Winste word minder en skuld word meer

DONDERDAG MET MERCY

Winste word minder en skuld word meer

MERCY KANNEMEYER vra 'n netelige vraag oor die doodstraf, WILLEM KEMPEN wonder wat Elon Musk se eintlike agenda is, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 05 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. PostBank het begunstigdes van maatskaplike toelaes verseker dat daar nie 'n herhaling van verlede maand se vertragings met betalings sal wees nie.

2. Tshwane en Ekurhuleni skuld Eskom gesamentlik sowat R4,7 biljoen. Eskom het in 'n verklaring gesê albei munisipaliteite het versuim om hulle oorbetalings aan Eskom ten volle na te kom en by ooreenkomste daaroor te hou.

3. Vier ondernemings in staatsbesit – Eskom, die SAL, Denel en Alexkor – sowel as die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Vergoedingsfonds en NSFAS, het die sperdatum gemis om hul finansiële jaarstate by die parlement in te dien, het News24 berig.

4. Die winste van die Suid-Afrikaanse mynbedryf het vanjaar met byna R100 biljoen gedaal weens onder meer laer kommoditeitspryse, beurtkrag en logistieke probleme met spoorvervoer, blyk uit 'n verslag van PwC wat op 'n ontleding van 29 plaaslike mynmaatskappye gegrond is.

5. FirstRand, SA se grootste bankgroep, het ingrypende bestuursveranderinge aangekondig, waaronder dat sy uitvoerende hoof, Alan Pullinger, vroeg volgende jaar deur Mary Vilakazi, tans bedryfshoof, vervang sal word.

6. Afverkope van belangrike internasionale staatseffekte het gister voortgeduur. Onder meer het die opbrengskoers op die Amerikaanse tesourie-effek oor 30 jaar vir die eerste keer sedert 2007 tot 3% gestyg, wat daarop dui dat verdere woelinge op wêreldmarkte dalk voorlê.

7. Jim Jordan en Steve Scalise is die twee waarskynlikste kandidate om die volgende speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers te word ná eergister se historiese verwydering van Kevin McCarthy. Die meeste waarnemers verwag 'n morsige bakleiery onder Republikeine voordat 'n stemming oor McCarthy se opvolger op 11 Oktober plaasvind.


Daar is waarskuwings oor ’n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes, Limpopo en KwaZulu-Natal, en 'n hittegolf word oor Noordwes, die Vrystaat, dele van die Oos-Kaap en Gauteng verwag. Die Kaapprovinsies kan oggendmis verwag en sal in sommige gebiede deels bewolk wees, terwyl die Oos-Kaap buie en donderbuie kan verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 36°C • Johannesburg 34°C • Mahikeng 34°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 22°C • Durban 27°C • Kimberley 36°C • Bloemfontein 34°C • Polokwane 33°C • Upington 38°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | Wys die boat people se menslike gesigte óók vir ons

Wat is die verantwoordelike én menslike manier vir 'n regering om onwettige immigrante te hanteer? Hoe versoen mens die idee dat jy eers na jou eie mense moet kyk met die werklikheid dat daar vir miljoene vlugtelinge nie veiligheid of 'n toekoms in hulle land van herkoms is nie? 

Vandeesweek het Elon Musk 'n groot skouspel gemaak van sy besoek aan die Amerikaanse grenspos by Eagle Pass in die suide van Texas. En hy het al die dinge gesê wat maklik is om te sê: Die grense is te oop; te veel mense kom deur; daar is geen beheer nie. En by implikasie: Die Demokrate gee nie om nie omdat hulle aan daardie onwettige immigrante as potensiële ondersteuners dink.

Die werklikheid is heelwat ingewikkelder as dit. Die Amerikaanse grenspolisie hou hulle by reëls wat veel ouer as Joe Biden se administrasie is, en in elk geval moet enige nuwe wetgewing ook die toets van grondwetlikheid slaag. Maar afgesien daarvan, wil Musk regtig hê iemand moet in sy naam desperate vlugtelinge soos menslike afval behandel?

Image: ANGELA TUCK

Wat van, meneer Musk, jy probeer om met al jou geld ook 'n menslike gesig te gee aan die pa wat met sy baba deur 'n rol lemmetjiesdraad oor die grens probeer kom, en nie net om die ou met al die tatoes te verdoem wat volgens jou klaarblyklik 'n geharde moordenaar is wat onder geen omstandighede in Amerika welkom is nie?

Of het jy 'n ander agenda?

In dieselfde asem: Waar is die prominente Demokrate, dalk die president self, wat ook 'n Eagle Pass gaan besoek om vir Amerikaanse kiesers 'n ander kant van die storie te wys? Of is hulle regtig skaam vir wat daar aangaan?

