Inflasie, piesangs in die yskas, en ander lewenswaarhede

DONDERDAG MET MERCY

Inflasie, piesangs in die yskas, en ander lewenswaarhede

MERCY KANNEMEYER deel geskenke uit op haar 29ste verjaardag, WILLEM KEMPEN twyfel of Joe Biden vir Netanyahu in die bek kan ruk, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 19 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Verbruikersprysinflasie het in September skerp gestyg tot 5,4%  per jaar nadat dit in Augustus 4,8% was. Dit is hoofsaaklik gedryf deur stygings in die pryse van kos, brandstof en vervoer, het Statistieke Suid-Afrika gesê. Dit beteken dalk ook dat ons nog nie die einde van stygende rentekoerse gesien het nie ...

2. Thobile Lamati, direkteur-generaal van die departement van arbeid en indiensneming, het uit sy pos bedank. Dit volg op berigte dat hy 'n omstrede projek ondersteun het om biljoene rande van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) na 'n privaat beleggingsmaatskappy te kanaliseer as deel van 'n werkskeppingskema, het News24 berig.

3. Rassie Erasmus het heftig ontken dat die Springbokke die protokolle oor kopbeserings misbruik het om spelers te laat rus in die kwarteindstryd teen die Hane. Pieter-Steph du Toit, Duane Vermeulen en Bongi Mbonambi het die veld tydens die wedstryd verlaat nadat hulle kopstampe opgedoen het.

4. Siviwe Gwarube, die DA se hoofsweep, sê die besluitnemers wat die parlement kwesbaar gemaak het vir die brand wat dit vroeg verlede jaar beskadig het, moet afgedank word. 'n Opsomming van die verslag oor die brand wat gister uitgereik is, dui daarop dat dit voorkom kon gewees het deur onder meer beter instandhouding en verhoogde sekuriteit, en dat die historiese terrein weens 'n reeks swak besluite kwesbaar vir indringers gelaat is.

5. Diens by die departemente van binnelandse sake en arbeid en Sassa, die agentskap vir maatskaplike sekerheid, kan verder agteruitgaan weens die landwye staking waarmee die Vereniging van Staatsamptenare begin het, het eNCA berig.

6. Die uitgesproke konserwatiewe Republikein Jim Jordan het misluk in sy tweede poging om speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers te word. Jordan, wat deur Donald Trump vir die pos gesteun is, kon nie die vereiste 217 stemme kry wat nodig was nie aangesien 22 Republikeine en al 212 die Demokrate teen hom gestem het. Die Huis is nou al 17 dae sonder 'n leier.

7. Die klimaataktivis Greta Thunberg is deur die Britse polisie aangekla nadat sy in hegtenis geneem is by 'n betoging buite 'n Londense hotel waar 'n konferensie oor olie en gas plaasvind. Thunberg het glo nie voldoen aan voorwaardes wat deur die polisie gestel is om “ernstige ontwrigting van die gemeenskap, hotel en gaste" te voorkom nie, het Reuters berig. Sy is op borgtog vrygelaat en moet op 15 November in die hof verskyn.


Daar is vanoggend 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap. Oggendmis word al langs die Weskus en Oos-Kaapse kus verwag. Dit sal deels bewolk en warm wees oor die grootste deel van die binneland. Enkele buie kan in KwaZulu-Natal voorkom.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 31°C • Durban 24°C • Kimberley 33°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 27°C • Upington 37°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 23°C.


Willem Kempen | As daar regtig ’n hoër standaard is, moet Netanyahu daarby hou

“Iemand moet iets doen" oor wat in Israel en Palestina aan die gebeur is. Maar wie? En wat moet hulle doen? Hoe kom 'n mens verby al die wantroue en propaganda en leuens en kantkiesery en vingerwysings; die waansin en die gevestigde belange en die verskuilde agendas? Hoe kom 'n mens by 'n punt waar dinge te minste nie verder agteruitgaan nie?

Eergisteraand se bloedvergieting by die Al-Ahli al-Arabi-hospitaal in Gaza het die rûe van voor af styf gemaak en die beplande gesprekke tussen Amerikaanse en Palestynse, Jordaniese en Egiptiese leiers gekelder – vir wat dít in elk geval werd sou gewees het. Hoe sinvol kan sulke gesprekke wees as Benjamin Netanyahu die Amerikaanse president in die openbaar bedank vir sy “unequivocal support" en Biden sê Amerika “will continue to have Israel's back"?

Israel ontken dat die hospitaal getref is in 'n lugaanval deur een van sy vliegtuie, en sê hulle het radiogesprekke onderskep met “communication between terrorists talking about rockets misfiring". So, die eerste stap is om onafhanklike ondersoekers toe te laat om vas te stel presies wat gebeur het en wie daarvoor verantwoordelik was. Enigiemand wat welwetende 'n missiel op 'n hospitaal afgevuur het, is skuldig aan die ergste skending van internasionale reg en konvensies en moet hard daarvoor gestraf word.

Maar 'n oordeel daaroor kan nie op grond van hoorsê en ongetoetste bewerings gevel word nie. En nié, soos Biden gedoen het terwyl hy langs Netanyahu gestaan het, om te sê “[...] based on what I've seen, it appears as though [die aanval op die hospitaal] was done by the other team, not you".

“The other team", asof dit een of ander speletjie is. Dieselfde Biden wat vroeër die Israeliese weermag se bewering as 'n feit gestel het dat lede van Hamas 40 babas onthoof het toe hulle Sondag 'n kibboets aangeval het. Is dit moontlik dat Hamas iets so veragtelik by sy lang lys van ander gruweldade kon gevoeg het? Ja, natuurlik, net soos wat dit moontlik is dat Israel 'n hospitaal geteiken het in sy konstante bombardering van Gaza sedert Hamas se aanval.

