerden is verstommend woordryk. Hy is verlief op woorde en sal sekere woorde en frases amper kompulsief herhaal vir die louter vreugde daarvan.  

Plaas daarnaas Naudé se gestroopte prosa: Hy skryf 'n heelwat dunner boek wat eweneens vensters in die leser se kop laat oopwaai. En Venter se ingesteldheid op die omgewing: Sy intuïtiewe aanvoeling vir 'n renosterkoei se binnestem is verbysterend. Alles in meesleurende prosa.  

William Faulkner het gesê elke roman is 'n mislukte kortverhaal en elke kortverhaal is 'n mislukte gedig. Maar sommige lesers voel hulle kry slegs waarde vir geld wanneer hulle 'n lywige boek koop.

Nou ja, elkeen sing soos hulle gebek is.

In vorige eeue, in die dae van Dickens en Dostoyevsky, het lesers meer tyd gehad. Dis winter in Moskou en jy sit voor jou vuur met 'n leeslamp en 'n ballonglas vodka. Jy slaan 'n lywige boek oop en verloor jou daarin. Teenoor vandag: Jy het 'n halfuur om te lees en jy word gedurig onderbreek deur piengende teksboodskappe, sosialemedia-kennisgewings, brekende nuus en Netflix-reekse; boonop woed internasionale sportkragmetings soos veldslae in jou sitkamer.  

Is moderne lesers nog geduldig genoeg om elke oomblik mee te maak, elke briesie wat veeg oor die werf, elke gedagte wat deur die karakter se voorkop stoot?  

Daar is natuurlik plek vir dun en dik op die rak, maar ek wonder weer hieroor terwyl ek stadig, proe-proe, Claire Keegan se dun boekie, Small Things Like These, lees. Dis aanbeveel deur ons boekefynproewer Kerneels Breytenbach, op aanbeveling van Eben Venter. Hilary Mantel se kommentaar op die voorblad is: “Wastes not a word. Exquisite."

Miskien moet ons ons woorde tel. Bome spaar.

En menslik wees.


Deur dik en dun teen rassisme

Ek en Vrye Weekblad neem standpunt in teen die insident van rassisme waaraan die skrywer Bettina Wyngaard onlangs by 'n boekfees onderwerp is. Ons verklaar die volgende:
1) Ons feeste is nierassig.
2) Ons staan vooroordele betreffende ras, geslag, kleur, gender en seksuele oriëntasie teen.
3) Ons feeste is inklusief.
4)Ons verbind ons daartoe om op te tree teen mense wat nie hierby hou nie.

– Deborah Steinmair


Trees

I think that I shall never see
A poem lovely as a tree.

A tree whose hungry mouth is prest
Against the earth's sweet flowing breast;

A tree that looks at God all day,
And lifts her leafy arms to pray;

A tree that may in Summer wear
A nest of robins in her hair;

Upon whose bosom snow has lain;
Who intimately lives with rain.

Poems are made by fools like me,
But only God can make a tree.

– Joyce Kilmer

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.