‘Wantroue in Gordhan’, en Proteas doen weer die C-woord

WOENSDAG MET WILLEM

‘Wantroue in Gordhan’, en Proteas doen weer die C-woord

WILLEM KEMPEN hoop Enoch Godongwana staan sterk na alle kante, en wonder wat Magnus Malan in 'n Renaissance-kunswerk doen. Plus sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 18 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Minstens 200 mense – en volgens sommige bronne heelwat meer – is dood toe vermoedelik 'n vuurpyl gisteraand 'n hospitaal in Gaza getref het. Palestynse amptenare het gesê dit was deel van 'n Israeliese lugaanval, maar Israel het dit ontken en gesê die vuurpyl is  afgevuur deur die Islamitiese Djihad, 'n bondgenoot van Hamas.

2. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge, het bevestig dat sy telefonies met 'n Hamas-leier gepraat het, blykbaar “om te bespreek hoe om humanitêre hulp aan Palestina te gee”. Pandor het bewerings verwerp dat sy in die gesprek Hamas se aanval op Israel ondersteun het.

3. Eers die goeie nuus: Kagiso Rabada het gister teen Nederland die mylpaal van 150 paaltjies in internasionale eendagwedstryde behaal in sy 95ste van dié kragmetings. Die slegte nuus: Rabada se vertoning was nie genoeg om te keer dat die Proteas onverwags teen Nederland verloor het in hulle Wêreldbekerstryd nie.  

4. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het glo op Maandag se vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) deurgeloop omdat sy verslag oor die stand van ondernemings in staatsbesit onvoldoende en “te generies" geag is. News24 het bronne in die NUK aangehaal wat gesê het daar is 'n “algemene wantroue" in Gordhan in die komitee.

5. Inwoners van Brixton in Johannesburg is nou al minstens agt weke sonder water, het eNCA berig. Inwoners sê die owerhede doen niks om hulle te probeer help nie.

6. Amazon gaan volgende jaar sy aanlyn winkel in Suid-Afrika begin, wat ons slegs die tweede Afrikaland naas Egipte sal maak waar dié Amerikaanse e-reus 'n plaaslike werf bedryf. Onafhanklike handelaars wat op Amazon.co.za wil sake doen, kan reeds hul besighede by Amazon registreer.

7. Die Amerikaanse weermag het 2 000 van sy lede opdrag gegee om hulle voor te berei op ontplooiing in die Midde-Ooste as 'n magsvertoon te midde van die eskalerende konflik tussen Israel en Hamas in Gaza. Lloyd Austin, Amerikaanse minister van verdediging, het volgens Reuters gesê die ontplooiing sal die VSA in staat stel om “vinniger te reageer" op die krisis, hoewel die Withuis beklemtoon het dat daar geen voorneme is om gevegsmagte op die grond te ontplooi nie.


Die reënweer begin opklaar. Mpumalanga kan nog vandag ligte reën langs die platorand verwag en KwaZulu-Natal kan vanoggend reën kry. Dis matig tot warm oor die grootste deel van die land, behalwe die Noord- en Wes-Kaap waar dit baie warm kan word. Die Oos-Kaap is ook bewolk suid van die platorand.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 24°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 22°C • Kimberley 30°C • Upington 36°C • Kaapstad 25°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 23°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | Bly kalm, Enoch,

en kap ’n pad oop vir die staatskas


Enoch Godongwana weet sekerlik beter as enigiemand anders wat om te maak van die president se versekering vandeesweek dat “South Africa is not running out of money".

Die werklikheid is dat dit nog nooit tevore so moeilik was vir die minister van finansies om die boeke te laat klop nie. Die staat betaal tegelyk 'n enorme deel van sy begroting aan salarisse en kry bitter min waarde vir daardie uitgawe. Staatsdepartemente sukkel tegelyk met onderbesteding en 'n oormaat van onreëlmatige of vrugtelose besteding. Daar is vir eers geen vooruitsig op groter belastinginkomste of behoorlike ekonomiese groei nie, en die staat durf nie nóg geld ten duurste leen nie. 

Godongwana is onder druk van die ANC om niks te doen wat die party verder gaan knou in volgende jaar se verkiesing nie, en ook van nie-regeringsorganisasies en akademici wat nie nog gate in die maatskaplike vangnet wil sien nie. Van hulle het hierdie ope brief onder die vaandel van die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid aan Godongwana en pres. Cyril Ramaphosa gerig “to state our opposition to National Treasury’s attempts to force government entities and departments to significantly cut spending. National Treasury’s instruction to government entities to immediately institute severe budget cuts is misguided, dangerous to our economy and well-being, and not supported by robust evidence".

Image: © GALLO IMAGES/ZIYAAD DOUGLAS

Of daar werklik 'n dreigende fiskale krisis is, is sekerlik nie 'n uitgemaakte saak nie, maar 'n roekelose of onrealistiese begroting sal die leë spaarbussie net verder die pad af skop (hier is wat Piet Croucamp onlangs daaroor geskryf het).

Uit sy kommentaar Dinsdag aan die parlement se komitee oor finansies lyk dit of Godongwana sy oog op vorige jare se onderbesteding het as 'n manier om die plusse en minusse te laat balanseer; begrotingsbesnoeiings “sal minder wees" as die normale onderbesteding, wat in 2022-'23  sowat R28 biljoen was en in 2021-'22 sowat R36 biljoen.

Daardie onderbesteding is geen prestasie of selfs net 'n besparing nie. Dis geld wat iewers gevind is en gebruik kon gewees het om regeringsdepartemente hulle werk beter te laat doen.

Godongwane sê net “matige" besnoeiings sal op 1 November aangekondig word wanneer hy die mediumtermyn-begroting in die parlement ter tafel lê: “We have been quite careful, as we are going to show on the 1st, in dealing with expenditure cuts.”

