Sam Cane swaarder gestraf, en twee vas oor Phala Phala

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Sam Cane swaarder gestraf, en twee vas oor Phala Phala

DEBORAH STEINMAIR skryf oor die superpower van ouer vroue, WILLEM KEMPEN dink steeds die Proteas kan die Wêreldbeker wen, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 07 November 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Suid-Afrika het gister sy oorblywende diplomate aan Israel onttrek terwyl die dodetal in Gaza volgens Reuters tot bo die 10 000-kerf gestyg het. Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, het terselfdertyd uitgevaar teen Eliav Belotsercovsky, Israel se ambassadeur in Suid-Afrika, en gesê sy voortgesette teenwoordigheid in die land word “onhoudbaar".

2. Twee mense is Sondag en gister in hegtenis geneem in verband met die opspraakwekkende inbraak in 2020 by pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas. 'n Woordvoerder van die Valke het gesê die twee, 'n 30-jarige vrou en 'n 39-jarige man, is in onderskeidelik Rustenburg en Bela-Bela in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting  vandag in die landdroshof in Bela-Bela verskyn. 'n Derde verdagte sal ook glo binnekort in hegtenis geneem word.

3. ’n Onafhanklike dissiplinêre komitee van Wêreldrugby het Sam Cane vir twee wedstryde geskors nadat die Nieu-Seelandse kaptein sy rooi kaart in die Wêreldbeker-eindstryd betwis het. Cane het aanvaar dat hy aan vuilspel skuldig was, maar het gevoel dit het nie regverdig dat hy afgestuur word nie. Die komitee het egter bevind dat daar 'n “hoë graad van gevaar was" aangesien daar “regstreekse en kragtige kontak tussen Cane se skouer en die baldraer se kop was”.

4. Suid-Afrika se vrouehokkiespan het oor die naweek vir volgende jaar se Olimpiese Spele gekwalifiseer deur Nigerië met 9-0 te klop, maar vrae is gister gevra oor die betrokkenheid van die omstrede sakeman Zunaid Moti as hulle hoofborg. AmaBhungane het vroeër 'n reeks onthullings oor Moti gepubliseer, waarna hy hulle met 'n hofbevel probeer stilmaak het.

5. Donald Trump het gister self getuig in die siviele saak waarin hy daarvan beskuldig word dat hy die waarde van bates in sy  eiendomsportefeulje gemanipuleer het om onder meer beter finansieringsvoorwaardes te kon beding. Trump het erken dat waardasies nie altyd akkuraat was nie, maar dit as 'n nietigheid probeer afmaak. “It wasn't important. You’ve made it important, but it wasn’t," het hy gesê.

6. Tesla beplan glo om 'n elektriese motor gemik op die Europese massamark by sy fabriek naby Berlyn te bou, het Reuters berig. Tesla mik glo daarna om die voertuig vir so min as €25 000 (minder as R400 000) te verkoop.

7. China se pogings om te keer dat die yuan in duie stort, het bygedra tot verlede week se chaos op sommige geldmarkte, het bronne aan Reuters gesê. Beijing probeer volgens dieselfde bronne om van agter die skerms die Chinese ekonomie en markte deur diepliggende probleme te lei. 'n Ongekende hoë vraag na kontant het op 31 Oktober daartoe gelei dat korttermyn-finansieringskoerse in sommige gevalle tot so hoog as 50% gestyg het.


Daar is waarskuwings oor baie swaar donderbuie wat tot vloede in dele van Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal kan lei. Die Wes-Kaap kan ligte reën verwag, terwyl geïsoleerde buie in die Noord- en Oos-Kaap kan voorkom.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 20°C • Durban 22°C • Kimberley 27°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 29°C • Upington 28°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 21°C.


Willem Kempen | Op hulle beste kan die Proteas steeds wêreldkampioene word

Dit was nie lekker om Sondag te kyk hoe die Proteas krieket speel nie, soos Deborah ook hier onder skryf. Die Indiese skare, aan die ander kant, het 'n jolige tyd gehad, veral toe Virat Kohli aan die kolf was. Die bewondering wat die Indiërs tereg vir die meesterlike Kohli het, is amper aansteeklik, selfs vir 'n Suid-Afrikaner wat besef dat ons ouens nog al daai lopies moet probeer inhaal wat hy so inryg. En dan moet jy nog toekyk hoe ons kolwers wat voorheen net so lekker teen ander spanne tekere gegaan het, die een ná die ander misluk.

Indië op hulle beste en ons op ons slegste.

