Libanon dalk ook nou in Israel se visier

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Libanon dalk ook nou in Israel se visier

DEBORAH STEINMAIR skryf oor Bibi Slippers en die reuk van onverspeelde kanse, WILLEM KEMPEN kan nie ophou kyk na Cheslin se afstorm van daai doelskop nie, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 17 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre

1. Die hooggeregshof in Pretoria het ’n bewaringsbevel uitgereik vir ’n Rolls-Royce Phantom ter waarde van R6,3 miljoen wat aan Alfred Nevhutanda, voormalige voorsitter van die Nasionale Loterykommissie (NLK), behoort. Nevhutanda sal gevolglik vir eers nie die Rolls mag verkoop nie. Volgens die batebeslagleggingseenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) is die motor in 2016 met gesteelde loterygeld gekoop. Die hof het 'n soortgelyke bevel uitgereik vir nog twee luukse motors en vier eiendomme, het News24 berig.

2. Die Kaapstadse stadsraad se ShotSpotter-tegnologie het glo Saterdag in die bestek van net twee uur 177 skote in 58 afsonderlike skietvoorvalle op die Kaapse Vlakte bespeur, het Daily Maverick berig. Minstens 26 mense is al tot dusver vandeesmaand in Kaapstad doodgeskiet.

3. Busisiwe Mkhwebane, wat onlangs uit die pos van openbare beskermer verwyder is, het amptelik by die EFF aangesluit, is gistermiddag op 'n nuuskonferensie in haar tuisdorp, Kwaggafontein in Mpumalanga, aangekondig.

4. Israel het gister die ontruiming van 28 dorpe naby die grens met  Libanon gelas in die duidelikste aanduiding tot dusver dat die oorlog na 'n nuwe front kan uitbrei. Dit was nadat Libanon se Hezbollah-beweging glo vyf Israeliese teikens aangeval het, het Reuters berig. Israel het gister die bombardering van Gaza voortgesit nadat diplomatieke pogings om 'n skietstilstand te reël om buitelandse burgers toe te laat om hulpverlening aan die beleërde Palestynse enklawe moontlik te maak, misluk het.

5. Donald Trump wil glo self in 'n Londense hof gaan getuig dat bewerings dat Rusland sy 2016-verkiesingsveldtog gesteun het, vals is, het sy prokureurs gister gesê. In dié saak dagvaar Trump die onderneming Orbis Business Intelligence weens beweerde oortredings van wetgewing oor databeveiliging weens 'n dossier wat deur die voormalige Britse MI6-operateur en Orbis-medestigter Christopher Steele geskryf is.

6. Onrus dreig opnuut in Lesotho nadat Machesetsa Mofomobe, leier van die Basotho National Party (BBP), 'n mosie van wantroue teen premier Sam Matekane ingedien het. Die mosie sou gistermiddag in die land se parlement gedebatteer word. Mofomobe het uit Maseru aan Business Day gesê die weermag het Sondag die strate ingevaar in 'n magsvertoon en om hul steun vir Matekane te wys. 

7. Die saak waarin prins Simakade kaZwelithini die Pretoriase hooggeregshof vra om hom as die regmatige troonopvolger van wyle koning Goodwill Zwelithini te erken, is gister hervat. Prins Simakade wil hê pres. Cyril Ramaphosa se besluit om sy broer as koning te erken, moet ongeldig verklaar en tersyde gestel word.


Daar is 'n vlak 6-waarskuwing oor swaar reën en moontlike oorstromings in dele van KwaZulu-Natal, asook waarskuwings oor swaar donderbuie oor die westelike en sentrale gebiede van Limpopo. Die res van die land kan ook buie of donderbuie verwag, behalwe die Wes- en Noord-Kaap waar dit op sommige plekke baie warm gaan wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 27°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 29°C • Durban 21°C • Kimberley 26°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 22°C • Upington 31°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 22°C.


Willem Kempen | Dit kom nou daarvan as ’n Haan vere voel


Mens kan oor en oor kyk na daai oomblik Sondagaand toe Cheslin Kolbe die Franse heelagter Thomas Ramos se vervyfskop-poging afgestorm het. As jy nog nie minstens 10 keer weer daarna gekyk het nie, hier's dit weer:

As jy nou regtig wou, kan jy lank aangaan oor hoekom dit so lekker is om na Kolbe te kyk elke keer wanneer hy aan die bal vat, maar die kort antwoord is: Hy is vinnig, rats, slim en onvoorspelbaar op die aanval. En lank genoeg van statuur om tussen Ramos en die pale te kon beland.

(Cheslin Kolbe is so vinnig, het iemand gister gespot, hy kan selfs 'n missed call antwoord.)

Image: TWITTER

Oor wat hom laat dink het hy het 'n kans gehad om saam met Ramos by die bal uit te kom, het Kolbe gister aan News24 gesê: “I’ve played with Thomas for six years at [French club] Toulouse, and one tends to pick up cues of certain players and their processes when they kick.”

En, sê Kolbe, hy was beslis nie onkant nie en het nie begin hardloop voordat Ramos vorentoe begin tree het nie.

Nou gaan een of ander mislike Fransman – van wie daar die laaste paar dae nogal heelwat is – seker sê dit was als deel van Rassie en Jacques se plan dat Cheslin vir Toulouse gaan speel het ...

Aan die ander kant, dalk sal geen haan daarna kraai nie.

En gaan kyk sommer nog 'n slag die video.


Image: ANGELA TUCK

Die reuk van onverspeelde kanse

Hierdie is dae van mirakels en verwonding. Beelde van onmenslike oorloë ontplof in ons woonkamers. En dan storm Cheslin Kolbe ’n doelskop af. Ons beleef alles, gelyk, ongelooflik luid en uiters naby.