Die onderliggende probleem, en een wat nie oornag opgelos kan word nie, is die massiewe rol wat die staat in die ekonomie speel, en dit boonop geweldig oneffektief doen. Godongwana kan gerus dink aan maniere om die privaat sektor by 'n proses te betrek om dié situasie te begin omkeer.


Dis nou mooi, dis nou báie mooi

Hoe het dit gekom dat ons in Afrikaans praat van iets wat “so lelik soos die nag" is? Die nag is by tye dalk gevaarlik of onheilspellend of bloot net onbekend, maar lélik?

En hoe besluit ons wat is vir ons mooi of lelik of iewers tussenin, en maak dit saak? Is daar 'n verskil tussen 'n estetiese oordeel oor 'n kunswerk, en dié oor 'n produk soos 'n motor of 'n vliegtuig of 'n seilskip? Of, shock shock horror horror, 'n mooi of 'n lelike mens?

Ronald Moore skryf in die Encyclopedia of Aesthetics: “Philosophical reflection on the nature of aesthetic ugliness has centered on three issues: (1) the conceptual problem of providing a correct analysis of ugliness, particularly in its relation to beauty; (2) the ontological problem of determining whether ugliness exists (i.e., whether there are any things that truly are ugly) and, if it does, how it becomes engaged in aesthetic judgment; and (3) the critical problem of accounting for ugliness's salubrious effects both within and without the world of art."

Dis deesdae gevaarlik om in die openbaar een of ander oordeel oor iets se mooi- of lelikgeit uit te spreek, nog meer so as dit by mense kom. Jy kan tog nie sê jy vind Penélope Cruz beeldskoon sonder om 'n wêreld van vooroordele oor gender en kultuur en afkoms te verklap nie, of kan jy?

Kan 'n diamant of 'n goue ring nog vir jou mooi wees as jy weet dit kom uit 'n myn waar mense elke dag in lewensgevaar moet werk vir 'n skamele loon?

Ons verkies gewoonlik om goed te koop wat vir ons mooi is bo iets wat nié is nie, maar die ander faktore is tog nooit irrelevant nie. Funksie bo vorm, of nie altyd nie?

Dan is daar die verskynsel dat mense soms juis van iets hou omdat soveel ander mense dit as lelik beskou. Help verklaar dít dalk die gewildheid van Birkenstocks of Crocs?

Of, vergelyk hierdie twee karre, 'n 2008-model Alfa Romeo Disco Volante Spyder en 'n 2005-model Chrysler PT Cruiser GT Convertible – wat my betref onderskeidelik 'n hoogtepunt en 'n laagtepunt van die Westerse estetiese tradisie:

As dit by mense kom, word die Vlaamse skilder Quinten Matsijs se uitbeelding van die vrou regs uit 1513 soms voorgehou as die nulpunt waarmee 'n estetiese skaal gekalibreer kan word.

(Ek wou sê sy laat my bietjie aan Magnus Malan dink, maar ek gaan liewer nie. Minstens een van die twee is darem 'n oil painting.)

Matsijs sou dit waarskynlik nie vandag gewaag het om so iets te skilder nie. Daar is selfs 'n naam vir dié soort vooroordeel: “lookism". Hier is Wikipedia se definisie:

“Lookism is the discriminatory treatment of people who are considered physically unattractive. It occurs in a variety of settings, including dating, social environments, and workplaces. Lookism has received less cultural attention than other forms of discrimination (such as racism and sexism) and typically does not have the legal protections that other forms often have, but it is still widespread and significantly affects people's opportunities in terms of romantic relationships, job opportunities, and other realms of life. The same concept from the opposite angle is sometimes named ‘pretty privilege'."

Sommige plekke, soos die Australiese deelstaat Victoria, het selfs wetgewing wat lookism verbied. Volgens SmartCompany het Victoria se Equal Opportunity and Human Rights Commission in die vyf jaar tot 2013 altesaam 96 gevalle hanteer waar werkers gevoel het daar is op grond van hul voorkoms teen hulle gediskrimineer: “Reasons ranged from being “ugly”, [to being] blonde or having tattoos. A further 107 people lodged claims based on the grounds of obesity, 10 for being underweight and 17 thought their height was a factor. Hairstyles led to 38 claims and tattoos and piercings caused 22 claims."

Of dié soort ding 'n groter probleem in Australië as in ander lande is, is dalk 'n vraag vir baie dapper navorsers om te probeer beantwoord. Soos Gillian Rhodes, Leigh Simmons en Marianne Peters, wat in 2005 in 'n studie probeer uitvind het: “Does attractiveness enhance mating success?"

In die opsomming van die studie sê die drietal: “To determine which aspects of attractiveness were important, we examined associations between sexual behaviors and three components of attractiveness: sexual dimorphism, averageness, and symmetry."

Hul bevindings dui daarop dat “individuals of high phenotypic quality have higher mating success than their lower quality counterparts".

Ek self sal te bang wees om my uit te laat oor enigiemand se fenotipiese gehalte, laat staan nog hulle kanse op suksesvolle paring, maar ek sal darem dít sê: Dis nou regtig mooi gestel.


She Passed This Way

Here where the trees tremble with your flight
I sit and braid thin whips to beat you down.
How shall we ever find you who have gone
In little dresses, lisping through the town?

Great men on horses hunt you, and strong boys
Employ their arrows in the shallow air.
But I shall be heard whistling where I follow
Braiding long wisps of grass and stallion’s hair.

And in the night when thirty hawks are high
In pendent rhythm, and all the wayside loud;
When they are burning field and bush and hedge,
I’ll steal you like a penny from the crowd.

– Djuna Barnes

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.