Maar goed, ons het teen Nederland ook sleg verloor, en die Proteas het nie toe gaan lê nie en die Wêreldbeker is steeds nie buite bereik nie. Hier en daar wys 'n optimistiese siel selfs daarop dat ons Australië in die halfeindstryd kan klop, en as Nieu-Seeland of Pakistan nou net so gaaf wou wees om Indië vir ons uit te skakel, en as, as, as ...

Geen van dié permutasies sal die ideale manier wees om uiteindelik as wêreldkampioene gekroon te word nie – 'n mens wil vanjaar agterna kan sê jy het Indië ook geklop – maar ons sal dit so vat, as dit dan moet. En die feit bly staan: As al die uitsonderlike talent in die Proteas die dag tegelyk op alle silinders vuur, gaan selfs Indië sukkel om die Wêreldbeker uit ons hande te hou.


Image: ANGELA TUCK

Die superpower van ouer vroue

Met die Wêreldbeker vir rugby weer veilig in die Bokke se hande het ons meer tyd oor naweke. So probeer ons Sondag krieket kyk; ’n eendagwedstryd teen Indië, die gunstelinge om die toernooi te wen. Hulle slaan die Proteas uitmekaar en toe ons kolwers een ná die ander kantel soos kegels, met bitter min lopies, skakel ons maar oor tennis toe. Novak Djokovic is op die baan, ’n man na wie ons nie graag kyk nie. Dan lees ’n mens maar.

Soms is daar wel iets boeiends om te kyk op Netflix. Ons het opgewonde gewag op die fliek Nyad, gebaseer op ’n ware verhaal oor ’n swemmer, Diana Nyad, en haar afrigter (en eksminnares) Bonnie Stoll.

Diana is in 1949 gebore. Haar stiefpa was Grieks-Egipties, vandaar die eksotiese van. Op skool is sy, soos vele ander meisies, jare lank deur haar swemafrigter seksueel gemolesteer. Dit het haar moerig en gefokus gemaak, onder meer.

Op 60 besluit sy, nadat sy jare lank nie geswem het nie, om iets aan te pak wat sy op 28 nie kon regkry nie: om die meer as 100 myl (amper 161 km) van Kuba na Florida te swem. Anders as in die Engelse kanaal is die water daar nie koud nie, maar swemmers word lastig geval deur dodelike jellievisse. En haaie. En verraderlike seestrome.

Jodie Foster en Annette Benning het Bonnie en Diana bestudeer en min of meer in hulle lywe geklim. Die regisseurs is Jimmy Chin en Elizabeth Chai Vasarhelyi wat aandag getrek het met hulle dokumentêre flieks oor uitsonderlike atlete, soos Alex Honnold in Free Solo. 

Die kyker stoei saam met Diana teen die elemente in die see, deur die nag. Dis algemene kennis en nie ’n spoiler nie as ek noem dat sy die bomenslike swem eers met haar vyfde probeerslag reggekry het. Sy strompel uit die see op die strand van Key West, haar gesig en mond geswel ná 53 uur in die water. Sy was die eerste persoon wat die roete sonder die hulp van ’n hok vir beskerming teen haaie voltooi het. Ook, sy was 64 jaar oud.

Die rolprent fokus op die dinamika tussen twee hardkoppige vroue, hulle vriendskap en lojaliteit. Soos alle ekstreem gefokusde individue was Diana nie maklik om mee saam te leef nie. Sy was obsessief en lief om te praat, veral oor haarself. Bonnie vertel sy kon vir drie weke ná die swem nie eet nie omdat die sout in die water haar mond so gekerf en verniel het. En sy kon skaars praat.

Op die strand het sy wel ’n paar inspirerende woorde deur geswolle lippe gemompel:

Never ever give up. You’re never too old to chase your dreams. It looks a solitary sport, but it takes a team.

Dit bly verstommend: die krag van die menslike gees en die manier waarop dit die beperkings van die lyf kan oorkom.

Anneliese Burgess het heroïes geskryf oor vroue bo 50 wat vlamvat

Ja, ons laat ons nie onderkry nie. Ons sien vir meer kans as toe ons jonk was en ons is g'n niemand se pop nie.


Uit: gedagtes

ek is 'n ondermaanse winkel van woorde
'n lied van kliere
'n oorjarige gebeente wat bid
wat wil vashou aan die kloue van die lewe
die rooigras wat soos saffraan weerkaats
die plotsheid van spiere
en 'n veredelde versterwing

- Antjie Krog

Uit: Plunder


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.