Die punt is, ons wéét nie een van die twee vir seker nie. “Appears as though" is nie goed genoeg komende van iemand wat in bevel van die CIA is nie, en allermins nie in 'n omgewing waar selfs ooglopende waarhede konstant bevraagteken word nie.

En wat erger is, dit laat mens ook hoop verloor dat Biden darem in privaat gesprekke – as hy dit dan nou nie openlik wil doen nie – vir Netanyahu in die bek ruk. En duidelik vir hom sê: Israel het nié carte blanche om te maak soos hulle wil nie. Daar ís perke aan Amerika se steun vir Israel. Die bombardering kry nóú end. Julle gee noodwerkers en onafhanklike waarnemers nóú toegang tot Gaza. Julle herstel nóú die toevoer van water en elektrisiteit en brandstof en mediese voorrade.

Sou enige van al die Palestynse groepe so nice gewees het om al dié dinge te doen as hulle in Netanyahu se posisie was? Dalk nie, maar as daar enige positiewe waarheid is in Biden se verklaring dat “Israel has a value set like the United States does", dan moet Netanyahu aan daardie hoër standaard gehou word, en nie aan die standaarde van 'n Hamas of 'n Hezbollah of 'n Islamitiese Djihad nie.


Image: ANGELA TUCK

Weet wanneer om nee te sê, en 28 ander lewenswaarhede van Mercy op haar 29ste

Vandag is my 29ste verjaarsdag. Verlede week het ek my eerste grys haar gekry, en ek was in die wolke! Ter viering van die laaste jaar van my twenties, as verjaarsdaggeskenk van jou, die leser, aan my, laat my toe om 29 dinge wat ek vir seker weet te deel.

POLITIEK:

  1. Die ANC gaan volgende jaar se verkiesing wen. Hulle steun het afgeneem en gaan nog meer daal, maar overall gaan hulle met die louere wegstap.
  2. Cyril Ramaphosa gaan dalk nog ’n termyn as president dien, maar indien iets voorval – soos een van sy saketransaksies wat hom in die sop gaan laat beland – gaan Paul Mashatile by hom oorneem.
  3. Daar is te veel onenigheid rakende koalisiepolitiek; die Veelpartyverkiesingsmanifes is te kumbaya vir mense om werklik daarop in te koop.
  4. Koalisievennote het gedog hulle gaan beter opposisie teen die ANC bied, maar ongelukkig is dié idee doodgebore.
  5. Die EFF is gevaarlik. En as die opposisie nie blitsvinnig hulle act together kry nie, kan die EFF dalk net in 2028 die regerende party word. Armageddon wag op ons!
  6. Dit is oukei om gemengde gevoelens oor die Israel-Hamas-konflik te hê.
  7. Die wêreld se aandag het te vinnig van die oorlog in Oekraïne afgedwaal.
  8. Dis belangrik om minstens een keer in jou lewe deur die Grondwet te lees. Ken jou regte.
Image: ANGELA TUCK

LEWE:

  1. Daar’s baie kak mense in die lewe; maar die trick is om jou nie aan hulle te steur nie.
  2. Daar’s gelukkig meer goeie mense as slegtes. Klou vas aan die goeies!
  3. Probeer alles minstens een keer (behalwe tik en heroïen).
  4. Jou hart gaan gebreek word, en dit gaan voel asof dit die einde van jou wêreld is. Maar ongelukkig gaan jou hart meer as een keer breek. Dit is goed vir karakterontwikkeling om jou hart gebreek te kry.
  5. Vriendskappe kom en gaan. Moenie jou energie op one-sided vriendskappe mors nie. Belê in die vriende wat in jóú belê.
  6. Om lewend te wees is duur.
  7. Moenie laat mense jou vermaak nie.
  8. Jy’s gelukkig as jy ’n gelukkige familie het.

KOS:

  1. Moenie piesangs in die yskas sit nie.
  2. Dis oukei om ready-made mixes te koop wanneer jy iets bak. Moet net nie vir enigiemand daarvan sê nie.
  3. Meal prep kan jou lewe radikaal verander, veral as jy bedrywig is.
  4. Moenie vir elke winskopie val nie, veral nie as dit by kos kom nie. Daai gemarineerde hoender of vleis wat die winkels soms verkoop, is gewone hoender of vleis wat byna hulle vervaldatum bereik het wat die winkels net in souse doop om jou te flous. Wees versigtig.
  5. Voedselvergiftiging is ’n geldige rede om werk te skip.
  6. ’n Paar blikkies tuna sal jou ver dra.
  7. Couscous is lekkerder as rys.

LUKRAAK:

  1. Om te sê iets is ’n guilty pleasure is overrated. Jy’t nie nodig om oor enigiets skuldig te voel nie. Ek het altyd gesê dat die Kardashians my guilty pleasure is, maar nou sê ek – met trots – ek geniet dit om na die Kardashians se weelde, drama, liefde en leed te kyk.
  2. Stimuleer gereeld jou vagus nerve.
  3. Dis van kardinale belang om huilsessies en me-time-sessies te skeduleer.
  4. Lees alles. Lees koerant, lees romans, lees romanzas, lees gedigte.
  5. Read the room.
  6. As jy weet wanneer om te quit, sal dit jou lewe radikaal verander. Quit gereeld. Dis ’n sterk punt om te weet wanneer om “nee” te sê.

Dankie.


Samehang

Van die koningskind tot die bedelaar,
Van die vlieënier tot die amptenaar –
Dié wat sonder 'n lappie aarde is
Sal altyd 'n stuk van die hemel mis.

– Gerrit Komrij
(Uit: Die elektries gelaaide hand)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.