Immigrasie – die onderskeid tussen wettig en onwettig is nie altyd so duidelik nie – is oral 'n probleem waar daar relatiewe stabiliteit naas wanorde en chaos is, ook in Suid-Afrika. In Europa het die “boat people" die afgelope week die voorblaaie gehaal in minstens Brittanje, Duitsland, Spanje, Italië en Israel. Die lys gaan nie korter word nie.

Suella Braverman, Brittanje se minister van binnelandse sake, het  onlangs gewaarsku dat onbeheerde migrasie 'n “eksistensiële uitdaging" vir Westerse lande inhou, en gevra dat internasionale verdrae met definisies soos dié van vlugtelinge, asielsoekers, en politieke vervolging herdink moet word, want volgens haar kwalifiseer te veel mense deesdae. 

Sy het dalk 'n punt beet, want sonder 'n realistiese standaard waaraan almal moet voldoen, gaan individuele regerings eenvoudig in die populistiese kore aanhou sing omdat hulle dink dis die beste manier om aan die bewind te bly.


Image: ANGELA TUCK

Moet die doodstraf teruggebring word?

Goeiemôre, hoe gaan dit?

Op Dinsdagaand se episode van Prontuit op kykNET was daar ’n gesprek oor die doodstraf. Die invalshoek, vir diegene wat dit nie gekyk het nie, was die grusame misdade wat in Suid-Afrika plaasvind, en optogte of oproepe vir die doodstraf om heringestel te word vir hierdie einste misdade. Hulle het onder meer oor ons land se Grondwet en alternatiewe vir misdaadbekamping gesels.

Die gaste op Prontuit met Kabous Meiring as anker was ons eie Anneliese Burgess (wat asseblief meer op televisie moet wees!), Ian Cameron van Action Society wat so lekker vir Bheki Cele in die bek geruk het, en die Johannesburgse prokureur en grondwet-ghoeroe Bouwer van Niekerk.

Nou kyk, die doodstraf is vir sommige ’n morele dilemma, want mense is feilbaar. En wie is die mens nou om te besluit of iemand doodgemaak moet word of nie? Vir ander is die doodstraf weer swart op wit – jy het ’n aaklige aaklige aaklige daad gepleeg wat ’n mens of mense hulle lewens gekos het, so jy verdien ook om jou lewe te verloor.

Dit maak totaal en al sin dat daar mense is wat ten gunste van die doodstraf is; nie net ten gunste van nie, maar mense wat nie ’n alternatief vir gruweldade sien nie. Die enigste manier waarop wrede misdadigers uit die samelewing verwyder kan word, is as hulle van die aardbol af verdwyn, voer hulle aan.

Image: GALGFOTO'S: ANGELA TUCK

Die ander argument maak ook sin – ons kort beter misdaadbekamping. Maar hoe?! Hoe gaan misdaad in Suid-Afrika beter bekamp word as die regering nie omgee nie? Hoe gaan misdaad beter bekamp word as ons voor sovéél uitdagings staan in ’n land wat as een van die ongelykstes ter wêreld gesien word?

Daar is natuurlik mense op voetsoolvlak wat besig is om hulle gemeenskappe te beveilig en besig is om die werk te doen wat die polisie nie wil doen nie. Maar is dit hulle plig? Is dit die burgerlike samelewing se werk om in te spring waar die regering misluk?

Sommige sou sê ja. Ons moet dinge in ons eie hande neem. En ander sal sê nee – ons moet die regering aanspreeklik hou en nie hulle werk vir hulle doen nie.

Dit voel soos ’n maklike uitweg om te sê ja, bring die doodstraf terug. Maak mense dood wat ander doodmaak. En wanneer dit by die dood kom, wil ek om hemelsnaam nie soos ’n optimis klink nie – maar, is daar nie ander maatskaplike, politiese, ekonomiese, psigologiese en regeringsmislukkings waaraan ons eerder moet aandag gee voordat ons die Grondwet herskryf en/of eie reg gebruik nie?

In die gebied waar my ouers in Mosselbaai woon, bodder die mense nie om die polisie te bel wanneer daar ’n misdaad plaasgevind het nie. Ons gehegte gemeenskap sorteer die misdadigers self uit. En daar is baie sulke voorbeelde waar vigilante justice, of mob justice, aan die orde van die dag is.

Netelige kwessie. So, moet die doodstraf teruggebring word? Laat weet in die kommentaar onderaan, asseblief?


Prince Myshkin

ek sê vir my therapist
die medikasie doen niks

ek sê vir hom
soms is ek Prince Myshkin
en ander tye is ek Jack Torrance
hy sê ek praat te literary

hy sê ek is defensive
ek sê hy het hobbies

hy vra my waarom ek so stubborn is
ek vra hom hoeveel van sy patients
suicide commit het

hy vra of ek lief is vir enige iets
ek sê ek is lief vir baklei

– Ronelda S. Kamfer

(Uit: Chinatown)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.