In sodanige dae land daar ’n nuwe digbundel van Bibi Slippers. Soos ’n rooskleurige brief, ’n stapel poskaarte, ’n string intergenerasionele telegramme. Die pienk bladsye is sag op die oog; die boek ruik verruklik, soos skoon papier, ’n nuwe huis, oomblikke vol sonskerm, onverspeelde kanse.

Toe Bibi in ’n onderhoud gevra word of sy nog altyd ’n digter wou wees, antwoord sy sy was van kleins af ’n digter.

Watter gekantelde woord is “soekenjin” nie, met ’n vermenging van die universeel, tydloos menslike, die industriële revolusie en die lewe ná die koms van die wêreldwye web.

Bibi soek. Sy soek alles:

Troukoek en genesing van trauma, suurlemoentert en vuur, baie ure,
al die honde, pleisters en pille en verbande vir my wonde. sit dit in my
mandjie: sjampoe en batterye, vryheid en geborgenheid, sjokoladesous
en seep, ek soek al die bome en die voëls, ek soek miljoene boeke, ek wil
wysheid hê, en oppervlakkigheid, ligsinnigheid en linne, borsbeelde van filosowe,

Onder meer.

T.S. Eliot het geskryf sy Cousin Nancy het gerook en al die moderne danse gedans en die tantes het nie geweet wat om daarvan te dink nie, maar hulle het geweet dis modern.

Image: HANNERI DE WET

Bibi se bundel is ’n tydsdokument, gesetel in die era van oombliklike, vervlietende teksboodskappe en -beelde, Google-soektogte wat uitkring van popkultuurhelde na lewensvrae, maar dis ook so tydloos soos vlugtige hartstog, of liefde wat roes, of oomblikke wat deur die gety weggekalwe word.

In “extremely online” leer dié van ons by wie popkultuur-fandom verbygegaan het, terme ken soos “zoom dick disgrace”, “fake apology fatigue”, “copypasta”, “sincerity sniff test”, “shitposter”, “darkwave-drome” en “snowclones”. En dit is geensins foefierig nie. Bibi is gebore om digter te wees en sy slyp haar beiteltjie daagliks met groot toewyding. Sy kan musiek en begogeling uit enige woord laat opklink.

Sy wonder:

… wat het ek met my dae gemaak?
hoeveel tyd het op my uitgeloop terwyl my vinger
teen ’n skerm op geskuur het, hoeveel ure
het oorryp geraak in die af yskas van my siel?
wat het alles verander terwyl ek afgerol, gekyk en
niks gesien het nie? hoe is dit moontlik dat ek nie
méér het om te wys vir my geskarrel en gescroll nie?

In die soeke na betekenis is haar profete Tori Amos, Anne Michaels, P!nk, Paul Simon en ander. Alles op aarde kan sy tot poësie alchemeer: resensies, teksboodskappe, die name van rose, om ’n paar te noem. My gunsteling is die verskuilde betekenis geleë in tekstypo’s: “letseks” in plaas van “letsels”, “bake danke”, “moenie wakker word as jy al skaap nie”, “mooloop en goedgaar to the one that got awe”.

Daar is liefdesgedigte wat volmaak is in hulle onvoltooidheid:

en my stiltes wat ál groter begin gaap het. Ek wil die lente van ons liaison neer-
skryf: ’n parkeerterrein vol stuifmeel, geel tulpe,
bougainvillea en jasmyn, ek wil jou wang teen my wang vasvang, en jou belowe:
ek sal ons vir altyd in my bloed hou, al vergeet ek amper alles.

Sy skryf oor die somer toe sy everysun everyday kids cream soda milk spray-sonroom by die Spar gekry het, maar die volgende somer het sy  sonroom op haar rug probeer smeer, “maar een strook was altyd skelrooi en teergebrand / want my eie hande aan my eie arms kon nooit bykom / waar jou hande was nie”.

Daar is eggo’s van Gert Vlok Nel, daardie komplekse bondel rou talent. En ander. Sy vereenselwig haar met Hanif Abdurraqib, wat sy eie begeerte aanhou oorleef. Sy ervaar liefde vir hom “wat woorde het vir dieper boor waar ander net oppervlak aanvaar”, wat aandag skenk, wat werklik hoor, wat luister na die hartklop in die brandkluis van die oor.

Dis Bibi: ’n luisteraar na die hartklop in die brandkluis van die oor. Sy laat ons sien en hoor. Sy is filosoof en fluisteraar. Ek merk enorme groei tussen haar twee bundels en dank die sterre vir Afrikaanses soos sy. Koop die boek!


Image: ANGELA TUCK

Louise Glück, wat met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon is vir haar lieflike verse, is oorlede. Sy wat gesê het ons kyk een maal na die wêreld, in ons kinderjare. Die res is herinnering. En: “From the beginning of time, in childhood, I thought that pain meant I was not loved. It meant I loved.” Sag slaap in die bed van jou veerligte verse, Louise.


net jou arm

ek was reeds op pad uit toe ek jou arm sien
net jou arm wat uit die mou van ’n swart
t-hemp steek maar beslis joune jou arm
jou volronde bisep jou spesifieke elmboog jou skok-
beentjie en jou tattoos. net jou arm saam met
’n ander vrou aan tafel ek kon die res van jou
autocomplete voordat jy my opmerk.
ek het my gesig beheer my groetende glimlag
in plek geplak die wind wat my seile so skielik
verlaat het het agterna bly waai tot ek alleen
was alleen in my hotel met net jou spook
vir geselskap en die drogbeeld van jou arm
wat maande van stilte aan die muur uitspel.

– Bibi Slippers
(Uit: Soekenjin)

 VWB 


Lees die afgelope week se Boeke-stories

Image: ANGELA TUCK

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.